Nuuskommentaar: Kyk ook by xenofobie verby na groter prentjie

Skermskoot uit 'n video op Facebook van vermoedelik 'n Xenofobiese voorval in Johannesburg (April 2015)

Skermskoot uit ‘n video op Facebook van vermoedelik ‘n Xenofobiese voorval in Johannesburg (April 2015)

Min mense in Suid-Afrika (en nou ook in die buiteland) sal anders meen as dat Suid-Afrika brand. Die fokus val tans op xenofobiese geweld (wat die regering onlangs nog ontken het, en nou kort-kort beweer in bedwang is). Maar dit is nie al wat haper nie. Daar is diensteprotesoptredes wat volgens ontledings toenemend gewelddadig word, stakingsgeweld, plaasmoorde wat skynbaar net volgens die polisie se statistieke (maar nie ander s’n nie) minder word, kulturele simbole soos standbeelde wat beskadig word, ongekende vlakke van padwoede en vele meer. Opname ná opname toon dat rassepolarisasie nou baie hoog is.

Maroela Media het onlangs daarop gewys dat Suid-Afrika volgens die internasionale vredesindeks nommer 122 uit 162 plekke beklee. Namibië is 48ste, Mosambiek 82ste en Tanzanië 59ste op die lys.

Lande wat swakker as Suid-Afrika vaar, is gewoonlik lande met burgeroorloë, of waar die radikale Islam met insurgensie-oorloë besig is.

Die Vision of Humanity wat die vredesindeks opstel, kyk egter ook na die vernaamste faktore wat die land so gewelddadig maak. Die leser en ander navorsingsinstansies verskil dalk met hierdie ontleding, maar dit bly nietemin insiggewend. Uit ’n totaal van vyf is die aandeel van militarisering net 1,7, terwyl plaaslike en institusionele konflik ook net 1,8 bydra. Die grootste bydraer, 3,1, word as die gemeenskap en veiligheid aangegee.

Kortom, die vinger word in hoofsaak gewys na hoe die gemeenskap reageer oor hoe hulle hul veiligheid ervaar.

Verskillende vakdissiplines sal verskillende invalshoeke hê. So word dikwels baie gemaak van die kwessie van relatiewe deprivasie – die aanbreek van die nuwe bedeling het by baie mense aannames van wonderlike tye geskets. Nou raak die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid net te groot. Die inkomstegaping in Suid-Afrika is enorm, en moontlik die grootste ter wêreld. Daar is verskillende aannames oor die gedeelde geskiedenis, en daar is byvoorbeeld goeie rede om te glo dat pres. Jacob Zuma se blaampolitiek en die bysleep van Jan van Riebeeck tot die kulturele terrorisme bygedra het wat nou met die beeldestorm ervaar word.

Die 1990-verslag van die Staatkundige Komitee van die destydse Presidentsraad, met die titel Besluitnemings- en Konflikbeslegtingsmeganismes en -Tegnieke in Staatkundige Stelsels, het interessante bevindings gemaak. Die komitee het die voordeel gehad dat van die land se voorste kenners uit verskillende vakgebiede getuienis kon kom aflê. Die komitee bepleit dan ook dat ’n holistiese benadering gevolg moet word. Onder die hofie, lojaliteit en vertroue, skryf die komitee dat enige (toekomstige) bestel, ten einde aanvaarbaar te wees, voorafgegaan sal moet word deur daadwerklike optrede om ’n klimaat van wedersydse lojaliteit en vertroue te kweek. Die aanbevelings lui ook dat die nuwe bestel voorsiening moet maak vir verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid, erkenning moet verleen aan die heterogeniteit van Suid-Afrika, en dat minderheidsregte asook die basiese regte van die individu verskans moet wees.

Die verslag gaan ook verder om te beredeneer wat sal gebeur as daar nie aan hierdie en ander voorvereistes gehoor gegee word nie, en dis nie ’n mooi prentjie nie.

Terselfdertyd het die maatskaplike komitee van die Presidentsraad ’n omvattende ondersoek na gemeenskapsverhoudinge van stapel gestuur en eweneens is van die land se voorste kundiges die geleentheid gebied om getuienis te kom aflê. Om redes wat nie baie duidelik is nie, is hierdie ondersoek opgeskort nadat FW de Klerk president geword het. Of die voltooiing van die verslag ’n groot verskil sou maak in ’n era wat deur juridiese verabsolutering gekenmerk is, is nie duidelik nie, maar dis in elk geval water onder die brug deur.

Die staatkundige komitee se verslag het egter steeds die basis van die NP en regeringsonderhandelaars se opdragte by Kodesa uitgemaak. Oor die onderhandelde uitkomste se reuseverskille met die opdragte het die bekende rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, by geleentheid geskryf die NP (oftewel regering) het sy derde span se reserwes as onderhandelaars ingespan. Hy is hiervoor in liberale kringe erg verkwalik.

Die merkwaardige aspek is die ooreenkomste tussen dit wat Suid-Afrika nou beleef, en wat politieke sosioloë reeds in 1992 en vroeër, asook Paul Wilkenson as terreurkenner dekades gelede geskryf het. Al die elemente wat hulle noem vir die vorming van ’n rewolusionêre klimaat (en in Wilkenson se geval, politieke terreur) is nou in oordaad in Suid-Afrika aanwesig.

So skryf Lucius Botes en André Pelser byvoorbeeld in hul boek, Temas in die Politieke Sosiologie, dat probleme met politieke integrasie om ’n nasionale politieke bewussyn te skep op enkele uitsonderings na in omvangryke politieke geweld ontaard. Onder die faktore wat dit veroorsaak, is vrese dat ekonomiese belange, kultuur of godsdiens in die slag kan bly.

Sowel Botes en Pelser as Wilkenson merk ook op dat die ergste neiging tot gewelddadigheid neig om voor te kom wanneer dinge al begin verbeter het. Ook hiervoor is verklarings, soos dat verbeterde opvoedkundige vlakke hoër verwagtinge skep, maar ook ’n groter bewussyn van onbereikte doelwitte skets. ’n Brandende kwessie is waar mense voel hulle het presteer en het die kwalifikasies om in hoër sosiale kringe aanvaarbaar te wees, maar dit gebeur nie. Twee persone het matriek, die een werkloos of met ’n mindere werkie, en die ander het die begunstiging van kaderontplooiing te beurt geval en verdien sakke vol belastingbetalersgeld.

Kortom, die wiel is lank reeds ontwerp en grootliks vervolmaak, maar ideologies gedrewe mense sal strykdeur daarop probeer verbeter deur dit van voor af te wil ontwerp.

Een van die ANC se grootste uitgesproke ideale met die aanvang van die nuwe bedeling was om ’n nierassige land te skep. Vandag dui navorsing op navorsing aan dat rassepolarisasie die hoogste vlakke sedert die aanbreek van die nuwe bedeling bereik het. Blaampolitiek slaan soos masels uit.
Wat moeiliker is om te bepaal, veral omdat dit moeilik gaan wees om die ANC van sy rasbehep gekose koers te laat afsien, is wat aan die situasie gedoen moet word.

Hoewel meningsvormers in hul rubrieke dikwels lynreg teenoor mekaar gestel word (en ietwat skeefgetrek word uit die voorkeur aan meningsvormers met sekere ideologiese perspektiewe), is daar ook die afgelope aantal jare ’n neiging dat meningsvormers met uiteenlopende ideologiese uitgangspunte deur die werklikheid na ’n groter gemeenskaplike meningspoel gedwing word.

’n “Regse” leser sal al meer vind dat daar meer en meer dele van skrywers soos Max du Preez en Piet Croucamp se artikels is waarmee saamgestem word, en omgekeerd. Wanneer ’n linkse meningsvormer meen hy moet nou weer sy sout as links verdien, sal hy of sy sommer AfriForum of Solidariteit met veralgemenings bydam, maar moet na die dae van die Mynwerkersunie teruggryp om “substansie” te kry. Die proses van veralgemening is nog in sy kinderskoene, maar die werklikheid sal langsamerhand hierdie skuureffek voortsit, hoewel volle konsensus natuurlik nie voorsien word nie.

Die gemeenskaplikheid op rassegrondslag is natuurlik nog bitter ver van waarneembaar.
Die negatiewe publisiteit wat Suid-Afrika nou weens xenofobiese geweld (asook ander voorvalle soos lawwe uitlatings van Zuma, Marikana, plaasaanvalle en ander) oorsee kry, bied die Afrikaner die geleentheid om sy eie internasionale aansien te verbeter. Daar is reeds omvangryke projekte.

Ongelukkig kos dit ook net een persoon om die verkeerde ding te sê of te doen om baie goeie werk ongedaan te maak.

Fatsoenlikheid en redelikheid is kernbelangrik om die boodskap tuis te bring van “ons is nie so (gewelddadig) nie” sonder dat dit nodig is om dit te sê. Want om so ’n mening hardop uit te spreek, gaan beslis uitgebuit word om rassemeerderwaardigheid of on-Suid-Afrikaansheid te probeer bewys.

Ongelukkig is dit so dat ideologie en blaampolitiek reeds verpakte oplossings op die rak gaan laat stof vergaar. Daar lê ’n groot verantwoordelikheid op die Afrikaner om hierdie oplossings nie net vir homself nie maar ook vir die land afgestof te hou en aan die besluitnemers te probeer bemark.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Winston ·

Ons het mos almal geweet dis in n skerpioen se aard om te steek. Het jy al een aangehou vir n troeteldier?

Jasper ·

Vandag weer op Al Jazeera nuus, verkondig onse prof. Christo Landsberg dat die oorsake van xenofobie n nadraai van apartheid is. D.dnr

Johan ·

Ai Dr. Landsberg wil jy nie maar ook landuit soos FW en so baie ander wat duidelik verre voel vir ons nie (ek verneem selfs die “vuurige” Boesak wat so beloof het om alles reg te ruk is landuit?)…los die’ gemors maar vir die Suid Afrikaners wat werklik vir die land omgee, om op te los…Ek skaam my vir sulke “landsburgers”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.