Nuuskommentaar: Joernalistieke onafhanklikheid onder staatsafhanklikheid?

(Argieffoto)

Die afgelope week was ʼn angswekkende een vir SAUK-werknemers. Die SAUK het op die sogenaamde Swart Maandag aangekondig dat hulle 400 werknemers gaan afdank weens finansiële probleme. Dinsdag het Phathiswa Magopeni, groepbestuurder vir nuus en aktuele gebeure by die SAUK, na onderhandelinge met werknemers en vakbonde aangekondig dat hulle die beoogde artikel 189-proses gaan staak. Woensdag het dit egter aan die lig gekom dat die SAUK wel gaan voortgaan met die afleggings.

Die SAUK het oor die afgelope paar jaar groot finansiële uitdagings ervaar. Onder Hlaudi Motsoeneng het groot wanbesteding, korrupsie, joernalistieke onderdrukking en wanpraktyke plaasgevind. Motsoeneng het beleid agter die skerms deurgevoer wat nou uiteindelik diegene op grondvlak benadeel – dit is weereens die tragiese verhaal van ANC-transformatisme.

Die SAUK sukkel ook om mense se samewerking met TV-lisensies te kry. Slegs ʼn kwart van mense het verlede jaar hul TV-lisensies betaal. Die SAUK het in die lig hiervan verlede jaar ʼn reddingsboei van R3,2 miljard ontvang.

Die SAUK het na Motsoeneng moeite gedoen om hulle integriteit te herstel. Hulle het nuwe reëls en rade daargestel wat ʼn nuwe begin moes wees. Die SAUK het hulself teoreties reggeruk. Hulle is egter so in die grond in bestuur dat Motsoeneng se harde transformasie-nalatenskap en finansiële krisisse nie sommer net omgeswaai kan word nie.

Die SAUK het in ʼn kwessie van twee jaar reddingsboeie van byna R5 miljard versoek – hierdie spreek nie van ʼn organisasie wat selfstandig is nie. Indien hulle nie selfstandig is nie, is hulle noodwendig afhanklik van die staat. Hulle het óf die regering se reddingsboeie nodig óf die regering is nodig om hulle deur regulering te beskerm. Dit is hier waar die SAUK se nuwe teoretiese onafhanklikheid oorskadu word deur hul werklike staatsafhanklikheid.

Samkelo Maseko, senior politieke joernalis by die SAUK, het Woensdag ʼn onderhoud met Ace Magashule gevoer oor die beoogde afleggings. Maseko wou weet wat presies die ANC gaan doen om afleggings te keer. Het die ANC al die SAUK-raad “ingeroep” om hulle daaroor aan te spreek?

Volgens Magashule het die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, dit duidelik gemaak dat afleggings onnodig is. Die raadslede wat afleggings as finansieel noodsaaklik beskou, is volgens Magashule arrogant. Dit is ook duidelik dat dié raadslede die SAUK wil kommersialiseer en privatiseer – hierdie wesende ʼn ANC-aardsonde. Daarom is dit nou tyd vir die driepartyalliansie om hulle “broeders” te ondersteun deur die afleggings stop te sit.

Hy het ook baie blatant vir Magashule gevra wat hý as sekretaris-generaal al gedoen het om hierdie afleggings te keer.

Volgens Magashule het die driepartyalliansie Dinsdag vergader en ferm besluit om minister Ndabeni-Abrahams te ondersteun – die arrogante raadslede moet gestuit word. Magashule waarsku teen diegene wat die SAUK wil kaap deur dit te kommersialiseer en privatiseer. Sodoende moet die werknemers en bestuur nou teen dié kapers opstaan om hulle voortbestaan te verseker.

Enige mens wat nie die onderliggende politieke gesprek hier raaksien nie, wíl dit nie raaksien nie. Maseko smeek amper vir Magashule om by die SAUK in te meng ten einde hulle werk te red. Hy weet dat die ANC graag die joernaliste sal help as die joernaliste hulle weer iewers in die toekoms help. Maseko vat die ANC se politieke transaksionaliteit goed saam. Die ANC doen niks uit barmhartigheid nie – indien hulle die joernaliste help, moet die joernaliste die ANC ook in die toekoms help.

Dit is werklik naïef om te dink dat joernaliste soos Maseko na die ANC se ingryping steeds met kritiek op hulle sal neerdaal. Wat is die kanse werklik dat iemand soos Maseko uiters krities teenoor Magashule gaan wees indien hy eendag vervolg word? Hy moet immers sy dankbaarheid betoon aan Magashule wat hom nou red.

Joernalistieke onafhanklikheid sal in die lig van die SAUK se staatsafhanklikheid baie moeilik kan floreer. Indien joernaliste en omroepers se lot werklik van die ANC en Magashule se genade afhang, kan hulle nie net doen wat hulle wil nie. Waarom sal die ANC ʼn klomp joernaliste red wat hulle links en regs beswadder en kritiseer. Sal hulle nie eerder joernaliste red wat minder krities is nie en soms selfs die ideologiese spreekbuis vir die ANC is nie?

Dit is presies ook waarom Magashule kommersialisering en privatisering as bedreiging beskou. Die oomblik wat die SAUK kommersialiseer of privatiseer, gaan hulle by verstek nie meer die ANC se skoothondjie kan wees nie – dan gaan hulle dalk werklik ʼn waghond vir landsburgers moet wees.

Die SAUK is anders as die ander staat- en semistaatsinstellings. Dit is geen van die ander instellings se hoofsaaklike doel om die politiek en sodoende ook die ANC te kritiseer nie. Die SAUK spesifiek en joernaliste oor die algemeen se werk is om politici te kritiseer waar nodig. Die SAUK se finansiële probleme lei juis daartoe dat hulle hul taak nie behoorlik en eerlik kan vervul nie – juis omdat hulle deur die perverse afhanklikheidsverhouding met die ANC ingeperk word.

Die SAUK gaan beslis nie die taak van vreeslose onafhanklikheid vervul nie. Daar bestaan ook twyfel oor die ware onafhanklikheid van establishment media wat dikwels meer oor politieke korrektheid as die waarheid omgee. Dit is presies waarom onafhanklike alternatiewe media broodnodig is. Daar bestaan ʼn enorme taak vir die media as waghond in Suid-Afrika – die legio politieke en morele onregte wat die regering pleeg, verg die nodig kritiek. Daarom is dit noodsaaklik om media-instellings te kweek wat werklik dapper genoeg sal wees om die waarheid en landsburgers te beskerm en verdedig.

ʼn Mens moet die ironie waardeer van Maseko wat Magashule vra om met politieke inmenging ʼn probleem op te los wat juis deur politieke inmenging geskep is. Dit is presies in hierdie bose kringloop van dwaasheid wat die ANC telkens vasgevang word. Hulle wil altyd probleme oplos met presies dieselfde idees wat die probleme in die eerste plek veroorsaak het.

Die ANC ploetter nou al vir 26 jaar in dwaasheid voort – ons moet ook nie beter verwag nie. Daarom is dit ons taak om die leemtes van die ANC en politieke elite te vul deur self beter alternatiewe te vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elsa

Die regering het dit Al probeer. Die ongrondwetlik om personeel al te dank en dan daardie selfde pošte te adverteer.
Al wanneer hul afgelê kan word, is met personeelvermindering en dan mag daardie pos vir minstens 5 jaar nie gevul word.

Mariana

R3.2 miljard kon hulle nie red. Niks gaan nie. Dieselfde as SAA. Gooi miljarde agter bankkrot instansies aan en die belastingbetalers word elke dag armer, want hulle moet net opdok.

Sarel

Watter uitdagins… om gesonde finansiële bestuur toe te pas.
Die werker en verbruiker moet betaal vir swak bestuur