Nuuskommentaar: Krieket-aanslaan

Dat die Proteasnelbouler, Rory Kleinveldt positief vir ‘n verbode middel getoets is, is maar die jongste gebeure wat die Suid-Afrikaanse krieketwêreld geskud het. Van veel meer belang is die bevinding van oud-regter Chris Nicholson oor Krieket SA se bonussage en veral die uitvoerende hoof, Gerald Majola. Waarskynlik die ernstigste aanklag uit die Nicholson-bevindinge is dat Krieket SA se ringkoppe by ‘n lomp maar grootskaalse toesmeeraksie betrokke was.

Vroeër, na ‘n inkriminerende ouditverslag, het die krieketpubliek ook die kop geskud oor hoe dit moontlik kan wees dat verkose provinsiale krieketverteenwoordigers, wat as eerbare mense verkies is, die geledere so deeglik om die hoofgeïmpliseerde kan sluit, en so kras op die fluitjieblaser kon toesak. ‘n Mosie van wantroue is onder meer teen die fluitjieblaser en destydse grootbaas van KSA, dr. Mtutuzeli Nyoka, ingestel om van hom ontslae te raak. Getuienis wat sterk aan die Mafia herinner is voor die Nicholson-ondersoek gelei. Selfs die Proteakaptein, Graeme Smith, het sy gewig agter Majola ingewerp.

Politieke konneksies en politieke inmenging het verseker dat die Nicholson-kommissie geloods is en die saak min of meer in die reine gebring is. Die voorsitter van KSA, AK Khan en die interne ouditeur, John Blair van die Vrystaat, het bedank. Majola skop egter verbete vas. Die ongemak bestaan dat die opruim van die kriekethuis meer met politiek as skoon administrasie te make het. Nyoka se persoonlike verbintenis met die minister van Sport, Fikile Mbalula, het tot die aanstelling van die Nicholson-kommissie gelei na KSA ‘n hofuitspraak in effek prosedureel omseil het.

Mbalula self het die politieke kat uit die sak gelaat deur Graeme Smith te maan om hom van betrokkenheid in die politiek te weerhou na hy Majola gesteun het. Word die integriteit van die krieketbase onder verdenking geplaas, is die agenda oop vir persepsies oor hoe ver allerlei goggas soos wedstrydknoeiery en inhaligheid strek. Groot geld, baie groot geld, is immers op die spel. Die sage herinner ongelukkig ook aan ‘n ander Suid-Afrikaanse sportskandaal, toe die destydse omstrede atletiekbaas, Leonard Chuene, na die Caster-sage gemeen het hy het genoeg politieke kapitaal om die storm te oorleef. Ook daar moes sportliefhebbers verstom staan hoe sommige provinsiale sportbase hul integriteit in die aangesig van ooglopende wanklanke by Chuene ingewerp het.

Dié keer het die atlete self die paleisrevolusie gelei wat tot Chuene en sy Mafia-agtige span se ondergang gelei het. Die meeste sportkodes, soos die IOK, Fifa en die IRB verbied politieke inmenging in sport. Dit is egter selde iets wat toegepas word, soos die IRB se lamlendige reaksie toe Suid-Afrika vir politieke inmenging in sport, onder meer oor rassekwotas, verkla is. Fifa laat hom egter nie deur regerings boelie nie, en lande soos Griekeland, Iran en Kenia is al weens politieke inmenging geskors, en eers weer toegelaat na die regerings langtand onderneem het om hul neuse uit sokkersake te hou. Van die wêreld se voorste sokkerlande soos Brasilië en Frankryk is al, soos Nigerië, op terme geplaas.

Politieke inmenging in krieket is egter welbekend. Sri Lanka doen dit openlik, en verskeie IKK-afgevaardigdes het Pakistan al besoek om die regering te probeer oorhaal om sy inmenging te staak. Trouens, die krieketlegende, Geoffrey Boycott, het ‘n beroep gedoen dat krieket die rug net so styf moet maak soos Fifa. Fifa self, het egter die blinde oog gewerp toe die Wêreldbeker-eindtoernooi in Suid-Afrika aangebied is. Dit was immers duidelik dat die sokkerbase nie opgewasse sou wees om so ‘n toernooi aan te bied nie, en dat die regering sou moes instaan.

Gebeure in Suid-Afrika dui ongelukkig daarop dat die regering die een is wat die rug styfmaak – ongelukkig dikwels met die fokus verkeerd. Te min aandag word aan werklike sportontwikkeling geskenk, te veel aan kaderontplooiing en transformasie, en die prestasies van sportlui is dikwels die gevolg van presteer ten spyte van die regering se rol, eerder as te danke aan die rol. Die krieketloopbaan van Jacques Rudolf is ‘n goeie voorbeeld van hoe politieke inmenging die land van talent kan beroof wanneer dit beskikbaar is.

Wanneer sake in ‘n sportkode so ooglopend erg ontspoor, is dit noodsaaklik dat die regering ingryp. Tot Mbalula se krediet het hy ‘n eerbare, onverbonde regter aangestel om die ondersoek te lei. Die onus is nou op die provinsiale krieketbase om te toon dat hulle wél self wolle oor die oë getrek was, dat hul integriteit bo verdenking is, en nie nou die sinkende Majola-skip gaan verlaat bloot omdat dit die beste voordele inhou nie. Majola, soos Chuene, gaan ook agterkom dat die borge nie besonder gesteld is op iemand se politieke verbintenisse nie. Borge kan nie bekostig om hul beeld te koppel aan iemand oor wie se integriteit bedenkinge is nie. In krieket se belang moet die slothoofstuk oor die Majola-kwessie nou spoedig geskryf word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae