Nuuskommentaar: Die Groot Leuen en burgerlike ongehoorsaamheid

Argieffoto

Argieffoto

Twee artikels wat die afgelope week in die VSA verskyn het, bied ruim stof tot nadenke. Die twee artikels, wat onderskeidelik oor Die Groot Leuen en burgerlike ongehoorsaamheid handel, het nie op mekaar betrekking nie, maar die een kan tot die ander lei.

Die Groot Leuen

’n Paar jaar gelede het die destydse premier van Mpumalanga, Ndaweni Mahlangu, die oë laat rek toe hy gesê het dit is in die haak vir politici om kluitjies te bak. Daar is vreeslik met sy “wysheid” die draak gesteek, maar dit is ook reeds baie duidelik dat bitter baie ander politici, willens en wetens, al dan nie, nie skroom om die waarheid oneer aan te doen nie.

Om die kiesers ore aan te sit, is natuurlik fundamenteel problematies vir die instandhouding van die sosiale kontrak wat kieser en politikus tydens ’n verkiesing sluit.

Onlangs het die ANC enigiets van stomme verbasing, ergerlikheid en komiese reaksie ontlok met sy veldtog om sy “goeie storie” te verkwansel.

Oor die meriete van die strategie, en die konteks van die goeie stories terwyl beurtkrag, korrupsie en munisipale dienste die teendeel uitskreeu, kan lank diskoers gevoer word.

Maar wat behels die begrip “groot leuen?” Kortweg kom dit daarop neer dat die persoon, gewoonlik ’n politikus, van die standpunt uitgaan dat die leuen so groot en deursigtig is dat die publiek sal dink die persoon wat die kluitjie verkwansel, kan nie dink hy sou daarmee kon wegkom nie, daarom moet dit die waarheid wees.

In ’n artikel op die webwerf van die Christian Coalition of America skryf Susan Michael dat dié begrip, die große Lüge, deur Adolf Hitler ontwerp is, en reeds in sy boek Mein Kampf beskryf is. Later sou die beginsel “goed” aangewend word om die bevolking teen die Jode op te stook.

Hitler se regering was bekend daarvoor dat dit propaganda tot nuwe vlakke van gesofistikeerdheid ontwikkel het, maar die Duitsers het nie alleen agter die deur gestaan nie. Die Duitsers se verwysing na Churchill se “liegfabriek” was nie heeltemal sonder verdienste nie.

Mettertyd het propaganda tot ’n wetenskap van sy eie, strategiese kommunikasie, ontwikkel. Hoewel die begrip nou dikwels in die niemilitêre sektor gebruik word om byvoorbeeld universiteite en rugby-unies se skakelbeamptes “indrukwekkende” benamings te gee, bly die wetenskap onderliggend hieraan steeds primêr militêr.

Anders as met propaganda, sal dit nooit van blatante leuens gebruik maak nie, maar eerder om die waarheid so te manipuleer dat dit steeds geloofwaardig is. Trouens, om met ’n leuen uitgevang te word kelder die strategie.

Die opkoms van die massamedia, en later die ontploffing van inligtingstegnologie, maak dit byna onmoontlik om met blatante leuens te werk.

Of doen dit?

Dié week, in die reaksies op ’n nuuskommentaar van Maroela Media, het dit weer skokkend geblyk hoe vatbaar sommige mense vir allerlei samesweringsteorieë en ontkennings is. Harde feite wat in strome deur die media vloei, maak geen indruk nie, en word eenvoudig onder die “leuens” van die een of ander sameswering geklassifiseer. Ook die ontkenners baljaar op die internet, en daar het selfs al ganse pseudo-wetenskappe ontstaan om dié mense met “skietgoed” te voorsien.

’n Australiese studie het bevind dat diegene wat vatbaar vir samesweringsteorieë is, dieselfde genetiese mutasie het as diegene wat as ontkenners die lewe ingaan.

Diegene wat foto’s kan dokter, soos die opgraaf van die geraamtes van “reuse”, is erg besig.

En selfs al het die foto-kulkunstenaar sy oorspronklike werk as poets (hoax) bedoel, kry dit danksy liggelowige mense en die internet vlerke. Selfs al is die gekskeerdery by herhaling ontmasker, soos dié met die jaarlikse e-posse wat die ronde doen oor Mars wat so na aan die aarde gaan kom dat dit so groot soos die volmaan gaan vertoon, weet ons by voorbaat dat die betrokke e-pos later vanjaar wéér deur liggelowiges die wêreld ingestuur gaan word, en wéér liggelowiges gaan vang.

Terwyl hierdie wêreld van sameswering en ontkenning floreer, dikwels as ’n soort werklikheidsontvlugting, is daar ’n werklikheid daarbuite waarmee deeglik rekening gehou moet word.

’n Werklikheid waar nie net sommige politici lieg nie, maar waar inhaligheid, soos met die torring aan die voorgeskrewe materiaal vir hoë geboue die kontrakteur ’n paar skelm rande in die sak besorg, maar menselewens in gevaar stel. Waar kabeldiewe die lewe vir ander ongemaklik maak en selfs groot skade laat ly. Waar ’n vrou koelbloedig voor ’n kleuterskool doodgeskiet word omdat ’n skelm ’n oog op haar motor het. ’n Ander skelm het immers reeds sy “bestelling” vir so ’n motor geplaas.

Die term, “die groot leuen”, het onlangs ook in Suid-Afrika opgeduik toe dit ’n subtema was van ’n simposium van die ad hoc-komitee oor eiendomsreg. Dit het verwys na die regering se herhaalde verwysings na hoe blankes aan hul grondbesit sou gekom het. Die regering se beskouings is weer geskoei op ’n persepsie onder swart mense, soos uitgewys in die meestersverhandeling van ’n US-student, Charl Swart, dat meer as 80 persent van die swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Maar so ’n lysie kan eintlik baie langer gemaak word – die blaam wat Jan van Riebeeck nou vir die land se probleme kry, dat apartheid die oorsaak van Eskom se probleme is, en ’n horde aspekte wat met Nkandla verband hou. Dan is daar nog korrupsie wat glo ’n Westerse konsep is, en dat kritiek op die ANC kritiek op swart mense is.

Burgerlike ongehoorsaamheid

Die tweede artikel, “Disobey!”, is deur die politieke kommentator John Stossel geskryf. Hy doen ’n wydlopende bespreking van die jongste boek deur die omstrede skrywer, Charles Murray. Murray het reeds bekendheid verwerf vir politiek onjuiste werke, soos hoe staatswelsyn die armes benadeel, en die ooreenkoms tussen etniese verskille en IK. Sy jongste boek plaas egter weer ’n omstrede onderwerp ter tafel – burgerlike ongehoorsaamheid.

Dit is iets wat Suid-Afrika reeds in oordaad beleef het, met Ghandi wat ’n soort romantiek daaraan geheg het.

Murray se fokus is egter op die VSA, waar hy daarop wys dat die VSA nou 50 persent meer statute as in 1980 het wat sekere optredes tot federale misdade verklaar. Daar is nou wette op die wetboek wat van 880 tot 2 300 bladsye dik is. Sy gevolgtrekking is dat Amerikaners nie meer vry is nie omdat daar net te veel maniere is waarop die regering sy burgers beheer (of versmoor).

Sy oplossing? Burgerlike ongehoorsaamheid. Hy argumenteer, soos Ghandi, dat die regering tog nie almal kan toesluit nie. Die bevolking moet gewoon hul vryheid opeis.

Hy bepleit die ou ideaal dat die regering se wette net ten doel moet hê om misdade soos moord, diefstal, aanranding en korrupsie hok te slaan.

Stossel sluit af: “Maybe most of these laws should be ignored by most of us.

“Politicians themselves don’t always play by the rules. My last column was about how the Clintons get away with breaking rules. But I made a mistake that I must correct: I said the Clinton Foundation donated only 9 percent of its money to charity. Sorry, that was wrong. The Clintons and their flunkies were worse than that (6%) … When Bill and Hillary say they want to ‘help people’, they’re talking about themselves. I don’t want to be forced to obey such people.”

Wat Suid-Afrika betref:

Is Soweto se skuld van meer as R4 miljard aan Eskom nie ’n vorm van burgerlike ongehoorsaamheid nie? Al is dit ongeregverdig.

Is burgerlike ongehoorsaamheid nie beter as diensleweringsbetogings wat in geweld en skade, en selfs lewensverlies ontaard nie?

Slotsom

Die twee artikels het nie op mekaar betrekking nie, maar uit gereelde terugvoer wat op die internet gesien word, is daar ’n herhaaldelike oproep op Afrikaners om hulle tot burgerlike ongehoorsaamheid te wend, en veral met die weerhouding van belasting, of meer konkreet, om nie TV-lisensies te betaal nie.

Daar is egter beter opsies. So ontvang Solidariteit nou insette om by te werk in ’n verslag waarin die regering by die VN vir rassisme verkla sal word. Daar is ander hofsake en aksies. Daar is veel meer as net groot leuens wat gestuit moet word, en gesamentlik kan dit veel beter gedoen word as wat elkeen ’n ding op sy eie aanpak – en soms in die proses die kollektiewe poging deur ’n onoordeelkundigheid ernstig skade kan berokken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Grassie ·

Christus sê vir ons in Joh 8 dat die duiwel ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Wanneer regeringsleiers daagliks op die TV blatant deur hul tande sit en lieg weet ons wie hul leermeester is. Dit is ‘n gegewe en ons kan dit nie verander nie.
Wat bugerlike ongehoorsaamheid betref – ek glo nie ons Afrikaners sal werklik daartoe oorgaan nie. Dit is nie in ons aard nie. Ons kom wette en reëls na en betaal wat ons moet betaal. Ons gaan nie aggressiewe optogte hou en ander mense se goed plunder en brand nie. Die ANC beskou ons geaardheid as swakheid en gedienstigheid, daarom trap hulle al harder op ons. Hulle gaan hul Moses teëkom – as hulle uit die geskiedenis wil leer sal hul agterkom dat wanneer ons in ‘n hoek gedryf word draai ons om en dan is die hel los.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.