Nuuskommentaar: Impak op SA as Amerika gaan stem

Argieffoto

Argieffoto

Oor twee maande, op 4 November, ruk die Amerikaners op na die stembusse om in die middeltermyn-verkiesing te gaan stem. Daar vind geen presidentsverkiesing plaas nie, maar genoeg senaatsetels, goewerneurskappe en ander demokratiese instellings word nou aan die wil van die kiesers onderwerp om dit uiters belangrik te maak.

Onder meer kan die Republikeine die senaat oorneem, en as dié party die Huis van Verteenwoordigers kan behou, sal dit pres. Barack Obama se laaste twee jaar as president nie makliker maak nie.

Volgens Wikipedia is al 435 setels van die Huis van Verteenwoordigers nou op die spel, asook 33 van die senaat se 100 setels (twee per deelstaat). Altesaam 38 goewerneurskappe van deelstate en territoriale gebiede word betwis, 46 van die 50 deelstate se wetgewers gaan stembus toe, asook die wetgewers van vier territoriale gebiede.

Die beginsel agter die midtermynverkiesing is dat die bevolking se demokratiese wil gereeld getoets word, en om sodoende te verhinder dat ʼn regering te lank uit pas met die kieserswil kan wees.

Suid-Afrika se vernaamste belang by die verkiesing is wat nou met die Huis van Verteenwoordigers en die senaat gaan gebeur. Die VSA is ʼn federale bedeling, wat beteken dat die sentrale regering se funksies eintlik streng van die magte en verantwoordelikhede van die deelstate geskei is. Die sentrale regering het eksklusiewe gesag oor buitelandse sake en verdediging, asook sekere maatskaplike sake. Die deelstate het volle seggenskap oor die ander sake, soos onderwys. Maar, tipies aan ʼn federasie, is dit die teorie. Die maatskaplike funksies wat die federale owerheid het, bied die versoeking vir kruipende sentralisering, en die federale regering se hand is al swaar in baie nie-federale funksies. En hieroor is Obama al onder skerp kritiek, en is daar ook al ʼn beweging om hom te vervolg omdat hy besluite geneem het waaroor hy nie alleen-seggenskap het nie.

Op die oomblik hou die Republikeinse Party 234 setels in die Huis van Verteenwoordigers, en die Demokratiese Party 199, met twee setels vakant.

In die senaat het die Demokrate die meerderheid, maar die Republikeine moet net ses setels afneem om ook daar die septer te swaai. Maar dit moet in gedagte gehou word dat ʼn meerderheid van setel nie beteken die meerderheidsparty kan na willekeur sy sin kry soos in Suid-Afrika nie. Kongreslede (die senaat en Huis van Verteenwoordigers) is nie soos hier koukusgebonde nie. Elkeen doen in beginsel aan hul kiesers, eerder as die party, verantwoording, en kan dus teen hul party stem. Belangesmouse (lobbyiste) is dus deurlopend besig om verteenwoordigers se koppe oor sake te probeer draai en steun vir sekere sake of belange te verkry – iets wat natuurlik die versoeking vir korrupsie baie groot maak.

Hoe lyk sake nou? Van die 33 senaatsetels wat nou verkiesings gaan beleef, word 21 deur die Demokrate gehou, en 15 deur die Republikeine. Volgens die jongste peilings is 14 setels veilige Republikeinse setels, en drie neig na die Republikeine se kant toe. Die Demokrate kan veilig op ses setels reken, terwyl twee Demokraat neig. In ses gevalle kan enigiets gebeur. Die moontlikheid, aldus die Rasmussen-peilings, is dat die Demokrate die verkiesing kan wen. Die Universiteit van Virginia se Sentrum vir Politiek reken die Republikeine kan tussen vier en agt setels by die Demokrate afneem. ʼn Bewindswisseling hier is dus moontlik.

Oor die Huis van Verteenwoordigers is die menings min of meer eens dat die Demokrate moeilik dié huis sal verower. Histories verloor ʼn sittende president se party setels tydens die midtermynverkiesings, en boonop is Obama se gewildheid nou al ʼn geruime tyd taamlik laag. Tog dui die peilings daarop dat die Demokrate hul minderheid aansienlik kan verklein.

Sou dit egter so gebeur dat die Republikeine na 4 November in beheer van die Huis van Verteenwoordigers wees, hoe gaan dit Suid-Afrika raak?

Die kort antwoord is, nie veel nie.

Die werklike antwoord is moeiliker om te peil. Swart Amerikaners en ander minderhede soos die Spaanssprekendes en selfs Rooihuide, neig om Demokraat te stem. In hierdie geledere is ook die meer radikale swart bewussynsbewegings met ʼn simpatieke oor vir die ANC opgesluit. Tog dui die geskiedenis daarop dat die VSA onder die Republikeine se bewind in die praktyk met meer konkrete hulpprogramme vir Afrika vorendag gekom het. Vir die huidige Agoa-ooreenkoms kan die Republikeine en Demokrate waarskynlik weens ʼn bewindsverandering ewe veel krediet opeis.

Vir Suid-Afrikaners is dit bitter moeilik om ʼn objektiewe prentjie te ontwikkel. Peilings dui daarop dat die gemiddelde Amerikaanse joernalis meer liberaal as die gemiddelde Amerikaner is, wat in die VSA eintlik al ʼn krisis vir die geloofwaardigheid van die media, maar veral die gedrukte koerante tot gevolg gehad het. Die Suid-Afrikaanse media, in navolging, neig om ook meer simpatiek teenoor die Demokratiese Party te wees, en word voorts blootgestel aan ʼn oorwig van gesindikateerde nuus wat in hierdie kringe gegenereer word. Die gevolg is dat Republikeinse winste in die Suid-Afrikaanse media dikwels min of meer as rampe vir die VSA en Suid-Afrika voorgehou word.

Dit hang natuurlik van elke Suid-Afrikaner se eie ideologiese en selfs godsdienstige oortuigings af oor watter party hy meer toegeneë sal voel. Is hy/sy ten gunste van aborsies op aanvraag, sal die Demokrate oorwegend sy simpatie dra. Neig hy/sy om simpatiek teenoor ʼn welsynstaat te staan, is die keuse ook oorwegend Demokraat.

Neig ʼn persoon om Christelik fundamentalisties te wees, is die Republikeine waarskynlik die meer logiese keuse, veral weens die invloed van belangegroepe soos die Tea Party en die Christian Coalition of America op die Republikeine. Maar, hoewel die gesindhede tussen Demokrate en Republikeine selfs op grondvlak die afgelope aantal jare erg gepolariseer het tot ʼn vlak waar dit selfs tot vyandskap tussen bure kan lei, en ou vriendskappe tot niet kan maak, is die skeidslyn tussen die twee partye beleidsgewys nie altyd skerp afgebaken nie.

Boonop beleef die verkose verteenwoordigers in die kongres op die oomblik ʼn laagtepunt in vertroue. Onlangse peilings het onder meer getoon die meerderheid kiesers meen dat mense wat lukraak uit die telefoongids verkies word, beter sal vaar as die bestaande verteenwoordigers. Die jongste Rasmussen-peiling toon dat net 6% van die kiesers meen dat die Kongres goeie of uitstekende werk doen. Altesaam 65% meen hulle verrig maar power werk. Altesaam 67% meen verteenwoordigers word herkies omdat die bestaande reëls bekonkel is om hulle te bevoordeel. Net 8% meen hulle word herkies omdat hulle goeie werk doen.

Die feit is dat Suid-Afrikaners nie apaties kan staan nie. Die VSA is (nog) die magtigste land ter wêreld, en buitelandse sake en verdediging maak ʼn baie groot deel van sy verantwoordelikhede uit. In sy artikel op Die Groot Debat wys Flip Buys daarop hoe die eie liberale demokratiese filosofie wat die VSA uitvoer, op lande wat nie daarmee vertroud is nie, afgedwing word met chaotiese gevolge.

Dit moet egter ook in gedagte gehou word dat die VSA se hulp, veral sigbare hulp, tradisioneel baie streng gekoppel word aan die uitroei van korrupsie, en die implementering van demokrasie. Hierdie boodskap word soms baie subtiel oorgedra, soos die seleksie van lande suid van die Sahara wat die president self besoek, of baie regstreeks, soos die “winde van verandering”-toespraak van die destydse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, in Suid-Afrika. Oor twee jaar staan sy kans om die nuwe Amerikaanse president te word, hoewel die media reeds bespiegel hoekom sy “niks” aan haar verkiesingsveldtog doen nie.

Obama self het egter hierdie beginsels skynbaar verwater, al is dit om die voorwaardes tydens besoeke aan Suid-Afrika so te verwoord dat die boodskap amper onopsigtelik is. Die Suid-Afrikaanse regering in sy uitsprake en ʼn groot deel van die media het dit dus ook nie opgemerk nie, al was dit steeds teenwoordig.

Die kort en die lank is dat Suid-Afrika, as hy Agoa behoorlik wil laat blom en voordeel uit die Amerikaanse ekonomie wil trek, korrupsie duidelik sal moet beveg, en moet end kry met uitsprake en optredes wat die grondwetlike demokrasie ondermyn, ongeag wie aan bewind is. Tog is die aanvoeling dat die Republikeine die leisels effens stywer kan hou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae