Nuuskommentaar: Baklei die afgrond in

Ondersteuners van Julius Malema wat glo skote op teenstanders van die geskorste jeugliga-leier afvuur, en ‘n woordvoerder van die liga wat hardkoppig volhou Malema bly kom wat wil president van die jeugliga, is maar van die mees onlangse tekens van verdeeldheid binne die ANC.

Jare lank word al uitgewys dat interne twiste in die ANC ontwikkeling in sommige provinsies strem. Die land strompel op die internasionale terrein voort sonder behoorlike beleid, en wanneer keuses wel uitgeoefen word is dit te dikwels muishondkeuses. Beeld het pas die tweespalt in die ANC soos volg in ‘n hoofartikel beskryf: “Dan en wan duik daar ’n koorspen in die hoësorg-politiek van die regerende alliansie op wat vir jou sê die geveg raak ál warmer in dié geledere. Dít is juis die geval met die metaalwerkersvakbond Numsa (deel van Cosatu), wat gewaarsku het hy sal seker maak die ANC se huidige leierskorps word einde vanjaar vervang. Mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het dadelik ge-reageer en Numsa gewaarsku die ANC sal hom nie laat boelie nie. In die aanloop tot ’n leiersverkiesing kan jy verwag dat die onderskeie kampe se veghoenders mekaar sal uitdaag en mekaar se kragte sal begin toets. Die ontwrigting van pres. Jacob Zuma se toespraak in Kaapstad deur lede van die ANC se jeugliga is sekerlik ook deel van dié proses.”

Die ANC word dikwels as ‘n breë kerk beskryf, ‘n regstreekse vertaling van “broad chuch” met die bedoeling dat dit ‘n organisasie is wat ‘n wyd-uiteenlopende getal gedagterigtings en filosofieë verteenwoordig. Twis om die opperhand te kry, veral omdat die ANC so oorheersend by die stembus presteer, is dus ingebou. Die saakmakende beleidsbeïnvloeding vir die land geskied dus deur interne magstryd, eerder as tussen politieke partye by die stembus. Die land dra dus al die kenmerke van ‘n eenpartydemokrasie, waar die woord demokrasie nie op die staatkundige bestel betrekking het nie, maar op die mate van uitdrukkingsvryheid wat binne die ANC toegelaat word.

Die vraag word dikwels gevra of Suid-Afrika vanuit Lethuli-huis of uit die parlement regeer word. Trouens, die onafhanklike regbank wat die grondwetlike demokrasie beskerm, is al wat nog in die weg staan van wat in die politieke wetenskap as diktatuur van die meerderheid beskou. Dit is wanneer die regerende party in die belang van die meerderheid, in plaas van die belang van al die burgery regeer. Die mate wat die howe hierteen rug styfmaak, bepaal ook die mate van verdraagsaamheid van die onafhanklikheid van die howe.Nie net word die howe in so ‘n bedeling beskou as veronderstel om ‘n verlengstuk van die regerende party se wil te wees nie, die hele beginsel van trias politica – die skeiding van owerheidsfunksies – word misken. Trouens, die grens tussen politieke party en die owerheid word gesloop, en tipies word ‘n kader-ontplooiingsbeleid gevolg ongeag die bekwaamheid en integriteit van die betrokke kaders. Vakbonde soos Solidariteit en die Vereniging van Staatsamptenare is voortdurend in stryde gewikkel waar hul lede blatant geviktimiseer word, veral waar dié lede as bestuurlslede in hul bestuursrolle teen oortreders wat lid van Cosatu-geaffilieerde vakbonde moet optree.

Wanneer ‘n magstryd binne die regerende party losbars, verloor die verloorder letterlik alles – van sy vermoë om ‘n suksesvolle tenderpreneur te wees, sy verskansing teen kriminele vervolging tot sy plekkie op die soustrein. Inhaligheid om voorsiening te maak vir die dag wanneer die pendulum swaai is dus aan die orde van die dag. Die Polokwane-kongres waar pres. Jacob Zuma sy triomftog ingelui het, was ‘n duidelike teken van wat gebeur as iemand hom in die verloorkamp bevind, terwyl kriminele aanklagte teen die wenner soos mis voor die son verdwyn.

Die gedagte van so ‘n eenpartyrealiteit is dat konsensus-politiek gedryf moet word. Dis egter die teorie. Terwyl die boonste leiers blootgestel word aan realiteite soos internasionale ekonomiese druk, beleggings en die impak op werkskepping, kan ander invloedryke groeperings onder weifelende leierskskap destruktiewe politieke geraas maak soos eise vir die nasionalisering van myne, en die gryp van blanke landbougrond sonder kompensasie. Die gevolg is verwarrende politieke bontpratery, of die speel vir tyd tot ‘n volgende beleidskongres.

Om sake meer kompleks te maak, is die ANC ook deel van ‘n alliansie, bestaande uit die ANC, Cosatu en die SAKP. ‘n Vierde alliansievennoot, Sanco, toon af en toe tekens van lewe en grom vir die ANC. Die SAKP het ook sy hoofkantoor in die gebou wat Cosatu pas as hoofkantoor ingerig het, gevestig. Met die opening het Zuma nouer samewerking tussen die alliansievennote bepleit. Die Mangaung-kongres aan die einde van die jaar toon al ‘n geruime tyd tekens van dieselfde messlypery as wat Polokwane voorafgegaan het. Wegbreek uit die ANC is ‘n verre laaste opsie, en sedert die oorlopery gestaak is, aansluiting by ander partye as voertuig om later met groter bedingingsmag terug te keer, ook. Die lot van wegbreekpartye soos die PAC, die UDM en Cope wat in wese tot randpartytjies gereduseer word, stuur waarskuwingstekens uit.

Politieke waarnemers meen al lank dat die ANC se werklike grootste opposisie tot stand sal kom as die ANC werklik sou skeur, soos wat in Zimbabwe tot die opkoms van Morgan Tsvangirai gelei het. Binne die ANC is daar egter nog geen teken van ‘n aptytlike alternatief, hetsy in ideologie of potensiële leierskap nie. ‘n De facto-eenpartybedeling, binne ‘n grondwetlike meerpartybedeling, neig om ‘n de facto tweepartybedeling te laat ontwikkel. Oproepe soos om stemme te leen en dat kiesers ‘n verkyker moet inspan en saamstaan om eers die gemeenskaplike vyand, die ANC, te oorwin is algemeen, wat vir die DA ook ongemaklik moet wees om kiesers (tydelik) te huisves wat nie met die party se beleid saamstem nie, en in wese openlik vyfdekolonnertaal aanhef. In die koukusgebonde omgewing is daar dus nie dieselfde spektrum van ideologiese veelheid soos wat binne die VSA met sy de facto tweepartybedeling geld nie.

Die gevaar is dat beginselpolitiek – partye se beleid is immers op beginsels geskoei – minstens tydelik moet plek maak vir magspolitiek. Die Afrikaanse susterkerke beleef juis nou die impak van die druk wat ‘n breë kerk teweegbring. Ontevrede groepe sal nie sommer die betrokke kerkverbande verlaat nie, maar geskoei op die oornamestyl van die VSA se Suidelike Baptiste interne stryde laat voortwoed waarin die doel bykans enige middele, wat naamskending, onwaarhede en verdagmakery insluit, “heilig.” ‘n Laakbare voorbeeld is waar ‘n bemiddelingskomitee van die strydende groepe binne strukturele verband vordering maak, maar ondersteuners van die een groep gaan voort om ‘n reeds gediskrediteerde DVD in kerke te vertoon om die leiers van die ander groep verdag te maak. Anders as politieke partye, is die kerke nie demokrasieë maar hang as bruid van Christus die teokrasie aan – maar steek teokrasie liederlik in die skande.

Die ironie is dat die volkome proporsionele stelsel wat op nasionale en provinsiale vlak geld, juis bedoel is om so ‘n eenpartyoorheersing onwaarskynlik te maak. In Europa beteken dié stelsel dat na afloop van verkiesings die nuwe koalisievennote ‘n tipe Kodesa moet hou om koalisiebeleid te bepaal. Deur die ANC se oorheersing word Suid-Afrika gestroop van die noodsaaklikste element van die huidige bedeling, die grondwetlike beginsels waarop in Kemptonpark ooreengekom is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae