Daily News berig dat Van Rensburg, van New Germany in Durban, se dogter egter eers vier uur later die SMS gesien het toe sy haar selfoon aangeskakel het nadat sy tuis gekom het van die skool af. Van Rensburg is omstreeks 9:00 Dinsdagoggend laas gesien toe hy sy maatskappy se kantore in Hillcrest verlaat het. Van Rensburg se vrou, Shirley, sê haar man het haar omstreeks 8:15 die oggend by haar werkplek afgelaai. Shirley het die Pinetown-polisie gekontak nadat haar die dogter die SMS van haar pa ontvang het dat hy gekaap is. “Ons wil net hê hy moet veilig terugkeer huis toe,” het sy vrou gesê. Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, het die saak bevestig en sê Van Rensburg is in Frazerweg in Hillcrest gekaap. Van Rensburg het ʼn wit Toyota Tazz, registrasienommer NU 11880, gery toe hy gekaap is. Van Rensburg is sowat 1,9 m lank, weeg 80kg en het bruingrys hare.
Van Rensburg se kaping is die derde voorval die afgelope week waar die slagoffers as gyselaars geneem word. Dorothy Carlyle is verlede week gekaap en vir nagenoeg tien uur aangehou voor sy in die kattebak van haar BMW gevind is. Sy is erg aangerand en met ʼn mes gesteek. Ugeshnie Govender is vir 16 uur aangehou voor die kapers haar uit die bewegende motor gestamp het.
Lees meer hier.