Nuuskommentaar: Gaan dinge nou vir SA verander?

Verskillende mense reageer verskillend op die vraag of die Springbokke se jongste rugbyprestasie met euforie gevier moet word, en of dit eers werklik moontlik sal wees as die regering sy staatsrassisme laat vaar.

Presies wat verwag die Suid-Afrikaanse publiek ná die wêreldbekerglorie van die land se meningsvormers – veral die meningsvormers met mediabande?

Dit is problematies net om te sê “die werklikheid”. In die era van fopnuus en samesweringsteorieë, en die vreemde verskynsel dat selfs betreklik goed ingeligte burgers vir bollie “val”, is dit nie so maklik om by die werklikheid te probeer hou, en daarmee weg te kom nie. Dit is gister weer in die nuuskommentaar gedemonstreer waarin gemaan is teen oormatige euforie, omdat die land hom in die verlede goed bloedneus geloop het teen post- euforiese trauma.

Sommige lesers is vies (of erger) oor die euforie so afgemaak word, ander voel weer dat daar te midde van die land se werklikhede in elk geval nie plek was vir euforie nie.

Lesers kan ook aan presies dieselfde feite en versinsels oor pres. Donald Trump blootgestel word, maar die een deel se afkeer in Trump bly groei, ander is op die oorlogspad as enige mediaverwysing oor Trump nie met terme soos “briljant,” “uitsonderlike insigte” en ander gepaard gaan nie. Selfs die mees neutrale houding teenoor Trump word as ’n smeeraanval op Trump beskou, met “noodwendig” CNN en/of The New York Times as bron (maar nie is nie).

Maar kom ons laat vir die oomblik die Amerikaners se kopsere en vreugdes vir die Yanks self.  Ons het genoeg kopkrappers van ons eie.

Gaan die rugby-euforie wat nou in Suid-Afrika vaardig is net oor die hou wat dit teen die minder goeie in Suid-Afrika kan inkry? Dinge soos die hoë werkloosheid, die staatsrassisme, die aanslag teen Afrikaans, die plaasaanvalle en vele meer. Wat van die rimpeleffek wat betaal-TV op die gewildheid van sekere sportsoorte het? Betaal-TV is tegnies gesproke hoofsaaklik toeganklik vir die meer welvarende deel van die gemeenskap. Hoeveel kinders uit tradisionele rugby-huise word nou in wese rugbyloos groot. Dieselfde geld krieket, tennis en verskeie ander sportsoorte.

Vrystaters en Oos-Kapenaars wat hul spanne se wedstryde in die Pro-14 wil volg, en nie oor betaal-TV beskik nie, se enigste manier om ’n wedstryd te kan volg is basies deur iewers op die internet ’n webwerf raak te loop met “live scoring”. Om dan die skerm vir omtrent twee uur dop te hou om elke nou en dan te sien daar is beweging op die telbord, is nie die lekkerste manier van ’n wedstryd volg nie.

Of om tydens ’n Curriebeker-wedstryd tussen die Vrystaat en die Haaie in Durban na ’n Zoeloe-radiostasie te moet luister – die enigste wat die wedstryd uitsaai. En al Zoeloe wat die uwe ken is enkele woorde en sinsnedes wat sy kamermaat hom jare gelede as student geleer het.

Twee nuwe bydraes van senior redakteurs van Media 24 dui aan hoe uiteenlopend oor kwessies gedink kan word. Die eerste artikel, deur Adriaan Basson, hoofredakteur van News 24, probeer, om dit moontlik te oorvereenvoudig, die rugby-euforie van duursaamheid te voorsien sodat die positiewe gevolge lank kan voortduur. Die titel van sy artikel is: “The rainbow nation reloaded – let’s not mess it up again.”

Maar nie net rugby het ’n invloed op euforie-vlakke nie. Die aanslag op Afrikaans is sekerlik een van die eerste faktore wat die euforie gaan begin erodeer, indien dit nie reeds in volle gang goed op dreef is nie. Die redakteur van Beeld, Barnard Beukman fokus in sy artikel “Matie-kanselier: Hier kom ’n ding”, op die kontroversie oor afgetrede grondwethofregter Edwin Cameron se verkiesing tot kanselier van Maties.

Op die gevaar af om (onbedoelde) woorde voor Beukman se adres te lê, dit gee wel aandag aan een van die faktore wat die euforiese gees gou pens bo kan laat dryf (mess UP): die aanslag teen Afrikaans. Die hofsaak mag téén Afrikaans sy finale juridiese bestemming bereik het, maar die etiek, of dan gebrek aan etiek, oor die kwessie gaan die poppe nog laat dans.

Met identiteitspolitiek nou dwarsoor die wêreld wat herbesoek word (lees gerus hier, p. 4) – tot verskeie sake in die VSA wat in dié land se Supreme Court onder die soeklig beland, is dit miskien nodig om ook na die voor-94-situasie te verwys. Onder bruin mense het baie ’n fanatiese lojaliteit teenoor die All Blacks en laer strukture ontstaan. Klubs hier het dieselfde name as dié in die land van die Goue Varing gekry. Oudminister Trevor Manuel was een van die mense wat weens sy “dislojaliteit” teenoor Suid-Afrika deurgeloop het weens sy openlike steun aan die All Blacks.

Die rede vir dié lojaliteit word toegeskryf aan die ervaring van uitsluiting van mense wat nie wit is nie op ondermeer die sportterrein. Gaan die ervaring van wit mense van effektiewe uitsluiting in byvoorbeeld die keuring vir kursusse, deur sportkwotas, taalverdringing, velkleurstruikelblokke vir indiensneming ensovoorts nie minstens ’n soortgelyke impak op lojaliteite hê nie?

Kortom, is daar nie ’n klompie sake wat eers reggemaak moet word voor te veel lojale euforiese duursaamheid verwag kan word nie?

Moet die regering eenvoudig wegkom met onverbloemde staatsrassisme en diegene wat daaroor ongelukkig is, verkwalik word oor dislojaliteit?

En ja, die Bokke verdien die eer vir die trots wat hulle onder Suid-Afrikaners wakker gemaak het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Judge Dredd

Herman om dit eenvoudig te stel – dit gaan oor prioriteite.
En dis baie duidelik dat ‘n helse klomp mense se prioriteite nie reg is.

Gemaskerde Sopbeen

Politici is die grootste vyand van demokrasie, nes die kerk die grootste vyand van christenskap is……

my opinie

een rugby wedstryd gaan beslis nie jare se haat uitvee nie oor ‘n maand is rugby vergete en moord en roof nogsteed aan orde van die dag as daar nie by die regering ‘n drastiese verandering gaan wees wat ALMAL gelyk behandel en korrupsie teenstaan nie gaan niks verander nie – en ons almal weet dit gaan nie gebeur nie so # net soos julle wil, skrif is lankal aan die muur maak nie saak hoe ‘n mens die prentjie inkleur nie prentjie bly dieselfde

Andreas

Well said…

Oom Willem

Moorde op blankes gaan nog steeds voort en in my omgewing daagliks diefstalle van voertuie, skelmstreke by kitsbanke, en arrogansie van amptenare. Hoe meer dinge verander hoe meer bly hulle dieselfde.