Nuuskommentaar: Babelas na die wingerdgriep

Stakers in De Doorns Foto: @dimitrikiewiet, Twitter

Die “plaaswerkerstaking” agter die wyngordyn is (voorlopig) min of meer iets van die verlede, maar die land sit met ‘n yslike babelas waarvan die koste nooit ten volle bereken sal kan word nie. Volgens Agri-Wes-Kaap beloop die skade aan infrastruktuur en toerusting alleen sowat R300 miljoen, maar sluit produksieverliese uit. Maar hoe word die skade aan verlore beleggers bereken?

In Davos, Switserland, probeer pres. Jacob Zuma soos verwag is, beleggers oortuig dat sy land steeds ‘n veilige beleggingsbestemming is. Hy stakings is deel van demokrasie. Stakings in Suid-Afrika haal net die opskrifte omdat dit in Afrika is terwyl stakings elders nie die nuus haal nie, aldus Zuma.

Stakings kom wel gereeld wêreldwyd voor, en arbeidsonvrede gaan ook buite Suid-Afrika soms met ‘n vorm van geweld gepaard. Én dit kry nuusdekking. Pas het koerante oorsee berig hoe Chinese werkers by ‘n aanleg in Sjanghai hul Japannese en Chinese base gyselaar gehou het onder meer omdat hulle beboet word as hulle langer as twee minute lank water afslaan. Plaas nou ‘n soortgelyke piepie-beperking of beperking op hoe lank per dag witboordjiewerkers in die kelder kan gaan dampies maak in Suid-Afrika en kyk waar gaan draai sake.

Of daar baie lande is, demokraties of nie, waar stakings en protesoptogte so gereeld in bandelose geweld, intimidasie en selfs blatante plundering omsit, waar mense hul lewens verloor, is ‘n ander vraag.

Vryburger van Die Burger se tong-in-die-kies-verwoording is onverbeterlik:

“Vryburger is verward ná die opstand in die landboubedryf. Net in Suid-Afrika kry jy ’n vakbond wat ’n staking opskort wat hy nie begin het nie; mense wat nie werk nie wat staak; en ja, liewe leser, nou ook werkers wat teen stakers betoog.”

Beleggers stel nie belang in politieke praatjies van iemand wat wêreldopskrifte haal met “wyshede” oor honde en rituele suiwerings nie. Harde syfers praat, en as daar risiko’s is, moet die dividende soos met alle beleggingsportefeuljes met hoë risiko hoë opbrengs lewer. Suid-Afrika se BNP het van  1993 tot 2012 jaarliks gemiddeld met 3,2 (ander bronne meen dit was 2,2) persent gegroei. In 1994 (hoekom klink dié jaar so bekend?) was die groeikoers ‘n rekord 7,6 persent. In Maart 1908 het dit ‘n rekordlaagtepunt van -6,3 behaal. Suid-Afrika se groeikoers teen die politieke en beleidsraamwerk het volgens bronne die potensiaal om teen 3,5 persent per jaar te groei.

Die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) verwag dat die wêreldekonomie vanjaar 2,2 persent sal groei, terwyl dié van Afrika van vyf persent verlede jaar na 4,5 persent vanjaar sal afneem. Afrika se syfers is egter baie misleidend, omdat ‘n groeiende aantal lande deur veral olie- en gasuitvoere groot inkomstes het, en ander se buitelandse hulp groter as hul nasionale begrotings is. Nietemin is Suid-Afrika, met die grootste ekonomie op die vasteland se groeikoers laer as die kontinent se gemiddeld, en dit maak vir beleggers saak.

Meer kommerwekkend is dat die staking moontlik wel voorlopig iets van die verlede is, maar dat niemand gerus kan slaap nie. Daarvoor is daar eenvoudig te veel onopgeloste kwessies. “Danksy” onrealistiese voorsêery deur opstokerleiers van wie meer verantwoordelike optrede verwag word, is daar steeds ‘n wye persepsie by baie stakers dat R150 deur die bank haalbaar is. Agri-SA, wat die realiteite deurlopend gestel het, is in die proses as rigied en hardvogtig voorgestel wat boere verteenwoordig wat werkers genadeloos uitbuit. Agri-SA moet ook na die land se hele landbouprentjie kyk.

Met verwysing na die regering, by monde van minister Susan Shabangu se vloermoer oor Anglo se rasionaliseringsplanne, skryf Die Burger in vanoggend se hoofartikel:  “Intussen wonder Die Burger waarom die regering nie ewe ontsteld is oor die derduisende werksverliese wat veroorsaak gaan word deur Eskom se tariefverhogings nie – ’n duidelike geval van dubbele standaarde, of hoe?” Dit kon net sowel op die Wes-Kaapse landbou-onrus van toepassing gemaak word.

Uit partypolitieke kringe is daar gereeld oproepe vir kommissies van ondersoek, soos wat wel met die Marikana-skietery gebeur het. Onderliggend bly die vraag egter: “Hoe ingelig is die land se intelligensiedienste dat daar nie doeltreffend voorkomend opgetree word nie?” Wat in Suid-Afrika gebeur is immers teksboekgevalle van wat sal gebeur as sekere grondoorsake aanwesig is, en dit nie doeltreffend aangepreek word nie. Akademici wys immers gereeld daarop.

Is dit ‘n geval van intelligensiedienste met die verkeerde mense in diens of aan die stuur? Of lewer die intelligensiedienste puik produkte aan ‘n regering wat realiteitsverwyderd en ideologies blind is? Suid-Afrika beleef immers gemiddeld elke tweede dag oproer iewers.

Intelligensiedienste het ‘n bitter ondankbare taak. In ‘n omgewing waar die boodskapper maklik die sondebok word en gestenig word, moet ‘n intelligensiediens die regering objektief inlig ongeag hoe ongewild die waarheid ook al mag wees. Om vir die regering te vertel wat die regering wil hoor, doen niemand ‘n guns nie. Slegs met akkurate, objektiewe inligting kan die regering objektiewe besluite neem en kan die land se uitvoerende departemente gerig word om dienooreenkomstig op te tree. En dit is belangrik dat daardie optrede sigbaar realisties is, anders herinner paaiwoorde aan Saddam se beeldpoetser wat in die aangesig Amerikaanse tenks nog op ‘n groot oorwinning aanspraak gemaak het en die bynaam Komiese Ali gekry het.

Wanneer die intelligensiediens verbrou of die regering sy ore elders uitleen, kan erge verleenthede gebeur, soos ‘n president wat in Davos opdaag om beleggers te paai, terwyl die land brand. En kan dit gebeur dat mense in senior posisies in die regerende party oproepe doen dat die buiteland Suid-Afrikaanse produkte moet boikot terwyl die president beleggers paai.

Nie juis musiek in die ore van beleggers nie.

Dit is duidelik dat Agri-SA, selfs sonder ondersteuning van die regering, wyd na die situasie gaan kyk, en verantwoordelike oplossings gaan probeer vind. Maar dit sou net soveel makliker gewees het as die regering en sy tentakels, anders as in die verlede, ook sake realisties betrag.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Kobus ·

Die NIA het nie die ding sien kom nie want hy spandeer al sy tyd om regses met ver-regse komplotte te probeer verbind, al moet die NIA dan nou ook self die bewystukke plant.

Brenda ·

Presies nes jy daar se. Nadat hulle klaar die regses “geframe” het vir sogenaamde verregse komplotte, bly daar nie veel tyd oor vir hul REGTE werk nie. Of is dit hul REGTE werk??

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.