Mandela vs. Sexwale-saak geskrap

Tokyo Sexwale Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Hofaansoek vir die verwydering van trustees deur voormalige president Nelson Mandela se kinders is van die hofrol geskrap, het die regsfirma Norton Rose Fulbright Maandag gesê.

Die hofstryd handel oor die verwydering van George Bizos, Tokyo Sexwale en Bally Chuene as direkteurs van Harmonieux Investment Holdings en Magnifique Investment Holdings.

Die aansoek om hulle af te dank is deur Makaziwe Mandela en Zenani Mandela-Dlamini ingedien. Die saak is egter deur kennisgewing van verwydering van die rol geskrap, het Candice Collins, woordvoerder vir Norton Rose Fulbright, gesê.

Die firma, wat Bizos, Sexwale en Chuene verteenwoordig, het gesê nadat Ismail Ayob as die prokureur vir die Mandela-kinders onttrek het, het die hof hulle aangesê om teen Vrydag ʼn nuwe diensadres in te dien en verdere hofdokumente voor 30 Augustus in te dien.

Mandela se kleinkind, Nkosi Zwelivelile Mandela het Maandag die vroue se optrede as ʼn “blatante poging om Mandela se besluite wat hy geneem het toe hy nog sterk was, te verontagsaam en te ondermyn”. “Ek beskou die optrede deur my familielede as ʼn blatante misbruik van bejaardes,” het Nkosi gesê.

Hy is oortuig dat al die mense wat sy oupa aangestel het, mans van integriteit is wat altyd sy oupa se vertroue en ondersteuning gehad het.

Lees ook:
Mandela vs. Sexwale kan dalk geskrap word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.