Nuuskommentaar: Die “selfie” en nou die self

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Uit die internetkommentare van lesers slaan dikwels ’n groot mate van pessimisme neer oor hoe sake in Suid-Afrika, maar soms ook in die wêreld, verloop. ’n Groot groep lees die eindtye “soos ’n boek” in die nuusgebeure van die dag – korrupsie, swaarkry, lewensverlies en duisende huise wat in Kalifornië voor bosbrande ontruim moet word terwyl ’n uitmergelende droogte al jare die lewe uit die aarde wurg, vlugtelinge wat lande oorstroom, planne wat gemaak moet word vir nuwe uitdagings en vele meer.

Omdat niemand weet wanneer die wederkoms plaasvind nie, afgesien van die Vader, is ’n fatalistiese gees vir die Christen onvanpas. Tydens die ergste vervolging van Christene het ook die grootste verspreiding van die Christelike geloof plaasgevind.

Hande gevou sit en sanik oor dinge wat ons bedreig, help niks. Elkeen het gawes en talente ontvang, wat individueel of gemeenskaplik tot groot heil vir ander kan dien. Pas is ’n plaasaanval in die omgewing van Zastron deur gesamentlike optrede en deeglike planne gefnuik.

Veel kan van die apostel Jakobus geleer word oor sy standpunte oor geloof wat in geloofsdade oorgaan: “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Op 10 Oktober, Paul Kruger se geboorteherdenking, hou die Solidariteit Beweging ’n Toekomsberaad in Pretoria. Dit is ’n opvolgberaad van die Krisisberaad wat op 5 Mei plaasgevind het, en waar baie gedagtes onder die loep geneem is. Daar is intussen hard gewerk aan planne om die werkbare planne op ’n uitvoerbare trajek te plaas.

’n Groot deel van die filosofie hieragter is dat dit duidelik nie meer werk om vir die regering te wag om sy plig teenoor alle landsburgers na te kom, en onder meer ’n plek vir minderheidsgroepe en Afrikaans onder die Suid-Afrikaanse son te beding nie.

Met die Krisisberaad is verskeie woordvorme geskoei op die term “self” ingespan, soos selfhelp, selfstandigheid, asook selfbeskikking. ’n Deel van die media het histeries gereageer asof dit niks anders kan beteken nie as dat die Afrikaner in die proses is om af te stig – ’n volkstaat onafhanklik van Suid-Afrika uit te roep.

Dis steeds nie duidelik waar die grense tussen blatante onkunde (ook oor wat in die Grondwet staan) en doodgewone kwaadwillige joernalistiek was nie. Selfs ’n gerespekteerde juris is deur lokvaljoernalistiek gelei om in die konteks van die werklike gebeure ’n pot strooi kwyt te raak. Van die beraadgangers kon nie glo die beriggewing het oor dieselfde beraad gehandel as dit wat hulle self bygewoon het nie.

Intussen was daar belangrike skuiwe in die media, en die hoop beskaam nie dat die beriggewing nou van beter gehalte sal wees nie.

So hard as wat probeer is om die woord “self” tot vloekwoord verklaar te kry, so het die woord net sterker geword namate die skroewe teen Afrikaans en minderheidsregte net stywer aangedraai is.

Aan die ander kant het die regering sy transformasie-agenda al harder probeer dryf, sonder enige poging om dit as fatsoenlik te laat manifesteer of oorkom. Na buite straal dit al meer die beeld van ’n opgewarmde turbo-apartheid uit.

Intussen het die pad begin verloop om van die Krisisberaad na ’n Toekomsberaad te vorder.

In ’n gees van fatalisme of ’n afwesigheid van die wil om regverdigheid en deernis te laat manifesteer, sou so ’n beraad ’n gejaag na wind wees. Maar dit word in diepe afhanklikheid van die Allerhoogste aangepak.

Ter wille van ons kinders. Intussen word reeds harde werk gedoen – word vir minderbevoorregtes gesorg en die howe genader om onregte te stuit …

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Disselboom ·

Die oproep om self verantwoordelikheid te neem is bemoedigend. Die gesprek binne Solidariteit het die afgelope jare en veral die afgelope maande heelwat in hierdie rigting geskuif, met toenemende besef dat geen regeringsinstelling, insluitende die howe, werklik die Afrikaner se belang of selfs net algemene reg en geregtigheid, gaan dien nie.

Die howe het tans moontlik nog hier en daar ‘n nut om onmiddelike onregte aan te spreek, en as dit aangewend word waar nuttig vir die oomblik, en as dit help om water in die krane te hou, verontregting in die werksplek en so aan aan te spreek, moet dit benut word.

Die howe gaan ons egter nie red nie. Die doen en self opbou moet sterk ondersteun word.

Of die Afrikaner die vermoë het om weer dapperheid en deursettingsvermoë buite bietjie sporadiese optrede te vertoon, moet egter nog gesien word; en of die gedagtes en lewens- en wêreldbeskouing al behoorlik van die afhanklikheid van die staat, en die toelating van die staat om in elke samelewingsverband te heers, losgekom het, moet ook nog bewys word. Afrikaners het in die vorige eeu grotendeels deur goeie bestuur van staatsmasjinerie opgang gemaak. Nou word daar selfstandige geprivatiseerde denke, durf en daadkrag vereis; met Akademia steeds geregistreer en geakkrediteer by die staat?

Mike ·

Ek hoop onderwys gaan ook daar bespreek word want dis BAIE belangrik om eerste jou kinders uit die kloue van die kommunis te kry, hulle is immers jou toekomstige leiers.

HEVW ·

Raai wie gaan hul stoele eerste aan tafel inskuif as daar sukses behaal gaan word. Die klomp papperds. En ons gaan dit gelukkig toelaat want sien hul oe het “oopgegaan” So bly die element maar alyyd daar.

Fransie ·

Baie dankie Herman vir hierdie sin van jou; Maar dit word in diepe afhanklikheid van die Allerhoogste aangepak. Dit is so waar, ons moet volkome op God vertrou in Hom glo, nederig wag op Sy leiding. Ek bid vir al hierdie instansies wat volgens God se Woord, die land wil opbou. God die Almagtige Skepper werk en niemand kan Hom keer nie!

Johannes Meintjes ·

Dit beteken dat elke (Boere) Afrikaner met begrip vir wat dit verg om nou ‘n toekoms te hervestig, van welke invalshoek of platvorm ookal, iets prakties en bydraend moet doen om mee te werk tot ‘n groter en onstuitbare momentum wat vrugte afwerp.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.