Nuuskommentaar: Mensdom presteer in buitenste ruim, maar spartel dikwels hier

Foto: Argief

Foto: Argief

Plutokoors pak die mensdom beet namate die Nasa-tuig, New Horizons, nader en nader aan Pluto blits, en môre verby hierdie dwergplaneet op die randjie van die bekende sonnestelsel snel. Hierteenoor sou dit bladsye verg om ’n lys op te stel van waar die mensdom op die ondermaanse verbrou en pyn en lyding veroorsaak – die Griekse tragedie wat hom nou afspeel en blykbaar oormôre ryp gedruk word, die wreedheid van die IS, korrupsie, wanadministrasie, magsmisbruik, minderhede wat nie dít gegun word waarvoor die internasionale reg voorsiening maak nie, en vele meer.

Toe New Horizons nege jaar gelede gelanseer is, was Pluto nog amptelik ’n planeet – die son se negende. Daar is ’n stille verwagting dat hy moontlik met New Horizons se besoek weer tot planeet herklassifiseer sal word.

Voordat New Horizons die ysige wêreld van Pluto en sy metgesel, Charon, van nader in die kameralens vasgevang kon kry, was die mensdom se beste beelde bloot dowwe kolletjies wat vertoon het asof uit fokus. Die Hubble-teleskoop is maar net tot soveel in staat en nie meer nie.

Nou is al talle oppervlak-gegewens te siene gekry en heelwat inligting is ook verkry. Daar word geskarrel om name te kry vir ’n hele nuwe wêreld (weliswaar klein) se oppervlakeienskappe, en binnekort ook vir Charon.

Môre sal New Horizons sowat 12 000 kilometer bo die oppervlak van Pluto verbyblits en foto’s neem. Dit sal eienskappe so groot soos ’n rugbyveld kan raaksien en fotografeer.

En so byna was dit nie. Vroeg vandeesmaand het New Horizons kortstondig sy kommunikasie met die aarde verbreek, en toe dit herstel is, was die tuig in veilige modus. Nasa se gerusstellende versekerings dat alles betyds reggekry sou word, is weens die kompleksiteit wyd met ’n mate van skeptisisme begroet. ’n Deel van die probleem was dat dit seine van die aarde meer as vier uur neem om New Horizons te bereik, en weer meer as vier uur later die tuig se antwoord te verkry. Toe die probleem wel opgelos is, het die tuig ’n merkwaardige foto teruggestuur aarde toe – ’n groot hartvormige oppervlakstruktuur op Pluto.

Dit is lank nie die enigste ruimteprestasie van die mensdom wat hom nou afspeel nie. Op Mars werk die robottuig Curiosity bykans onverpoos voort en die indrukwekkendste toerusting word ondertussen op aarde ontwerp om die opvolgtuig se besoek selfs nog indrukwekkender te maak. Die tuig Dawn is intussen besig om met sy ioon-aandrywing al nader aan die dwergplaneet Ceres te wentel, nadat die tuig eers om Vesta aan die ander kant van die asteroïedegordel gewentel en enorme hoeveelhede data versamel het.

Terselfdertyd word die mensdom se kennis van komete baie vergroot soos wat die tuig Rosetta om een wentel wat nog nader aan die son blits, terwyl daar groot hoop is dat sy landingstuigie, Philae, nog data van die komeet se oppervlak sal kan terugstuur.

Die mensdom op aarde put reeds enorm baie uit die tegnologie wat ontwikkel is om hierdie en ander ruimteprestasies moontlik te maak – van medisyne tot gevorderde tegnologie.

Ook Suid-Afrika, weliswaar nie op eie bene nie, presteer onder meer met die bou van die Meerkat wat tot die SKA uitgebrei gaan word.

Elke minuut word nuwe kennis oor God se tweede openbaringswyse, die skepping en wetenskap, bekend.

Hoewel dit maklik is om ’n beeld van chaos en swaarkry van die mensdom se aktiwiteite op sy eie planeet te skep, is dit ook tot ’n mate ’n kwessie van of die waarnemer positief of negatief ingestel is. Die positiewe waarnemer sal wel ook genoeg positiewe menslike aktiwiteite vind om die slegte mee in perspektief te plaas.

Ook in Suid-Afrika is daar daagliks geleentheid om die positiewe met die negatiewe op te weeg. Ons het onlangs van verskeie selfdoenprojekte gelees wat AfriForum op munisipale vlak uitvoer om te keer dat dienste heeltemal in duie stort. Helpende Hand doen jaarliks enorme werk. SolTech maak ’n reuse-impak. Sonder opoffering en dikwels teenkanting gebeur dit ook nie.

Die Griekse tragedie en die Suid-Afrikaanse ekonomie se gespartel bring een ding duidelik tuis – so iets soos ’n luilekker lewe waar ander die prys betaal, bestaan nie. Iewers draai die skroewe vas. Sonder iemand wat in die sweet van sy aanskyn sy brood verdien, kan die bakhand ook nie volhoubaar wees nie, en nog minder in ’n kleptokrasie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Voorwaar uitstekend gestel en dankie Herman.
Die verskil tussen die buiteruimse prestasies teenoor die aardse gaan bloot eenvoudig wat tussen die ore is en of dit polities gemotiveer is.
Daar is hierdie klem op politieke- en persoonlike inspirasies wat oorheersend op hierdie aardbol is en waar elkeen in ‘n magsposisie besig is met sy eie Nkandlatjie. Gepaardgaande met min tussen die ore is dit onmoontlik om uitvoering te gee aan die behoeftes van die mensdom teenoor daardie superbreins wat vêr verwyder van politiek aanvullend is met mekaar en ‘n sukses maak van die buiteruimse ekspedisies.
Daarom is die politieke verband in plaaslike bestuur en die inmenging van die regering ‘n doodsteek wat ons infrastruktuur deur te staan kom. Iemand het munisipaliteite as volg beskryf: “Dis daardie ouens wat dieselfde reageer as wanneer jy ‘n lyk ‘n dosis medisyne ingee en verwag dat die lyk gaan regop sit”.
My benadering was nog altyd om ‘n puntestelsel toe te ken aan ‘n kieser se stem. Byvoorbeeld: geen skoolopleiding = 1 punt; Matriek = 10 punte; Technicon = 15 punte; Universiteit = 20 punte ens. Dit kan meer afgerond word maar dit kom daarop neer dat jou stem gewig dra soos wat jy meer werd word vir jou land.
Maar moenie dit vertel vir iemand wat standerd 3 (net ‘n voorbeeld !!!) het want dan diskrimineer jy.

Hansie ·

Peet, ek moet saamstel met jou en Herman, die bakleiery oor ‘n pot pap, is ‘n ewigheid verwyder van die “groter prentjie”… Hoe oorbrug jy ooit die kloof? Die “stemgewig” gebaseer op substansie tussen die ore, is iets wat waaroor ek peins voor 1994 toe die skrif aan die muur was. Stemme KAN tog nie dieselde weeg nie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.