Nuuskommentaar: Kinderbeskermingsweek

Kinders, veral babas en jong kindertjies, is onder die kwesbaarstes onder die kwesbares. Dit blyk onder meer uit Herodus se babamoorde in Bethlehem tydens Jesus se geboorte, maar juis hierdie week het argeoloë uit verskillende dele van die wêreld bevindings oor die lot van kinders bekend gemaak.

In Korea is vasgestel dat ‘n kind wat in die 16de eeu geleef het, hepatitis B onder lede gehad het. In Spanje is die skelette van tweelingsussies wat skynbaar met hul geboorte in die 4de eeu voor Christus dood is, saam gevind. In die versonke Jamaikaanse stad Port Royal het duikers pas met die skedel van ‘n kind wat saam met die stad onder die golwe verdwyn het, na die oppervlak gekom.

In die VSA het pro-lewegroepe ‘n sterk wapen in hand gekry nadat bewyse gevind is dat die pro-aborsiegroep, Planned Parenthood, vroue aanmoedig om aborsies te ondergaan wat babas van die “verkeerde” geslag verwag, ‘n verskynsel wat die naam genderside gekry het. In Suid-Afrika is in die tien jaar sedert aborsies op aanvraag gewettig is, na raming ‘n miljoen aborsies op aanvraag uitgevoer.

Statistiek

Volgens die polisie se amptelike statistiek beloop die voorkoms van kindermishandeling en kinderverwaarlosing in Suid-Afrika teen ‘n koers van 7 per 100 000 per jaar, na dit enkele jare gelede dubbel so hoog was. Dié syfer toon dat dit eerder ‘n geval is van minder aangemeld, as minder in voorkoms. Dié afleiding word gestaaf uit ‘n verslag vir die boekjaar 2009/1 van die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling wat voor die Vrystaatse portefeuljekomitee gedien het, waarna die komitee gesê het “daar is ’n duidelike toename in die aantal klagte in verband met kindermishandeling in die provinsie en meen dit kan toegeskryf word aan die sukses van bewusmakingsveldtogte deur die provinsiale departement.” In die betrokke jaar was daar inderdaad in die Vrystaat ‘n geringe toename in die polisiestatistiek, maar die jaar daarna was die koers weer veel laer, en is die tendens die afgelope paar jaar, soos landswyd, dat hierdie aanmeldings afneem. Indien die portefeuljekomitee die regte afleiding gemaak het, is die bewusmakingsveldtog nie so intensief volgehou nie.

In die VSA was die tendens van kinders wat weens mishandeling in hospitale beland het, die omgekeerde. Sedert die huidige ekonomiese krisis begin het, het die gevalle waar babas weens kopbeserings gehospitaliseer is gestyg van 9 per 100 000 in 2004 tot 15 per 100 000 per jaar in 2009. Sowat 300 van hulle het  in een jaar gesterf. Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika ook onder die verslegtende ekonomie in die teenoorgestelde rigting sou beweeg.

Daar is duidelik ‘n verband tussen sosio-ekonomiese omstandighede en misdade teen kinders. In dié misdaadkategorie in Suid-Afrika is die hoogste voorkoms per 100 000 van die bevolking in die Wes-Kaap met ‘n voorkoms van amper 13 per 100 000 per jaar. Die tweede hoogste voorkoms met amper 12,3 is die Vrystaat, gevolg deur die Noord-Kaap met amper 12 per 100 000 per jaar. Word dit vergelyk met nog ‘n misdaad waarvan ‘n groot deel teen kinders gepleeg word, naamlik seksuele misdade, dan het die Wes-Kaap weer die hoogste met ‘n koers van 178 per 100 000 per jaar, die Vrystaat teen 171 en die Noord-Kaap teen 169 per 100 000 per jaar. Weer eens is die aanmelding daarvan by die polisie ‘n probleem met die jongste aanduidings uit verskeie bronne, waaronder Interpol, dat dalk minder as een uit dertig gevalle by die SAPD aangemeld word. ‘n Totaal van 345 kinders wat weggeraak het, is verlede jaar by Missing Children SA aangemeld.

Lewenslange verstandelike gestremdheid van hul kinders is nog ‘n algemene onreg wat sommige ouers teen hul kinders pleeg. Die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom word in Suid-Afrika aangetref, met weer eens die Wes-Kaap wat die hoogste koers in die land het. Die distrik met die hoogste voorkoms in 2002 was De Aar in die Noord-Kaap, met ‘n koers van sowat 120 per 100 000 geboortes, gevolg deur Wellington met 88, en Upington met 69 per 100 000 per jaar. In 2008 het Volksblad berig dat De Aar se koers die voorafgaande 10 jaar met 30 % afgeneem het.

Faktore wat duk op jeug plaas

Die Nederlandse Jeugd Instituut verskaf ’n lang lys faktore wat druk op die jeug van vandag plaas, waaronder aandagafleibaarheid, angs en spanningsprobleme, depressie, eenouergesinne, hegtingsprobleme, jong ouers, pedagogiese kwaliteit, kindermishandeling, leefstyl, media-opvoeding, verslawing en die misbruik van middels, oorgewig, gesinsgeweld, saamgestelde gesinne, seksualisering en werkende ouers. Dit is opvallend dat oorsake wat gereeld in Suid-Afrika genoem word, soos die invloed van pornografie en die okkulte, nie by die Nederlandse instituut gelys is nie. Nog ‘n probleem in Suid-Afrika is die druk wat kinders ervaar weens prestasiedruk.

Terwyl kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika gevier is, het ‘n paar sake die land geruk:

–       Die 5-maande oue baba Wiehan Botes is saam met sy oppasser by Delmas vermoor.

–       Die lyk van die 9-jarige Danielle Gaysman is in ‘n vrieskas in Pretoria gevind.

–       ‘n Twaalfjarige meisie en haar eenjarige boetie is in hul huis in Butterworth in die Oos-Kaap vermoor. Beide het erge kopbeserings gehad.

Kinders word op twee wyses deur sosio-ekonomiese, morele en kulturele verval geraak. Hulle kan self die slagoffers word waartydens hulle fisies en geestelik beseer word, of selfs sterf. Met eentonige reëlmaat word berig hoe sindikate oopgevlek word wat selfs bitter jong kinders as seksslawe en prostitute aanhou, met dikwels dwelmafhanklikheid wat die slaweband in stand hou.

Of hulle kan “ontaard” in mense wat die lewe vir ander moeilik maak, soos om by jeugbendes aan te sluit, met die okkulte deurmekaar te raak, of gewoon sogenaamde “bad ass”-kinders, of Acers word. Acer is afgelei van die afkorting AC vir “anti culture.” Anti-kultuur is een van die moontlike newe-effekte wanneer ‘n gevestigde kultuur sy wortels intrek en in transito gaan na ‘n ander. Die trekarbeidstelsel word dikwels as voorbeeld hiervan genoem, waar mans weg van die huis “nyatsi’s” vat, en die gevolglike kinders bykans geen kans het nie. Die dopstelsel in die Wes-Kaap word gereeld vir die alkoholismeprobleem in daardie provinsie geblameer. Pas het pres. Jacob Zuma weens sy lewenstyl die skildery-insident beleef. Sy ondersteuners het hulle beroep daarop dat hy die slagoffer is van ‘n smeerveldtog omdat hy “tradisioneel” leef, maar die betrokke lewenswyse druis lynreg in teen die tradisionele lewenswyse. Sy kinders het hulle op die hof beroep oor die pyn wat die uitbeelding hulle besorg. Die gevaar bestaan dat die regering se beleid van affirmative action (wat van regstellende aksie verskil) ook elemente van anti-kultuur na vore kan bring. Werkloosheid van ouers met die verkeerde velkleur, een ouer wat oorsee gaan werk en dus as afwesige ouer manifesteer, en prestasiedruk deur die wit en bruin ouers op kinders om die agterstande wat hulle met beurse en keuring het te probeer oorkom, en uitsigloosheid omdat die jong mense ook op hul aansoekvorms hul ras, tot hul waarskynlike nadeel, moet aanbring.

Meld geweld aan

Gevalle van kindermishandeling en kinderverwaarlosing kan by verskeie tolvrynommers aangemeld word: Stop Misdaad by 08600 10 111, Childline by 0800 055 555 en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling by 0800 60 10 11.

Hoewel misdrywe teen kinders komplekse oorsake het wat aangespreek moet word, kan nie vir eendag gewag word dat die ekonomie herstel, alkoholismeprogramme doeltreffend word en kulture weer moreel nesskop, voor kinders beskerm word nie. Oortreders moet nóú vasgevat word, en dit vereis aanmelding. So ‘n program moet deur voorligting ondersteun word. Opnames toon dat baie ma’s van kinders wat weens fetale alkoholsindroom gestremd is, nie eens weet dat alkohol ‘n gevaar vir haar ongebore kind ingehou het nie. Elkeen het ‘n plig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.