Nuuskommentaar: Kleine ta’ Grietjie wys “groot” leiers hoe

Foto: Oorsprong onbekend

Foto: Oorsprong onbekend

Omstredenheid bring bekendheid, maar nie bemindheid en respek nie. Dié waarheid leer die land nou weer met die heengaan van ‘n klein mensie uit ‘n klein dorpie in die Namakwaland, ta’ Grietjie Adams. Maar klein soos sy is, het sy diep, baie diep spore deur baie mense se hart getrap. Kyk maar na die reaksie op haar dood in die kommentaar wat Maroela-lesers op die artikels oor haar dood gelewer het. Nie ‘n enkele wanklank nie.

Selfs toe die internasionale ikoon, oud-pres. Nelson Mandela, gesterf het,  was daar heelwat minder vleiende opmerkings oor die oud-staatsman.

Maar die skrille kontras sou ietwat later kom, toe ‘n deel van die skare by die Mandela-gedenkdiens in Soweto pres. Jacob Zuma uitgejou het elke keer wat sy gesig op die groot skerm gewys is.

Presies dieselfde man wat onlangs beswaar gemaak het dat die media hom net “Zuma” noem – hy is immers “meneer die president Zuma.” ‘n Man, volgens sy agtergrondskets van die presidensie, met tien ere-doktorsgrade, en dit meld nie eens dat hy boonop ‘n ere-pastoor ook is nie.

Ta’ Grietjie het net twee ere-titels –  ta’ en ouma. Dis nie deur gerekende en minder gerekende en selfs bedenklike universiteite aan haar toegeken nie, maar is op die harte van die mense van die land geskryf en in liefde aan haar opgedra.

Ta’ Grietjie se beskeie woonplek te Daisystraat 59 op Garies sou nooit die glans kon vertoon van die president se privaat woning by Nkandla nie.

‘n Mens sou ‘n paar oppervlakkige vergelykings tussen ta’ Grietjie en die president kon trek – soos dat beide in die tradisionele konteks bobaasdansers was, en in Zuma se geval waarskynlik steeds sou wees as hy weer vrou vat.

‘n Mens stuit, uit respek vir ta’ Grietjie se herinneringe, om kwessies soos opvoedkundige vlakke en innemendheid te vergelyk.

Dit is eenvoudig veel meer gepas om verskille te toon. Soos nederigheid en ‘n ingesteldheid om geluk te vind deur ander te plesier.

Ta’ Grietjie het diep spore deur verskillende gemeenskappe getrap. Trots op haar eie, maar het ook die grootste respek en deernis van ander bevolkingsgroepe ontlok. Vir die brûe wat sy gebou het, het sy ‘n toekenning van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening gekry. Dit spreek boekdele meer as toekennings en selfs ere-doktorsgrade wat Zuma by instansies “verwerf” het, waaronder in die buiteland. Volgens die agbare president, doktor en pastoor se amptelike agtergrondskets blink die president in versoening uit.

In der mate dat die ANC se NUK nou byna heeltemal van blankes, en selfs nog meer van bruin mense gestroop is.

Ta’ Grietjie het getoon wat ‘n sogenaamde “klein mensie” kan vermag om versoening te bewerkstellig. Gestroop van die hoë akademiese retoriek, gestroop van komplekse holistiese en sektorale benaderings, gestroop van verwyte, die opeis van skuldgevoelens opwek en eise van restitusie waarop geteer word… Ta’ Grietjie se eerlike en vriendelike innemendheid het die deure laat oopgaan.

Diegene wat die pad hiernamaals toe betree sonder vragte negatiewe bagasie wat saam met die positiewe herinneringe op die perron agterbly, is dun gesaai.

Dis net te maklik om foute te maak, te maklik om jou eie grootste vyand te wees, te maklik om diep, vuil spore deur ander se lewens te trap. Dis moeilik om te alle tye te weet wat die regte ding is om te doen en te sê, wie om te vertrou…

Enkele jare gelede het die Nederlandse koerant, Trouw, die Kovsierektor, prof. Jonathan Jansen, as Suid-Afrika se nuwe ikoon van versoening aangewys. Die skietgoed was op die tafel, en die hantering van die Reitz-vier se geval het ‘n oplossing moontlik gemaak waar sy voorganger vasgebrand het.

Maar… al die nuusdekking wat Jansen ontvang (hy kan dit stellig nie geniet nie), is nie positief nie, en nou met die onmin binne die Konvokasie het Jansen ook baie kritiek gekry – hoewel die kritiek veral teen sy beskerminglinge, Rudi Buys en Nicky Morgan, gemik word.

Op die oomblik word die publiek nog aan twee weergawes blootgestel van wat werklik aangaan. Die een is ‘n amptelike weergawe wat versigtig berei deur die afdeling strategiese kommunikasie aan die publiek opgedis word, en waar net niks haper nie maar waarskynlik reeds weinig geloofwaardigheid geniet. Hierdie kamp maan ook die publiek om nie “die leuens van die Volksblad” te glo nie.

Maar dan is daar die ander kamp – dosente en ander personeel wat duidelik vreesbevange die sluier oor ‘n gans ander wêreld lig, studente wat met ontstellende verhale na vore kom hoe hulle in erg gekruide taal as rassiste afgemaak is as hulle sekere duidelik rasgedrewe aksies bevraagteken – ironies soos hulle gereeld aangemoedig word om te doen.

Dit wat op versoening afgestem is, word ironies die slagveld waar goeie gesindhede sneuwel.

Leiers met goeie bedoelings moet hul adviseurs versigtig kies. Dis selde ‘n goeie idee om jou met die grootste kruipers en napraters te omring, want dan word die leier met die goeie bedoelings gou saam met die kruipers van die gemeenskap en die werklikheid geïsoleer. En ‘n wag voor die mond is meestal ook ‘n goeie idee.

Ja, gaan na ta’ Grietjie en word wys. Ja, sy is nie meer daar nie, maar sy oorleef duidelik haar leeftyd, en haar nalatenskap sal nog lank met ons wees om te ontgin. En benut dit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae