Nuuskommentaar: Anargie wat spruit uit permanente ongelykheid

Foto: Twitter

ʼn Groep van sowat 200 betogers, insluitend verskeie oudstalknegte, het Donderdagoggend by die Fairview-renbaan op stalle neergesak en verskeie resiesperde losgelaat. Dit volg na afloop van ʼn dispuut tussen een van die oudstalknegte en sy werkgewer. In solidariteit met die een oudstalkneg het die ander stalknegte teen die werkgewer in opstand gekom. Die betogers het perde losgelaat, met sambokke geslaan en selfs ʼn resiesperd doodgemaak.

Perde wat miljoene rande werd is, is in die proses beseer en selfs doodgemaak. Die oudstalknegte wat nie gekry het wat hulle wou hê nie, het besluit om dié probleem op te los met geweld, saakbeskadiging en byna barbaarse anargie. Mense het met absolute ongeloof en woede op hierdie storie reageer. Die VF+ het tereg opgemerk dat hierdie insident onverstaanbaar, onverskoonbaar en weersinwekkend is.

Die vraag is dan nou watter moontlike verduideliking daar vir sulke optrede te gee is.

Jordan Peterson, Kanadese kliniese sielkundige, het eens hierdie soort verskynsel verduidelik. Peterson verduidelik dat veral jong mans bereid is om aan die reëls van die spel van die lewe gehoor te gee en saam te speel in ʼn strewe na sukses. Die oomblik wat hulle egter dink dat die reëls van die spel inherent en onregverdigbaar teen hulle gekant is, sal hulle die tafel omgooi. Indien hulle aan die spel deelneem, stroop hulle onderdrukking hulle buitendien van alle geleenthede en hoop. Indien hulle die tafel omgooi, tesame met álmal anders se stukke, verloor hulle self baie min, maar maak hulle minstens die speelveld gelyk.

Hierdie mentaliteit en die optrede wat daaruit volg, is geensins hoe ʼn mens in ʼn moderne samelewing optree wat graag vooruitstrewend wil wees nie. ʼn Mens se morele afkeuring daarvan verander egter nie die werklikheid daarvan nie. Die blote feit dat ʼn mens dié verskynsel veroordeel, sal nie die werklikheid daarvan verander nie.

Verskeie studies toon dat inkomste-ongelykheid, eerder as absolute inkomste, ʼn belangrike aanduider van geluk is. Hierdie verwantskap tussen ongelykheid en geluk volg ʼn U-kurwe. Op die een uiterste waar ʼn samelewing té ongelyk is, is mense se vlakke van geluk laag. Dit is omdat mense in hierdie omstandighede voel asof hulle vasgevang is in hulle klas – ekonomiese mobiliteit is laag. Sodoende is diegene wat in armoede gebore word, verdoem tot ewige armoede. Die ideale plek op die kurwe is daar waar ongelykheid steeds teenwoordig is, maar die teenwoordigheid van ekonomiese mobiliteit mense die kans gee om tussen klasse te beweeg indien hulle wíl.

Samelewings waar mense absoluut gelyk is, is gewoonlik absoluut gelyk in armoede. Samelewings waarin daar welvaart teenwoordig is, sal altyd ongelyk wees. Die probleem is daarom nie ongelykheid self nie, maar eerder die status van die ongelykheid. Is die ongelykheid prakties permanent of kán mense hulself maklik daaruit ophef indien hulle hard werk?

Samelewings wat só ongelyk is, het vir alle praktiese doeleindes geen middelklas nie. Die teenwoordigheid van ʼn middelklas is in enige land van kritieke belang. ʼn Middelklas lei tot hoër vlakke van vertroue in die land. Die afwesigheid van ʼn middelklas lei ook tot groter sosiale en politieke onstabiliteit.

Die middelklas dien as die buffer tussen die onderste en boonste ekonomiese groepe. Die middelklas is nie net die simboliese moontlikheid daarvan om ekonomies in klasse op te beweeg nie. Dit is ook die leer waarmee diegene in die onderste klasse na hoër klasse beweeg.

Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande ter wêreld. Ons middelklas is nie naastenby voldoende om as buffer te dien tussen die onderste en boonste ekonomiese groepe nie. Diegene wat ryk is, is baie ryk. Diegene wat arm is, is báie en is báie arm. Dit is die absolute uitsondering, eerder as die reël, vir mense om intergenerasioneel in ekonomiese klasse op te beweeg.

Die oplossing hiervoor is natuurlik nie om die welvaart van die rykes te herverdeel ten einde die gaping te verklein nie. ʼn Herverdeling van welvaart maak mense bloot gelyk deur almal ewe arm te maak. Die antwoord is eerder om die ekonomie so te bevry dat ekonomiese mobiliteit verhoog word.

Ons probleem is egter dat ons regering se politieke ideale nie met ekonomiese beleid strook wat mobiliteit verhoog nie. Die antwoord op hierdie probleem lê vreemd genoeg moontlik in China. China het oorhoofs soortgelyke politieke ideale as die ANC. Hulle wil ook outoritêr regeer met baie invloed in mense se lewens. Tog het China daarin geslaag om ekonomies so te hervorm dat hulle miljoene mense binne een generasie uit absolute armoede opgehef het.

Die rede waarom hulle bereid was om ekonomies te hervorm, maar nie polities nie, is omdat jy mense ekonomies moet bevry ten einde hulle polities te onderdruk. ʼn Honger man onderdruk moeiliker. Nes diegene wat bereid is om die tafel om te gooi, gaan diegene wie se basiese behoeftes nie bevredig word nie, in opstand kom.

Hierdie noodsaak van ekonomiese bevryding is dalk ook ons antwoord. Hoewel die ANC nie polities wíl hervorm nie, gaan omstandighede hulle waarskynlik noodsaak om ook soos China ekonomies te hervorm. Ons ekonomiese omstandighede is besig om tot so ʼn mate te verswak dat die sosiale en politieke onstabiliteit wat daaruit gaan spruit byna onvermydelik is. Dit is hierdie onstabiliteit wat die ANC se politieke mag so sal bedreig dat hulle naderhand ekonomiese toegewings gaan moet maak.

Die ANC gaan op ʼn punt kom waar die werklikhede op grondvlak van so aard is dat hulle dit nie meer kan vermy nie. Ons op grondvlak kan die werklikhede ook so aanpas om die ANC in ʼn bepaalde rigting van beleidsverandering te lei. Indien ons self die ekonomiese werklikhede vestig wat ons wil sien, gaan dit vir die ANC al moeiliker raak om dit te ontken. Ons vestiging van ons eie spesiale ekonomiese sones op grondvlak, tesame met die politieke werklikhede, sal die ANC naderhand dwing om die beleid daarby aan te pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Nou wil ek weet of die wat nou sonder werk sit vir my ook gaan kom. Ek het mos die inperkings ingestel en gesê daar moet nie gewerk word nie. Nou is ek en hulle sonder werk

stargazer ·

Uistekende analogie. Het my meer insig gegee om in ag te neem. Ongelukkig, stem ek nie saam met die skrywer se laaste stuk oor initiatief te neem en te lei met die ekonomiese herstel nie. Dit sal weer deur die ANC gegryp word sodra dit suksesvol is. Die ekonomie is klaar. Ons moet maar met groot oe kyk hoe dit alles om ons Val. Dit gaan net ophou sodra “we scrape the bottom of the barrel” bereik word. Tot dan, bly sterk..

Jakes ·

Daar is ten minste 6 milj mense sonder werk in SA. Indien die ekonomie teen n geweldige pas sou groei en miskien 2 milj poste sou bied, sal daar nog steeds 4 miljoen mense werkloos wees. Tel dan nog die 700,000 mense by wat elke jaar skool verlaat of graad vang dan is die probleem onoplosbaar. SA se grootste uitdging is dat die bevolkingsaanwas heeltemal uit verband is in verhouding met die groei van die ekonomie.

Marthinus W ·

Rusland is oorwegend homogeen; dis waarom kommunisme maklik ingestel kon word. (Met geweld deur die Tjeka/KGB natuurlik; n koste van miljoene lewens.) Dis ook hoekom mediese dienste ens. redelik goed was en is - die dokter het nien winsmotief gehad nie. Teen 1993 het baie dokters hongerfloutes gekry weens n ekonomie met geen geld in nie. Hulle het skamerign klein fooi gevra, sodat hulle vir hulself kos kon koop. Vandag is Rusland kapitalisties, en ontwikkel dieselfde probleme as ander kapitalistiese lande.
China is ook redelik homogeen, en hulle het `n natuurlike sin vir orde, wat beteken dat as die grootbaas praat, luister hulle. Suid-Afrika is heterogeen; hier is te veel kulture en tale en gelowe; die ANC moet ander tegnieke gebruik om beheer uit te oefen.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die vraag wat by my opkom is: “Waarom val die gegriefde betogers nie die korrupte regerende politici en korrupte vakbondleiers se eiendom aan nie?”

Niklaas ·

Teen die politici gaan hul teenspoed optel. Die perde telers is ‘n sagte teiken en kan eintlik nie terug baklei nie.

Josef du Toit ·

As die ANK Sjinese ekonomiese beleid oorneem, sal dit nie wees omdat ons self verlangde ekonomiese sukses daarstel nie. Met Zimbabwe as voorbeeld, het die kwasi-messiaanse president Ramaphosa, juis die kanniedood landbousektor met onteiening sonder vergoeding aangevat as weerligafleier vir die falende landstand. Sjinese ekonomiese invloed kan ANK-verandering bring, maar teen ‘n hoë prys soos enige Christen in Sjina ons kan vertel. Gelukkig is die heil van die Boere-Afrikaner nie eerstens afhanklik van die ANK, sy beleid, of van ‘n ondankbare volk wat so maklik in 1992 “Ja” gestem het vir eie ondergang nie. Nee, nie #OnsSalSelf nie, maar “met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur” (Psalm 18:30).

Danie ·

Jammer, ek kan nie sien dat enigeen hierdie bende gaan stormloop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.