Nuuskommentaar: Eskomlied – Sit dit af, sit dit af!

Suid-Afrikaners kon gister (half) verlig asem skep nadat Nersa slegs die helfte van Eskom se beplande verhogings van 16% per jaar oor die volgende vyf jaar goedgekeur het. Dit is steeds aansienlik hoër as in die inflasiekoers.

Suid-Afrikaners sit in die knyptang waar die land se ekonomiese groei gestrem kan word deur te min krag wat opgewek word vir die groeiende behoefte, of waar ontwikkeling gestrem word deur krag wat byvoorbeeld mynbou en besproeiingsboerdery te duur maak.

Dat enorme hoeveelhede krag gesteel of andersins verlore gaan, en Eskom enorme bedrae geld aan advertensies, salarisse, bonusse, spanboue van personeel by casino’s en spyseniering spandeer is lank reeds ‘n bitter pil. Daar heers ook ‘n onlekkerte oor krag wat uitgevoer word. Gereelde gewelddadige arbeidsonrus by die twee nuwe kragstasies, Kusile en Medupi, veroorsaak ook kommer of dié twee opwekkers betyds klaar sal wees om te voorkom dat die land op ‘n byna vaste grondslag minder krag as die behoefte opwek.

Die kragreus toon al die kenmerke van ‘n monopolistiese instelling.

Boonop is Eskom, die wêreld se sewende grootste kragopwekker, en Suid-Afrika in die spervuur oor die gebruik van steenkool – sowat 93% van Eskom se krag word deur steenkool opgewek.

‘n Groot deel van die klimaatsverandering wat die wêreld beleef word aan die invloed van die mens se pomp van CO2 in die atmosfeer toegeskryf.

Suid-Afrika het egter te kampe met die werklikheid dat die land nog genoeg ontginbare steenkoolreserwes het om sowat 200 jaar te hou. Sowat 25% word uitgevoer, maar die res van die ontginde steenkool word gebruik om in sowat 77% van die land se energiebehoeftes te voorsien.

Wat die publiek beleef is dat elektrisiteit maar een van die dienste naas water en rioolnetwerke is wat hulle van hul munisipaliteite ontvang, en wat gereeld veel te wense oorlaat. Binne enkele ure is byvoorbeeld berig dat Potchefstroom, en (al weer) Brandfort sonder water sit. Die staat se bloudruppelverslae oor munisipaliteite se drinkwater lyk gereeld amper soos die ouditeur-generaal se jaarlikse slagting onder plaaslike owerhede.

Waarskuwings van beurtkrag, benewens die ander onderbrekings soos skakelaars by substasies wat ontplof en weens kabeldiefstal, gaan by die betalende verbruikers net glad nie goed af nie.

Vir baie is dit deel van ‘n probleem waar munisipaliteite mekaar met swak administrasie en die blinkste rygoed vir burgemeesters en hoogste toelaes vir raadslede probeer oortref.

Op dieselfde dag as wat Nersa ‘n halwe stok in Eskom se wiele gesteek het, het AfriForum ‘n baie belangrike hofsaak gewen. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het beslis dat minister Rob Davies se vrystelling van kleinere munisipaliteite van die angel van die verbruikerswet ongrondwetlik was. Dit het immers geen sin gemaak dat selfs die kleinste sake-onderneming deur die burokratiese berg van die verbruikerswet, en die moontlikheid van boetes gelykstaande aan ‘n omset wat hulle nie in ‘n dekade sal ruik nie in die gesig gestaar word, terwyl ontplooide onbevoegde kaders met ‘n pennestreep daarvan, en tot nadeel van die burgers, vrygestel word.

Die oë word nou ook gereeld gerig na die rol wat die publiek kan speel om krag te bespaar. Staatsgeboue waarvan die ligte deur die nag brand en straatligte wat helder oordag aan is, kom gereeld in die spervuur, en dra nie die boodskap uit dat daar ook ‘n swaar onus op die publiek rus om krag te bespaar nie. Tog is dit opmerklik hoeveel woonhuise reeds sonverhittingstoestelle op hul dakke het, en waar dit by baie HOP-skemas selfs ‘n standaard-toevoeging is.

Suid-Afrika het nie ‘n oorvloed water nie, en daarom is die potensiaal van die opwekking van hidro-elektriese krag beperk.

Suid-Afrika is egter ryklik geseën met twee hernubare bronne, sonkrag en windkrag. Selfs in noordelike Europa waar die son skrapser as hier is, word sonkragopwekkers op huise se dakke ‘n taamlik algemene gesig. Die kragstasies wat elektrisiteit deur sonlig opwek skiet soos paddastoele op.  Duitsland se sonkragstasies het teen Desember verlede jaar reeds 32,3 gigawatt opgewek na dit deur die loop van die jaar met 7% toegeneem het. Medupi se kapasiteit hierteenoor sal sowat 4,8 gigawatt wees.

Kan son- en windkrag vir Suid-Afrika uitkoms bring, veral as huidige beperkings vir die toetrede van die privaat sektor verlig word en aansporings verbeter? Groot projekte word gereeld in die media aangekondig, en loop daarna skynbaar in die sand van burokrasie uit.

China was flink op koers om teen 2015 ‘n bykomende 40 gigawatt (40 000 megawatt) kernkrag tot sy bestaande kragkapsiteit toe te voeg – ‘n bykomende 29 kernkragsentrales.

Toe vind die Fukushiima-ramp in Japan plaas.

Skielik het hernubare krag die gonswoord geword, en verlede jaar het China vir die eerste keer meer krag deur windenergie opgewek as deur kernkragsentrales.

In 2011 en 2012 is altesaam 19 gigawatt aan windkrag tot die netwerk toegevoeg, en na verwagting sal vanjaar nog 19 gigawatt se kapasiteit aangesluit word. Amptelik wil China teen 2015 ‘n 100 gigawatt aan windkrag opwek, en die Chinese Vereniging van Hernubare Energie meen dat 200 gigawatt windkrag teen 2020 haalbaar is.

China wek ook nou sowat 7 gigawatt sonkrag per jaar op en beoog om dit vanjaar met nog 10 gigawatt te vermeerder. Teen 2015 wil die land 21 gigawatt sonkrag opwek. Volgens hooggeplaaste bronne beoog die regering om die kapasiteit teen 2015 tot 40 gigawatt te hersien om die vervaardigers van sonpanele in China, wat nou noustrop trek, se bedryf te stimuleer.

In Japan self het die Fukushima-ramp die Japannese in die koers van windkrag laat kyk. Teen 2020 wil Japan sowat 1 gigawatt krag opwek deur 143 windturbines in die see teenoor Fukushima. Teen 2040 wil die provinsie selfvoorsienend wees wat energie betref.

Die ontwikkeling van tegnologie en die massavervaardiging van sonkragselle maak ook sonkrag meer bekostigbaar. Terwyl die opwekking van ‘n eenheid sonkrag nou al ordes goedkoper is as slegs enkele jare gelede, hoop ‘n Shell-filiaal in Japan om die produksiekoste van sy sonkragpanele teen 2017 te halveer.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae