Nuuskommentaar: Die kuns om studentemoles en -geweld te oorkom

Veiligheidspersoneel tydens die onrus by die Universiteit van Pretoria. Foto: Adéle Changuion

Veiligheidspersoneel tydens die onrus by die Universiteit van Pretoria. Foto: Adéle Changuion

Kan die rolspelers met die ontlonting van die huidige vlaag studente-onluste dalk iets wys word by ’n groep oud-Moslemradikale, lede van die Ierse Republikeinse Leër, “white supremacists” en ander wat hul weë verander het en nou kragte saamsnoer om te keer dat jeugdiges in radikalisme verval? Wat duidelik is, is dat verstokte ideologiese vooroordele van meningsvormers, van links en van regs, die proses hier eerder van die wal in die sloot help.

Dat die spiraal van vandalisme en geweld op universiteitskampusse nie kon voortduur sonder om onder die vergrootglas bekyk te word nie, is ’n gegewe. Die stuiwers in die armbeurs neem verskeie vorme aan, positief én afbrekend, van die reël van gesprekvoering, gebedsbyeenkomste, hande vat oor wye politieke klowe, dialoog, rubriekskrywers wat opbouende en afbrekende bydraes lewer, akademici wat, vreemd genoeg “oplossings” bepleit wat nie met die Grondwet strook nie, die stort van figuurlike rioolvuil in die sosiale media – ’n lekker deurmekaarspul.

Die regering se jongste (en omtrent enigste ander bydrae as om die knie te buig of erg te dreig) is om die transformasiepas van universiteite nou op te skerp. Die minister is skynbaar veral dikbek oor omtrent 83% van alle professore, volgens hom, nog wit is.

Sommige aksies lyk belowend. Die eerste was toe die ANC in Gauteng en sy alliansievennote hande met Solidariteit en AfriForum geneem het om die situasie by Tuks te stabiliseer. Hierna het ’n wye verskeidenheid instansies wat ook Solidariteit en AfriForum insluit, maar ook kerke soos die GKSA en Hervormde Kerk, en Afrikaanse kultuur- en sake-organisasies hande gevat om ’n verenigde front teen rassisme te vorm.

Terwyl dit in ’n mate die wind uit die seile neem van gewoonteplegers wat onder meer in rubrieke na AfriForum en Solidariteit as “rassistiese organisasies” verwys – onder wie minstens een rektor en ’n rubriekskrywer wat Afrikaanse studente onlangs nog aangeraai het “om die omies van AfriForum weg te jaag,” is ’n gewoonte ’n ding wat kan kleef en ons het die naweek weer gesien hoe een van die rubriekskrywers uit die geledere van die Seunse Weenkoor bloot die “reset”-knoppie druk om al die harde werklikhede wat sy skrywe al tot redelikheid begin beïnvloed het, eenvoudig uit sy denke te verban sodat hy weer met sy blaker in sy gatvas gemaksone kan beland.

Dit help nie.

In vandag se Christian Science Monitor is ’n artikel oor hoe ’n groep van sowat 300 eertydse radikale van uiteenlopende bewegings kragte saamsnoer om te probeer keer dat ander jong mense deur radikalisme ingesluk word. Dit sluit groepe in soos radikale Moslems, “white supremacists”, lede van die Ierse Republikeinse Leër. Die organisasie, Against Violent Extremism (AVE), word deur die Instituut vir Strategiese Dialoog beheer.

Die artikel is met die hulp van die International Women’s Media Foundation via die Howard G. Buffett Fund for Women Journalists saamgestel. So kon bydraes van verskeie ander instansies ingesluit word wat hulle met dié soort geweldpleging bemoei, waaronder die Center for the Study of Hate and Extremism by die California State University, San Bernardino en die Duitse Instituut vir Radikalisering- en De-radikaliseringstudies (http://girds.org/).

’n Sterk tema wat deurloop, is dat dit dikwels gebeur dat mense wat as studente op die voorpunt van radikalisme gestaan het, later by hoofstroomdenke inval en gewone lewens lei. Soms handhaaf hulle ’n besonder lae profiel juis om te keer dat iemand hul radikale verlede onthou, en dinge in hul gemeenskappe vir hulle warm gemaak word.

Dit was ook voorheen min of meer die patroon met studente-organisasies soos Nusas.

Maar kan ’n blote aanname gemaak word dat vader tyd die jonges wat nou so moles maak mettertyd in verantwoordelike burgers sal omskep? Baie sal inderdaad wanneer hulle ná kwalifikasies verantwoordelike werk kry, afkoel. Maar in Suid-Afrika is daar ’n geneigdheid dat uitgediende konsepte soos kommunisme kan voortleef, selfs tot in die kabinet. Daar is dus “bane” vir radikalisme oop, soos gevoed deur onder meer die EFF, maar waarskynlik ook as daar uit die Numsa-uitval met Cosatu ’n behoorlike werkersparty sou ontstaan.

Presies hoe vatbaar is ’n jong radikaal, wie se ideologiese grondslag deur Fanon gevorm is, en ’n eie werklikheid geskep het waar hy deur sy simbole van kolonialisme getraumatiseer word, om hom tot redelikheid te keer? Boonop gevoed deur ’n gevoel van bondeldapperheid? Is hierdie groep enigsins vatbaar vir redelike gesprekvoering? Is die geweld by Kovsies en Tukkies min of meer gestaak omdat hierdie groep tot ander insigte omgepraat is? Nie volgens Kovsies se SR-voorsitter en voorbok-molesmaker nie – die streng veiligheidsmaatreëls en besliste optrede dwing hulle bloot tot ander taktiek.

As daar nie geleentheid vir molesmakery is nie, kan dit maklik gefabriseer word. Die naweek se gebeure tydens die Woordfees in Stellenbosch onderskryf dit skynbaar. AfriForum Jeug het ’n vreedsame gedenkbyeenkoms by die standbeeld van JH Marais gehou. Hier is hulle deur lede van Open Stellenbosch getart en rondgestamp sodat ’n klag van aanranding teen twee lede van Open Stellenbosch gelê is. Hierna ontwrig ’n groep jong vroue, sommige kaalbolyf, ’n deel van die Woordfees-program en sê dit is in reaksie op lede van AfriForum Jeug wat tydens die onderonsie by die standbeeld dreigemente oor verkragting sou geuiter het. AfriForum Jeug oorweeg nou ’n lastereis omdat beeldmateriaal die verkragtingstorie as bog bewys.

Dit klink nou half laf dat die rektor eens, toe die bestuur se abortiewe taalbeleid geformuleer is, skynbaar die rug agteroor gebuig het om Open Stellenbosch ter wille te wees, maar instansies soos Adam Tas en AfriForum ’n koue skouer gegee het.

Kortom, die middelgrond wat nou skynbaar nader aan ’n oplossing tot die universiteitsvraagstuk beweeg, sal niks verloor in gesprekvoering met die radikale periferie nie, en daar kan selfs ’n mate van begrip wees vir dit wat die radikale so erg vind, maar dit kan nooit tot die punt ontwikkel waar die radikale weer die universiteitsbesture se beplanning, sonder toegewings van die radikale, kaap en so in werklikheid die besture gyselaar neem nie.

Ons het werklik by daardie punt verbybeweeg waar dit nodig is dat sommige meningsvormers die “reset”-knoppie gaan druk en die positiewe vordering wat gemaak is en word, verdag maak bloot omdat hulle ’n kompulsiewe wrewel teen van die rolspelers het.

Uit die artikel oor die Against Violent Extremism (AVE) is dit duidelik dat prosesse met groot kundigheid aangepak moet word. Daar is nie ruimte vir keffertjies om dié prosesse aan die hakskeen te kom hap nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Bruno Stef ·

Die knaap hier ter sprake kla in die sondagkoerant dat honderde mense van die publiek hom allerlei ongure dinge toegevoeg het en dit kom hom waaragtigwaar toe.My raad aan hom is moenie jouself bemoei met sake bokant jou vermoens nie en moet nie n platvorm soek om jou verwronge idees te openbaar nie

Sarie ·

Hierby kan ook die insident op Ermelo teen Steve gevoeg word. Hulle kerm omdat hy De La Rey sing. Wil jy nou meer. Wys net hoe oningelig ‘n groot hoeveelheid van die massas is. Retoriek is die Seunse Weenkoor se hoofding sonder om feite van beide kante te bekyk.

Veritas ·

Goeie berig Herman, maar! Die vinnigste en doeltreffendste manier om amokmakers (vandale), want dit is wat hulle is, tot orde te roep, is om hulle met die volle mag van die wet, vir ‘n ses te slaan. Let wel dat ek nie van ordelike protesoptogte of wegblyaksies praat nie. Met dié groep kan daar nog dialoog gevoer word en tot ‘n vergelyk of kompromie kom. Wat ons egter hier mee te doen het is ‘n groep of groepe onvolwasse niksnutte met politieke aspirasies. Hulle stel geensins belang in ‘detente’ of vreedsame oplossings nie. Vir hulle is dit ‘n teken van swakheid. Nee-wat swaer, hierdie radikale, onopgevoede jafels moet dit aan hulle bas voel alvorens hulle tot ander insigte sal kom. Groetnis.

Johannes Meintjes ·

Die kuns is om die keffertjies doelmatig te mobiliseer. Hulle is eintlik nogal baie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.