Nuuskommentaar: In die era van kansellasiekultuur

Argieffoto

Die hedendaagse Westerse wêreld word ál meer gekenmerk deur politiek wat ál meer in mense se persoonlike lewe en ruimte inkruip. Met tendense soos politieke korrektheid en kansellasiekultuur leef mense in vrees en moet hulle sodoende ál versigtiger raak oor wat hulle in privaatheid sê en doen.

Aanvanklik is “polities niekorrektes” deur die bende vir sosiale geregtigheid uitgesonder en uitgejou, gestigmatiseer en beledig. Hierdeur moes ons al die onverdraagsames in die samelewing stilmaak of tot konformering verneder sodat ons ʼn meer “verdraagsame” samelewing kan bewerkstellig.

Die vreeskultuur hiervan het toenemend tot selfsensuur gelei. Uit vrees om geteiken te word, het talle mense hulself begin sensor voordat iemand anders kon.

Politieke korrektheid het mettertyd verander in kansellasiekultuur. Hierdeur kan enigiemand gekanselleer word wat nie aan die standaarde van politieke korrektheid (wil) voldoen nie. Mense word feitlik van die normale gang van die samelewing verban en sekere regte, voorregte en ruimtes ontken omdat hulle nie polities korrek opgetree het nie.

Nou loop jy die risiko om nie net deur die een of ander vreemdeling sleggesê te word nie, maar om jou lewensmiddele te verloor en die ewige smet van ʼn gekanselleerde te dra – een wat jou bybly, ongeag wat jy in belydenis daarna doen of sê. Kansellasie-katolisisme is nie ʼn opsie nie. Ná beskuldiging kan jy nooit terug in die goedheid en guns van die sosialegeregtigheidsbende kom met goeie dade en mooi belydenisse nie.

Hierdie kultuur eindig dalk by sosiale vervolging en verwerping, maar begin by mooi versoeke van samewerking en verdraagsaamheid.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat dié stelsel ongelooflik bevooroordeeld teenoor een kant van die politieke spektrum is. Diegene aan die linkerkant kan feitlik enigiets doen of sê, sonder om ooit die gevolge daarvan te dra. (Juis omdat die linkse elite hierdie kultuur tot hulle eie voordeel gekweek het.) Black Lives Matter-ondersteuners het verlede jaar na raming skade van $1 miljard tot $2 miljard in “vreedsame” betogings berokken – sonder enige gevolge, juis omdat hulle aan die regte kant van die spektrum is. Diegene aan die ander kant is egter nie veilig nie. Dit sluit nie net konserwatiewe mense in nie, maar ook mense wat enigiets glo, sê of verdedig wat nie by die radikale linkerkant se idees inpas nie. Diegene wat “verkeerde” goed glo, sê of doen, verdien bloot nie om gehoor te word nie.

Verlede week het groot omstredenheid ook by die Universiteit Stellenbosch (US) uitgebreek nadat twee vrouestudente verbied is om in Afrikaans te gesels – selfs in privaatheid. Inwoners van twee vrouekoshuise is na bewering aangesê om Engels met mekaar en besoekende ouers te praat sodat geen anderstalige uitgesluit word nie.

ʼn Afrikaanssprekende wat in ʼn Afrikaans-meerderheidsprovinsie op ʼn histories Afrikaanse kampus verbied word om in privaatheid met ʼn ander Afrikaanssprekende Afrikaans te praat, is onderdrukkend, nie verdraagsaam nie. Dit skep nie ʼn beter samelewing nie, maar ʼn ongenaakbare een. Dit verdoem onskuldige mense tot stilte en verwerping – alles in die naam van verdraagsaamheid, sosiale vooruitgang en inklusiwiteit.

Dit is egter nader aan die einde, as aan die begin van die proses. Alle staatsuniversiteite in Suid-Afrika het amper op presies dieselfde manier verengels. Heel eerste is Afrikaanse studente gevra om net oor te skakel na Engels in die gemeenskaplike ruimte, want Afrikaanssprekendes verstaan meestal Engels, terwyl ander studente nie almal Afrikaans magtig is nie. Studente kon nog in Afrikaans studeer, maar dit is egter so gestigmatiseer as uitsluitend dat ál minder studente dit wou doen. Verminderde vraag was ʼn regverdiging vir verminderde aanbod wat uiteindelik tot verengelsing gelei het. Nou mag mense blykbaar nie eens meer by dié Engelse universiteite in privaatheid Afrikaans praat nie.

Dit begin by eenvoudige versoeke van verdraagsaamheid en eindig by ʼn verbod. Juis omdat hierdie kultuur op fundamenteel gevaarlike beginsels geskoei is, sal dit altyd by ongenaakbare onverdraagsaamheid eindig – ongeag goeie bedoelings.

Politieke korrektheid en kansellasiekultuur is daarop geskoei dat vryheid van spraak, assosiasie en selfs geloof maklik ingeboet kan word om ʼn sekere doel te bereik. Hierdie vryhede is dus nie fundamenteel en deurslaggewend tot ʼn vrye samelewing nie. Dit is eerder goed wat ʼn sekere ideaal van die samelewing, soos beoog deur die linkse elite, kan bederf. Mense kan dalk kies om die “verkeerde” goed te sê, doen en glo of met die “verkeerde” mense te assosieer. Sodoende moet die najaag van die gewenste ideaal voorkeur geniet bo die beskerming van fundamentele vryhede.

Wanneer ʼn beer by jou huis inwandel, het jy net twee opsies. Jy kan die beer bevriend, voer, huisves en ál groter en sterker maak. Óf jy moet alles in jou vermoë doen om die beer uit jou huis te kry, juis omdat jy hom as bedreiging sien. Daar is nie regtig ʼn derde opsie waar jy sê dat jy die beer gaan ignoreer omdat jy nie van hom hou nie. Die beer se gevaarlikheid vereis dat jy óf vír óf téén sy teenwoordigheid standpunt inneem.

Kansellasiekultuur en politieke korrektheid kan nie sommer geïgnoreer word nie. Die funderende beginsels asook die uiteindelike uitkomste daarvan is so gevaarlik dat politieke apatie nie regtig meer ʼn opsie is nie. Dit is nie iets wat jy net kan kies om te ignoreer omdat jy vreedsaam en apolities met jou eie lewe wil aangaan nie.

Die antwoord is egter nie om kansellasiekultuur te kanselleer nie. Indien jy die beoefenaars daarvan kanselleer en uitwerp soos wat hulle jou kanselleer en uitwerp, aanvaar jy die voorveronderstellings van hulle slegte idees en is jou oplossings net so sleg soos hulle sʼn.

Ten einde ʼn beter wêreld te vorm, moet ons eerder slegte idees aktief teenwerk met beter idees en kultuur. Indien kansellasiekultuur die enigste spraakkultuur is wat bevorder word, gaan dit die oorheersende kultuur word. ʼn Alternatiewe kultuur moet aktief in beginsels uitgebou word, asook in kulturele instellings en ruimtes waarin die beginsels kan voortleef. Beginsels van werklike vryheid van spraak, assosiasie en geloof moet beskerm word in alternatiewe kulturele ruimtes soos alternatiewe nuusmedia, private tersiêre opleiding en ander gemeenskapsinstellings.

Indien ons nie ʼn beter alternatief gaan bou nie, gaan ons ook verswelg word deur die onverdraagsame alternatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jedi Knight ·

Ek verwys na jou 3de laaste paragraaf. Dit klink vir my al te veel na die hoogs vervelige en irriterende “morele hoëgrond” nonsens. Soms moet vuur maar met vuur beveg word. As ek dan sleg moet wees om die vyand te elimineer, dan is ek trots sleg. Hierdie konstante gepredik van “beter wees” staan my glad nie aan nie.

Fritz ·

Wees opreg, eerbaar, vriendelik en nederig teenoor jou naaste famie (nie alle familie nie), goeie vriende en sommige van jou kollegas. Maar teenoor die res van die planeet se mense? Ag nee wat. Al wat by politiek tel is om te wen, by hook or by crook. Nice guys come second.

Jacobus ·

Vra vir Steve hoe voel dit om deur Afrikaanse Super Elite gekanselleer te word omdat hulle nie van sy boodskap hou nie. As jy ‘n voorbeeld van eenogegheid wil kyk en verstaan volg dan die BLM hofsaak in die VSA- let dan ook hoe die waarheid gelewer deur kenners afgeskree gaan word.

Gert ·

Ek wil net graag weet of twee Khoza sprekers ook verbied word om met mekaar in hul moedertaal te praat? Ek is ook baie seker dat by ‘n universiteit soos Wits ook nie sulke diskriminasie toegepas word nie. Ek probeer nie Wits of enige ander instelling verhef nie en ek beskik nie oor enige kennis oor die situasie nie, maar wonder maar net wat op ander kampusse gebeur of op Skelmbos tussen ander taalgroepe.

Joe Olivier ·

Nogal vreemd om so ‘n artikel op Maroela te lees, wat gereeld my kommentaar verwyder omdat dit nie polities korrek is nie.

Jan ·

Die hele wêreld het ‘n reuse stap nader aan oorgawe aan drakoniese beheer weens vrees geneem deur die absurde covid-veldtog te glo en die gepaardgaande “beskermingsmaatreëls” gelate te aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.