Nuuskommentaar: SA-universiteite vaar swak op QS-lys – Is Christelike universiteite regtig ‘n slegte idee?

‘n Ligte storm het onlangs in die media losgebars na aanleiding van ‘n rubriek waarin die Kovsierektor, prof. Jonathan Jansen, hom teen die konsep van ‘n Christelike universiteit uitgespreek het. Die debat is ongelukkig ‘n bietjie ontspoor deurdat Jansen gemeen het die planne vir ‘n Christelike universiteit in Suid-Afrika is rasgekoppel – iets wat nie die geval is nie.

‘n Tweede probleem is die konsep van wat onder ‘n Christelike universiteit verstaan word. Dwars oor die wêreld bestaan Bybelskole wat ongeakkrediteerde grade, selfs doktorsgrade oor haas enige vakgebied uitreik. Hulle is ook vrygewig met die uitdeel van eredoktorsgrade. Hulle tree dikwels vanuit ‘n erg fundamentalistiese benadering erg veroordelend op. Hoe minder van hierdie instellings in ‘n akademies-wetenskaplike konteks gesê word, hoe beter.

Aan die ander kant van die spektrum is daar volwaardige universiteite, wat bloot in naam Christelik is, en eens ‘n Christelike etos gehandhaaf het.

Dan is daar ‘n spektrum volwaardige universiteite wat ‘n sterker band met die Christelike geloof en etos handhaaf. Van hulle word onder die beste universiteite in die wêreld gereken.

Onder die top Christelike universiteite in die VSA wat pertinent Christelike waardes handhaaf en aan kerke gekoppel is, is Duke wat al 150 jaar lank aan die Metodistekerk gekoppel is. Hy het die gradering van tiende beste universiteit in die VSA gekry.

Op die jongste QS-ranglys het net een Suid-Afrikaanse universiteit, Kaapstad, onder die eerste 200 gekom, naamlik die 154de plek. Wits, in die 363de plek is die enigste ander universiteit onder die top 400, terwyl Tuks die lysie van 501 tot 550 haal, en die UKZN die lysie van 551 tot 600.

Jansen se universiteit tel nie onder die top 600 nie.

Jansen en die UV was juis sterk in die nuus toe die UV God uit die leuse weggelaat het, en gebed onder meer by gradeplegtighede laat vaar het.

Jansen skryf onder meer:  “Die idee van ’n Christelike universiteit is ’n oksimoron. ’n Universiteit bestaan nie vir enige godsdiens nie; dit is per definisie ’n plek wat die uitdrukking van idees buite die grense van een geloof moontlik maak, wat nie-gelowiges insluit.” Sy volledige rubriek kan hier gelees word.

In reaksie skryf prof. Johan van Rensburg, emeritus-professor in Praktiese Teologie aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystsaat soos volg in die DitsemBlits:

“Die emosionele trant van die artikel daargelaat. Kom ons probeer om na die kern van sy argument deur te dring. Klaarblyklik is dit prof. Jansen se oortuiging dat Christelike universiteite tot verdere bekrompenheid en eksklusivisme sal lei. Waarom? En hoe? Volgens hom sal dit jong wit gemoedere isoleer van volle deelname aan die fisieke, maatskaplike en opvoedkundige ruimtes wat nou vir almal in gedeseggregeerde openbare universiteite oop is. Prof. Jansen veronderstel dus dat Christelike universiteite nie hierdie opvoedkundige ruimtes sal fasiliteer nie. ‘n Christelike universiteit is dan vir hom sinoniem met ‘n kokon-bestaan.” Die volledige artikel kan hier gelees word.

Wat wel onder die QS-ranglys opval, ook onder die top 200, is hoeveel Rooms-Katolieke en ander Christelike universiteite daar voorkom.

Om af te lei dat Kovsies nie die top 600 kon haal nie, omdat van die Christelike etos afgestap is, sou wees om appels met pere te vergelyk. Jansen kom immers dikwels baie na daaraan om die ANC se tjank af te trap met sy aandrang van akademiese uitmuntendheid. Daar is bepaalde kontekste wat sekere universiteite se gradering op die lys raak, en veral die voormalige Afrikaanse universiteite het agterstande om publikasiegewys, met navorsingskontrakte en ander terreine mee te ding.

Om hierdie konteks te stel is ‘n skrywe gisteroggend aan Kovsies se hoof van strategiese kommunikasie gerig, maar geen antwoord is nog ontvang nie. Dit is egter bekend dat Suid-Afrikaanse universiteite, waaronder Kovsies, akademiese uitruilprogramme het met gerekende oorsese universiteite het – iets wat nie moontlik sou wees as daar byvoorbeeld ‘n verskil in standaarde sou wees nie. Suid-Afrikaanse gegradueerdes sou immers nie so oorsee in aanvraag gewees het as standaarde swak was nie, en Suid-Afrika sou nie pionierswerk met hartoorplantings en ander wetenskaplike prestasies kon lewer nie.

Suid-Afrika sal eers werklik mededingend op die lys word as die voedingsbronne – die skoolstelsel – op ‘n wêreldstandaard geplaas word. Op die oomblik is Suid-Afrika ongelukkig agter heelwat lande suid van die  Sahara, en dosente beskou studente uit onder meer Zimbabwe as van sigbaar beter gehalte as ‘n groot groep Suid-Afrikaners.

As Suid-Afrikaner is dit egter nie lekker om te sien hoe die naam van die een Aussie-universiteit na die ander taamlik hoog op die lys verbyflits nie. Die Australian National University in die 24ste plek vaar die beste van die universiteite Doer Onder. ‘n Mens sou verwag dat minstens sommige Suid-Afrikaanse universiteite nie te ver agter die Australiese sou inval nie, maar moet ongelukkig eerder na bekende Suid-Afrikaanse name onder die instellings van Kazakstan en ander ongerekende lande gaan soek… as hulle ooit op die lys voorkom.

Dit is jammer dat Suid-Afrika nie werklik ‘n instelling met ‘n sterk, Christelike etos gegun word nie. Om bloot hier en daar “Christelik” op die oppervlak te plak kom daarop neer om die Here as menslike werktuig in te span, eerder as soos dit hoort, dat die Christen in diens van die Here te staan.

Die Christelike etiek is ten nouste verweef met die strewe na uitnemendheid. En dit is wat ‘n universiteit behoort te wees.

‘n Instelling wat onder die vaandel van Christenskap erg onverdraagsaam en veroordelend staan teenoor mense wat anders dink, ook Christene wat anders dink, doen in werklikheid die Christendom oneer aan. Let maar op hoe mense onder die vaandel van hul Christenskap die eietydse inkwisisie inspan en ander as fundamentaliste, post-moderniste, nuwe hervormers, verkramp en vele meer uitskel, terwyl die beswadderdes hulself nie in daardie kampe plaas nie. As ‘n Christelike universiteit die volgende vrugte van die Heilige Gees dra, kan daar mos nie mee fout gevind word nie: verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God vreugde, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklik, vol genade, onpartydig, nie veroordelend wees nie, en ja is ja en nee is nee.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Ebert ·

Ten spyte van prof. Jansen se gruwelike veralgemening en etikettering (indien hy blank was, sou hy van rassisme beskuldig kon word), gedy Christelike, Afrikaanse tersiëre onderriginstellings reeds in Suid-Afrika.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie ken sedert 1988 geakkrediteerde en internasionaal-erkende BA, Teologie en Sielkunde grade aan. Die Akademie bedryf ‘n Afrikaanse enkelmedium kampus in Pretoria en ‘n Engelse medium kampus in Germiston.

Dan het die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS) hierdie jaar akkreditasie ontvang vir die B.ed Grondslag onderwysgraad wat die instelling aanbied.

Die grootste bokostes wat verband hou met die oprig en bedryf van ‘n nuwe universiteit, te wete programontwikkeling, akkreditasie en administrasie is reeds suksesvol deur hierdie instellings deurgevoer. Verdere ontwikkeling en nouer samewerking is nou die volgende fase – dus hoef die wiel nie van vooraf deur ‘n “nuwe” universiteit uitgedink te word nie.

Jou kommentaar is egter baie relevant. Die gesegde lui dat mense in glashuise liefs nie klippe moet gooi nie.

Meer kan gelees word oor hierdie instellings by

http://www.apa.ac.za/

http://aros.ac.za/aros/

Ebert ·

Verskoon maar my vorige plasing, ek het ‘n beter deurdagte plasing gepos, maar die het seker in die gemorsposfilter vasgehaak…

KopKrap ·

Miskien moet die skrywer net weer herinner word dat indien iemand homself as, byvoorbeeld, “eerlik” bestempel, dit nie noodwendig waar is nie. Om sodoende te kan bepaal, vanaf ‘n Christelike grondslag, of die persoon werklik eerlik is, moet die persoon se vrugte getoets word.

Nou moet ek darem ook net die skrywer van die artikel daaraan herinner dat die Protestante weggebreek het van die RKK omdat hulle beweer het die RKK is nie ‘n Christelike Kerk nie. Jy kan van hulle verskil, maar dit gaan nie jou conundrum oplos nie.

Wat ookal die RKK gedoen het in die verlede, soos die inwesiesie, kan jy noem wat jy wil, maar asb moet dit nie Christelik noem nie. Die RKK is nie ‘n Christelike Kerk nie, hulle hou net baie van die term.

“‘n Instelling wat onder die vaandel van Christenskap erg onverdraagsaam en veroordelend staan teenoor mense wat anders dink, ook Christene wat anders dink, doen in werklikheid die Christendom oneer aan”

Die stelling het ‘n logiese teenstrydigheid. Om ‘n Christen te kan identifiseer moet daar noodwendig verskille met ander wees, anders kan dit mos maar enige naam he, dan nie? Omdat Christenskap ‘n geloof is, sal daar noodwendig ‘n eskatologie bestaan vir die wat nie daaraan glo nie, dan nie? As iemand wegbeweeg van die Bybel of die Bybel nie as ABSOLUTE Gosdwoord beskou nie, kan die iemand mos nie homself roem op Christenskap nie, dan nie? Omdat Crhistus as die Verlosser uitsluitlik vanuit die Bybel duidelik is, kan niemand enigiets met Christenskap assosieer wat nie uit die Bybel is nie. Anders is dit mos ‘n teenstrydigheid en daarom bankrot aan enige ander roem, dan nie?

Om die gevolgtrekking te maak dat “veroordeling” en of “andersdenkend” “Christendom oneer aan” doen moet jy weer gaan kyk na wat logies aanvaarbaar kan wees. Dit wil blyk asof jy eerder gedurende dieselfde sin jou defenisies begin verander.

Wat nog meer laakbaar is, is jou aanname dat die term “onverdraagsaamheid” toegeskryf behoort te word aan iemand wat behoudend is, of iemand wat dit waag om die verskil tussen en met ander te beskryf.

As jy nie van Christenskap hou nie, dan is dit jou siening. Wees net eerlik en se dit vir dit wat dit is.

As jy Christenskap nie mooi verstaan nie, het jy nie nodig om ‘n bundel kommentare van Christenskap deur te werk of om ‘n guru te gaan sien nie. Dit is baie makliker om net na die Bybel te gaan en ‘n eerlike verhouding met jou Skepper na te strewe. Los die retoriek. Gebruik logika as ‘n vriend, neem die absolute morele waardes van die Bybel aan en besef alles is gegrond op die Woord van God.

Maar natuurlik, as ‘n ou begin weg beweeg van die Bybel as enigste fondament, is dit maklik om die absolute morele waardes van die Bybel te reduseer tot “kom ons hou hande en sing kumbaja”.

En steeds bly die vraag, kan hierdie webblad nie skrywers met insig lok nie?

herrie ·

herrie
13 September 2012 om 06:11 | Permalink | Antwoord

Hallo Kopkrap. Die vrugte van die Heilige Gees soos gelys kom uit die Bybel self. Ook die verbod om ander te oordeel. Verskeie vorige fundamentalistiese beweginngs het al gesneuwel weens hul onverdraagsaamheid, maar onverdraagsaamheid is opmerklik oor die ganse debat in kerkverbande. Hierdie faktore het onder meer daartoe bygedra dat die NG Kerk sy diversiteitsforum moes sluit.
Herman Toerien

KopKrap ·

Herman

“Verskeie vorige fundamentalistiese beweginngs het al gesneuwel weens hul onverdraagsaamheid ..”

Stelling 1 : Verskeie lande het ander lande se grondgebied verower deur oorlog.
Stelling 2 : Almal bly in lande
Gevolgtrekking : lande = oorloe

Stelling 1 : Fundamentaliste het al bomme aan hulleself gegespe en dit dan laat ontplof
Stelling 2 : Meeste van die selfmoordaanvalle is godsdienstig
Gevolgtrekking : onverdraagsaamheid = geloof

Beide gevolgtrekkings is verkeerd.

Probeer nou die verband te sien tussen die sothede wat jy kwytraak en die logiese foute wat jy begaan.

Eerstens, dit is nie vir my om te oordeel nie. Ek weet dit, want ek weet ook dat indien ek dit doen, dieselfde oordeel oor my sal kom.

Die aantuiging wat jy maak is natuurlik onkundig. Nerens in my kommentaar is daar ‘n oordeel uitgespreek nie, en nerens het ek ook iemand veroordeel nie. Dit is ‘n valse beskuldiging wat die Wet oortree.

Tweedens, die “verbod om te oordeel” is nie ‘n vrug nie, dit is ‘n kern beginsel van Christenskap dat daar sonde en gevolg van sonde is – sonde deur die mens / oordeel deur God.

Jou gevolgtrekking en/of stelling is teenstrydig en kan daarom nie bestaan nie.

Derdens, wil dit voorkom dat jy beweer die NG Kerk het ‘n poging om toegeneentheid met ander gelowe verloor deur onverdraagsaamheid.

Jy het blykbaar ‘n onvermoe om die wette van logika te volg. Die “ranting and raving” vlak van debat het natuurlik niks met Christenskap te doen nie.

Die volgende teenstrydigheid is dat jou stelling impliseer dat gelowe nie behoudend moet wees nie. As ‘n geloof nie behoudend is nie, bestaan dit nie. So eenvoudig soos dit. Ons ken ‘n gans aan sy voorkoms en gedrag. As ‘n voel loop soos ‘n gans, raas soos ‘n gans en lyk soos ‘n gans, dan is dit ‘n gans, anders nie.

As ‘n Christen nie loop binne die Bybel nie, nie praat binne die Bybel nie en nie ‘n voorkoms het soos die Bybel verwag nie (wapenuitrusting / Woord soos ‘n tweesnydende swaard / ens), dan is dit nie ‘n Christen nie.

En dis ook ok vir julle wat voel dat Christenskap darem net te veel is. Word ‘n iets anders. Moet net nie so onverdraagsaam wees met Bybel behoudende Christene nie.

Vierdens, alhoewel dit nie baie duidelik gestel word nie, is die afleiding dat almal wat nie soos jy dink nie “fundementaliste” is. Indien die afleiding korrek is, is jy skuldig aan nog ‘n logiese fout.

‘n Fundementalis is iemand wat binne die beperkings van ‘n saak debateer. Jy daarinteen blyk ‘n voorstaander te wees dat daar nie moet perke mag wees vir debat nie. Jy kan byvoorbeeld insinieer dat ek ‘n “fundementalis” is wat “onverdraagbaar” is, in stede van ‘n “beginselvaste” wat “nie onreg toelaat nie”. Dit is omdat die NG Kerk nie ‘n Bybelse standpunt kan inneem, beginselvas bly dat hulle wonder wat hulle is.

As jy voorgee om ‘n “gereformeerde Christen” te wees, behoort jy by die voorskrifte te bly. As jy nie lus is nie, verander jou voorskrifte, maar moenie teenstrydig wees deur voor te gee jy is nog ‘n “gereformeerde Christen”.

Dit is die probleem met mense wat beginsels wil “herdefinieer”, hulle verkoop dit aan hande van “vernuwing” maar dit is eerder ‘n verwerping die oorspronglike. En so gaan hulle redenasies in die rondte om en om en om.

Enige sinvolle debat vereis dat dit binne reels plaasvind. Hierdie reels kan ook nie opgemaak word tydens die debat nie en moet ten miste ook deur albei kante aanvaar word as die enigste reels.

Dit is my oorwoe mening dat in debat die wette van logika te same met ‘n morele verantwoordelikheid, aangeneem moet word. Anders beweeg daar net klankgolwe deur die lug (of skirf op die kuberruimte) sonder enige doel.

Jou vorm van debat val in ‘n kategorie waar die gevolgtrekking gelykstaan aan die tese. Sulke redenasies val buite die wette van logika (teenstrydighede) en is ook moreel bankrot (berieglik).

Dit wil voorkom asof die reaksie op my kommentaar dan ook ‘n retoriek is wat op verskeie gesprekke gevind kan word.

Hoekom heroorweeg jy nie jou gebrek aan standpunt en neem standpunt in waarteen ‘n debat gevoer kan word nie.

Of dink jy nog oor wat jou stel van morele waardes behoort te wees?

herrie ·

Hallo Kopkrap
Jy verwag seker nie ek moet op hierdie “argumente” reageer nie? Veral nie terwyl jy lafhartig agter ‘n skuilnaam wegkruip nie. As jy werklik belangstel om te weet wat ek oor geloofsake en kerksake skryf, slaan gerus my stukke in Die Kerkblad en die e-Hervormer na, en sommer ook die Deknkwijzer van die ChristenUnie se Wetens chap Instituut. Ek is baie vroeg die oggend reeds deur ‘n baie gerekende regsprofessor wat kerklik betreklik fundamentalisties is oor hierdie einste artikel persoonlik geluk gewens. Dit gaan lank vat voor ‘n naamlose leek my gaan “gooi.”
Herman

KopKrap ·

Herman

Soos gewoontlik, die tweede reaksie ‘n ad hominem aanval.

Vergeet van ‘n skuilnaam of wie met jou redeneer. Dit het niks met die saak te doen nie. Die onderwerp het.

Die ander tipiese retoriek is om te roem op jou eie geloofwaardigheid wat jyself bepaal het, en dan ‘n verdere beroep op die kundigheid van ‘n kennis wat dan jou artikel sou prys. In logika is daar nie plek vir eie beginsels nie. Slegs die algemene reels geld.

Jy maak natuurlik ‘n fatale fout om die doel van die gesprek te sien as ‘n ad hominem aanval. Dit gaan hier oor ‘n beginsel na ontleding van die teks.

Die inligtings wetenskap lys 5 eienskappe van inligting, en daarom die oordra van inligting, waarvan die oortreffende “doel” is. Daarom stem ek met jou hier saam dat daar ‘n doel met debat moet wees.

My wereldsiening bepaal dat daar nie doel aan is om iemand persoonlik aan te val en/of te verkleineer nie. Om te bevestig, ek het nie ten doel om jou persoonlik aan te val nie.

Die doel van debat is of om ‘n persoonlike siening te versterk, of om dit aan te pas wanneer nodig. Dit is hoekom kommunikasiekunde die verwerking van inligting tot kennis so erenstig beskou. Dra jou standpunt so duidelik moontlik oor sodat iemand anders daarby baat kan vind.

Terloops, ek het nie die reels gemaak nie, ek volg net die reels.

So, daar is blykbaar ‘n wereld tussen my en jou benadering tov debat.

Om na doel weereens te verwys. Wat is die doel van die artikel op hierdie webwerf te same met ‘n ope uitnodiging om kommentaar te lewer sonder beperkende voorskrifte? Dit moet tog aangeneem word dat die “common law” voorskrifte sal geld en daarom is dit glad nie so verregaande van my om aan te dring op die algemene aanvaarde debat reels nie.

Wat betref jou geloofsoortuiging, het ek nie die feit dat jy dalk anders as ek glo enigsins beredeneer nie. Ek het ook nie ten doel, met die spesifieke kommentaar, om jou van jou geloofsoortuiging te hersien nie. Die onderwerp van die artikel en die kommentaar op die gevolgtrekkings was die onderwerp van my kommentaar.

Dit is tog duidelik dat die debat gaan oor my sieninge tov skynbare valse stellings, gevolgtrekkings en valse definisies van terme. Ek het dit o.a. teen die stellings bemaak tov die “skuld” wat die Christene moet dra vir mense wat “masquerade” as Christene. Verder het ek dit ook teen die stellings van “fundementalisme” wat so ‘n “bait and switch” styl gebruik word.

Dit is gewoon oneerlik om ‘n valse afleiding op die rug van halwe waarhede (vals persepsies) te laat ry.

En dan kom ons by ‘n skynbare ad hominem aanval. Daar is geen mooi manier om iemand se gebrek aan insig oor ‘n onderwerp uit te lig nie. Dit is nie ‘n oordeel nie, dit is ‘n uitdaging. Niks persoonlik nie.

Dit is soos om vir die jong seun te se dat hy nie kan verspring as hy nie kan touspring nie. Dit is maar wat dit is. Dit is dan vir die jong seun om aan te pas en te leer om die motoriese vaardighede aan te leer.

Dit is net jammer dat in hierdie tyd en plek daar nog mense is wat dink dat “filosofiese” kommentaar oor die aktuele onderwerpe aanvaarbaar is. Dit is verder jammer dat daar nie meer mense is wat bereid is om ‘n onderwerp te debateer nie. Sodra die logiese foute van stellings belig word, is die direkte reaksie om die persoon te verdink. Waar is die wet afgekondig dat hierdie berig waterdig is?

Blykbaar is die posisie in die akedemie en/of sosiale omgewing die bepaler van wie mag reg wees en wie sal verkeerd wees.

Dit laat ‘n ou aan heilige koeie dink. Waar is die wat nog grondbeginsels beskou?

susan ·

Dagsê!

Maroela Media verwelkom debat en teenstrydige menings, en elke deelnemer is geregtig op sy mening. Dankie, dus, vir al die kommentaar. Ek versoek dat ons volstaan met die kommentaar wat tot hiertoe gelewer is. Hoewel ons uiteenlopende menings verwelkom en aanmoedig, verkies ons dat skrywers nie persoonlik beledigend of afbrekend reageer nie. Die argumente op sigself behoort genoeg gewig te dra.

Kopkrap, ek wil graag voorstel dat jy op gereelde basis Die Groot Debat begin lees. Maroela Media se rubriekskrywers op Die Groot Debat is waarskynlik die Afrikaanse webblad met die sterkste groep skrywers (in terme van insig) tans op die internet. Kyk ook uit vir Standpunte, Maroela Media se nuwe afdeling met meer intellektuele skrywes wat binnekort die lig gaan sien.

Vriendelike groete, Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)

KopKrap ·

Susan

Om valse persepsies voortydig te probeer keer, stel ek dit dat ek die beginsel van redigering op so ‘n blad verstaan en ook ondersteun. Dit moet tog slegs net beperk te word op werklike wangedrag en nie op persepsies nie.

Ek het egter ‘n probleem as ons nie eerlik met definisies is nie. Lees my reaksie op Herman se laaste kommentaar om te kan sien dat ‘n ongemaklike stelling nie noodwendig ‘n persoonlike aanval is nie. As ek die Springbok skopper se sukses bevraagteken deur te se “Hy skop soos my ouma”, het ek nie die man aan geval nie. Ek het kritiserend verwys na een van sy vaardighede of die gebrek daaraan. Kretiek is nog wettig.

Ek sal dit waardeer as stellings gemaak word na behoorlike evaluasie.

Wat betref jou “aanmaning” [“Kopkrap, ek wil graag voorstel dat jy op gereelde basis Die Groot Debat begin lees …”] sal jy jou maatstaf moet heroorweeg om te bepaal wat ad hominem is of nie. Ek vind hierdie nie ‘n persoonlike aanval nie, maar as ek ‘n swak selfbeeld het of twyfel in my sieninge mag ek dit dalk as ad hominem sien.

(ek kan nie anders om ook die logiese fout in hierdie stelling uit te lig nie. Indien jy aanneem dat baie lees ondervinding van hierdie blad my siening sou beinvloed, beroep jy jouself op ‘n moontlike onkunde aan my kant. Jy weet nie of ek onkundig is of nie, behalwe vir wat ek se. So – as ek iets se wat onkundig is, val die stelling aan, nie die vermoede of ek wys is of nie)

Onder ‘n risiko om nou totaal ongewild te wees by die “regter” van hierdie blad, maak ek hierdie volgende stelling baie versigtig. Ek kwalifiseer dit ook sommer voortydig. Dit is nie ‘n ad hominem aanval nie. Die stelling : Dit is ‘n logiese fout om te roem op maatstawwe wat self opgestel is.

Daar is nog nie vir ‘n feit bepaal dat “… sterkste groep skrywers (in terme van insig) tans op die internet …” nie. Dit is ook ‘n baie wye stelling om te maak, want die internet het baie skrywers oor verskeie onderwerpe met verskeie doelstellinge. Dit is ‘n absolute stelling wat volg van geen konkrete bewyse daarvoor nie.

Dit is my punt. As daar by my twyfel bestaan oor die kwaliteit, dan mag ek daaroor kommentaar lewer, want ek word uitgenooi om so te doen.

Daarteenoor, kon ek die blad ignoreer en net nooit weer dit lees nie. Dit is om h’t ewe. Niemand gaan my mis nie en ek gaan julle ook nie mis nie.

Wat ek wel vereis is, dat wanneer ek uitgenooi word om kommentaar te lewer en my kommentaar binne die debats reels val, my debat dan met die nodige respek behandel word.

As my debat faal dan is dit die einde daarvan, maar dit blyk ek word verhoed om debat te voer met sterk en teenstrydige stellings. Blykbaar, na jou beroep op eie maatstaf, wil jy voorgee wat ek hier lees behoort ek slegs te aanvaar sonder teenstand.

As dit die doel is om julle “… sterkste groep skrywers …” te beskerm teen enige opponerende kommentaar, maak soos ander webwerwe en gee net die moontlikheid ban “thumbs up” of nie.

Dit blyk dat julle baie opgewonde is oor die toekomstige “Standpunte” deur “intellektuele”. Ongelukkig deel ek nie die opgewondenheid nie. Die kuberruimte is oorlopends toe vol van “intelekuele” se standpunte.

As ek dit mag doen, sou ek voorstel dat julle miskien nog ‘n toekomstige afdeling stig onder die naam “Logika”. Dan kan die vaebonde soos ek lekker in die hoekie ons logika gaan beoefen binne universiele reels wat nie deur die debateerders gemaak word soos dit aangaan nie, en waar ‘n ou op die manaf kan redeneer. Hierdie is nie ‘n sarkastiese opmerking nie, dit is ‘n baie sterk behoefte van ‘n klein klompie mense wat aanhangers is van logika, maar weinig ruimte het om dit te beoefen.

Ek sal van tyd tot tyd hier inloer en my toekomstige kommentare sal noodwendig beinvloed wees deur hierdie reaksie op die vorige kommentare.

Groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.