Nuuskommentaar: Is alles ter wille van staatskaping?

Pres. Cyril Ramaphosa.(Foto: GCIS)

Stuk-stuk word die toekomsbeeld van die Ramaphosa-presidentskap in die kristalbal duideliker – hoe die president die septer só probeer rig dat sy posisie bestendig kan word. Maar, so lyk dit, die aanslag teen Ramaphosa is so georkestreer dat hy geen gewaarborgde oorwinnaar is nie. En die probleem is dat die staatskapers so baie en invloedryk is, dat die wind van voor waai.

Skielik is daar ’n byna bevangenheid oor privatisering; skielik is die vendetta teen minister Pravin Gordhan ’n paar vals note hoër ingesit, skielik kan pres. Cyril Ramaphosa niks meer van besondere betekenis sê nie – alles is nou vaal, oninspirerend, gaan gebrek aan ’n duidelike toekomsvisie waarvan die stappe eenvoudig te vaag is indien dit ooit bestaan; radikales se vrysê daag getemperdheid uit, hoewel dié skynbare situasie ook uitgedaag word deur Ramaphosa se semi-vloermoer teenoor Julius Malema weens Malema se skerp dreigemente oor wat hy en sy party gaan doen as Gordhan nie voor die staatsrede afgedank word nie.

Is dit die manifestasie van ’n burgeroorlog in die ANC, of speel die belange van die staatskapers op die een of ander manier ’n kollektiewe rol?  Dit is immers duidelik dat die staatskapers se eie belange swaar weeg, en dit word ook vandag goed deur prof. Pieter Labuschagne verwoord. Die histerie in die proses word moontlik verklaar deur die feit dat die Zondo-kommissie sy werksaamhede vandag hervat, en klaarblyklik nou sake op die spits wil dryf deur die Zuptaïete hard op die krop van die maag te moker – naamlik om Zuma se frustrerende sloertaktiek in die bek te ruk deur Zuma te dagvaar om hom te dwing om te gaan getuig. Te veel mense, wat reeds ruim deur die staatskaping kon skep en wie se Midasryk gevaar loop om in duie te stort, kan self agter tralies beland.

Om regsterme te misbruik – die aard van die aanslag kan nog net op prima facie-aanduidings gerekonstrueer word – daar is nog baie werk voor na bo redelike twyfel geoordeel kan word of enige van hierdie uiteensettings water hou.

’n Baie ruwe raaiskoot geskoei op die moontlike hoeveelheid mense wat by staatskaping betrokke was, en gebaseer op die wetlik voorgeskrewe minimum tronkstraf vir bedrog, wil dit laat voorkom of die howe vir die oortreders saam ongeveer 3 000 jaar Vyfsterverblyf, uitgedos in oranje kispakke kan oplê. Of ’n mens nou by die trog wil bly vreet, of oranje nou nie die gunstelingkleur is nie, daar is te veel mense nog in gesagsposisies wat ’n groot belang daarby het om die Zondo-kommissie soos ’n erge babelaas te kan afskud.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Gordhan, ongeag hoe bekwaam hy wel is, is ’n sagte teiken. Is hy (nog) ’n kommunis, en indien wel, waarom klink hy dan soos ’n voorste kapitalis en al gebruik hy verdoeselde taal beywer hy hom by soveel punte vir privatisering?

Buitendien is Gordhan deur diep water. Uit verskeie bronne was dit duidelik dat Gordhan erg uitgeput was teen die einde van Zuma se kortgeknipte termyn. Hy was as minister afgedank, hy was as ekonoom geminag en in die portefeulje aangestel wat gewaarborg is om die bekleër te laat misluk – die portefeulje vir plaaslike regering. Wie nog twyfel dat dit ’n gemors is, kan maar net bloot na die OG se verslae oor die derde regeringsvlak gaan kyk (en bereid wees om ’n hele ruk nie snags ’n oog te kan toemaak nie).

Met Zuma se vertrek is dit duidelik gemaak dat Gordhan erg gedemotiveer was, en beplan het om uit die politiek te tree. Nou is daar ’n duidelik georkestreerde aanslag teen Gordhan. Gordhan se statuur oortref waarskynlik sy werklike objektief-beoordeelde bekwaamheid, maar dit is kwalik relevant weens onder meer beleggers en ander regerings se persepsies oor sy bekwaamheid.

Teen wil en dank is Gordhan se statuur broodnodig om te voorkom dat die ekonomie nog verder uit die doldrums in die nog rampspoediger Roaring Forties in wegdryf.

Ramaphosa se posisie is ook nie juis maklik nie. Sy grootste teenstand kom uit eie geledere, naamlik die ANC self. Sy opponente (vyande) hoef nie soos hy presidensieel te vertoon om ’n “skyn” te handhaaf dat die skip nie vergaan nie. Hy het president geword in ’n tyd toe die land se ekonomie danksy sy voorganger en mede-staatskapers gedreig het om wit pens bo te gaan dryf. Hy het nie ’n tipiese etniese magsbasis nie – hy is ’n Venda – die kleinste van die volke in die land wie se tale ’n “amptelike taal” is. As miljoenêr moet hy hom in ’n party kan handhaaf waar die sosialistiese krane oopgedraai word. In die proses vervreem hy hom grootliks van sy potensieel getrouste bondgenote, die wit mense van die land, met sy formele steun aan grondgryp sonder vergoeding.  Sy skandalige weergawe van die Bloedrivier-gebeure op twee agtereenvolgende Versoeningsdae (Geloftedae) stuur heeltemal die verkeerde boodskap uit.

Hoe lank gaan die poel van goedgesindheid tussen mense op grondvlak hou as die regering deur statutêre diskriminasie en wanvoorstellings ’n rasgesindheid openbaar wat eerder klink na dit wat van radikales en rasgedrewe misdadigers verwag word?

Vandag skryf Ivor Price, huidige aanbieder van die RSG-program Kommentaar, onder die opskrif, “Die dag toe die regering ons ook onthou het,” op Netwerk 24 oor hoe sy grootword-gemeenskap deur die destydse regering afgeskeep is, terwyl die molesmakende gemeenskappe voorkeurbehandeling by die regering gekry het.

Die indruk word soms geskep dat Ramaphosa nadat hy president geword het, die Mbeki-doktrine probeer volg waar die kleiner, rustiger gemeenskappe demonstratief op hul plekke gehou word deur hulle as niks besonders nie uit te beeld. Zuma was meer openlik vyandiggesind, terwyl Ramaphosa skynbaar weer meer na die Mbeki-styl teruggekeer het. Dat dit saamval met die Konstitusionele Hof se huidige styl wat grondwetkenners dronk slaan, help nie om harmonie te bevorder nie.

’n Mens breek nie ’n perd in deur hom nog wilder te maak en sleg te behandel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wynand ·

Herman Toerien skryf uitmuntende berigte! Welgedaan ou maat. Doet zo voort!! Ek lees elke berig wat jy skryf van hoek tot kant. Goed i gelig, weldeurdag en interessant!

Cleopatra ·

Ons betaal die prys en dra die juk vir dié wie ANC stem tot die land se nadeel. Hoe ironies.

Elizabeth ·

Baie insiggewende artikel. Dankie Herman! Een ding wat ek nie kan verstaan nie, is dat daar tog meer as genoeg bewyse is dat sommige kaders die staat gekaap het. Waarom wag die polisie/NVG vir die Zondo-kommissie om klaar te maak voordat die voor die hand liggende diefstal en bedrog ondersoek word? Hoekom is die voorbokke nog nie eers aangekla nie – laat staan nog agter tralies gesit? Is daar dan geen meganismes om die president te dwing om dié sake voor die hof te kry en vinnig af te handel nie? Wil jy nie dié vrae vir ons beantwoord nie?

John ·

CR speel vir bevordering uit die moeras… dalk na die VN of iets anders wat hom kan red van versuiping. Hy het ryk en vernaam geword en wil dit so hou. ‘n Besoek aan ‘n buitelandse hospitaal vir ‘n onbekende kwaal is nie uitgesluit nie. CR hou nie daarvan om sy moue op te rol en sy hande vuil te maak nie. Hy gaan die land soos ‘n warm patat drop. Ace weet dit.

Vince ·

Baie dankie aan Maroela dat jul Herman se joernalistiek akkommodeer. Deesdae is hierdié kaliber werk uiters moeilik om te vind in die Afrikaanse media.

Johan Venter ·

Mag ‘n mens, soos Julius gemaak het en dikwels met ander mense doen, die president dreig, of dan liewer afpers, want dit is wat hy gedoen het, en dan nie voor die hof gedaag word om daarvoor verantwoording te doen nie?

Johan Venter ·

En wat Ramaphosa aan betref kom die volgende liedjie by my op …. “die eenkant op en die anderkant af, en daar lê die ding” …..

Ja, as mens die kommentare oor hom lees, weet mens werklik nie meer wat om te glo nie, moet mens lag of moet mens huil. Aan die eenkant maak mense van hom ‘n ridder op ‘n wit perd, seker omdat daar niemand anders is nie en dit ‘n katestrofe sal wees as hy misluk aan die anderkant vertel hy fopnuus oor Piet Retief, JvR, hy voel ‘n veer vir die Afrikaanse taal en omdat hy nie ‘n ander uitweg vir die ekonomie en werkloosheid het nie, propageer hy desperaat grondgrype by elke geleentheid wat hom voordoen dat dit nou al vervelig is, wie kan hom dan nog glo?

Johan Pretorius ·

Daar is slegs drie dinge wat Ramaphosa kan doen. Hy kan die regte dinge doen , of die verkeerde dinge doen, of net niks doen nie. Die bal is in sy hande en hy moet dit speel.

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk!
Ramaphosa het destyds as adjunk-president sonder aarseling die Opposisiepartye se veelvuldige en desperate mosies van wantroue in Zuma verwerp. Hy het hom dus sonder gewetenswroeging geskaar by die meerderheid in die parlement wat die sg. staatskaper ondersteun het, en sal hom in die toekoms moet berus by meerderheidsbesluite.

Die term “staatskaping” het in elk geval ‘n gerieflike verskoning geword om die ANC se astronomiese plundering sedert 1994 weg te steek.
Sommige uitverkore ANC – lede het as ‘t ware oornag as multi-miljoenêrs van die onderhandelingstafel weggestap. Dit kan op geen wyse regverdig word nie.
Ander, soos Jacob Zuma en kie, het eers later ‘n beurt gekry om vir hulself te ‘sorg’.
Die stelsel was dus uit die staanspoor verrot en die presedent geskep.

marous ·

Wie het die woord “Staatskaping ” uitgedink ? Dit is ‘n verskoon woord vir die nie vervolging van die ongenaakbaarste skelms op aarde wat steeds sit en parasiteer ,
elke dag !

Chris ·

Daar is in alle geval niks oor, bel vir Chuck Norris dit is nou ‘n geval van “Dog Eats Dog” en die vir gebruik van die Zim Dollar.

Johan Venter ·

Dit laat die vraag by my opkom, moet ons dan nou vir Cyril jammer kry en hom vergewe dat hy so op die Afrikaner se tone trap, met behulp van sy eie fopnuus oor die geskiedenis wat hy aan hulle verkoop om dit te regverdig dat hy gedurigdeur van die dakke af verkondig grondgrype is in orde omdat die wit mense dit toenterjare van hulle afgevat het?

Maar dan lyk dit my dit is Cyril se plan A, sy plan B en sy plan C om die ekonomie aan die gang te kry en om werkloosheid aan te spreek.

Hulle moet grond hê, dit sal als oplos.

jan ·

Die land moet n goeie leir kry wat vasstaan op hul besluite,Ramaposa weet nie rerig watter kant toe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.