Nuuskommentaar: Is Ronnie ANC se Kasrils se deksel

Ronnie Kasril. Foto: SAUK

Ronnie Kasril. Foto: SAUK

Terwyl die staat appèl aanteken teen twee uitsprake van die Arbeidshof in Kaapstad wat bevind het die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) diskrimineer spesifiek teen bruin mense in die Wes-Kaap met sy aandrang op nasionale “kwotas” kry die DA ‘n prokureursbrief van die ANC om ‘n pamflet wat juis hierop gebaseer is as “leuens” te onttrek.

Die ANC raak hoogs tegnies, soos die gebruik onlangs geword het, deur daarop te wys dat die voorgestelde regulasies vir arbeids-“gelykheid” nog deur Nedlac gevoer moet word “waar alle insette oorweeg sal word.”

Maar waarom die DKD-saak dan op appèl neem?

Solidariteit, wat die DKD-lede verteenwoordig, reageer deur te sê die ANC kan dit maar ontken, maar bruin mense word reeds benadeel. Anders as wat die ANC in die Wes-Kaap gister in sy prokureursbrief aan die DA impliseer, is die ANC reeds besig met ’n program wat bruin, Indiër en wit persone se deelname in senior posisies dwarsdeur die land wil verskraal tot hul aandeel in die nasionale rassedemografie. Solidariteit het gister ’n afskrif van die uitspraak in sy saak teen die DKD, waarin die hof bevind het dat die gebruik van die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap op onbillike diskriminasie neerkom, aan die ANC gestuur. Adv. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê verkiesingspraatjies deur verskeie politieke partye of selfs president Jacob Zuma kan nie die feit dat die afdwing van die nasionale rassedemografie reeds plaasvind – en inmiddels verskerp word – ongedaan maak nie.

Groenewald sê: “’n Mens hoef slegs na die staat se huidige regstellende–aksiepraktyke te kyk om te besef dat minderheidsgroepe oor die algemeen, en veral die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap, benadeel word. Hierdie praktyke is duidelik ontbloot in Solidariteit se saak namens tien van sy lede teen die DKD. Die doel van die konsepkodes is bloot om die huidige onregmatige praktyke met wetgewing te legitimeer.” Die ANC gebruik dieselfde soort logika om aan te voer dat Zuma leliewit uit die Nkandla-skandaal gestap het.

‘n Soortgelyke soort “logika” word gebruik om te motiveer waarom drie provinsiale LUR’e wat op aanklagte van bedrog en korrupsie tereg staan so hoog op die ANC se kieserslyste is. Dieselfde soort logika is egter nie met Glynnis Breytenbach, Mike Tshishonga en ander toegepas nie.

Oud-minister Ronnie Kasrils is nie die eerste ANC-ringkop wat meen die ANC is sy morele kompas kwyt nie. Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het immers ook reeds aangedui dat hy om hierdie rede nie weer sy kruisie agter die ANC gaan trek nie

Kasrils se veldtog, wat vandag formeel geloods word, om ANC-ondersteuners aan te moedig om buite stemming te bly as hulle nie vir ander partye wil stem nie, is egter vir die kleurbehepte ANC ‘n perd van ‘n ander kleur. Die veldtog hou die potensiaal in om te teer op die kiesterapie wat onder veral jong kiesers ingetree het, en tot ‘n relatief lae kiesersregistrasie onder die nat agter die ore-groep gelei het.

In ‘n omgewing waar die gewoontestem ‘n sterk rol speel, hou die wegbly-stem die potensiaal in om tot ‘n teenstem te lei. Hoewel die ANC as teenvoeter die rassekrane behoorlik ooptrek, raak dit al hoe moeiliker om gewoontekiesers te oortuig dat swart politieke leiers buite die ANC bloot “coconuts” is. Al sou dit nog moontlik wees om die swart leiers binne die DA as “coconuts” af te maak, moet taamlik diep gedelf word om Lekota, Ramphele, Holomisa, Malema, Shilowa, Vavi, Jim en ander wat die Zuma-hegemonie in wisselende mates teenstaan liggies af te maak.

Kasrils se drostery sal ook ‘n impak binne die SAKP hê, wat onder die leiding van Blade Nzimande as ‘n Zuma-lofsanger van formaat ontaard het. Sy spore deur die Struggle is te diep getrap om bloot as nie-swarte af te lag.

Kasrils se veldtog is geskoei op die moraliteitsaspek, maar kan ook help om die oë oop te maak oor die ANC se pogings om die Wes-Kaap te herkoloniseer.

Nou het die Wes-Kapenaars nog ‘n keuse oor of hulle hul weer uit hul erfenis sal laat koloniseer. Die DKD-saak staan soos ‘n duidelike baken uit om te vermaan. Bruin mense sal ook onthou hoe hul name onder ANC-bewind op die waglyste vir huise al af geskuif het terwyl die nuwe aankomelinge uit die Oos-Kaap se name misterieus opwaarts geskuif het.

Die bruin kiesers kan nou self keer dat die “dice” weer verkeerd vir hulle val.

Die geloofwaardigheid van Marius Fransman, Tina Joemat-Pettersson en Jesse Duarte moet opgeweeg word teen dié van mense soos Trevor Manuel, en selfs Tony Eherenreich wat la ongelukkigheid met die Manyiïsme in ANC-geledere getoon het.

Neem kennis van Kasrils se vermaning dat alles lank nie meer pluis is nie.

As dit ooit pluis was.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae