Nuuskommentaar: Het ons dom geword?

kopkrapOp die oog af klink die Nederlandse skoolvak begrijpend lezen na ’n puik idee, maar dit loop onder kritiek deur en daar word aangevoer dit moet weens die inligting-tsoenami in die kuberruim deur inligtingverwerking vervang word. Uit terugvoer van lesers blyk dit dat lesers wat begripslees onder die knie het dikwels die sinvolste reageer en dit is duidelik dat die baba nie sommer met die badwater uitgegooi kan word nie. Voorts kom dit voor of daar in regeringskringe dikwels ’n gebrek aan begrip is wat die land onder enorme druk plaas.

In Nederland word ’n vak, begrijpend lezen, aangebied. Kritici van “begripslees” wys op die nuwe wêreld van slimfone en tablette.

Inligtingsbronne is tot byna almal se beskikking en die geheim is hoe om met hierdie tsoenami van inligting om te gaan – ’n tsoenami wat korrekte nuus sowel as die allergrootste wolhaarstories bevat.

Heelwat is in die onlangse verlede oor sogenaamde fopnuus geskryf. In Engels staan dit as “fake news” bekend. Daar is talle webwerwe wat heeltyds fopnuus wêreldkundig maak, en deur adverteerders ’n bestaan daaruit maak.

Afhangende van waar ’n mens jou op die Suid-Afrikaanse politieke spektrum bevind, sal jy ook jou eie waarneming hê van waar jy die grens tussen fopnuus en die werklikheid trek. ’n Swart rubriekskrywer het onlangs geskryf pres. Jacob Zuma verstaan nie die werklikheid om hom nie. Hy raak dus “fopnuus” kwyt soos dat hy ’n poging gelei het om Suid-Afrika van rommelstatus te red, terwyl baie mense voel rommelstatus is afgeweer ten spyte van, en nie danksy nie, die afbrekende rol van die president.

Presies hoe gevaarlik fopnuus is, blyk daaruit dat ’n geestesversteurde fopnuus oor ’n Amerikaanse universiteit vir die waarheid geneem het en ’n aantal mense op die kampus gaan doodskiet het.

Maar is lees met begrip werklik ’n uitgediende behoefte? Het die behoefte nie juis groter geword met die inligtingsontploffing wat die kuberruim meegebring het nie? Vroeër moes joernaliste met groot vernuf tussen die lyne skryf om nie in warm water te beland nie. Dit het uiteraard vereis dat lesers ook vernuftig tussen die lyne moes kon lees om vas te stel wat eintlik geskryf en bedoel is.

Die behoefte daaraan om tussen die lyne te skryf het nooit werklik verdwyn nie en word selfs sterker met ’n regering wat gereeld iesegrimmig is oor hoe die media hom bykom, en glo ’n blinde oog werp op dit wat die regering as prestasies voorhou.

Voordat ’n nuuskommentaar van Maroela Media geplaas word, gaan dit eers deur ’n paar prosesse. ’n Deel hiervan is om te bepaal of dit wat die skrywer te kenne wil gee duidelik genoeg uit die inhoud blyk.

Daar is ’n hele aantal lesers wat gereeld kommentaar lewer wat duidelik die nuuskommentare met groot insig lees en sinvol daarop reageer, selfs deur die teenoorgestelde standpunte in te neem. Daar is ongelukkig ook dié wat konsekwent ’n klomp twak kwytraak.

Periodiek is die probleem dat mense wat hul eiertjies lê dit doen deur na die opskrif en foto te kyk en dan hul eie afleiding te maak waaroor dit handel. Onlangs was die hoofblad ’n ruk “van die lug af” en Facebook-gebruikers kon dus net die opsomming sien.

Maar dat die nuuskommentaar self nie gelees kon word nie, het heelwat “lesers” nie verhinder om omvattend kommentaar te lewer nie. Daar moes verskeie kere beroepe op diegene wat kommentaar lewer gedoen word om tog éérs die stuk te lees voordat kommentaar gelewer word.

Uit die reaksies op berigte is dit ook duidelik dat daar heelwat “nuusjunkies” is. Hulle kyk na die uitsendings van verskeie buitelandse of internasionale nuusdienste en verslind danksy die internet verskeie buitelandse koerante. Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op die nuuskommentaarskrywer om hom deeglik van die feite in sy stuk te vergewis, want ’n skeeftrap met inligting word gou aan die groot klok gehang. Benewens die inneem van al dié inligting is daar ’n groot noodsaak vir inligtingverwerking.

Sommige ontleders het net ’n beter vermoë as ander om sin en orde uit die magdom inligting te maak. Dit word onder meer weerspieël in die RSG-program Kommentaar. Terwyl sommige deelnemers soos proff. Erwin Schwella en Theo Venter met hul kennis en die verwerking daarvan beïndruk, is daar ander wat liefs van die lug af moes bly. Voorheen was daar ’n paar wat konsekwent, as hulle ’n deelnamebeurt gekry het, duidelik onvoorbereid was en na lug gehap het.

Ongelukkig kry die hele spektrum nie die geleentheid nie en sou die voortgesette deelname van byvoorbeeld prof. André Duvenhage, en deelname van mense soos dr. Dirk Hermann, Jaco Kleynhans of Flip Buys die program aansienlik verryk.

Nuuskommentaarskrywers sal dit verwelkom as al die lesers hul stukke “begrijpend lezen,” maar ook inligtingverwerkend.

En tog maar die fopnuus en goedkoop propaganda wat die kuberruim vol lê ignoreer, eerder as om hard te probeer om dit deel van die werklike nuusstroom te probeer maak. En selfs gal te braak omdat die nuuspraktisyns dit nie deel van die nuusstroom maak nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Jakobus ·

Die mense wat hier onderaan die artikels en rubrieke kommentaar lewer, is die minste wat pla, mens sien sommer, met die eerste oogopslag, die ingesteldheid van sodanige persoon, ook of hul iets na die tafel toe bring. Vir ander weer is dit ‘n uitlaatklep uit frustrasie, ‘n terapie vir die kommentator. Men smoet dit sien vir wat dit is. Wat egter die meeste pla, is die onkapabilheid van baie van die ANC ministers, wel meeste van hulle. Hulle ken nie hul vakgebied nie en heel dikwels ‘spin’ hulle stories, wat hulle vir die waarheid in die media loslaat. Dalk is dit omdat hulle nie ‘hands on’ is nie.

SkarrelKind ·

Dit maak nie saak of mens nuus lees op regte papier of in die kuberuim nie, as mens nie met begrip kan lees nie, kan mens nie verstaan nie en dan ook nie toepas of onderskei nie. Mens moet veral met meer begrip kan lees juis oor daar so baie twak daar buite versprei word. Dit is skokkend dat baie mense die meeste fopnuus of Facebook plaas asof dit die heilige waarheid is, sonder om na te vors. Veral foto’s van vreeslike groot diere, dis meestal “ge-photoshop” en waarskuwings van virusse en vermiste mense. Ek het een maal ‘n vrou in Durban gebel om te toets – die e-mail het gesê haar dogter is vermis. Sy sê die mail doen al 3 jaar rondtes en verskeie mense het haar al oor die tyd gebel. Haar dogter was nooit vemis nie en sy kon nie uitvind hoe die twak versprei is nie. Mens moet versigtig wees om als te glo.

Waghond ·

Dit is juis hoekom dit gevaarlik is as Zuma sy “mind” begin “apply”!

John ·

Mnr Toerien, hierdie artikel van u is die beste voorbeeld van post-waarheid wat ek tot dusver teegekom het. Veels geluk!

André ·

Herman jy slaan die spyker op die kop! Dis werklik ‘n stukkie leesstof wat wyd gelees behoort te word. Baie geluk!

Verıtas ·

Om sommıge kommentators op hıerdıe forums, summıer af te skıet ıs onredelık. Enıgeen het ‘n opınıe en dıt ıs sy goeıe reg om sy standpunt hıer te stel solank hy bınne dıe bepaalde voorwaardes handel. Ons moet ın gedagte hou dat nıe almal oor dıe gawe beskık om sınvol te debatteer nıe en tog ontneem dıt nıe dıesulkes dıe reg om deel te neem nıe. Sommıge kommentare ıs van dıe punt af maar ınteressant, ander weer spreek dıe punt dırek aan maar ıs net ‘n refreın van wat alreeds genoem ıs, terwyl nog ‘n groep bloot gemık ıs op dıe komıese. Gun maar elkeen dıe reg om sy eıertjıe te lê.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.