Nuuskommentaar: Marikana – Drukkoker amper in rooi

Betogende mynwerkers kom weer by Marikana byeen. Foto: Makwena Manamela / Twitter

Terwyl die Marikana-kommissie van ondersoek nog aan die gang is, het AMCU-werkers weer by die omstrede Wonderkoppie begin saamtrek. Is daar dan niks in die proses geleer nie?

Die kort antwoord is dat Marikana, net soos Sharpeville ‘n halfeeu gelede, nie in isolasie staan nie. Dit maak deel uit van ‘n omvattende sosio-politieke probleem, en staan boonop in die konteks van ‘n naderende uiters belangrike algemene verkiesing wat die ANC met leë hande en baie beloftes tegemoet gaan.

Dit staan ook in die konteks van die tradisionele stakingseisoen wat reeds aangebreek het, en myne wat om ‘n verskeidenheid redes onder druk is.

Arbeidsverhoudinge, en selfs die impak daarvan op die politiek, is geen nuwe verskynsel nie. Die wêreld het onlangs finaal afskeid geneem van die Britse oud-premier, Margaret Thatcher, wat aan bewind gekom het toe vakbonde uit die sosialistiese dampkring Brittanje in ‘n beergreep beetgehad het. Met haar afsterwe is sy geloof en gehoon – ‘n duidelike aanduiding van hoe kompleks die aanspreek van arbeidsverhoudinge in werklikheid is.

In die boek, The Sociology of Industry, waarvan die eerste uitgawe in 1967 verskyn het, vra J. Child in die 1981-uitgawe ten slotte die vraag: “Bureaucracy, managerialism and political control – A dream (of sound labour practices) to be shattered?”

Dié vraag kan ook op Suid-Afrika van toepassing gemaak word, maar aspekte soos die raskwessie wat danksy die ANC se beleid van neo-apartheid voortleef, die wêreldekonomie, korrupsie, kader-ontplooiing, en ook arbeidswetgewing tel onder die bykomende faktore wat ‘n rol speel om van arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika ‘n mynveld te maak.

Op die politieke terrein verskil die Suid-Afrikaanse posisie ter aanvang van die Thatcher-era deurdat Cosatu deel van die ANC se regerende alliansie is, met boonop ook die SAKP saam in die kooi. Mynbase het Cosatu op verskeie maniere probeer binne perke te hou, soos om noue bande op en onder die oppervlak met die ANC te handhaaf, en prominente Cosatu-lede (van die NUM-vakbond) in hoër poste skuif, en prominente ANC-figure op direksies te laat dien. Dit het ‘n gaping gelaat tussen die werkers en hul vakbondverteenwoordigers, wat tot die groei van AMCU bygedra het.

Die strategie om AMCU te marginaliseer en dikwels selfs te ignoreer, soos ‘n minister wat gesê het sy het voor Marikana nog nooit van AMCU gehoor nie na sy self vroeër ‘n afspraak met die vakbond gekanselleer het, tel onder die koue skouer manifestasies.

Dit is een ding om ‘n radikale, onverbonde vakbond te marginaliseer, maar die NUM is selfs nie ‘n rolmodel vir gematigdheid nie, en die onderskeid in behandeling het duidelik sterk politieke motiewe.

Voorts het die pro-Zuma-faksie voor die Mangaung-kongres duidelik die oorhand in die NUM gehad, en was dit politiek belangrik dat die NUM – die ruggraat van Cosatu – ongeskonde by die kongres opdaag.

Noudat AMCU minstens by sekere groot myne duidelik ‘n oorweldigende meerderheid mynwerkers verteenwoordig, is die mynbase traag om aan AMCU dieselfde voorregte toe te ken as wat NUM as verteenwoordigende vakbond geniet het. Die inklusiewer model wat nou nagestreef word, maak sin, maar is polities te laat op die tafel geplaas.

Wêreldwyd neig die loongaping om groter en groter te word, en die gaping tussen mynbase en mynwerkers is enorm. AMCU wend dié realiteit te midde van afleggings en aanduidings van afleggings goed aan deur te wys hoeveel poste van mynwerkers beredder kan word deur slegs een van die grootkoppe te laat loop.

‘n Tipiese handboek oor politieke sosiologie, (bv. Temas in die politieke sosiologie) sal met die verrekening van faktore soos hierdie onverbiddelik op ‘n finale hoofstuk afstuur wat oor politieke geweld handel. Dit is ‘n veel wyer veld as net die arbeidsverwante veld, en sluit faktore in soos uiteenlopende minderheidsgroepe, ideologiese starheid, historiese sleurfaktore en relatiewe deprivasie.  In ‘n heterogene land is relatiewe deprivasie nog komplekser as die eenvoudige model, waar die gaping tussen verwagtinge en realiteit onhoudbaar groot is, omdat van die minderheidsgroepe se verwagtinge heeltemal aan die ander kant van die spektrum lê, en die ingeboude spanningsvlakke van verskillende groepe eintlik bymekaar getel moet word. ‘n Goeie voorbeeld is die uiteenlopende sienings wat verskillende groepe het oor die regering se beleid wat tot die Solidariteit – DKD-hofsaak aanleiding gegee het. Die Wes-Kaapse landbou-loonkwessie is nog ‘n voorbeeld.

Dit is onrusbarend dat klassieke werke oor politieke terreur, soos Political Terrorism van Paul Wilkinson, baie soortgelyke faktore uitlig vir hierdie verskynsel, selfs gemik teen liberale demokrasieë. Ook hy wys op die belang van kundigheid oor velerlei vakgebiede om hierdie probleem aan te spreek.

Die nuwe Marikana-verwikkelinge, saam met wye protes oor die land heen, dui daarop dat die druk in die drukkoker opnuut aan die opbou is, sonder dat die druk wat voorheen opgebou was, genoegsaam ontsnap het.

In  Suid-Afrika het arbeidswetgewing daartoe gelei dat die arbeidsreg ‘n baie belangrike deel van die hantering van arbeidsverhoudinge uitmaak. In The Sociology of Industry word nog net ‘n baie klein deeltjie van die totale spektrum aan arbeidsreg afgestaan. Probeer Suid-Afrika nie dalk te hard om ‘n te groot deel van die arbeidskwessie deur wetgewing, en soms rigiede en kontra-produktiewe wetgewing aan te spreek nie, en te min deur ‘n wye reeks ander toepaslik kundiges nie?

Die analoog:

–       Dr. Tjaart van der Walt, destyds president van die RGN, het in die tagtigerjare gemaan dat geen grondwet, selfs die beste grondwet ter wêreld, sal werk as die mense in ‘n land mekaar nie ken en vertrou nie. Die verhoudingsaksie is afgeskaf kort voor Suid-Afrika die nuwe bedeling en ‘n nuwe grondwet gekry het.

–       Hoeveel verbrokkelde huwelike is deur die huweliksreg beredder?  Die ou gesegde geld dat ‘n mens nie ‘n wet kan maak dat mense mekaar moet liefhê nie.

–       Watter wet gaan ‘n rugbyspan dwing om onderlinge ongelukkigheid uit die weg te ruim sodat die span as gemotiveerde eenheid kan speel?

Die reaksie op die onlangse afdwing van ‘n nuwe minimumloon vir die landbou (te midde van groeiende werkloosheid in die land) het die wantroue tussen georganiseerde landbou en die regering verdiep.

En op laas, opportunistiese, onoordeelkundige politiekery as plaasvervanger vir die insette van werklike kundigheid oor verskillende vakgebiede, is ‘n resep vir moeilikheid.

Gelukkig is hierdie kundigheid en insigte in Solidariteit self saamgevat, of word noue kontak gehandhaaf met kundigheid elders. As die regering net ‘n groter openheid wil openbaar om dié kundigheid sonder wantroue te tap…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae