Nuuskommentaar: Die skoonste taal op internasionale moedertaaldag

Met elf amptelike tale en aandrang dat gebaretaal ook amptelike status moet kry, sou ‘n mens verwag dat iets soos internasionale moedertaaldag in Suid-Afrika ‘n grotigheid sou wees…

Maar dit is nie.

Vandag, 60 jaar gelede, is duisende studente in die destydse Pakistan, wat toe uit Oos- en Wes-Pakistan bestaan het dood oor hulle op Bengaals as amptelike taal aangedring, en betoog het. Bengaals is die grootste taalgroep in die destydse Oos-Pakistan wat vandag as Bangladesj bekend staan. Wes-Pakistan het Oos-Pakistan as ‘n tipe kolonie bedryf. Hoewel Pakistan veel groter as Bangladesj is, is die bevolkings bykans ewe groot – tussen 150 en 200 miljoen elk.

Moedertaaldag is in 2000 deur Unesco ingestel.

Taal vorm dikwels die vernaamste kenmerk van groepe wat op ‘n manier as volke staatkundige regte uitoefen, dikwels in die internasionale reg as minderheidsregte uitgedruk. Onder druk van die bepalings van die Europese Unie moes Spanje, om lid te kon wees, aansienlike selfregering aan die Baske en Kataloniërs toeken. Turkye se aansoek om EU-lidmaatskapstatus brand veral vas oor die miskenning van minderheidsregte, soos dié van die Koerde, maar kom ook steeds onder skoot oor hoe Christene in dié Moslemland behandel word.

Die vermoede dat die ANC met die onderhandelings op elf amptelike tale aangedring het, was dat dit ‘n slenter sou wees om uiteindelik by die beoogde eentaligheid uit te kom, omdat, so is geredeneer, 11 amptelike tale onvolhoubaar sou wees. So is die probleem dat ander partye soos die NP op die behoud van Afrikaans as amptelike taal aangedring het omseil, en is gewoon voortgegaan met die hantering van Engels asof dit die enigste, of dan, belangrikste amptelike taal sou wees.

Stukkie vir stukkie word Afrikaans geërodeer soos deur aanslae op Afrikaanstalige skole, en selfs die laaste bastion, Afrikaanse universiteite. Die loopgrawe is reeds om die US gegrawe, maar die taalstryders daar moet reeds na weerskante skiet om ook die vyfdekolonners op ‘n afstand te hou.

Die huidige formaat van die taalwetsontwerp – waartoe die regering deur die grondwet en ‘n afdwingende hofsaak gedwing is – het ook eerder in ‘n ondergrawing van Afrikaans as die bestendiging daarvan ontaard.

Die Afrikaanse woord leef sterk in die Afrikaans boek en lied, maar op ander terreine soos die akademie, staatswese en selfs uitvoerende kunste – waar ‘n eietydse fanagalo as Afrikaanse “vaktaal” voorgehou word, trek dit reeds noustrop.

Afrikaans het ook sterk na die internet deurgebreek, waar talle instansies en individue hul stryd om die bevordering van Afrikaans stry. Soms is die spêling en taalgebruik hôrriebaal, en duidelik buite die grense van tekens dat ‘n taal lewend is, maar  die gees is duidelik gewillig.

Of Afrikaans gekaaps word, of deur gewilliges gepleeg word – gelukkig is daar ‘n kern wat dit lewens en suiwer genoeg hou. Dit bly ‘n magtige dreuning wat die eietydse Milneriste se ore laat tuit.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae