Die swart en wit groenskrif oor grondhervorming

Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting

Min dokumente verskaf ‘n meer ontmoedigende illustrasie van die mate waardeur die nasionale gesprek tans met rassegevoel beïnvloed word as die onlangs-gepubliseerde Groenskrif oor Grondhervorming.

Die Groenskrif se ideologiese oorsprong is die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie – wat, glo dit of nie, steeds Suid-Afrika deur die prisma van ‘n voortdurende vryheidstryd teen blankes beskou. Die ideologie is gereflekteer in die Groenskrif se verklaring dat “alle anti-koloniale strydaksies in hul wese oor twee aangeleenthede gaan: herbesitneming van grond wat deur mag of misleiding verloor is; en die hervestiging van die sentraliteit van inheemse kultuur.” Die opstellers verklaar eintlik dat 17 jaar na 1994, die anti-koloniale stryd nog nie verby is nie: blankes is kolonialiste; die stryd is teen hulle; en die inheemse kultuur behoort sentraal tot alles te wees.

Volgens die Groenskrif, behoort “….die debat oor landbou verandering, grondhervorming en landelike ontwikkeling” te begin met nasionale soewereiniteit – aangesien nasionale soewereiniteit in terme van grond gedefinieer word. Die implikasie is dat nasionale soewereiniteit nie herstel sal word alvorens ‘n genoegsame hoeveelheid grond deur swart Suid-Afrikaners herbesit word nie. Die Groenskrif is van mening dat dat hierdie “fundamentele veronderstelling” alle ander oorwegings oortref, insluitend ” doeltreffende grondhervorming, en voedselonafhanklikheid en sekuriteit.”

Maar hoe kan dit wees? Is hierdie “fundamentele veronderstelling” werklik meer belangrik as die nasie se voedselsekuriteit? Is die Verenigde State enigsins minder soewerein omdat sy landbougrond deur 3% van die bevolking besit word? En hoe doen grondeienaarskap deur blankes afbreuk aan ons nasionale soewereiniteit?

Daar volg die standaard historiese ontleding van kolonialiste wat swartes in “knegte en slawe” verander het; van die “wreedaardigheid” teenoor die Afrika-bevolking deur kolonialisme en apartheid; en die “sistematiese uitdunning en verarming van die Afrika-bevolking….”. Volgens die Groenskrif het swartmense gelukkig ‘n enorme kapasiteit om blankes te vergewe ten spyte van “die woede, bitterheid en pyn van diegene wat aan hierdie wrede behandeling onderwerp is”. “MAAR, hierdie welwillendheid behoort nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, omdat dit nie ‘n onuitputbare maatskaplike bate is nie”.

Veel van hierdie kreet uit die hart is ‘n ware refleksie van die diep pyn wat swart Suid-Afrikaners steeds oor die verlede ervaar. Baie Suid-Afrikaners was ongetwyfeld onregverdig van eiendomsreg ontneem en verhoed om grond buite die tuislande te besit. Dit is presies oor hierdie rede dat ons grondwetlike akkoord voorsiening maak vir ‘n gebalanseerde proses van restitusie en grondhervorming. Organisasies soos AgriSA het konsekwent bewys dat hulle grondhervorming ondersteun en dat hulle bereid is om met die regering hieroor saam te werk.

Die Groenskrif se historiese ontleding is egter hopeloos verwronge. Vele Suid-Afrikaners het sterk historiese, wettige en morele aanspraak op die grond waarop hulle boer. Daar is ook ‘n beduidende verhouding van landbougrond wat van eienaarskap verwissel het sedert 1994.

Die Groenskrif se oplossing vir die grondprobleem is “Landelike Transformasie” – wat “‘n spoedige en fundamentele verandering in die verhoudings [stelsels en patrone van eienaarskap en beheer] van grond, vee, oeste en die gemeenskap meebring.” In terme van die voorstelle sal daar vier kategorieë van grond eiendomsreg wees: staats en openbare grond wat onderhewe aan huurpag sal wees; grond in privaatbesit wat vrypag sal wees maar met “beperkende omvang”; grond in buitelandse besit wat vrypag sal wees met “onseker eiendomsreg” en onderworpe aan voorwaardes; en gemeenskaplike grond met gemeenskaplike eiendomsreg en institusionele gebruiksregte.

Die voorgestelde grond eiendomsregstelsel sal deur ‘n aantal nuwe agentskappe, insluitend ‘n Grondbestuurkommissie; ‘n Grond Waardeerder-generaal en ‘n Grondregte Bestuursraad, met plaaslike bestuurskomitees toegepas word. Die nuwe stelsel sal gepaard gaan met die implementering van die Grondbesit Sekuriteit Wet, 2010. Dit is slegte nuus vir plaaseienaars aangesien, volgens AgriSA, die wet plaasbewoners en hul afhanklikes onbeperkte en omvattende regte gee ten opsigte van veeboerdery en oesverbouing, dienste, opleiding, behuising en paaie – en sal onbeperkte verpligtinge op boere plaas.

Die Groenskrif veroorsaak ook meer vrae as wat dit antwoorde verskaf:

• Wat sal die uitwerking van die voorstelle op plaaslike en buitelandse beleggings wees – in die landbou spesifiek maar ook in die breër ekonomie in die algemeen?
• Hoe sal komersiële boere kan voortgaan om voedsel vir al ons mense se oorlewing te produseer in die omgewing wat deur die Groenskrif en die Wet op Grondbesit Sekuriteit geskep word?
• Wat sal die uitwerking van nie-vrywillige oordrag van blanke plase wees op ons kwesbare rasseverhoudinge?
• Die Groenskrif erken in alle eerlikheid dat “die grootste beperking die swak vermoë van staatsorgane is om dit te implementeer.” Wat laat die opstellers dink dat die nuwe burokrasieë wat hulle wil vestig enigsins meer effektief gaan wees as die huidige strukture?
• Die veronderstelling is dat “eiendomsreg met beperkte omvang” beteken dat ‘n beperking geplaas sal word op die grootte en hoeveelheid plase ‘n persoon mag besit. Maar hoe kan dit strook met die eiendomsregte vervat in die Grondwet?

Dit is inderdaad moeilik om te sien hoe die Groenskrif geïmplementeer kan word sonder om die Grondwet te wysig. Gugile Nkwitini – die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling – het reeds hierdie moontlikheid genoem en gewaarsku dat grondhervorming waarskynlik ‘n rooi-warm vraagstuk in volgende jaar se ANC-konferensie in Mangaung gaan wees.

Geen redelike Suid-Afrikaner sal nie saamstem nie dat daar ‘n dringende behoefte aan ‘n werkbare grondhervorming proses is. Indien daar egter, soos FW de Klerk in ‘n toespraak verlede jaar in Mei opgemerk het, enige poging is om die eiendomsregte in die Grondwet te ondermyn, sal dit ernstige negatiewe gevolge inhou vir die landbou, nasionale eenheid, en vir toekomstige buitelandse en plaaslike belegging. Hy het uitgewys dat voedselsekuriteit ‘n nasionale prioriteit behoort te wees en dat suksesvolle moderne landbou dikwels groot plase met hoë kapitaalvlakke, kundigheid en ondervinding vereis. Hy het ‘n beroep gedoen vir groter doeltreffendheid in staatsdepartemente wat met grondhervorming werk en het die behoefte aan eerlike en effektiewe konsultasie en samewerking oor werkbare benaderings oor grondhervorming tussen die regering en georganiseerde landbou uitgedruk.

Die Groenskrif was moontlik in een belangrike opsig suksesvol: dit het die behoefte uitgewys aan dringende en in-diepte bespreking tussen burgerlike gemeenskap en die ANC – nie net oor grondhervorming nie, maar ook oor die rasse en ideologiese veronderstellings wat sy Nasionale Demokratiese Revolusie onderskraag.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.