Nuuskommentaar: Sasolburg en Algerië – afpersing deur geweld

Argieffoto

In ‘n sokkermal wêreld is die oë van die wêreld op Suid-Afrika waar die Afcon-toernooi tans plaasvind. Maar as die buitelandse joernaliste saans die TV-nuus kyk is dit nie net sokker wat gesien word nie, maar tonele van oproer, geweld en plundery. ‘n Polisieman wat ‘n vrou, wat skynbaar deel van ‘n groep plunderaars was maar nie betyds kon wegkom nie, genadeloos met sy knuppel moker terwyl sy weerloos voor hom staan, gaan ook nie Suid-Afrika se beeld vreeslik goed doen nie. Onthou maar die Andries Tatane-geval.

Maar Sasolburg is nie alleen nie. Die “plaaswerker”-staking in die Wes-Kaap het plek-plek meer aandag gekry oor die geweld wat daarmee gepaard gegaan het as die staking self, met moontlik ‘n meerderheid wat meegedoen het wat nie plaaswerkers is nie.

By Hennenman moes die burgemeester vlug en vanuit die veiligheid van ‘n polisievoertuig die gemeenskap se griefskrif ontvang.

By die Medupi-kragsentrale wat nog in aanbou is, het die staking gewelddadige fases beleef. Medupi is internasionaal onder die vergrootglas omdat Suid-Afrika in die internasionale konteks van aardverwarming en die fokus op groen energie, twee reuse steenkoolkragsentrales bou. Japan, wat nog spartel om die skade aan die Fukushima-kernkragsentrale ongedaan te maak, gaan nou 16 kilometer van die kus windkragterbunes plaas om saam 1 gigawatt krag te lewer. Oor drie jaar wil die land 7.6 gigawatt deur windkrag opwek. Medupi gaan 4,8 gigawatt lewer.

Tog, word die wêreldmedia se reaksie ge-Google, is daar min belangstelling in die gewelddadige gebeure in Suid-Afrika. Daar is nie naastenby dieselfde reaksie as ‘n Marikana of selfs net die president se vreemde uitsprake sedert Nuwejaar nie. Daar is ‘n belangrike rede voor.

Die wêreld probeer nog sin maak uit die Algerynse gyselaarskrisis wat bloedig beëindig is. Hoewel die ontsteltenis groot is oor die minstens 37 buitelanders wat in die ontsettingsoperasie dood is, is die onderliggende kwessie dat mense ‘n soort magteloosheid ervaar dat ekstremiste met soveel skynbare gemak dade kan pleeg om die ganse mensdom gyselaar te hou.

Met die aanval op die Twin Towers en die Pentagon het twee name in die wêreld se verstand vasgebrand – Al-Kaïda en Osama bin Laden.

Enige groep wat bande met Al-Kaïda het, kry reeds ‘n vrypas na die wêreldaandag selfs nog voor enige terreurdaad gepleeg is. Maar terreurdade bly nie agterweë nie. En die neem van gyselaars is ‘n seker wyse om die wêreldaandag te trek – dit gryp ‘n land se emosies aan. Min Suid-Afrikaners het vergeet van die gyselaarhouding van Callie en Moniqué Strydom in die Filippyne 12 jaar gelede. Meer onlangs was Debbie Calitz en Bruno Pelizzari die gyselaars van Somaliese seerowers.

Met die aanslag op die Algerynse gasaanleg het die terroriste burgers van ten minste 8 lande gyselaar geneem, en het boonop bande met Al-Kaïda. Hulle het boonop tot die daad oorgegaan om Franse ingryping in Mali te probeer stuit, waar Al Kaïda-verwante groepe skynbaar onkeerbaar onderweg was om die land se hoofstad oor te neem.

Daar is moontlik ‘n ander rede waarom die Sasolburg-geweld nie die aandag van die wêreld kry wat dit normaalweg sou nie. Suid-Afrika beleef nou gemiddeld elke tweede dag diensleweringsbetogings, en baie hiervan ontaard in geweld. Nog verwante geweld is bloot ou nuus. Suid-Afrika het reeds daardie beeld, en nog ‘n geval is net nie nuuswaardig nie.

Die geweld in Sasolburg se kruitvat is tog effens anders. Terwyl politieke ontleders meen dat dit met die politieke onrus in ANC in die Vrystaat verband hou, is daar veel meer onderliggende faktore as die “gewone.” Formeel handel die protes oor planne om die Metsimoholo-munisipaliteit met Sasolburg as vernaamste sentrum, en Ngwate met Parys as vernaamste sentrum, saam te voeg en ’n metroraad te skep. ‘n Metro beteken hoër salarisse vir die uitverkorenes en dus duurder munisipale dienste.

Die fynskrif is egter dat Parys die tuisdorp van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, is. Sy mense het die munisipaliteit behoorlik die afgrond in bestuur. Anders as die meeste mense in die Vrystaat wat Suid-Sotho’s is, is Magashule ‘n Tswana omdat Parys demografies eerder deel van die Tswana-Noordwes is as die Vrystaat. Hulle is dus nie deel van die Vrystaat se “gewone” Tswana-bevolking wat in ‘n korridor van Boshof tot by ThabaNchu woon nie.

Sasolburg is weer deel van die kosmopolitaanse Vaaldriehoek. Die bevolkingsamestelling lyk gans anders, en hulle het weinig trek vir Magashule se beweerde nepotisme.

Tradisioneel is munisipale gebiede wat wydsbeen oor etniese grense staan vatbaar vir onrus, en het al tevore telkemale soos domino’s in ‘n strook voorgekom wat van Qwaqwa tot Sasolburg strek, wat munisipaliteite dorpe insluit waarvan ‘n deel oorwegend Suid-Sotho, en die ander Zoeloe is. Is die burgemeester ‘n Zoeloe, is die Suid-Sotho-dorpe wantrouig oor voortrekkery, en omgekeerd.

Boonop sluit die Ngwate-munisipaliteit ook Heilbron in, wat sy eie dinamika het wat in die verlede tot heelwat onrus gelei het. Dat Heilbron as’t ware deur die spartelende ANC in Parys “gekoloniseer” is het nie gehelp nie.

Daar is wel een sterk element van ooreenkoms tussen die gebeure in Algerië en die geweld in Suid-Afrika – een van afpersing. Geweld, vandalisme en plundering verhoog die druk van protes en stakings, dit verhoog die profiel daarvan. En dit wek soms, ongelooflik, simpatie terwyl niks anders as weersin verwag word nie.

Hamas in die Gazastrook is ‘n skitterende voorbeeld. Hamas vuur vuurpyle af op Israelse woonstelblokke en selfs skole, maar vanaf stellings in skoolterreine, naby hospitale of ander plekke waar agter burgerlikes geskuil word. Wanneer Israel terugslaan en burgerlikes sterf, is Israel die muishond in die saak.

Algerië, wat in die praktyk nie ‘n model-demokrasie is nie, loop reeds erg in die wêreldmedia deur vir sy bloedige ontsettingsoperasie, sonder dat in ag geneem word wat die gevolge sou wees as dit nie geloods is nie.

Met die gewelddadige stakings in die Wes-Kaap het die stemme van protes oor die minimumlone al harder begin word, is dit amper doodstil dat die meeste Wes-Kaapse boere heelwat hoër lone betaal, en daarby ander byvoordele verskaf.  Implikasies oor hoër vasgestelde minimumlone op ook die minimumlone van huishulpe, kospryse, verlies aan buitelandse mededingendheid en werksverliese word nie in dieselfde asem genoem nie.

Daar is natuurlik ook gevalle waar gewelddadige optrede juis die simpatie wat die ontevredenes gehad het, in weersin laat omsit.

Byna ‘n 100 Tibettane, die meeste monnike, het hulself al sedert 2011 uit protes teen die Chinese besetting van hul land aan die brand gesteek. Vir ‘n Boeddhis is dit ‘n geweldige opoffering omdat dit sy nadoodse bestaan volgens sy geloof erg benadeel. Maar na aanvanklike wêreldwye ontsteltenis is dit in ‘n afgestompte wêreld kwalik nuus.

Terroriste neig om na-apers te wees, en wat elders werk ook in te span. Maar omdat die wêreld neig om afgestomp te raak, word maniere gevind om steeds die wêreld te skok. En meer geweld is die opsie. Verwoesting van argeologiese skatte is ‘n ander, maar dit ontstel net ‘n klein segment van die bevolking.

Die gebruik en koestering van geweld om ‘n mens se sin te kry, is ‘n gevaarlike “spel.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae