Nuuskommentaar: Akademia deel van oplossing of probleem?

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Akademia word vandag amptelik geopen, en uit nuusbrokkies daaroor beloof dit om ook indrukwekkende tegnologiese vermoëns bekend te stel. Vir baie Afrikaanssprekendes is Akademia teen die agtergrond van kampusgeweld ’n baken van hoop en ’n uitkoms. Vir ander is dit ’n steen des aanstoots.

Onlangse gebeure op verskeie kampusse van staatsgesubsidieerde en staatsgefinansierde universiteite heg nou ’n groter betekenis aan die amptelike opening van Akademia, Solidariteit se privaat Afrikaanse universiteit, vandag as net die lewensvatbaarheid van so ’n universiteit. Kan Akademia benewens akademiese uitnemendheid ook ’n model daarstel waaruit ander universiteite kan put?

Die lewensvatbaarheid al dan nie van ’n instelling soos Akademia het reeds vroeg onder die skerp tong van die Stellenbosse filosoof, prof. Anton van Niekerk, deurgeloop. Van Niekerk is al oor ander sake waaroor hy baie uitgesproke was verkeerd bewys, en tot dusver lyk dit of Akademia Van Niekerk met mening gaan laat druip.

Die ander dinamika-aspekte, veral nou, is of Akademia hom as “eie” instelling vir Afrikaans kan handhaaf. By verskeie voormalige Afrikaanse universiteite is akademici en bestuurslede wat behoorlik vuur maak om van Afrikaans ontslae te raak. Ander, ideologiese motiverings sit waarskynlik daaragter, maar een van die kernelemente is dat die gebruik van Engels, as internasionale taal, horisonne en toegang tot kennis verbreed, en daarom ’n hoë standaard ondersteun. Ideologiese aansprake soos dat die eksklusiewe gebruik van Afrikaans as onderrigtaal “uitsluitend” sal wees, word ook gehoor.

Onlangse argeologiese navorsing toon dat heterogeniteit nie altyd tot groei en vooruitgang lei nie. Sowat 1 000 jaar gelede het ’n Indiaanse metropool byna oornag aan die oorkant van die Mississippi van wat vandag St. Louis is, ontstaan. Dié stad, wat veral bekend is vir sy reuse-grondpiramides, het ’n enorme afmeting aangeneem. Tog, teen die tyd dat Columbus die Amerikas herontdek het (die Vikings het dit 500 jaar tevore ontdek) was daar van die eens florerende stad feitlik niks oor nie behalwe die grondpiramides. En selfs dit het op eintlik net een uitsondering na in die slag gebly tydens die Amerikaanse kolonisering.

Slegs ’n fraksie van die eens magtige metropool is reeds argeologies ondersoek, en baie vrae moet nog beantwoord word. Wat egter reeds vasgestel is, is dat die stad oor ’n baie heterogene bevolking beskik het waar die groepe verskillende gelowe, tale en kulture aangehang het. Daar is wyd bespiegel oor wat tot die stad se ondergang kon lei. Nuwe navorsing toon nou dat dit juis die heterogeniteit was wat tot die uiteenspat van die stad gelei het.

Die feit bly dat heterogeniteit druk op lande en instellings plaas. Elders in die wêreld, ingevolge die internasionale reg, word sover moontlik voorsiening gemaak vir opvoedkundige instellings soos universiteite waar minderheidsgroepe hul potensiaal maksimaal kan ontwikkel deur in hul moedertaal te studeer. Daar is natuurlik ruim uitsonderings ook.

In Suid-Afrika het die begrip transformasie dié werklikheid anders probeer hanteer, en dikwels ’n blinde sambok geword waardeur minderheidsregte en selfs individuele regte meedoënloos gemoker is.

Dit is interessant dat prof. Dan Kgwadi, rektor van die Noordwes-Universiteit, én nou prof. Cheryl de la Rey, rektor van die UP, oor die aandrang op die verwydering van Afrikaans as onderrigmedium opgemerk het die oplossings moet kennis dra van die grondwetlike verantwoordelikheid tot meertaligheid.

Dit bly egter kompleks, en sal veral met die EFF se gewelddadige propaganda met die oog op die komende munisipale verkiesing onder enorme druk bly.

Maak Akademia se Afrikaanse inslag daarvan ’n rassistiese of apartheidsinstelling? Dit kan tog nie wees teen die agtergrond dat meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes bruin is, en daar ook redelik groot getalle swart mense, en selfs Indiërs, is wie se huistaal Afrikaans is nie.

Hoe dit sal uitkristalliseer weens politieke en ideologiese faktore, en die feit dat die staat se subsidiehand toe is en studie dus nie goedkoop kan wees nie, sal die praktyk eers leer. Dit is ’n gegewe dat ’n Christelike en heel waarskynlik ’n sterk Afrikaner-kultuurgrondslag gevorm sal word.

Met die geweld wat kort-kort oor ander kampusse spoel, en die voortdurende druk op Afrikaans en Afrikaanse kultuurgoedere (asook ander “koloniale erfenisgoed”) is dit vanselfsprekend dat al meer oë op Akademia gerig sal word. Vir sommige as baken en selfs ’n uitkoms van hoop, vir ander as steen des aanstoots.

’n Paar rubriekskrywers skroom nie om AfriForum en Solidariteit rassistiese instellings te noem nie, ironies omdat een van AfriForum se doelstellings juis die wegdoen van rasseklassifikasie en dus ook diskriminasie is, en Solidariteit in die bekende DKD-saak hoofsaaklik bruin mense verteenwoordig.

Akademia pas in as deel van die Solidariteit Beweging se Plan B. Nog ’n aspek van hierdie plan is dat stappe gedoen sal word, waaronder hofaksies, om Afrikaans sover moontlik op ander kampusse te beredder.

Akademia kan immers nie oornag alle moontlike akademiese kursusse aanbied nie. Dit kan ook nie oornag klasse landwyd aanbied nie, al is dit ook virtuele klasse.

Maar volg gerus die nuus voortspruitend uit die amptelike opening en wees gereed om beïndruk te wees. Ons mense is nie vreemd aan uitnemendheid nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

anna ·

pragtig!doen so voort!dit is wettig net soos enige engelse of swarttaal skool of universiteit.

Chris W ·

Vir die Afrikaners wat die finansiele vermoe het,is Akademia die instelling om te ondersteun.Alle sterkte Akademia!!

Andre ·

Baie geluk! Ek glo dit is die toekoms vir private Afrikaanse Universiteite dit is baie belangrik en ons as besigheids mense sal en moet bydra finansiel tot die sukses van die instellings.

Leendert van Oostrum ·

Veels geluk!

Ek is baie bly dat hierdie aksie so ver gevorder het.

Nou moet daar nog gekyk word na ander onderrigmodelle ook (benewens die “virtuele lesings”) vir afstandsonderwys. Dit sal Akademia in staat stel om binne afsienbare tyd ‘n reus onder die universiteite in die land te word.

Jan Jooste ·

Solidariteit se navorsingsvermoe moet so gou doenlik onder die Akademia gevestig word. Enersyds sal dit meer geloofwaardigheid aan die navorsingsuitsette verleen maar daarby sal dit ook ‘n geskiedenis van navorsingsuitsette bou wat mettertyd bepalend is vir akademiese oorweging van die Akademia. Mettertyd kan die Akademia dan uitbou om via onderrig die navorsing te steun wat reeds gedoen word.

Francois ·

Jan, jy is heeltemal reg. Geen gerekende universiteit kan in vandag se tyd slegs ‘n doseerinstelling wees nie, maar moet deurlopend navorsingsuitsette van hoë kwaliteit lewer. Akademia se hooffokus sal aanvanklik waarskynlik op die uitbreiding van die akademiese aanbod val (m.a.w. om meer kursusse tot die bestaande programme toe te voeg), maar dit is ook baie belangrik dat die akademici wat by Akademia aangestel word, inderdaad oor die navorsingstatuur beskik om Akademia as volwaardige universiteit te vestig ook wat die navorsingsuitsette van dié instansie betref.

Rupert Ashford ·

Herman, ek dink vraag oor kwaliteit by Akademia is dood gebore. Instellings soo PUK, Maties, Tukkies, KOVSIES en dies meer was almal toonbeelde van uitnemendheid voor sosiale ingeneurswese die hoofaktiwiteit op al daardie kampusse geword het. Ons is mos ook nie onnosel om selfs ons nagraadse tesisse in Afrikaans te publiseer en onsself sodoende af te sny van die wereld nie. En so was dit ook in die ou dae. Ai as ons 94 weer oor kon begin en kon bou op wat reeds daar was eerder as om alles te wil afbreek. Dan kon ons al ‘n paar van hierdie inheemse tale ook 20 jaar se ontwikkeling as wetenskaptale gegee het.

SP Viljoen ·

Sorg net dat hierdie “universiteit” so gou as moontlik internasional erkenning kry. Julle droom van ‘n Afrikaanse Havard. Kry inkoop van die VSA, ens. Ons kan nie bekostig dat hierdie instansie dood gebore gaan word nie.
Ongelukkig wil die teenstanders eerder dood maak en verwoes, as wat hulle wil oplassings soek by reeds gevestigte instansies. Dus stel hulle nie belang in algehele sukses nie maar in algehele verwoesting.
As Afrikaanse universiteite vermoor word, word die Afrikaner se toekoms in die kiem gesmoor.
Kry internasionale erkenning. Leer uit die geskiedenis van die twee boere republieke. Hulle het internasionale erkenning gehad maar verloor. (ek weet agv die oorlog)

Net ‘n handvol gedagtes aan die denk-leiers van ons tyd.

chrisp ·

Anton v Niekerk is ‘n randeier waaraan ons,ons regtig nie moet steur nie.Kyk hoe gaan dit op sy droom universiteite.

Wil saamstem met meeste kommentare kry erkenning en hou net aan met bou .Die klas studente wat hier sal klasloop sal duidelik in ‘n ander klas wees soos Anton weldra sal uitvind maar nooit as te nimmer erken nie.

alida ·

BAIE GELUK. Ek hoop net daar is voldoende sekuriteit in plek want hierdie rebelle sal daardie universiteit ook bestorm en afbrand met hul barbaarsheid. Ons is baie trots op Akademia en sal een van die dae beter diens lewer as al hierdie ander universiteite wat nou in as verander het. Danksy die regering se slapgat houding.

Cilliers ·

Baie geluk en alles van die beste vorentoe word Akademia toegewens. Ek het amper ‘n halfeeu gelede al gegradueer toe Stellenbosch nog Afrikaans en ‘n gerekende universiteit was, in die dae van proff. Degenaar en Willem Kempen en Erlank en Trúmpelmann, en prof. Thom en lank voor ene Anton van Niekerk, maar as ek nou voor sou moes begin, en ek was binne trefafstand, sou Akademia my mikpunt gewees het,

Rens Roodt ·

hou net die swartes buite – so nie gaan julle ook voentoe groot probleme ondervind! want wwar hulle n voet in die deur kry begin die eise

Ans Coetzee ·

Bravo!!! Wonderlike nuus wat vir vandag se afrikaans sprekende jongmense in SA ‘n toekoms bied. Baie Geluk.

Wat-ek-lees ·

‘n Goeie begin is (reeds) halfpad gewin.
Voorspoed. Doet so voort.
Nou vir daardie bankbesonderhede waar ‘n ieder, ‘n elk en ‘n inkelte van ons R100 kan deponeer.

JC ·

Pragtig! Mooi so!!

Gaan so voort!

So word Afrikaans uitgebou en behou in SA.

Alle ouers moet hul kinders uitnooi om by Akademia te gaan studeer! Dit sal ‘n reuse verskil maak.

Deon Bruyns ·

BAIE GELUK !!!
Ek stem saam met SP Viljoen: Maak seker dat standaarde van die hoogste is!
Ek skaam my vir die ruggraatlose slapgatte by (bv.) Universiteit Stellenbosch se Bestuur!

Henry ·

Reuse sprong vorentoe vir Afrikaans en vir voornemende Afrikaanse studente!!!
Nog ‘n voorbeeld van ons Afrikaners se vermoëns om ten spyte van groot teenstand en allerlei struikelblokke, onsself te handhaaf. So reg uit die handboek en voorbeelde wat ons voorvaders vir ons nagelaat het.
Akademia se vestiging en toekomstige suksesse gaan die wenende seunskoor asook die enkele Afrikaanssprekendes wat altoos allerlei snedighede oor Solidariteit en Afriforum se suksesse kwytraak, se kroniese sooibrand drasties vererger.
Hopelik sal veral die laasgenoemdes hul futiele nydighede links – of regs – laat lê en eerder help om antwoorde te vind, as om alewig te teem en te kerm oor die positiewe antwoorde wat vanuit die “Soliforum” stal galop.

pop ·

Hiep hiep hoera. Al die universiteite wat nou so verniel en tot as verbrand word is ook deur ons voorgeslagte gebou. Ons afrikaanse mense moet nou hande diep in sakke steek en Akademia help. Ons kan mos. So kan ons help om nog een en nog een te bou. Ons het voorwaar iets om te vier.

Breytie ·

Dit laat my dink hoe ek as jong onderwyser my St 3-klassie moes aanspoor en help om ‘n “sentlegging” by die skool te ondersteun ten bate van die “Randse Afrikaanse Universiteit” (RAU). Nou is daardie universiteit van ons geroof en het dit die Engelse University of Johannesburg ( UJ) geword. Ons moet asseblief sorg dat Akademia ‘n onafhanklike universiteit sal wees wat geen sent subsidie van die Staat ontvang nie.

Ek stem saam met “Wat-ek-lees” – laat weet hoe kan ek elke maand R100-00 bydra om Akademia te laat ontwikkel tot ‘n wêreldklas universiteit met die modernste tegnologie en onderrigmetodes wat leiers produseer binne elke fakulteit wat tot stand gaan kom.

Ons HET dit al gedoen, ons KAN dit doen en ons SAL dit doen!!

Johan ·

Ek voel dat alle afrikaners wat tans nog enige finansiele steun aan tersiere instansie gee, eerder moet onttrek en Akademia ondersteun. Dit maak geen sin om iemand te ondersteun wat ons taal vrag nie.

Ek stem saam met Deon. Laat ons sien of die US bestuur so radikaal sal wees as ons, ons kinders onttrek en ons finansiele steun saam met dit gaan.

Laat ons maar eerlik wees. Ons betaal baie om ons kinders die beste onderrig te gee, en dan word ons kwaliteit onderrig ontse deur n’ klein geoepie radikales waarvan die universiteits besture te bang is om teen op te tree.

John ·

Uitnemende dosente in Afrikaans moet by Akademia aangestel word en alles wat in Afrikaans geskryf is, moet in ‘n ondergrondse biblioteek gehou word (uit die hande van brandstigters). Vra vir Afrikana en julle sal gou ‘n groot bron vir navorsing he. Afrikaans as taalvak sal van nou af orals afgeskeep word. Akademia sal hierdie nis vul. Buitelanders sal ook hier aanklop. ‘n Drukkery vir Afrikaanse litertuur en woordeboeke, selfs opvoedkundige lektuur vir kleuters, kan deur ‘n filiaal van Akademia uitgegee word en fondse op die’ manier ge-in word. Moenie skaam wees vir goeie idees nie.

Vicus ·

Daar is niks mee verkeerd om te hunker na ‘n instelling waar dissipline en respek vir ons taal en kultuur nog n realiteit is nie. Baie geluk Akademia. Ek wonder net of hulle ook ‘n staatsubsidie gaan ontvang?

Juan Olivier ·

Baie geluk. Die klomp Afrikaans-Fobiese en Engels- Imperialiste gemorste kan maar by hulle huise gaan huil oor die. Ons het nie nodig om aan enige iemand ons reg tot ʼn private Afrikaanse universiteit te verduidelik nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.