Man kry 20 jaar tronkstraf ná verkragting van sesjarige

ʼn 23-jarige man van Noordwes is Donderdag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ʼn sesjarige meisie.

Volgens kapt. Pelonomi Makau, ʼn woordvoerder van die polisie, is Peter Monoto van die Verdwaal informele nedersetting naby Itsoseng deur die Itsoseng-streekshof skuldig bevind. Hy het verlede jaar op 29 April, die sesjarige slagoffer omstreeks 21:00 by ʼn vriend se huis verkrag.

Monoto en die kind se pa het mekaar geken en in dieselfde kerkkoor gesing. Monoto het by die kind se huis opgedaag. Sy was alleen by die huis saam met haar ouer boetie en sussie, onderskeidelik 7 en 9 jaar oud. “Die boetie en sussie het gespeel toe die verdagte die kind aangesê het om saam met hom te gaan na waar haar ouers kamtig was. Sy het saam met hom gegaan omdat sy hom geken het. Die man het haar egter na ʼn vriend van hom se huis geneem en haar daar verkrag. Die vriend was nie by die huis nie,” het Makau gesê.

Monoto het die kind ná die voorval buite haar huis gelos. Haar ouers het ʼn uur later by die huis aangekom en haar huilend buite die huis aangetref. Sy is na ʼn hospitaal geneem waar daar bevestig is dat sy verkrag is. DNA-toetse wat geneem is, het Monoto aan die verkragting verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.