Nuuskommentaar: Plaasmoorde – die onvoltooide boek

“Ek sukkel behoorlik om nuwe woorde te vind om op elke plaasmoord te reageer.”

Dit was die woorde van die leier van ‘n politieke party enkele jare gelede na die soveelste plaasmoord in ‘n betreklike kort tydjie.

Sedertdien het die plaasmoorde eenvoudig nie gestaak nie, en moes daardie leier maar weer en weer woorde vind. Soos elke mens wat ontsteld is oor ‘n plaasmoord, of dan enige moord, ruk dit ‘n stukkie van ‘n mens se siel uit wanneer daarop gereageer word – en om so dikwels dieselfde ding te herhaal:

– dat die minister van landbou tog net gereeld op plaasmoorde sal reageer om te toon dat sy, en so ook die regering, ook deernis het.
– Dat die heethoofdige uitsprake oor boere en grondhervorming getemper moet word om nie polarisasie aan te blaas nie
– Dat landelike beveiliging opgeknap moet word
– Dat die regering begrip moet toon oor die skade wat die land hieroor in die buiteland ly
– En meegevoel met die naasbestaandes betuig word, en die plaaswerkers wat na so ‘n moord dikwels sonder werk sit, sterkte toe te wens.

Landelike beveiliging is so goed soos sy swakste skakel … dis onmoontlik om ‘n wag of polisieman elke paar honderd meter uit mekaar geplaas te kry, en daarom vereis dit ‘n holistiese benadering van gesindheidsbou, behoorlike grensbeveiliging, verwydering van polisielede wat laks of selfs skynbaar simpatiek met die aanvallers is, behoorlike veiligheidsbewustheid by die landbouers, goeie kommunikasie en doeltreffende koördinasie van almal by proaktiewe en reaktiewe optredes. Alle misdaad op plase moet met groot erns bejeën word, of dit plaasaanvalle is, of dit weidingdiefstal, brandstigting, gewasdiefstal, veediefstal, wild- en renosterstropery of die wegdra van gereedskap is – die landbou ly jaarliks miljarde rande skade hierdeur.

Die moord op die 77-jarige mnr. Johan van Rensburg op 20 Junie en die poging tot moord op sy vrou Gloudine het om verskeie redes die aandag in die besonder getref:

– Dit het omtrent saamgeval met ‘n optog teen geweld na die Uniegebou waarin talle bekendes deelgeneem het, en onder meer geëis is dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad beskou moet word.
– Dit het op die VN se Wêreldvlugtelingdag plaasgevind waar die fokus skerp val op faktore wat mense se veiligheid bedreig.
– Dit het saamgeval met die bekendmaking van twee indekse wat daarop dui dat Suid-Afrika wat veiligheid en spanning tussen groepe betref, agteruit boer. Op die wêreldvredesindeks het Suid-Afrika tot die 127ste posisie teruggesak, en is op die indeks van mislukte state, wat onder meer spanning tussen groepe in ‘n land meet, amper in die rooi en word deur onder meer Botswana uitgestof. Hierdie indekse is min of meer deur die media geïgnoreer, maar die verspotte, skeefgetrekte  Happy Planet-indeks, wat Suid-Afrikaners onder die tien ongelukkigste nasies in die wêreld uitbeeld, met selfs Zimbabwe se inwoners wat gelukkiger is, kry baie media-aandag.

– Dit volg kort na die ANC Jeugliga se visepresident, Ronald Lamola, gesê het “dat Suid-Afrikaners in ‘n illusie leef dat hulle hul grond vreedsaam gaan terugkry.”  Vroeër, op 5 Junie, het Lamola soortgelyke opmerkings gemaak en op dieselfde dag is die 29-jarige Arina Muller op haar kleinhoewe buite Centurion vermoor.
– Tydens die jongste aanval was daar vier Amerikaanse toeriste op die plaas, wat gesien het hoe die vier moordenaars by ‘n venster uitvlug.

Die reaksie was, soos verwag kan word, veroordeling oor ‘n wye front. Jaco Schoeman, sameroeper van die ad hoc-groep oor eiendomsregte het skerp oor Lamola se opmerkings gereageer, en gesê daar sou verwag word dat die ANC dadelik hierdie praatjies sou nek omdraai. “Terwyl grond en eiendomsbesit die politieke speelbal is van onverantwoordelike opportuniste soos Ronald Lamola is onskuldige produsente, hulle families en werkers aan die ontvangkant van ʼn interne politieke konflik.” Hierdie ad hoc-groep is saamgestel na ʼn wye verskeidenheid rolspelers soos Solidariteit, die Afrikanerbond, die FW de Klerkstigting, die CDP en AriForum ʼn beraad oor die grondkwessie gehou het.

Die TLU SA se adjunk-president, Henry Geldenhuys vra in ‘n verklaring waarin na die aanvallers as terroriste verwys word die vraag of die boere hulle nou moet voorberei op oorlog, en verduidelik: “Hierdie moord kom skaars ’n dag nadat die ANC Jeugliga se adjunk-president, Ronald Lamola, in Durban gesê het dat Suid-Afrikaners in ’n illusie leef dat hulle hul grond vreedsaam sal terugkry. ‘Ons het ’n gebeure so kragdadig as ’n oorlog nodig om die land weer in besit van Afrikane te kry’, het Lamola volgens berigte gesê.” Hy vervat: “Waarvoor word wapens gesteel anders as om daarmee nog meer moorde te pleeg? Lamola skep die ideale atmosfeer vir radikale en roekelose jeugdiges om sy uitlatings letterlik op te neem. Boere kan hierdie uitsprake nie langer ignoreer nie en sal ter wille van oorlewing en behoud van hulle grond, insgelyks moet voorberei en organiseer vir die ergste moontlike scenario.”

AfriForum het ʼn beroep op die ANC gedoen om dringend in te gryp om die rassistiese uitsprake in sy eie geledere te stop. Die burgerregte organisasie het terselfdertyd ʼn verskerping van sy veldtog teen plaasmoorde aangekondig. Dit volg nadat Lamola, die vorige dag in Durban gesê het dat “hulle” so gewelddadig soos in ʼn oorlog sal optree om plase by wit boere te vat.

CDP se reaksie was: “Ons is geskok om te verneem dat nog ‘n boer, Johan van Rensburg, in Limpopo vermoor is en sy vrou beseer is,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese party (CDP). “Dit is hoog tyd dat die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, uit haar de facto wegkruipery kom en plaasaanvalle in geen onseker terme veroordeel. Suid-Afrika se onlangse daling op die wêreldvredesindeks tot die 127ste plek was geen fout nie, en die regering se volstruispolitiekery oor die krisis bluf niemand nie. Ons doen ‘n beroep op die regering om sterker op te tree op die wilde verbale aanvalle op boere, veral vanuit die Jeugliga, aangesien dit die klimaat skep wat plaasaanvalle bevorder. Omtrent al wat dawerend ontbreek in hul reaksie is die regering.”

Presies hoe siek die vlakke van polarisasie in die land is, blyk daaruit dat die politieke partye wat as ‘n reël nie op plaasaanvalle reageer nie, duidelike mikpunte het om oorwegend swart kiesers te trek. Van hierdie partye met ‘n redelike wit ledetal “delegeer” die veroordeling van plaasmoorde aan provinsiale strukture, en handhaaf op nasionale vlak ‘n min of meer dawerende stilte. Ook dié manier van doen hou die gevaar in dat dit die land se polarisasie volgens raslyne kan verdiep. Die ironie is dat plaasaanvalle ook swart boere en plaaswerkers teiken, hoewel die tipe aanvalle dikwels verskil.

Kraal-uitgewers is saam met rolspelers soos Solidariteit, MaroelaMedia en Afriforum besig om ‘n tweede omvattende boek oor plaasaanvalle saam te stel. Sedert die projek aangekondig is, het daar reeds weer heelwat nuwe hartverskeurende data vir die boek bygekom, en dit lyk werklik of die boek eendag met reg op die titel van die onvoltooide boek sal kan aanspraak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudi Oosthuizen ·

Ken jou bure en kyk na jou veiligheidsmaatreels, Moenie uitgaan in die donker as die honde blaf nie, Hou jou vuurwapen ten alle tye by jou (Moenie vir my sê jy het hom ingehandig nie), Hou deure gesluit en maak seker dis gesluit voor jy gaan slaap, kry n alarm stelsel, laat n hond in die huis slaap, instaleer n veiligheidsdeur in jou gang. Wees versigtig as jy by die huis aankom of regmaak om te ry, In groepe kan proaktiewe patrollies in die aand geloop word (Dis hoe jy beheer oor n area kry).
NB: Aanvallers kry informasie by werkers (Ek weet party mense sal dit nie glo nie, want Jonas werk al 20 jaar vir ons???…) of hulle hou jou dop .
BID VOOR JY GAAN SLAAP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.