Niks gerusstellend aan Bela-wysigings

(Argieffoto: Unsplash)

AfriForum beskryf die sogenaamde toegewings deur die departement van basiese onderwys aan die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) wat Woensdag deur ’n meerderheid in die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, as woordgimnastiek.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by die burgerregteorganisasie AfriForum, meen daar is niks gerusstellend aan dié wysigings nie en sê die finale skriftelike konsep sal deeglik bestudeer word sodra dit beskikbaar is. Dít sal dan ook die regsroete bepaal wat AfriForum verder sal volg.

Bailey het Donderdag verskeie redes verskaf oor waarom AfriForum ontevrede met die wysigings is.

Dit sluit in dat onderwyshoofde steeds die finale sê oor taal- en toelatingsbeleide sal hê.

“Dat oorlegpleging met die amptenary sal geskied, is redelik betekenisloos.

“Ons het gesien hoe lede van die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys enkele maande gelede gedwing moes word om alle openbare insette in ag te neem. Oorlegpleging word dikwels as oëverblindery gebruik om die illusie te skep dat die openbare mening in ag geneem word, terwyl die ANC voortbeur op hulle ideologiese weg. Soms is dit ook ’n boelieproses om personeel en beheerliggame te probeer dwing om enkelmedium‑ Afrikaanse skole te laat omskakel na parallelmedium- of dubbelmediumskole,” sê Bailey.

Bailey beklemtoon dat al sou oorlegpleging in goedertrou plaasvind, is daar nog geen aanduiding oor wat sal gebeur as konsensus nie bereik word nie.

“In die verlede was regsaksie nodig wat skole uit ouers se sakke moes befonds, terwyl die regering belastingbetalers se eie geld teen hulle kan inspan.”

Sy sê voorts dat suksesvolle enkelmedium‑ Afrikaanse skole deurentyd meld dat hulle onder voortdurende druk van amptenare is om leerders te aanvaar wat Engelse onderrig verlang. Bailey is van geen enkelmedium‑ Engelse skool bewus wat dieselfde druk ervaar om Afrikaanse onderrig te akkommodeer nie.

“Strooipoppe word opgestel met vertellinge oor skole wat beleide kwaadwillig en rassisties gebruik om leerders uit te sluit. Dit was Woensdag deel van Elleck Nchabeleng, ANC-LP en komiteevoorsitter, se kommentaar.

“AfriForum en verskeie ander organisasies en individue het al herhaaldelik gevra vir besonderhede van sodanige skole sodat hulle vasgevat kan word. Nog geen skool is deur die departement geïdentifiseer nie.”

Bailey sê die huidige Suid-Afrikaanse Skolewet bevat duidelike voorskrifte oor hoe teen skole wat sodanig handel, opgetree kan word.

“Nuwe wetgewing is glad nie nodig om diskriminerende beheerliggame in die bek te ruk nie. Dit laat die vraag ontstaan wat die rede vir klousules 4 en 5 in die Bela-konsepwet is.

“Nchabeleng se kommentaar en verwysings na apartheid maak dit weer eens baie duidelik dat die ANC ’n agenda van vergelding teen Afrikaanssprekendes probeer dryf en glad nie hierdie klousules geskep het om gehalte-onderrig te bevorder nie.”

Bailey vind dit voorts kommerwekkend dat geen verdere regstellings nog gemaak is oor die etlike ander besware wat die publiek teen die Bela-wetsontwerp lug nie, insluitend bekostigbaarheid en druk op tuis- en mikroskole.

“Die feit dat Noordwes se verteenwoordiger gister nie opgedaag het nie, skep kommer oor die erns met onderwys in die provinsie. Dat die Wes-Kaap ook steeds standpunt teen Bela inneem, bewys nogeens dat die toegewings geensins die wetsontwerp meer aanvaarbaar maak nie en dat onderwyskundiges in dié provinsie nie deur die woordgimnastiek gebluf word nie.”

AfriForum hou by die voorneme om die Bela-wetsontwerp teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte-onderrig inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ou Cyril kan nie wag om hierdie stuk nonsens te teken nie! Die kommuniste moet alles in SA beheer!

annie ·

Die groot probleem vir ouers wat private onderwys as uitweg kies, is die kostes verbonde daaraan. Anders moet groepe vir tuisonderrig gestig word met bekwame persone wat betaal word om op professionele permanente basis sulke enklawes te bestuur. Afrikanerkinders sál uitgedruk word om die swart regering se planne te volvoer. Met duisende uitlanders wat op ons sisteem teer en omdat die regering te laks is om ons onderwysstelsel te beskerm, bly die probleem groei.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ander opsies kan aanhak by tuisonderrig. Begin by tente en karavane op private eiendom. Ook kerksale en volkspele sale. Klap saam en koop ongebruikte skousale, gemeenskapsentrums en pakhuise. Ouergemeenskappe en borge het kundigheid om dit op te knap vir inspeksie doeleindes. Ja, daar gaan nie sportgronde wees soos by voorgestelde Afrikaanse privaatskole nie. Die sportgronde by eens Afrikaanse openbare skole sal in elk verval. Maar daar sal ook nuwe opsies na vore tree, soos sport en kultuurklubs. Dis weer soos die ou dae, maar steeds beter as om te wag vir die regime om tot hul sinne te kom. Dit gaan nie gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.