Oud-president Nelson Mandela het die aand in ʼn hospitaal deurgebring nadat hy Saterdag opgeneem is om toetse te ondergaan.
Mac Maharaj, president Jacob Zuma se woordvoerder, wou egter nie Sondagoggend enige besonderhede bekendmaak oor Mandela se gesondheidstoestand nie. Hy sê daar sal meer inligting bekendgemaak word wanneer Mandela se dokters ʼn verslag beskikbaar maak. Zuma het Mandela intussen vanoggend in die hospitaal besoek. Volgens Zuma is Mandela gemaklik en kry hy goeie sorg. Maharaj het gister in ʼn verklaring gesê dat Mandela mediese toetse ondergaan maar dat daar geen rede tot kommer is nie en dat Mandela gereeld toetse moet ondergaan weens sy ouderdom.
Mandela is in Februarie vanjaar in die hospitaal opgeneem om ʼn laparoskopie te ondergaan. In Januarie 2011 is Mandela in die hospitaal opgeneem vir ʼn infeksie in sy bors en het dit tot grootskaalse paniek gelei aangesien die regering nie besonderhede oor sy gesondheid bekend wou maak nie.