Nuuskommentaar: Die mensdom se kop in die sterre

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Philae wat sy moedertuig verlaat om op die komeet te gaan land. (ESA-webwerf)

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Philae wat sy moedertuig verlaat om op die komeet te gaan land. (ESA-webwerf)

As alles goed verloop, sal die mensdom ’n minuut of twee na 18:00 Suid-Afrikaanse tyd vir die eerste keer daarin slaag om ’n tuig op ’n komeet te laat land.

Weens die lang afstand wat die seine na die aarde moet trek moet trek, sal die wêreld eers kort na 16:28 Suid-Afrikaanse tyd weet of die landing suksesvol was. Die prestasie hiervan word vergelyk daarmee om iets van een koeël wat deur die lug trek, op ’n ander koeël, ook volspoed, oor te plaas. Die moedertuig, Rosetta van die Europese Ruimte-agentskap (ERA), sou ’n paar uur vroeër sy kleinding, Philae, gespeen het om sy eie tuiste in die ruimte te gaan ontmoet en so die kroon te span oor ’n epiese dekadelange heen en weer reis deur die sonnestelsel.

Aan boord van Philae is toerusting wat ook van ander lande en Nasa bekom is. Feitlik die hele wêreld het ’n belang in wat vandag gebeur.

Dit alles gebeur ’n halfmiljoen kilometer weg, en daarom sal die mensdom eers sowat ’n halfuur nadat Philae geland het, weet of dit suksesvol was wanneer die sein tot by die aarde getrek het. Volg die “regstreekse” uitsending van Nasa se TV-diens, wat uiteraard omtrent ’n halfuur vertraag sal wees. ERA beveel ’n ander webwerf aan om na die landing te kyk. Volg ook verwikkelinge op Twitter by:
http://www.twitter.com/ESA_Rosetta
http://www.twitter.com/esaoperations
http://www.twitter.com/philae2014
http://www.twitter.com/esascience

ERA het ook ʼn blog om belangstellendes op die hoogte van sake te hou.

Die komeet,  67P/Churyumov–Gerasimenko, is met ’n lengte (net van sy dubbeldoor-kop) van 4 kilometer ’n bielie teen die komeet Siding Spring wat onlangs by Mars verbygeskuur het, en trek teen sowat 60 000 kilometer per uur. ERA beskryf die vorm van die komeet as dié van ʼn rubber-eend. Rosetta, Philae se moederskip, wentel al om die komeet – op sy eie ’n prestasie omdat die komeet nie rond is nie. Rosetta sal om die komeet bly wentel wanneer dit sy naaste draaipunt om die son bereik. Terwyl Rosetta om die komeet wentel, is ’n geskikte landingsplek vir Philae gesoek – ’n gedugte taak omdat die komeet ’n ruwe oppervlak met diep kepe en kranse het.

Philae sal weens die komeet se geringe swaartekrag eerder daarteen vasmeer, as daarop land. Dit word egter nog moeiliker gemaak omdat die komeet self ook tol. Hy moet dus dadelik geanker word, ook sodat hy in die komeet in kan boor sonder om homself weg te stoot.

Dit is ’n ontsaglike prestasie, maar dit is met “primitiewe” instrumentasie behaal. Rosetta is reeds tien jaar gelede vir hierdie sending gelanseer, en moes ’n komplekse roete volg om in posisie te kom en die nodige snelheid te bereik. Dié ingewikkelde roete het Rosetta drie keer tot naby die aarde gebring waar die “slingervel”-metode gebruik is om die tuig met ’n veel hoër snelheid terug die ruimte in te slinger. Dit het ook een keer by Mars verbygeskuur om nog vinniger versnel te word, en terselfdertyd in die regte rigting geslinger te word om die komeet diep in die ruimte te kan ontmoet. Lees meer oor die tegniese maneuvers.

In hierdie tien jaar het ruimtetegnologie tuis baie verbeter, en dit moet ook in gedagte gehou word dat van die instrumentasie reeds in die 80’erjare ontwerp en gebou is. Dis baie oud in terme van ruimte-tegnologie.

Vir ongeveer ʼn duisend dae het die tuig, terwyl dit deur die ruimte geklief het, “gehiberneer”. Wêreldwyd is asem opgehou toe Rosetta uit die diep slaap gewek moes word, en niemand doodseker kon wees dat die proses sou slaag nie.

Al die moeite om meer te wete te probeer kom oor die geskiedenis van die sonnestelsel. Komete word as bevrore yskapsules van die boublokke van die sonnestelsel beskou. Komete het moontlik ook bygedra tot die aarde se watervoorraad, en ander geheime wag ook om ontdek te word.

Die gemiddelde persoon besef moontlik nie hoeveel van sy daaglikse aktiwiteite deur ruimtetegnologie moontlik gemaak word nie. Om ’n wedstryd van die Springbokke op die kassie te kan volg, verg ’n “skottel” op die dak. Om ’n GPS in te span, is die produk van ruimtetegnologie. Baie van die tegnologie wat ons vandag as alledaags ervaar, is oorspronklik vir die ruimtevaart ontwikkel. En die ruimte se horisonne lê wyd.

Die aarde is ook besonder kwesbaar vir ruimteweer. Dit is kosmiese strale en partikels wat veral deur die son uitgeskiet word, en nie net ons kommunikasie nie, maar kragnetwerke kan tref. Dit is dus nodig dat kundiges die ruimteweer goed dophou om betyds alarm te maak sodat stelsels betyds afgeskakel kan word om rampe te voorkom. Die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap speel hierin ʼn belangrike rol.

Boonop beweer sommige weerkundiges dat die kosmiese partikels die aarde se klimaat kan beïnvloed, en noem hierdie invloed kosmoklimatologie.

Suid-Afrika speel ook op ander terreine ’n belangrike rol, soos met die ontwikkeling van die SALT-teleskoop by Sutherland. Die SKA, met sy voorloper, die Meerkat by Carnarvon, bied nie net vele werksgeleenthede nie, maar ook beurse aan mense om in hoogs tegniese velde opgelei te word.

Die wondere van die wetenskap word soms gekritiseer omdat dit glo mense van geloof in God sou wegdryf. Ander wetenskaplikes sê weer hoe meer hulle in die ontsaglikheid van die heelal intuur en hoe meer hulle te wete kom, hoe dieper raak hul geloof.

In ʼn dokument, Om te kies en te glo, skryf die bekende teoloog, Mike Smuts, soos volg: “Gelowiges het deur die eeue geglo dat God Homself in die natuur en die Skriftuur openbaar. Wanneer ons spanning tussen die twee openbarings beleef, is dit nodig dat ons telkens weer nuut kyk na hoe ons die natuur en die Skriftuur interpreteer. Omdat albei dieselfde God aan ons openbaar, mag ons nie een van die twee openbarings prysgee nie en moet ons telkens ons wyse van interpretasie hersien.”

Wanneer oor die omvang van die heelal – die skepping, besin word dan is die mens met sy wonderlikste tegnologie nog net besig om aan die oppervlak te krap.

In Openbaring 5:13 lees ons: “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: ‘Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid’. ”

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Ruimte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henkst

Vele Nuwe-Testamentici erken vandag dat om die boek Openbaring te verstaan ʼn mens kennis moet dra van die destydse ‘sterrekunde’. Bruce Malina het onder andere ʼn boek geskryf oor die ‘kosmiese lam’ [Aries] wat met die nuwe stad Jerusalem trou! The New Jerusalem in the Revelation of John: The City as Symbol of Life with God (Collegeville: Michael Glazier).

jakoos

Dankie vir die klikskakels na die webblaaie, Herman. Dis nou die soort nuttige “kommentaar” wat ons nodig het – behalwe vir die ou skeppingstorie aan die einde. Ai tog! En om veral Openbaring aan te haal! Gelukkig dat daar mense soos Henkst is wat ons beter hieroor kan inlig as Mike Smuts! Dis darem nodig dat mense weet dat Openbaring eers in die jaar 419 deur die Katolieke as kanon aanvaar is – en volgens bewerings waarvoor ek nie dadelik bewyse kan kry op Wiki nie, is dit met ‘n meerderheid van net elf stemme so aanvaar op ‘n beraad… Lees meer »