Nuuskommentaar: Is die Afrikaner in 1994 ook bevry?

Foto: bet.com

Foto: bet.com

Dr. Leopold Scholtz, gesoute historikus met ink in die are, skryf vandag in Netwerk 24 onder meer: “Bowenal, soos die Duitsers in 1945, is die Afrikaners in 1994 bevry. Moenie die verlede ontken nie. Maar moet dit ook nie as ’n morele knuppel teen ons gebruik nie.”

So gestel, kan dit baie maklik buite konteks vertolk en verstaan word, en daarom ’n bietjie agtergrond: Die aangehaalde deel is die slotparagraaf, en daar is dus ’n uitgebreide motivering wat dit voorafgaan. Die opskrif is: “Erken onreg én kyk na die toekoms.”

Scholtz is jare gelede deur baie as liberale skrywer beskou. Die blote feit dat hy die skrywer van iets was, was genoeg om hom vanuit ’n sekere politieke dampkring te verguis. Dit was soms so oppervlakkig dat presies dieselfde kritikus wat Leopold gelooi het oor wat hy onder sy eie naam geskryf het, dieselfde stelling in byvoorbeeld die hoofartikel sou loof.

Toe Leopold se skrywes duidelik nie (meer) met die (naïewe) denke van sekere liberale versoen kon word nie, is hy lank deur die sogenaamde “Cape liberals” as “neo-konserwatief” uitgeskel.

Hoewel mense se denke deur omstandighede verander, is dit tog ook opmerklik hoeveel denkers, veral rasionale denkers, se opvattings taamlik konsekwent kan bly terwyl ’n groot deel van die bevolking se denke taamlik skielik drasties verander het. Skielik bevind die konsekwente denker hom “regs van die sentrum” waar hy hom enkele dae tevore nog “links van die sentrum” bevind het. Dit het byvoorbeeld gereeld gebeur wanneer die destydse regerende Nasionale Party hervormings ingevoer het. ’n Toespraak deur die eerste minister of president was voldoende om ’n groot deel van die NP se volgelinge eenvoudig saam te neem. Meningsvormers, soos koerantredakteurs wat “gatvas” by die vorige oortuigings gestaan het, het gou soos seer duime uitgestaan, en kon eintlik maar weet hul rakleeftyd is beperk.

Daar is egter ’n verskil tussen bloot “gatvas” wees, en ’n vry denker wat op grond van kennis van wêreldgebeure en ’n oog vir detail, en weens sekere beginsels, “vashaak” en negatiewe verwikkelinge met dieselfde oortuiging uitwys as wat hy negatiewe aspekte vroeër aan die kaak gestel het.

So iemand verdien die titel “analis”.

Die analis wat voorheen ruim in sy kritiek was, en nou skoorvoetend foute raaksien, en selfs vir eietydse vergrype in die bres tree, verdien nie die “titel” om analis genoem te word nie.

En hulle is nogal baie.

Scholtz behoort tot die groep wat die titel “analis” verdien, en hoewel ’n mens soms van hom kan verskil, verdien sy gedagtes wel aandag.

Dus, is die Afrikaner ook in 1994 bevry?

In sekere opsigte, ’n groot, onvoorwaardelike “ja”. Ons sportspanne, met Afrikaners in die geledere, was skielik weer oral in die wêreld welkom. Sanksies is opgehef. Baie mediabeperkings is opgehef, wat beteken het dat Suid-Afrikaners ’n ruimer aanbieding van wêreldgebeure en -denke kon geniet. Die Afrikaner se denke is bevry van ’n eenvormige bewussyn en lewensbeskouing wat van die party en die koerant tot die kerk geloop het.

As daar fout met Leopold se stelling te vind is, is dit die datum. Teen 1994 was die meeste maatreëls reeds ingestel en alle apartheidswette taamlik lankal afgeskaf. Die nasionale vredesakkoord was reeds gesluit, en vredeskomitees en -beamptes het hard gewerk om die geweld te beëindig. Daar is gestreef om die bepalings van die vredesakkoord deur wetgewing en ander maatreëls ’n blywende deel van die samelewing te maak. Maar die ander kant van die munt is dat die sekretariaat reeds teen die einde van 1994 ontbind is. Baie mense vertolk dit as synde die einde van die vredesakkoord te wees. Die regering tree in elk geval deurgaans op asof dit nie meer geld nie. Die euforie rondom 1994 is dus nie net grootliks misplaas nie, maar sedertdien erg besoedel.

Die ANC het bitter gou weer ras baie sterk as norm ingevoer. Dit bepaal nou iemand se lewe van die wieg tot die graf, en word algaande verskerp. Die regering betwis ’n saak waarin nasionale kwotas met personeelsamestellings ook in eiesoortige provinsies moet geld in die arbeidsappèlhof. Keuring vir akademiese kursusse geskied volgens ras …

Die taalkwessie bly brandend. Slegs die mees naïewe sal glo daar is nie ’n aanslag teen Afrikaans nie. Trouens, Leopold het betreklik onlangs self die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) – sy alma mater – skerp gekritiseer.

Om op te som, dit lyk of die minderhede ’n kort lootjie in die 1994-bedeling getrek het. Sommige minderheidsgemeenskappe het die tweede agtereenvolgende keer kort lootjies getrek.

Leopold is nie so naïef om dit nie raak te sien nie. Dus, terug na die konteks. Sy artikel handel veral oor die skuldgevoelens waarmee die Duitsers ná die Tweede Wêreldoorlog mee opgesaal gesit het. Skuldgevoelens kan ’n persoon én ’n volk of nasie geestelik gevange hou.

Die kuns is om die oog op die toekoms gerig te hou sonder om die lesse van die verlede te vergeet.

In Suid-Afrika is dit uiters kompleks. Baie Afrikaners het in hul steun van die vorige bedeling in beginsel net die beste motiewe gehad. Wat hulle hulself gegun het, het hulle die ander gegun. Baie was salig onbewus van die vergrype, selfs absoluut verstom oor kennisse en vriende wat saam met hulle in gebiedsbestuurstelsels gedien het, deel van die nasionale veiligheidsbestuurstelsel was, en op strepe afgesit het na die Waarheids-en-versoeningskommissie – en daar gaan bieg het oor goed wat nooit op enige agenda was nie.

Goeie mense, met goeie bedoelings, wat nie ’n voet verkeerd gesit het om ’n ander doelbewus te benadeel nie (tensy hulle natuurlik by terreur betrokke was), en van wie nou verwag word om skynbaar tot in ewigheid deur skuldgevoelens papgedruk te word. So iemand sal baie moeilik ervaar dat hy in 1994 vry geword het – hetsy in werklike omstandighede, of van skuldgevoelens. Soms is dit ons self, soms mense vir wie ons groot deernis het soos ons ouers of grootouers. Dit gaan teen die grein om hulle te verguis.

Dit help ook nie dat dit finansieel goed gaan met die voordrywers in eie geledere van mense wat ruim vergoed word om deur hul pennevrug hul eie mense terug in die skuldgevoel-gate te dryf nie. En diegene wat nooit skuldgevoelens gehad het nie, word veral hard gelooi om in ’n gat te gaan kruip. ’n Heel nuwe bril is ontwerp van hoe na die lewe gekyk moet word: Dit grens aan sedisie om net die Stem te sing; om die kulturele strooptog op plekname teen te staan, is “reaksionêr”; om op Afrikaans aan te dring by ’n instelling wat volgens die Grondwet en wetgewing daartoe verplig is, is “ongevoelige skoorsoekery”; om op Afrikaanse onderrig by ’n Afrikaanse instelling aan te dring, is “dom” en vele meer. Leopold is nie een van hulle nie.

Trouens, sy woorde, “Maar moet dit ook nie as ’n morele knuppel teen ons gebruik nie”, dui aan dat hy nie een van hierdie skuldaandrywers is nie.

Daar is vryhede, sommige wat reeds bestaan en ander wat losgekom het, wat die Afrikaner en ander minderhede inderdaad nou bemagtig om standpunt in te neem, swak regering te kritiseer en ongrondwetlike optrede aan die kaak te stel. Dit is vryhede wat met verantwoordelikheid en styl hanteer moet word om te verseker dat 1994 nie ’n vorm van verslawing en verdringing ingelui het nie.

Soek daardie vryhede op. Skakel in by burgerlike strukture wat spierkrag gee aan regte wat ook minderhede bevry het, of moes bevry het. Leer uit die verlede, maar moet nooit die verlede probeer verander nie – fokus op die toekoms. En wees fatsoenlik met die kop fier en regop in die proses.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Dirk ·

Ek wens daar is iemand wat my presie kan verduidelik hoe die Afrikaner bevry was deur die nuwe bedeling. Dit is vir my baie moeilik om te verstaan en in te sien. Die nuwe bedeling het eenvoudig maar net op gevang met die aanslag teen die witras wat wereldwyd gevoer word.

Dit staan bekend as “Cultural Marxism”.

Dit het ons bestaan, kerk, werkplek, gesinslewe en skole in gedring. Wereldwyd word die witras onderwerp en vervolg. Dit het ‘n grondwet tot gevolg gehad wat hierdie strukture tot ‘n misdaad verklaar.

Die wat hierdie aanslag dryf is openlik daaroor en steek dit vir niemand weg nie. Barbara Lerner Spectre is maar ‘n enkele voorbeeld van die generaals wat die aanslag dryf.

Hierdie artikel het niks anders ten doel as om die toestand met versiersuiker toe te smeer nie. Die Afrikaner – soos die witras – wereldwyd is verslaaf en word bombardeer met verbale vernedering om skuldgevoel te kweek.

Rupert Ashford ·

Herman, ek stem saam. MAAR….die “bevryding” items wat jy noem (sportspanne en dies meer) is juis waar die storie begin ontrafel – is dit werklik bevryding, of het ons ons waardigheid en selfrespek vir die spreekwoordelike pot lensiesop verkwansel? As Afrikaner (en Suid Afrikaner) ervaar ek vandag nog vernedering in die internasionale markplein waar die Suid-Afrka wat was, maar ook die een wat IS (load shedding, korrupsie, moord, ens) voor my kop gegooi word in bestuursvergaderings in die buiteland waar kommersiele besluite geneem word oor of die volgende kantoor in Indie of Suid Afrika geopen moet word. Dan praat ons nog nie eers van jou stelling dat daar op grond van ras teen my kinders gediskrimineer word in die NSA nie. Ek dog dan dit was die een ding wat ou Nelson belowe het hy sal beveg maak nie saak wie dit implementeer nie? Suid Afrika is nie “bevry” nie, daar was slegs ‘n vervanging van wit gesiggies met swart gesiggies – dit is skynbaar meer aanvaarbaar in die buiteland (en die UN) maar aan die lot van Jan Alleman in Suid Afrika het dit absoluut niks verander behalwe om ‘n groot deel te laat beter voel (ten minste een keer elke 5 jaar wanneer hulle ‘n kruisie trek en weer die witman kan oorwin) en ‘n klein minderheid in ‘n nimmereindigende staat van beskuldiging te laat wegsink nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.