Nuuskommentaar: Rassisme in ons samelewing

In België is ‘n TV-weerman pas deur die direksie in die pad gesteek oor ‘n plasing op sy Facebook-blad. Die doodsonde was dat hy ‘n spotprent met rassistiese ondertone geplaas het – die polisie wat van ‘n kameel gebruik maak om patrolliewerk te doen. Sy verduideliking was dat hy die vorige dag in Brussel aangeval is, daardeur emosioneel geraak is en toe dié prentjie geplaas het om te impliseer die polisie moet dié soort ryding inspan om nader aan die bevolking van Arabiese herkoms te kan kom. Die oordeel: Hy het Islamfobies opgetree, en dit pas nie by sy beeld van openbare figuur nie.

Hoe sou sake hier uitsien as almal met ‘n openbare statuur wat iets kwytraak wat rassistiese ondertone het, gewaand of werklik, in die pad gesteek sou wees?

Lank na 1994 het daar gereeld stemme opgegaan dat ‘n swart persoon per definisie nie ‘n rassis kan wees nie. Dié opvatting, per definisie, is egter self uiters rassisties. Hoewel dié soort opmerkings minder gehoor word, leef dié soort rassisme verwoestend voort saam met die “meer konvensionele” vorme daarvan.

‘n Effens meer gesofistikeerde weergawe hiervan was die reaksie op Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak. Deur “vryheid van uitdrukking” in wese as ‘n hoër reg as ‘n rits ander grondwetlike regte, insluitende die verbod op haatspraak, te verhef is Malema se optrede in wese juridies gekondoneer. Presies wat sou die reaksie uit hierdie geledere wees as Malema wit was, en gesing het dat die tradisionele swart mense geskiet moes word?

En wie, per definisie, is die eintlike rassis as ‘n joernalis by ‘n universiteit navraag doen oor sekere gebeure wat op die oog af na korrupsie lyk, en dan deur ‘n direkteur as rassis uitgeskel word en uit die kantoor gegooi word? Veral as daardie joernalis ‘n klag lê, en daarvan niks kom nie, sodat hy by gebrek aan ‘n apologie alle bande met sy alma mater verbreek?

Dit begin ook nou aan die regering se hakskene byt, wat weens ‘n beroerde telkaart van die komende verkiesing ‘n rassesensus probeer maak. Dit word ook duidelik dat dié kwessie nou deur Solidariteit se betrokkenheid by ‘n arbeidshofsaak van bruin werknemers in die Wes-Kaap, die kwessie op die spits aan die dryf is.

Op TV het die ANC se Marius Fransman, wat op die oomblik nog die kroon dra om ANC-steun onder bruin kiesers op te kommandeer, ‘n versigtig-uitgewerkte stelling gemaak. Volgens Fransman is dit onder meer amptenare wat die grondwet verkeerd vertolk wat tot ongeregtighede lei. Dit kan vertolk word as sou hy gesê het die hele tameletjie word veroorsaak deur senior amptenare in die DKD wat nou dié klip in die ANC se Wes-Kaapse skoen laat beland het.

Onlangs het Rapport die vuurstoker, Tony Ehrenreich, aangehaal waar hy ook geïmpliseer het Solidariteit is reg met hierdie saak. Gistermiddag het dit via Solidariteit bekend geword dat die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadalie, vandag ‘n nuuskonferensie reg oorkant die straat van die arbeidshof aanbied.

Die saak het baie diep politieke wortels. Daar was ‘n duidelike koersaanpassings onder bykans alle bruin rubriekskrywers toe die destydse kabinetswoordvoerder, Jimmy Manyi, gesê het bruin mense in die Wes-Kaap is oorverteenwoordig, en baie moet verkas. Dit het onder meer regstreekse kritiek van minister Trevor Manuel ontlok.

Dié opmerking was sommer blindelings ongrondwetlik, omdat die norme vir die trek van provinsiale grense – ‘n grondwetlike proses, juis hierdie faktore in ag neem.

Die DKD se verweer beteken, sou dieselfde norme toegepas word as wat die Belgiese TV-weerman sy pos gekos het, dat die hele boksemdais die trekpas moes kry. Hulle stereotipeer oor ras, en span “juristiese” akrobasie in om dit te probeer regverdig. Maar staan hulle werklik so geïsoleerd soos wat Fransman te kenne probeer gee het?

Teen dié tyd sou president Jacob Zuma se adviseurs, ongeag hoe bedenklik hul vermoë wyd geskat word, die president immers al ingelig het dat daardie hofsaak alle planne om die Wes-Kaap te “bevry” liederlik in die voet skiet. En sou dit werklik so moeilik wees om vir die minister van korrektiewe dienste ‘n opdrag te gee dat die saak gestaak moet word, en die diskriminerende praktyke gestaak word – al sou daar steeds gevoel word die beleid is in pas met die grondwet?

Of is dit ‘n geval van belastingbetalersgeld wat in regskostes gespandeer moet word sodat die hof, en nie die regering nie, die “blaam” moet kry as bevind word dat hierdie blatante voortrekkery van “African Africans” ongrondwetlik is?

Vryheidsdag is pas gevier, en daar was waarskynlik nog nooit sedert 1994 soveel mense van nie “African African” herkoms nie wat via onder meer die sosiale media laat blyk het hulle voel nie vry nie. Die openbare media wat almal probeer wysmaak het die land is nou op alle terreine behalwe sosio-ekonomies vry (waarvoor verskerpte “affirmative action” ingespan moet word), het nie hond-haaraf gemaak teen die stroom kuberkommentare nie.

Die wet waarvolgens mense volgens ras geklassifiseer word, is lank voor 1994 – reeds in 1991 – afgeskaf.

Byna ‘n kwarteeu later speel ras steeds ‘n enorme rol in mense se vryheid – sy vryheid om ‘n beurs te kry, sy vryheid om vir uitnemendheid beloon te word en keuring te kry, sy vryheid om danksy harde, bekwame werk bevordering te kry (as hy in die eerste plek in sy vaderland werk kon kry), en soos die grondwet in artikel 21 waarborg, te beweeg en woon waar hy wil. Vir baie laat werkersdag, soos vryheidsdag eerder ‘n wrang smaak in die mond.

Veel meer as bloot die grondwetlikheid van die DKD se optrede is nou op die spel. Dit het reeds duidelike politieke implikasies, maar belangriker nog, dit rig tot ‘n groot mate die gevoel wat een gemeenskap teenoor ‘n ander koester wedersyds.

Verlede jaar se Kliptown-beraad het ‘n algemene gevoel gelaat dat wantroue nog diep verskans lê, en by baie ook die gevoel versterk is dat die kloof groter word. Tog het daar te midde van hierdie persepsie by dieselfde afgevaardigdes ‘n positiewe lig opgegaan – die enorme welwillendheid wat agter die skerms by baie afgevaardigdes ervaar is.

Dit is, as ‘n mens die oë oopmaak ook iets wat ‘n mens wyd om ons kan waarneem;  nou, met die busstaking waar werkers soms die oggend by die werk kan kom maar dan gestrand is, hoe die vrou na haar eie werksdag die huishulp oplaai en huis toe neem, hoe die huishulp soggens vroeg met die werkgewers se kinders op pad na die naaste crèche is, hoe saam om die oop graf gehuil word …

Gelukkig is daar tekens dat die kwessie so ontplooi dat dit nie “African Africans” teen die “res” opstel nie. By die onlangse Kovsie-gradeplegtigheid het die kanselier, dr. Khotso Mokhele,  gesê die pas afgestudeerde studente moet hul spraakvryheid gebruik om hulle uit te spreek teen die verval om ons. Hy het ook die versugting uitgespreek vir ‘n land waar velkleur nie meer ‘n rol speel nie, en het ‘n strewe na uitnemendheid bepleit. (Dit staan in skrille kontras met ‘n [toevallig wit] direkteur van dieselfde universiteit se belediging aan die joernalis, en dien in wese as apologie). Dié tipe uitlatings word ook deur ander prominente swart mense, veral akademici, maar ook in Agang-geledere, gemaak. Of dit onderling met Agang se toetrede tot die politiek verband hou is voortydige bespiegeling.

Maar dit dui daarop dat nie almal “aan die ander kant” alles in rassekassies probeer dwing nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae