Nuuskommentaar: Afrikaans in die doofpot?

afrikaans is skerpElke verantwoordelike Afrikaanssprekende sal weet dat daar verkeerde maniere is om vir Afrikaans in die bresse te tree, en dat daar regte maniere is. Dit is klaarblyklik nie meer goed genoeg om bloot te kyk wat die grondwet sê en dan daardie regte op enige manier denkbaar op te eis nie.

Die ironie is dat die grootste kritiek op die stryd om vir Afrikaans sy regmatige grondwetlike plekkie onder die son te vind, dikwels uit die geledere kom van diegene wat so graag stellings maak dat die Suid-Afrikaanse grondwet die beste in die wêreld is.

Die afgelope paar dae het daar egter ‘n paar verwikkelinge kop uitgesteek oor die metodes waarmee te werk gegaan kan word om Afrikaans sy grondwetlike regte te gun. In RSG se program, Kommentaar, het dr. Piet Croukamp Solidariteit se “sterk arm”-benadering gekritiseer, nie net oor die taalkwessie nie. Piet le Roux, senior ekonomiese navorser van Solidariteit en US-raadslid is by die naam genoem.

In Die Burger het ‘n meer komplekse dispuut ontstaan. Dr. Edwin Hertzog, ‘n voormalige raadslid van die US, skryf ‘n artikel onder die titel: “Hou op raas en blaas”. Hy meen onder meer dat die fluister-tolkdienste nie so ‘n goeie opsie is nie. Prof. Christo Viljoen, president van die US se konvokasie, kritiseer Hertzog omdat hy die universiteit se taalbeleid in die openbaar aan die groot klok gehang het. Viljoen maak dit duidelik dat hy in sy hoedanigheid as konvokasie-voorsitter hom daarvoor beywer het om die taaltwis uit die openbare oog te hou.

Met die grondwet as rugsteun, sou ‘n redelike mens kon aanvaar dat die stryd om die behoud van Afrikaans, ook op tersiêre vlak deur redelike mense soos redelike mense “agter die skerms” gevoer kon word. Volgens die lofprysinge van prof. Russel Botman, afgestorwe rektor van die US, was hy so ‘n redelike mens. Kort voor sy dood het dit egter gelyk of hy in ‘n knyptang beland van dit wat die raad van hom verwag, en druk vanuit die US se transformasiesentrum.

Maar die geskiedenis wys ook dat stryders vir grondwetlike regte nie altyd binne owerheidsgeledere met die “redelike mens” te kampe het nie. In die bekende Modderklip-saak moes die stryd tot in die grondwetlike hof geveg word soos die regering elke moontlike appèlproses benut het om te keer dat hy sy grondwetlike verpligtinge nakom.

Die oorlogsmuseum in Bloemfontein moes al twee keer die minister van kuns en kultuur hof toe neem oor die samestelling van die museumraad. Elke keer is buite die hof geskik, maar die eerste skikking – ‘n hofbevel gemaak ten spyt, is nie deur die minister nagekom nie.

‘n Soortgelyke verloop het hom afgespeel toe Vrystaat Landbou die regering hof toe geneem het om die regering te dwing om sy grondwetlike pligte oor veral die beskerming van boere op die Lesothogrens na te kom.

Voor elke hofsaak was ellelange pogings om die sake buite die howe te hou.

Wat die taalkwessie betref – Pansat het reeds vroeg in sy bestaan bevind die staat self is die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings.

Die aanslag op Afrikaans kan reeds tot by Kodesa teruggevoer word. Toe die een stel onderhandelaars viervoet vasskop oor die behoud van Afrikaans as amptelike taal, het die ander groep aangedring dat die aantal amptelike tale tot elf uitgebrei moes word. Hieroor skryf die skrywers van Fundamental Rights in the New Constitution, wat sterk in die ANC-dampkring gestaan het soos Davis, Maduna en Cachalia, dat dit onprakties is en waarskynlik daartoe sal lei dat daar uiteindelik net een amptelike taal sal wees. En Afrikaans is beslis nie wat hulle in die oog gehad het nie.

In die oorgangsgrondwet was ‘n bepaling dat die regte van geen amptelike taal verminder mag word tot minder as wat dit voor 1994 gehad het nie. Met die skryf van die finale grondwet was dit egter vir die ANC ‘n ononderhandelbare dat dié bepaling moes wegval – en dit het.

Uiteindelik handel dit ook oor persepsies, en moontlik selfs hoofsaaklik oor persepsies. ‘n Vername struikelblok blyk die opvatting te wees dat Afrikaans ingespan word om ‘n wit eksklusiwiteit te bevorder, al is dit nie wat die pro-Afrikaanse groepe in die oog het nie, en waaroor hulle dikwels uitgesproke is.

Daar is naamlik meer bruin Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika as wit Afrikaanssprekendes. Maar die bruin politiek is veels te kompleks om as outomatiese “vennote” of “bondgenote” beskou te word. Enige bespreking hiervan loop die gevaar om ‘n oorvereenvoudiging te wees. Dit verteenwoordig ook ‘n baie breë spektrum, met mense soos Peter Marais en die Bruin Belangebeweging wat probeer walgooi teen bruin marginalisering veral in die Wes- en Noord-Kaap. Aan die ander kant is daar veral intellektuele wat die bruin mense se belange die beste wil dien deur hulle as ‘n integrale deel van die swart gemeenskap wil sien, en ook graag na hulself as swart verwys. Hierdie benadering is dikwels meer ideologies as op die werklikhede gebaseer, en wyle dr. Jakes Gerwel het al na homself as ‘n nuttige idioot verwys.

Daar is ook geen eensgesindheid oor wat die uiteinde van transformasie, veral op universiteitsvlak sal wees nie. Tydens die program, Kommentaar, het prof. Dirk Kotzé daarop gewys dat transformasie op universiteitsvlak verby Suid-Afrika en selfs Afrika moet kyk, en in pas met wêreldnorme moet wees. As die internasionale reg as hierdie norm geneem word, is dit in pas met die grondwetlike bepalings oor taalregte, en is die stryd om Afrikaans nie veronderstel om ‘n ekskuus dat ek leef-veldtog te wees nie.

Dit is duidelik dat die bepaalde omstandighede sal bepaal wat die regte benadering sal wees om Afrikaans sy regmatige, grondwetlike plek te laat inneem. Dit sluit nooit die ordentlike opsies agter en voor die skerms uit nie. Maar soms sal die sterk arm nodig wees; om die howe te nader of ander aksies.

Universeel word die burgerlike instellings as deel van die grondwetlike demokrasie beskou. Trouens, die volwassenheid van hierdie sektor word as barometer vir die volwassenheid van ‘n grondwetlike demokrasie beskou. En die regering se respons hierop bepaal die styl. Presies waar sou Suid-Afrikaners met die e-tol gestaan het as Outa nie die spektrum van opsies aangespreek het nie?

Maar dit plaas ook die onus op elke Arikaanssprekende in die land – hy moet nie deur sy optrede die taak van hulle wat in die voorste linies die taalbelange dien bemoeilik deur die proses deur onnadenkendheid te saboteer nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Kulturele en volksverskeidenheid
Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal gestuur sodat hulle verkieslik in hulle eie taal geëvangeliseer kan word.
In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.