Jaaroorsig Deel 3: 2014 – Die jaar toe die aarde geskud het

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014 oor studente-aangeleenthede by die  NWU se Potchefstroomkapmus

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014 oor studente-aangeleenthede by die NWU se Potchefstroomkapmus

Herman Toerien neem die nuusgebeure van die afgelope jaar in oënskou. Klik hier om die vorige uitgawes te lees. – Red.

Voor die aanslag teen Afrikaans en die PUK-debakel aan die beurt kom, word eers gekyk na ’n paar gebeure waarin moeder natuur haar rol vervul het – soms met bietjie onwelkome inmenging deur die mensdom.

Die redelike sterk aardbewing wat Suid-Afrika vanjaar getref het, met die episentrum in die Stilfontein-Klerksdorp-Orkney-omgewing sal nie net onthou word weens die feit dat dit naas die Bolandse aardbewing van die 60’s, die sterkste in die land se onlangse geskiedenis was, of weens die skade en lewensverlies nie. Aardbewings was reeds op die agenda toe dit geblyk het dat ’n deel van die motivering vir die bou van bunkers by Nkandla, die “waarskynlikheid” van ʼn aardbewing was.

In hoe ʼn mate dit ʼn klug is, blyk daaruit dat dié bunkers weer van hysbakke voorsien is omdat lede van die uitgebreide Zuma-huishouding glo te lywig is om trappe te gebruik. In aardbewinggeteisterde dele van die wêreld word mense juis geleer om hysbakke te vermy as aardbewings en ander natuurlike noodtoestande toeslaan.

Maroela was eerste uit die blokke om in ’n nuuskommentaar ’n volledige oorsig van Suid-Afrika se aardbewinggeskiedenis en waarskynlikhede te verskaf. Die formele ondersoek na die oorsaak van hierdie aardbewing is nog nie afgehandel nie.

Een van die teorieë, waarvan ander geoloë verskil, is dat dit verband hou met die Oos-Afrika-slenkdal waar Oos-Afrika baie stadig besig is om van die res van Afrika los te skeur. Daardie gebied is juis later vanjaar deur ’n rits matige aardbewings getref.

Die rekord aantal renosters wat vanjaar in Suid-Afrika stropers ten prooi geval het, was nie net meer as ʼn duisend nie, maar is volgens die jongste beskikbare syfers reeds dig by die 1 200. Heelwat stropers is gevang, en ’n hele aantal is in skietgevegte met die owerhede doodgeskiet – in der mate dat verhoudinge met Mosambiek versuur is omdat Suid-Afrika daarvoor beskuldig word dat sy burgers hier doodgeskiet word.

Intussen lyk dit of die noordelike witrenoster op die randjie van uitsterwing is. Hierdie eens talryke renoster wat in Kenia en verder noord voorgekom het, is genadeloos deur stropers afgemaai. Teelprogramme in gevangenskap het nie gewerk nie omdat dit geblyk het dat hierdie soort baie moeilik in gevangenskap aanteel. Slegs ’n handvol, wat juis uit ’n teelprogram vrygelaat is, is nou oor met slegs een teelbul. Maroela het sy lesers ook hieroor op die hoogte van sake gehou.

Vroeg in Desember 2014 het die Wêreldmeteorologiese Organisasie ʼn verklaring uitgereik om daarop te wys dat dié jaar stewig op koers is om een van die warmste jare, of die warmste jaar te word sedert met metings begin is. Dit word aan die rekordtemperature van die oseane toegeskryf, wat weer veroorsaak dat dele van die wêreld oorstromings en storms beleef, terwyl ander onder knellende droogtes gebuk gaan. Hierdie soort verskynsel plaas bykomende druk op die volhoubaarheid van die meeste grondhervormingsplanne wat die regering tot dusver opgedis het.

Ook vroeg in Desember het afgevaardigdes van bykans alle wêreldlande in Lima, Peru, saamgetrek vir ’n beraad oor klimaatsveranderinge. Die hoofdoel van die beraad, (bekend as COP 20), was om die teks te formuleer wat volgende jaar in Parys, Frankryk, die uitgediende Kyoto-protokol moet vervang. Op die laaste nippertjie was die VSA en China nog in ʼn hewige koppestampery vasgevang, maar ʼn teks wat alle partye tevrede gelaat het, is goedgekeur. Onder die kenners wat spreekbeurte gekry het, was mense wat daarop gewys het dat die stryd om tot skoon, hernubare energie oor te skakel, ’n geveg is wat die mensdom nie durf verloor nie.

Intussen het die media in Suid-Afrika min aandag aan COP 20 geskenk. Op die plaaslike toneel was die Eskom-krisis die nuus wat die aandag getrek het, met Suid-Afrika wat op hete kole, by wyse van spreke, gesit het om te sien of Medupi se eerste fases soos beloof in Desember vanjaar aangeskakel sou kon word. Toe nou nie.

Trouens, die regering het ’n spesiale taakspan onder die leiding van adjunkpresident Cyril Ramaphosa aangestel om ’n “oorlogskamer” 30 dae lank te bedryf om Eskom, die Poskantoor en die SAL van verdere rampspoed weg te stuur. Vrae oor die erns met die projek het egter ontstaan toe Ramaphosa juis binne daardie 30 dae in Kuba gaan vakansie hou het.

Die PUK-debakel het die kwessie van Afrikaans op die voorgrond geplaas. Boonop het Maties se raad ook ’n nuwe taalbeleid aanvaar waaroor erg mond uitgespoel word. Nie alle Afrikaanssprekendes stem saam oor die mate waarin Afrikaans gemarginaliseer word nie, en in die besonder as tersiêre onderwystaal. Boonop het minister Blade Nzimande gedreig om Akademia, Solidariteit se privaat inisiatief, te sluit. In hoe ’n mate die minister se persepsies oor die ware aard van Akademia deur lokval-vrae deur moedswillige, en dalk oningeligte joernaliste beïnvloed is, is nie duidelik nie.

Dat Akademia suiwer grondwetlik en in pas met die internasionale reg is, is ’n onomstootbare gegewe. Dat dit uit pas met die regering se transformasiebeleid is, is ook ’n gegewe. Dit het tot ʼn paar vreemde stellings van ’n aantal akademici gelei. Prof. Anton Habib, rektor van Wits, het daarop gewys dat behoudendes bepalings in die grondwet “misbruik” om transformasie teen te werk. In ’n eggo het dr. Piet Croucamp gekla dat regses die grondwet gebruik om die liberale grondwet self om te trek.

Onlangs het ’n groep, veral Kaapse akademici soos dr. Christi van der Westhuizen en proff Herman Wasserman en Pierre de Vos, asof georkestreerd op AfriForum en Solidariteit losgetrek. Weer het Croucamp in serie gekom.

In wese is die aanslag nie net teen die Afrikaner se reg om minderheidsregte uit te oefen nie, maar teen alle minderhede. Sekere minderhede verkry net onder sekere omstandighede makliker die status van “ere-swartes”. Veral in akademiese kringe sal bruin akademici graag na hulself as “swart” verwys. Kom dit egter by ander werksgeleenthede en verteenwoordiging in sportspanne, tel hierdie ere-swartskap nie meer nie. Dan is dit duidelik dat bruin mense “oorverteenwoordig” is, ook in die Wes-Kaap, en word hulle aan die banvloek van “regstellende aksie” volgens nasionale demografiese syfers onderwerp. Solidariteit, in die bekende DKD-saak, spreek dit aan.

Die parlement sal na vanjaar seker nooit weer dieselfde wees nie. Die opkoms van die EFF het ’n besliste nuwe dimensie na die parlement gebring, en plek-plek ook na provinsiale wetgewers. Met hul “strooptog” op die Gautengse wetgewer is groot skade aangerig.

Barbaarse optrede kan nêrens goedgepraat word nie. Tog moet by die negatiewe verbygekyk word. Die ANC was “stil-stil” besig om sy statutêre staatsgreep op die parlement te voltooi – met ander woorde daar waar die land vanuit Luthuli-huis eerder as die parlement regeer sou wees. Deur reëls en kaderontplooiing was die parlement onderweg om ’n blote rubberstempel vir Luthuli-huis te word (hoewel veral wyle dr. Mario Ambrosini van die IVP reeds deur hofsake ’n paar stokke in die speke gesteek het). Die ANC was egter steeds besig om die parlement van sy oorsigrol te stroop, hoewel sekere portefeuljekomitees ook onder ANC-voorsitterskap darem hul werklike taak ernstiger as ander opgeneem het).

Die EFF het hierdie poging onsagkens in die wiele begin ry. Ander partye, wat voorheen nie veel kon doen nie omdat dit as ’n “wit” teen “swart” aksie beskou sou (kon) word, kon nou ook die ANC se kapingspoging op ’n meer militante wyse aandurf, en die DA het nie ver agtergebly nie.

Hoe die ANC die kwessie van pres. Jacob Zuma se staatsrede gaan hanteer, sal interessant wees. Die EFF het reeds gesê Zuma sal nie toegelaat word om sy staatsrede te lewer alvorens hy nie sekere Nkandla-vrae in die parlement beantwoord nie. Die ANC hou vol dat die EFF nie toegelaat sal word om die staatsrede te ontwrig nie.

Miskien is daar ʼn les te leer uit die wyse waarop New York se polisie nou in die teenwoordigheid van hul burgemeester se toesprake optree. Hulle keer eenvoudig hul rug op hom, ook by die begrafnisdiens van ’n vermoorde polisieman. Die polisie se vakbond meen dat die burgemeester, Bill de Blasio, teen hulle kant gekies het in hul optrede teen misdadigers. Wat sal groter trefkrag hê as dat opposisie-LP’s, voor TV-kameras en hoë gaste soos ambassadeurs, tydens Zuma se toespraak in hul banke opstaan en met hul rug na Zuma gekeer die toespraak aanhoor?

Môre, in ons laaste oorsig van die jaar, word veral na stakings en diensleweringsbetogings gekyk, maar verwikkelinge rondom die SAUK kom ook onder die loep. Boonop het die geskiedenis geleer dat nuuswaardigheid van die ou jaar nie verby is voor die klok middernag geslaan het nie. Nog baie kan gebeur, soos blyk uit die verdwyning van die AirAsia-passasierstraler nadat vanjaar se lugrampe reeds onder die loep geneem is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae