Nuuskommentaar: ANC versus die grondwet is dit sedisie?

Die konstitusionele hof. Foto: Wikimedia

Die konstitusionele hof. Foto: Wikimedia

Die ANC se stelling dat nie-regeringsorganisasies die land in ʼn verleentheid gestel het om hof toe te gaan oor die Omar al-Basjir-saak, is nie net tekenend van ʼn party wat homself so magtig reken dat hy bo die reg verhewe is nie, maar ook van demokratiese onvolwassenheid.

Dis nie die enigste geval waar die ANC-regering hom in die howe vasloop nie. Pas het die Vrystaatse departement van welsyn in die hof ʼn bloedneus gekry (al weer) nadat sekere welsynsorganisasies se subsidies net sonder taal of tyding opgeskort is en ʼn enorme krisis gedreig het. Benewens die subsidies wat nou betaal moet word, moet die belastingbetaler nog die regskostes ook dra.

Wat die ANC, minstens onder pres. Zuma, nastreef is ʼn tirannie van die meerderheid. Die Burger vind vanoggend in sy hoofartikel nog ʼn paar terme om dit mee te beskryf.

Daar is internasionaal ʼn beweging wat hom daarvoor beywer dat die oppergesag van die reg (dws die begrip grondwetlike demokrasie) plek moet maak vir die oppergesag van die parlement wat immers uit demokraties-verkose verteenwoordigers bestaan. Die regters word ondemokraties aangewys.

In ʼn nuwe peiling het dit geblyk die meerderheid Amerikaners steeds, na 227 jaar, wil hê dat die grondwet die hoogste reg moet wees. In nog ʼn peiling het dit aan die lig gekom 44% van die kiesers meen pres. Barack Obama is minder getrou aan die grondwet as ander presidente. Dit hou veral verband met hoe hy die kongres ontduik het en blykbaar presidensiële magte misbruik het om aspekte van sy Obamacare deur te voer. Obama het sy mond uitgespoel omdat die howe dele van die wetgewing nou ongedaan kan maak. Dit val saam met ʼn peiling wat toon dat Obama nou ongewilder is as oud-pres. George W. Bush.

Hoewel Zuma en die ANC se ongedurigheid met die grondwet en die howe en van Zuma se uitsprake hieroor, ooreenkomste toon met die veldtogte teen die oppergesag van die grondwet en die howe se rol daarin, is sulke ooreenkomste erg oppervlakkig.

Die gewone veldtogte om die oppergesag van die reg na die parlement te verskuif, is gewoonlik beperk tot lande met baie verantwoordelike en volwasse parlementêre tradisies in ontwikkelde lande. Konvensies en selfs die sogenaamde ongeskrewe grondwette se impak is sodanig ingebed dat geen regeerder sal droom om daarbuite te beweeg nie. Ook in Nederland is onlangs koppe gestamp hieroor, waar dit lyk of die rol van die regters bo die lede van die Eerste Kamer (senaat) eerder uitgebrei gaan word. In Nederland was die oppergesag van die grondwet self nie onder die vergrootglas nie, maar wie as die beskermheer en arbiter daarvan moet optree.

Die ANC, daarenteen, maak ook genoeg ander geluide waaruit dit blyk dat sy ongedurigheid met die grondwet en howe niks met die strukturering van demokrasie te make het nie. Dit handel oor ʼn “reg” om in belang van die meerderheid te regeer, eerder as die normaalweg inbegrepe regeer in algemene belang.

Met die fasilitering van Basjir om die land in weerwil van ʼn hofbevel te verlaat, is ʼn grens oorgesteek wat vir alle demokrate, hetsy grondwetlike demokrate of parlementêre demokrate, eenvoudig ondenkbaar is. Nie dat die regering ʼn goeie rekord het met die handhawing, laat staan nog die beskerming van die grondwet nie, soos blyk daaruit dat Pansat kort nadat sy werksaamhede begin het, bevind het dat die regering self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings is. Bokspronge ten spyt, wanneer die hof finaal gepraat het, het die regering in die verlede kop gegee. Nou is die hofbevel bloot geïgnoreer. Volgens Mugabe se mededeling aan die media by ʼn mediakonferensie van die AU in Sandton, het Zuma self gesê dat hy nie sal toelaat dat die polisie Basjir arresteer nie.

Op die oomblik word die kwessie in die doofpot gedruk – ook in die parlement wat in die alternatiewe model die oppergesag sou hê. Ook hier word die demokrasie eenvoudig vertrap.

Oor die Fifa-aangeleentheid het die regering wel periodiek gepraat, maar byna onmiddellik daarna was daar internasionale verwikkelinge waaruit dit geblyk het dat die regering se weergawe uiters verdag is. Die kiesers se demokratiese reg om deur hul parlementêre verteenwoordigers agter die kap van die byl te kom, word op die oomblik nog ondermyn.

Volgens ʼn nuwe boek van die Nederlandse politikus, Martin Bosma, het die Suid-Afrikaanse regering meer rassewetgewing as enige ander land ter wêreld. Dit is moeilik om te verstaan hoe so ʼn werklikheid te versoen is met die grondwetlike verstandhouding dat ʼn regering in algemene belang moet regeer.

Verskeie mense, waaronder dr. Leon Wessels, het voorts al die kommer uitgespreek dat die ANC wegbeweeg van die grondwet, en eerder die Vryheidsmanifes in die plek daarvan stel.

Ten laaste het die Suid-Afrikaanse grondwet uit ʼn nasionale vredesakkoord gekristalliseer. Nie almal is ewe tevrede met die produk nie, maar dit is eenvoudig wat ons nou ter hand het. Die grondwet is voorts grootliks as raamwerk geskryf, met die parlement, howe, gemenereg en konvensie wat die vleis moes voorsien – onder die wakende oog van die howe.

Dit het al groot teleurstellings opgelewer – die minste hiervan sekerlik nie die Renate Barnardsaak nie wat nou na internasionale forums verskuif word.

Maar uiteindelik staan en val alles daarby dat die regering, hoe onwillig ook al, hou by hofbevele. Veral waar die grondwet ter sprake kom, is die ignorering van ʼn hofbevel meer as net minagting van die hof, dit “grens” aan sedisie. Volgens sommige definisies het die regering hom nou wel volkome aan sedisie skuldig gemaak, maar dis ʼn kwessie waaroor die howe uiteindelik uitspraak sal moet lewer.

In hierdie geval is daar wel versagtende omstandighede. Die regering het klaarblyklik sy ore aan swak regsadvies uitgeleen en immuniteit aan die afgevaardigdes verleen. Op sterkte hiervan is Basjir die land ingenooi. Toe Basjir ongehinderd toegelaat is om die land te verlaat, het die regering egter reeds geweet dat hy sy ore aan slegte regsadvies uitgeleen het. In plaas daarvan om dit te erken is probeer om die Internasionale Strafhof verdag te maak.

Die regering sal nou bitter vinnig moet optree om sy verbintenis tot demokrasie sigbaar en konkreet te bevestig, maar op die oomblik word die modder net nog meer troebel getrap.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Winston ·

Puik artikel Herman. Inderdaad met feite belug. Jammer dat die wat dit moet lees dit eerstens nie verstaan nie en tweedens eenvoudig ignoreer. Laastens verstaan hulle nie Afrikaans nie. En van Demokrasie het hulle geen begrip nie. Afrika soek vir eeue al na oplossings. Hoekom?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.