Die Solidariteit Beweging is vanjaar 110 jaar oud en Helpende Hand daag elke burger in die land uit om in Junie aan sy 110 Doen Goed projekte-veldtog deel te neem.
“Deelnemers kan tussen 18 en 22 Junie enige weldaad aanpak in hulle gemeenskap,” sê Juanita du Preez, woordvoerder van Helpende Hand. Die slagspreuk vir die veldtog is Doen Goed, Voel Goed, Wees Goed. “Die idee is dat weldoeners besef hoe lekker dit is om ʼn goeie daad te verrig en dit dan meer gereeld aanpak. Sodoende kom hulle in die ritme van gee. Deelnemers kan as individue of spanne deelneem en kan ook meer as een projek aanpak,” het sy gesê.
Deelnemers kan die registrasievorm op Helpende Hand se webwerf bekom en dit aan [email protected] terugstuur vir koördinering. Op die webwerf is ook ʼn projektelys om voornemende deelnemers se idees te prikkel.
“Deelnemers word aangemoedig om foto’s en video’s van die verrigtinge aan Helpende Hand te stuur. Daag jou vriende uit om ook deel te neem en maak ʼn verskil,” het Du Preez bygevoeg.