Nuuskommentaar: Jaaroorsig 4 van 2018: Binnelands en wat dit vir 2019 inhou

land-kristalbal-toekoms-McKylan-mullins-op-pexels

Foto: McKylan Mullins/Pexels.com

Opsomming

In hierdie vierde, en laaste nuusoorsig, word die vernaamste nuusgebeure van die jaar kortliks onder die loep geneem, en gekyk hoe dit veral teen die agtergrond van die komende algemene verkiesing, in 2019 neerslag kan vind.

Staatskaping

Oor bykans elke belangrike Suid-Afrikaanse nuusitem is daar breed “staatskaping” geskryf. Of dit nou ’n kommissie van ondersoek (Nugent) na die Inkomstediens is, of ondersoeke na semi-staatsinstellings wat nuwe standaarde van onbevoegdheid stel, geldwassery, of dit nou hofsake is – telkemale blyk dit dat staatskaping sentraal staan. Die Zondo-kommissie van ondersoek spesifiek na staatskaping het reeds soveel verstommende detail aan die lig gebring dat selfs pres. Cyril Ramaphosa aangedui het dat hy oor die omvang daarvan verstom staan. En sonder uitsondering val oud-pres. Jacob Zuma se skadu breed daaroor.

Dit beteken dat dit in die nuwe jaar sal gaan soos met die gesin wat uit pure radeloosheid oor die spook wat hulle in hul huis treiter, na ’n nuwe blyplek trek. Toe die treklorrie voor die huis staan wil ’n buurman weet wat aangaan. Met dié vlieg die lorrie se laaideur oop en die opgewonde spook roep uit: “Ons trek!” Zuma se politieke spook gaan nog lank by ons spook.

Volgende jaar se algemene verkiesing gaan in baie opsigte die spil wees waarom die politieke wiel gaan draai, en dit gaan veral die drie grootste partye raak.

Die ANC

Een van die vroeë tekens van die saamtrekkende spook is dat Zuma en verskeie van sy kornuite wat skynbaar op die politieke ashoop beland het, nou deur takke benoem is en so in heel verkiesbare posisies op die ANC se voorlopige parlementêre lys beland het. Heelwat prosesse lê nog voor alvorens die lys gefinaliseer sal wees, maar die blatante weglating van Zuma en sy kornuite sal bepaald ’n groot klip in die maag tot gevolg hê.

Maar sal Zuma bereid wees om ’n mindere amp van LP op te neem, en onder andere sy huidige voorregte soos ’n blouligbrigade kwyt te wees?

Die feit is egter dat hy sy LP-salaris van die hand kan wys, en sy huidige ruim pensioen behou. Oud-pres. Kgalema Motlanthe het byvoorbeeld so gemaak toe hy adjunk-president geword het, omdat sy presidentspensioen meer was as die salaris van ’n adjunk-president. Lyfwagte en ’n blouligbrigade is ook geen probleem nie. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het, terwyl haar ampsweë nie daarop geregtig was nie toe sy stemme gewerf het om Zuma se ANC-president op te volg, ook so ’n blouligbrigade gekry “omdat daar dreigemente teen haar was”. Ook Julius Malema het so ’n blouligbrigade gekry toe hy glo gedreig is. Zuma behoort juis te meer daarvoor te “kwalifiseer”. Terug in die parlement kan sy ondersteuners hom tot invloedryke posisies verkies, vanwaar hy erg by Ramaphosa kan spook.

Twee van die belangrikste hofsake van die afgelope jaar was die Konstitusionele Hof se bevinding dat Zuma se aanstelling van Shaun Abrahams as direkteur van nasionale vervolging onwettig was, en die Pretoriase hooggeregshof se bevinding dat Zuma self, en nie die belastingbetalers nie, moet instaan vir regskostes wat bloot in eie belang aangegaan is. Zuma, wat intussen ’n ywerige Twitteraar geword het, sê hy kan nie verstaan hoekom hy self moet opdok, terwyl “apartheidsmoordenaars” se regskoste deur die staat betaal word nie. Hierdeur vergelyk Zuma appels met turksvye. Vir sy ondersteuners klink sy “argument” sinvol. Vir mense op die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum “bewys” hy met hierdie “gesanik” bloot dat hy ’n ongerehabiliteerde terroris is wat volgens getuienis selfverrykende misdaad en politieke geweld ineenvleg, en Alan Boesak se “struggle-boekhouding” na niksseggendheid reduseer.

Hoewel Ramaphosa verskeie stappe gedoen het om die sukkelende semi-staatsinstellings te probeer regruk, sal veel meer gedoen moet word. Dit lyk of die lot van veral sommige van hierdie instellings, soos die SAL, nog net deur privatisering gered kan word, en ander, soos Eskom, deur opdeling en gedeeltelike privatisering, gered kan word. Privatisering is egter vir baie ANC-lede erger as ’n vloekwoord, en veral danksy die ANC se alliansie met Cosatu, wat hewig teen privatisering gekant is, sal dit baie moeilik gaan om privatisering deur te voer sonder om erge skade op te doen (al floreer die instellings daarna). Ook die ANC se formele beleid, bekend as die nasionale demokratiese revolusie, is sterk teen privatisering gerig. Die ander kant van die munt is dat die huidige hantering van die instellings die ANC ’n beeld van hopeloosheid met die hantering van ekonomiese kwessies besorg.

Grondgryp sonder vergoeding gaan in 2019 ook ’n hele paar interessanthede oplewer. ’n Interessante twispunt is of die beoogde verandering van die grondwet werklik ’n verandering gaan bring, aangesien volgens sommige ontleders, die bestaande grondwet reeds vir onteiening sonder vergoeding voorsiening maak. Dit is egter hoogs debatteerbaar. Artikel 25 verbied baie pertinent onteiening sonder vergoeding, en die ander bepalings waaruit sommiges aflei dat dit wel moontlik is, kan hoogstens as beperkings op ’n mensereg (onskendbaarheid van eiendomsreg) beskou word. ’n Beperking op ’n mensereg mag egter, ook ingevolge die grondwet, nooit so uitgelê word dat dit die oorspronklike reg ongedaan maak nie.

Die EFF

Wat hou die jaar vir Julius Malema in? Gaan die wiel van geregtigheid so draai dat hy sy rooi oorpak vir ’n oranje-oorpak moet inruil, en indien wel, gaan die tjoekie-deure lank genoeg agter hom toeklap dat hy as parlementslid gediskwalifiseer gaan word? Dis immers die ideale oplossing vir ’n heethoof wat rassisme tot nuwe hoogtes voer, maar soos ’n Houdini soos taks (ja selfs met belasting) aan die gevolge ontsnap.

Hy bly die lang arm van die gereg ontglip al maak hy die ANC die hoenders in. Die jongste is dat die EFF dreig om die ANC sy verlangde tweederde-meerderheid vir grondgryp-planne te ontneem, sou die ANC se wetgewing nie in pas met die EFF se ideaal vir grondgryp wees nie.

Hoewel dit terselfdertyd onwaarskynlik klink, is ’n ander verklaring vir Malema se skynbaar kroonwild-posisie is dat die ANC hom agter die skerms daarmee help ter wille van Malema se steun as die ANC die steun die dag werklik nodig het. Die ANC het immers op die harde manier geleer toe die EFF na die vorige munisipale verkiesings, sy gedoogde steun aan die DA toegesê het om met breë koalisies die ANC uit die bewind van verskeie metropole, soos Tshwane en Johannesburg, te wring.

Malema, en saam met hom die EFF, het ook nuwe standaarde gestel met die intimidasie van joernaliste, veral ondersoekende joernaliste wat polities onverbonde is, maar wie se nuusneuse hulle gelei het om na die EFF se geldsake te kyk.

Die media se waghondfunksie word dwars oor die wêreld deur feitlik alle lande met selfs net ’n sweempie demokrasie erken. Trouens, die onafhanklike media word as die vierde, weliswaar informele, been van die demokrasie beskou.

Oor of die EFF in die hakskeen gebyt gaan word oor sy oorlog met die media, verskil ontleders. Sommige probeer die goue reël van partypolitieke reklame en die media op hierdie situasie van toepassing maak, soos dat dit nie wys is om swaarde te kruis met hulle wat hul ink by die konka aankoop nie. Ander meen die EFF se ondersteuners beskou die konvensionele medias as deel van die establishment en dat hulle die establishment as vyand beskou. Die EFF het hom reeds as baie suksesvol met die hou van reuse opruiende saamtrekke bewys, en maak ook tot ’n groot mate op die sosiale media staat. Dit beteken die konvensionele media het ’n kleiner invloed op potensiële EFF-kiesers as op byvoorbeeld die DA.

Die DA

Verskeie analiste meen die party wie se sake die deurmekaarste is voor aanstaande jaar se algemene verkiesing, is die DA. Maar hoe gaan die DA as gevolg hiervan in die komende algemene verkiesing geraak word?

Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die DA ’n aantal wit, hoofsaaklik behoudende Afrikaanssprekende kiesers gaan verloor. Hierdie kiesers is lank deur liberale kommentators as probleemkinders vir die DA beskryf, hoofsaaklik omdat hulle, meestal oud-Natte, daarvan verdink is, of soms openlik beskuldig is, as rassiste wat die DA kan kniehalter. Hoewel hierdie beskuldigings grootliks opgedroog het, bly die vraag wat behoudende Afrikaanssprekende kiesers wat nog altyd ’n ongemak in die DA beleef het, nou gaan doen?

Vir die transformasiegesinde DA-ondersteuners sal dit geen skade wees as dié tien persent hul rug op die DA keer nie. Trouens, dit kan soos die analiste destyds met die behoudendes se aankoms in die DA geskryf het, vir die transformasiegesindes ’n verligting wees as die behoudendes koers kry elders heen. Hulle sal reken dat dit sake dan sal vergemaklik om met dividende te wen aan swart kiesers.

Terwyl so ’n verlies numeries nie veel verskil aan die DA sal maak nie, sal dit aan dieVryheidsfront Plus se steun ’n groot verskil maak as hulle min of meer soos een man vir die VF Plus gaan stem.

Die DA kan egter seerder kry weens ’n potensiële verlies aan bruin kiesers, veral in die Wes-Kaap. Op die oog af lyk dit of Patricia de Lille se Good-party heelwat bruin kiesers gaan inoes wat vloeibaar geraak het na die behandeling wat De Lille by die DA-establishment gekry het. Hoewel riskant om te veel te neem uit De Lille se stigting van die Onafhanklike Demokrate, wat van meet af aan heelwat bruin steun geniet het, en wat na die DA oorgedra is toe die twee partye saamgesmelt het, is dit tog waarskynlik dat die proses min of meer kan herhaal.

Tog lyk dit of die ANC ook voordeel uit die politieke aborsie trek. Dit blyk onder meer uit verskeie tussenverkiesingsuitslae. Dié kwessie sal nou ernstiger opgeneem word nadat die swaargewig, Lennit Max, uit die DA bedank het en by die ANC aangesluit het. Max kan egter ook ’n blok aan die been vir die ANC se pogings word om noemenswaardige bruin steun te trek. Hy was provinsiale kommissaris van polisie, maar het die politiek as vername OD-lid betree. Hy is egter uit die OD geskors, en het toe as DA-lid in die provinsiale parlement gedien. Met sy laaste poging om Wes-Kaapse leier van die DA te word het 70 persent van die DA na berig word teen hom gestem. Hy was in verskeie ongemaklike situasies, onder meer ’n klag van seksuele teistering, betrokke.

*Dit was die laaste nuuskommentaar van 2018. Baie dankie aan al die getroue lesers van nuuskommentaar, asook die leserskommentare wat dikwels van groot insig en kundigheid getuig, en waaruit ek heelwat kon leer. Baie dankie vir al die beste wense en ondersteuning toe ek vroeër vanjaar saam met die kanker baie siek was aan longontsteking en griep, en ek volgens die spesialis baie gelukkig was om te oorleef.

Van my kant onderneem ek om slegs my beste te lewer, polities onverbonde te skryf hoewel politieke partye, veral in die aanloop tot die verkiesing, moet verwag om kritiek op die lyf te loop as hulle droogmaak. Ek onderneem om so vakkundig moontlik te bly.

Baie dankie ook aan my wederhelf, Joan, wat soggens vroeg opstaan om die nuuskommentare te proeflees alvorens dit ingestuur word.

Die lesers word ’n baie voorspoedige 2019 toegewens.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae