Nuuskommentaar: Die Z-faktor: Zelda vs. Zuma

Zelda la Grange, Twitter

Zelda la Grange, Twitter

Die ANC word gereeld daarvan beskuldig dat hy “al” sy energie inspan om een man, pres. Jacob Zuma, te beskerm. Wat eers as ’n klomp los onvanpaste opmerkings en optredes gekom het, soos hoofkommunis dr. Blade Nzimande se oproep vir wetgewing om die belediging van die president strafbaar te maak, het mettertyd in ’n bietjie meer gesofistikeerde strategie omgesit om aan Zuma ʼn presidensiële statuur te (probeer) gee – iets wat Zuma self ondermyn met afwykings van sy geskrewe toesprake.

Maar, al is Zuma met sy Jan van Riebeeck en Eskom-uitsprake (en daar is nou al boekdele vol wat soos die honde-uitspraak ook internasionaal opslae gemaak het) self die oorsaak daarvan dat die strategie soos ’n kaartehuis bly intuimel, word daar verbete aan geklou en elkeen wat ’n asempie in die rigting van die kaartehuis adem, genadeloos gejag. Intussen het die grondwetlike hof met sy uitspraak dat ’n SMS van die DA tydens die verkiesing waarin Zuma in effek ʼn dief genoem is weens die voordele uit die Nkandla-sage, nie verbied behoort te word nie, die strategie om Zuma te beskerm ’n ernstige hou in die maag toegedien. Dit volg kort na die onverkwiklike sage oor Max du Preez wat as rubriekskrywer in die Independent Group bedank het, nadat die grootbase by die ANC om verskoning gaan vra het nadat Max onder meer vir Zuma ’n “one man wrecking ball” genoem het. Die ANC het dit net niks gesoek nie.

Soos Zelda la Grange, een van oud-pres. Nelson Mandela se grootste vertrouelinge. Zelda het reeds volledig en onvoorwaardelik om verskoning gevra, toe wonder baie mense nog wat sy nou eintlik verkeerd gesê het. Rhoda Kadalie het haar aangeraai om nie om verskoning te vra nie. Dit is dan ook baie mense se eie belewenisse. Tog verskyn daar steeds rubrieke om tot die laaste druppeltjie bloed te verduidelik wat sy verkeerd gedoen het. Wat miskien die meeste sin maak, is dat sy kortstondig ook in die slaggat van veralgemening getrap het – dat die ongemak wat sy met Zuma en die (post-Mandela) ANC beleef, sy skynbaar na swart mense in die algemeen deurgetrek het.

Die storm toon egter dat die polarisasie in die land baie diep loop, en ook reeds diep gevestig is in “gematigde gemeenskappe” wat tradisioneel vir “gematigde partye” stem. Trouens, dit het ’n kortstondige beeld geskep van hoe dit wat werklik onder die oppervlak broei (en plek-plek uitbars), heeltemal verskil van die land, en die Afrikaner, se stempatrone.

Anders as met die Steve Hofmeyr-sage, kan Zelda nie maar so “maklik” as “regse aktivis” en “pampoen(boer)” afgemaak word nie.

Voorts het Zelda se twiets gekom in die warboel wat die aanval op Charlie Hebdo internasionaal veroorsaak het – waar lê die grense tussen menings- en persvryheid, en die algemene regte waaronder die reg op waardigheid, godsdiensvryheid en ja, die reg op meningsvryheid van ander?

In die kritiek op Zelda was daar dikwels gevaarlike ondertone dat die vryheid op meningsuiting net “onbeperk” bly solank die persoon dit van binne die links-liberale raamwerk pleeg.

Zelda het bepaald ’n rits rou senuwees geraak, en dit sal miskien meer loon om te kyk wat tot haar uitbarsting gelei het as om haar te striem vir die sweer wat oopgebars het, veral teen die agtergrond van haar onvoorwaardelike verskoning. So twee jaar gelede het die Hervormde Kerk (NHKA) ’n spesiale biddag gereël, onder meer vir reën tydens die versengende droogte, en vir die naasbestaandes van plaasmoorde. Maar daar was ook ’n aspek wat nie in ’n politiek-korrekte omgewing prominensie gekry het nie. Daar is ook gebid oor die gevoel van vervreemding in hul eie land wat soveel lidmate ervaar.

Eerder as om die oorsake van die simptoom aan te spreek, word dit algemeen onder die mat ingevee. Anders as ’n bietjie stof onder die mat, kan emosionele en sielkundige kwessies wat onder die mat ingevee word, vreeslik broei en kleintjies kry, en kort voor lank is die mat daarmee heen.

Dit behoef geen Salomo om daarop te wys dat die ANC se rasbeheptheid, wat onder meer in rasgedrewe transformasie manifesteer, tot ’n skerp rasse-polarisasie sou lei nie. Hoekom was relatief min mense verbaas toe die jaarverslag van die Instituut vir Versoening en Geregtigheid onlangs aangetoon het meer Suid-Afrikaners definieer hulle nou in terme van ras eerste, en minder as Suid-Afrikaner eerste, as 20 jaar gelede?

Nasionale versoening is ’n komplekse proses wat op alle lewensterreine afspeel, van geloof, die juridiese, staatkundige, ekonomiese, historiese, etnologiese, perspektiewe, taal… noem maar op. Suid-Afrika het ’n geskiedenis dat dit hopeloos te simplisties of enkeldimensioneel aangespreek word – om nie te praat van diegene wat geen sin daarin sien nie of dit selfs as ongewens beskou (maak nie saak wat die Bybel of gesonde verstand sê nie).

Wie van ons ouer garde onthou nie die prediking van sommiges dat “neem net apartheid weg dan verdwyn al die land se probleme” nie? Aansluitend hierby was die groep wat gemeen het dat alles onder ’n “geskikte” grondwet sal regkom. Hierdie groep was trouens in ʼn stadium so dominant dat gerespekteerde vakgebiede soos die politieke sosiologie en selfs politieke wetenskap na die kantlyn geskuif is.

Binne die ANC se denke is sosio-ekonomie, en veral die ongelyke uitval daarvan, nou allesoorheersend, maar word waarskynlik die mees konflik-generende en ekonomies aftakelende roete gevolg om dit teen te werk.

Die impak van die historiese is egter pas duidelik gedemonstreer met Zuma se verguising van Jan van Riebeeck, terwyl die taalkwessie hom feitlik daagliks manifesteer.

Trouens, maak nie saak watter uitgangspunt die ANC gebruik nie, ras bly sentraal in die kern staan. ’n Basiese rede (daar is ander) is dat die ANC “tribalism” baie negatief ervaar, waarskynlik omdat dit as “primitief” beskou word wat ’n baie sensitiewe kwessie is. Oud-pres. Thabo Mbeki, onder andere, het verlede jaar etlike kere die ANC se huidige leierskap van “die euwel van tribalism” beskuldig, waarskynlik ’n klap in die rigting van Zuma (hundred percent Zulu boy) se Zoeloefikasieproses. Maar met tribalism gesmoor – om ongelykhede of enige ander verdeling te “transformeer” bly eintlik net ras oor.

Ook sedert 1994 het die gematigde Afrikaners wat in terme van enige vorm van minderheidsregte dink, baie nougeset die internasionale reg en die grondwet se bepalings (soos in artikel 235 uiteengesit) gevolg wat ras as norm juis uitsluit. Die ANC se reaksie hierop was om dit strykdeur na ras om te skakel. Toe Solidariteit Akademia bekend stel, ’n Afrikaanse universiteit, het die ANC by monde van dr. Blade Nzimande, dit dadelik tot ’n raskwessie gereduseer en “uitsluiting” as vaandel geruik – terwyl Akademia niemand op grond van ras uitsluit nie.

Verskeie transformasiedrywers het so ver gegaan om die Afrikaner te beskuldig daarvan dat hulle die grondwet “misbruik” om etniese enklawes (op kampusse) en selfs apartheidsenklawes te skep terwyl dit slegs om taal gehandel het waar die meerderheid Afrikaanssprekendes bruin is, en nie wit nie. Dit is ook goed gedemonstreer toe Beeld vir Gwede Mantashe na selfbeskikking van die Afrikaner gevra het, en Mantashe dit dadelik afgeskiet het weens “wit bevoorregting”.  Die byklits van ras het suiwer van Mantashe self af gekom.

Kortom, omdat die ANC op “tribalism” neersien (maar al die praktyke tog steun soos die milde besoldiging van tradisionele leiers, voorvaderrituele ens.), word die internasionale norm van “volk” daarmee gelyk gestel en dit na die eie idioom – ras toe omgesit. (Die Engelse rekenaarterm “convert” beskryf die begrip baie goed).

Hoewel die ANC in sy rasbeheptheid (wat hy ironies nie-rassigheid noem) nie alleen staan nie (die vieslikhede in die kuberruim is ’n “luidrugtige” getuie hiervan), gaan dit baie moeilik wees om die Zelda-tipe uitbarstings te voorkom, solank die regerende party so rasbehep bly.

Trouens, die ANC se beheptheid met ras strem waarskynlik die manifestasie van nie-rassige kollektiewe soos elders in die wêreld in die vorm van vertikale en horisontale versuiling manifesteer.

Maar in die meeste amptelike tale sal heel politiek-korrek hieroor geswyg word, want politieke korrektheid is, soos Rhoda Kadalie dit eens gestel het, die diktatuur van die liberalis. Maar nie net van die liberalis nie – die ANC-strategie om Zuma presidensieel te laat vertoon maak ruim staat hierop.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Uitstekende artikel. Maroela Media is egter tot ‘n eie politieke korrektheid geneig, naamlik om kort kommentare wat gebeure en menings vanuit ‘n evangeliese Bybelse Christus-lewens en -wêreldbeskouing probeer beoordeel, nie te plaas nie.

Adele ·

Ai herman toerien, nou blaas jy haar beul ,sy wat ‘n terroris bedien het. Die pampoen(boer) Steve het darem eerlik gelewe…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.