Nuuskommentaar: Bou sélf beter alternatiewe

gemeenskap-saamwerk-netwerk

Foto ter illustrasuie. (Foto: Vait_mcright/Pixabay.com)

Die Amerikaanse aktrise Gina Carano is die afgelope week deur Disney+ en die linkse elite afgedank nadat sy in November verlede jaar sogenaamde pro-Trump-twiets uitgestuur het. Sy het ook vanjaar politieke vergelykings getref waarvan hulle nie gehou het nie.

Sodoende het nog ʼn konserwatiewe figuur gely onder die skynheilige onverdraagsaamheid van linkse elite. Indien jy aan hulle kant van die politieke spektrum speel, is jy veilig en kan jy amper enige iets doen of sê. Indien dit net wil voorkom of jy na die konserwatiewe kant neig, sal hulle sonder om te skroom sensuur op jou toepas.

In reaksie hierop het die konserwatiewe mediahuis die Daily Wire ʼn ooreenkoms vir ʼn toekomstige film met Carano aangegaan. Hulle standpunt was uiteindelik “indien julle ons verwerp, gaan ons ons eie alternatiewe bou”. Indien konserwatiewe mense uit die filmbedryf geskop word, gaan ons ons eie filmbedryf oprig.

Wat hulle eintlik sê is – ons sal self. Indien ons uit die openbare ruimtes geskuif word; ons wese en identiteit gedemoniseer word en ons nie gelyke burgerskap gegun word nie, sal ons bloot ons eie ruimtes skep.

Dit is ʼn gedagte waarmee ons as Afrikaners lank reeds vertroud is. Afrikaners het nog altyd ʼn sterk gemeenskapsgevoel gehad. Wanneer dit sleg met ons gaan, is ons instink om uit die krag van die gemeenskap op te staan.

Tydens krisisse skep ons ook gemeenskapsinstellings om vir ons ruimtes en kapasiteit te gee. Instellings soos die Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Solidariteit en AfriForum is sprekende voorbeelde hiervan. In hierdie ruimtes en vanuit hierdie kapasiteit kan ons dan ons krisis beantwoord.

Hoewel daar steeds ʼn veg-element is, word die gedagte van bóú al hoe belangriker. ʼn Mens kan en moet teen die regering se wandade en verval veg. Die bou van wesenlike alternatiewe is egter amper belangriker. ʼn Mens gaan nie sommer die regering se verval en antagonisme kan oorwin nie. ʼn Mens kan egter eie instellings en ruimtes bou waarin jou identiteit en kultuur kán en mág floreer.

So ook sal konserwatiewes in Amerika nie sommer die ganse linkse elite en alle linkse kulturele instellings ten gronde kan bring nie. Hulle kan egter hulle eie alternatiewe instellings en sodoende eie alternatiewe ruimtes bou. Ruimtes waarin dit nie ʼn sonde is om konserwatief te wees nie.

Afrikaner

(Argieffoto: Adéle Changuion)

Soos Afrikaners deur die regering verdruk en gedemoniseer word, word konserwatiewes ook in Amerika deur die elite verdruk en gedemoniseer. Sodoende sit hulle tot ʼn groot mate met dieselfde probleem as ons – bloot wie hulle is, is ʼn sonde. Hulle konserwatiewe identiteit reduseer hulle eintlik tot tweedeklasburgers. Mense wat nie dieselfde sosiale regte en voorregte as die linkse elite mag geniet nie. Sodoende behoort hulle net nie dieselfde ruimte gegun te word nie. (Klink dit dalk bekend?)

Met Amerika wat op sterk liberale elemente geskoei is, het hulle egter nog nie al die lesse, uitdagings en oplossings van groepspolitiek geleer nie – altans nie soos wat die Afrikaner al het nie. Hulle sien die wêreld nog in terme van individu en staat – groepspolitiek is nie so belangrik nie of behoort minstens nie so belangrik te wees nie.

Suid-Afrika is egter nog altyd gekenmerk aan ons groepspolitiek en gemeenskapsbelange. Sodoende was ons nog altyd gekonfronteer met die beperkinge en moontlikheid wat kan spruit uit ʼn groepsidentiteit. Ons probleme en oplossings was nog altyd verbind aan groepsidentiteit.

So ook het Afrikaners al die krag van ons groep geleer – oftewel die krag van die gemeenskap. Ons het al geleer dat die mag van die staat taan teen die krag van die gemeenskap. Veral wanneer die staat toenemend besig is om te verval. Sodoende het ons al geleer wat ons alles kán bou, indien ons net wil.

Ook het ons geleer dat ons dieselfde ruimtes, vryheid en menswaardigheid verdien as alle ander in die land. Die regering stel egter nie vreeslik daarin belang om dit net vir ons te gee nie. So word dit noodsaaklik om ons eie ruimtes te bou. Ruimtes waarin ons mag floreer. Hierdie ruimtes gun ons nie net kulturele vryheid nie, maar ook gelyke burgerskap. Dit stel ons in staat om na onsself as gemeenskap om te sien en sodoende ook individue die beste moontlike kans op sukses te gun.

Ons het ook al geleer dat ons individuele verwesenliking gesetel gaan wees in die beskerming van ons groepsidentiteit. Indien ons as Afrikaners individueel wil floreer, gaan ons eers onsself as groep moet beskerm – juis omdat ons as groep verdruk word.

Een van die oplossings wat ons al herhaaldelik opgehef en preserveer het, is om beter alternatiewe te bou. Deur jou eie ruimtes te bou, beskerm jy jouself sonder om enige iemand anders te onderdruk. Dit veronderstel ʼn ingesteldheid van selfverantwoordelikheid en selfhelp. Dit veronderstel ook wedersydse erkenning en respek. Nes ons wil hê ander gemeenskappe ons ruimtes moet respekteer, moet ons ook ander gemeenskappe se ruimtes respekteer.

Mag ons vir onsself ʼn beter toekoms bou. Ons moet en ons kan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

As ons na eerste beginsel terugkeer. Wat is regtig die probleem en moet ons maar so deur die demokrasie vir ons ruimtes opbou of moet ons groot stappe neem en op groot skaal al ons geld, tyd, energie gebruik om werklik werkbare oplossings te kry en ons planne deur te voer? Is ons besig om halfhartig te probeer en te hoop alles kom reg?

OW ·

Alles goed en wel.Ons sal self.Ons sal ons eie ruimtes skep en wedersydse respek toepas.Hoe sal ons van die Regering se belastingstelsel kan afklim as daar geen respek vir die spandering van ons belasting geld is nie?

Pieter ·

Gee vir ons blankes ons eie plek en maak met julle siek ANC land net wat julle wil.

Bart-Man ·

My gesin en vriende het ge Kapsuleer. Ons beweeg van een kapsule na die ander. Ons ry van punt A na B. Koop alles wat ons kan aanlyn. Jo Jos, generator en gas. Kuier net mense wat in ons kapsule pas. Geen aanhangsels soos tuin, huis of enige van daai hulpe nie. My kapsule my wêreld my reëls.

Groen Ghoen ·

Baie, baie waar. Die Afrikaners is werklik op hul eie aangewese. Dalk is die heel grootste klag teen die NP se ‘onderhandelaars’ dat hulle hul stemvee heeltemal versaak het. Van FW en kie. se beloftes het Flater Water gekom. Die heel, heel ergste: Die ‘onderhandelaars’ het die laakbare stap geneem en ANC lede geword. Is daar enige van hulle wat ‘n aks doen vir diegene wat hul destyds in magsposisies gestem het? Nee…. hulle is deesdae Kodesa-entrepeneurs en kripvreters. …. Kruip weg agter hul ‘stigtings’ en praat net Engels. Selfdoen is al wat oorbly. Die alternatief, om moed op te gee en ondergeploeg te word, se gevolge is nog erger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.