Nuuskommentaar: Moet die ANC vir Gordhan en Khosa skors? En die Seunse Weenkoor se Flip Buys-stertjie wat bykom …

Argieffoto

Die ink was skaars droog van ʼn rubriek van Johann Maarman, adjunkredakteur van Die Burger, en veral die kritiek daarop, of Gert van der Westhuizen, artikelskrywer van Netwerk24, steek die vinger in Flip Buys, Solidariteit en AfriForum se oog oor die kritiek wat die “lede” van die Seunse Weenkoor gereeld op die lyf loop.

Maar maak sommige joernaliste nie soms van die vitrioel wat op hul koppe omgekeer word nie? En die kritiek moet ook nie dat die eintlike saak wat die joernalis aan die bod wou stel, verlore gaan nie. Gaan die beoogde dissiplinêre optrede teen die ANC-LP, dr. Makhosi Khosa (en dalk teen Pravin Gordhan en andere) die proses om die kwessies van staatskaping en korrupsie te bereg, versnel? Daar kan immers aanvaar word dat Khosa en ander wat moontlik aangekla kan word, nie sonder ’n geveg sal ondergaan nie, terwyl die ANC met sy baie vuil wasgoed nie graag sy optredes onder onafhanklike regtelike hersiening sal wil laat neem nie. Maarman se siening hieroor het veroorsaak dat hy deeglik met die teerkwas bygedam is. Ook Van der Westhuizen het hom sommer gou erge kritiek op die hals laat haal.

Die vraag het stellig by baie mense opgekom oor hoekom die ANC nog nie dissiplinêr teen dr. Makhosi Khosa en Pravin Gordhan opgetree het nie. Tree hulle dan met hul openbare uitsprake nie so op dat dit die ANC en pres. Jacob Zuma in die skande steek nie? Die ANC in KwaZulu-Natal, Khosa en Gordhan se tuisprovinsie, het aangedui dat hy Khosa dissiplinêr gaan verhoor.

Die vraag is pas weer oopgeruk toe die adjunkredakteur van Die Burger, Johann Maarman, in ’n rubriek ook aangedui het dat die ANC dit eintlik al moes gedoen het. Die opskrif, “Die ANC moet optree teen Gordhan en Khosa”, wek by verstek die indruk dat hy op die oog af kant kies vir die ANC. Hy loop erg onder leserskommentare deur.

Die uwe het die rubriek twee keer deurgelees om seker te maak dis nie ’n ironiese (oftewel tong-in-die-kies-) skrywe nie. Van die ander lesers wat kommentare gelewer het, het ook aangedui hulle het dit twee keer gelees om te probeer vasstel of Maarman ernstig was of erg tussen die lyne geskryf het. Die inhoud staan immers in skrille kontras met sy vorige, en wel puik, pennevrug.

’n Mens kan ’n lang, ingewikkelde regsuitleg gee oor hoekom die ANC erg sal aarsel voor dissiplinêre stappe geneem sal word. Daar was byvoorbeeld die Tshishonga-saak wat in die arbeidsappèlhof gaan draai het, en waar die hof beslis het dat Mike Tshishonga, die adjunk-direkteur-generaal van justisie, nie ’n ander keuse gehad het as om korrupsie in die departement deur ’n nuuskonferensie bekend te maak nie, omdat die amptelike kanale eenvoudig nie gewerk het nie. Dit het die kop van die minister, Penuell Maduna, laat rol.

Maar ’n eenvoudige antwoord werp dalk die meeste lig. Sou Khosa (en dalk later Gordhan) skuldig bevind word, en hulle verwys dit vir hersiening na die hof, gaan die prentjie heel anders lyk as die aangeklaagdes stapels bewyse bring dat die korrupsie en staatskaping waarteen hulle beswaar maak, met ’n oorwig van waarskynlikheid waar is. Dit beteken die ANC tree nie net strydig met sy eie grondwet op nie, maar verbreek landswette. Khosa maak dit immers deurgaans duidelik dat dit nie sy is wat die ANC se grondwet en landswette skend nie, maar Zuma en die ANC.

’n Hofbevinding in Khosa en Gordhan se guns sal enorme implikasies vir die ANC inhou, en die party se beeld sal oral, behalwe onder die mees lojale fanatici, aan skerwe wees.

Intussen het Outa strafregtelike klagtes teen ’n tweede minister, dié keer min. Mosebenzi Zwane, gelê. Die klagtes sluit hoogverraad in. Voorheen is min. Faith Muthambi ook by die polisie verkla. ’n Mens kan aanvaar dat Outa se bewyse ten minste taamlik sterk moet wees.

Maarman sou reg wees as hy sou redeneer die besluit al dan nie om teen Khosa en Gordhan op te tree kan nie op ’n gewildheidsgrondslag geneem word nie. Suiwer regsbeginsels en die feite wat beskikbaar is, is wat tel, en dis nie so eenvoudig soos wat Maarman dit uitgespel het nie.

Om hulle dissiplinêr aan te kla kan egter die proses om die ANC hard te straf vir sy verknogtheid aan Zuma dramaties versnel.

En ons sien uit daarna om weer gehalterubrieke van Maarman te kan lees.

Wat Maarman, as adjunkredakteur, skryf, maak saak. ’n Nuwe Rasmussen-peiling in die VSA het aan die lig gebring dat 55% van die kiesers meen dat dit wat in die media staan, meer vir die gemiddelde kongreslid saak maak as wat dit saak maak wat die gemiddelde kieser dink. Net 30% van die kiesers meen die gemiddelde kongreslid is hoofsaaklik ingestel om om te gee oor wat die kiesers dink.

So beskou, sou die afleiding gemaak kan word dat Netwerk24, of ten minste Die Burger, meen die ontevredenes in die ANC moet dissiplinêr vasgevat word. Die kiesers is bewus daarvan dat die verwydering van Khosa en ander die kanse verminder dat die getal van 50 ANC-LP’s vir ’n mosie van wantroue teen Zuma stem.

Ingeligte lesers sal egter weet dat dit nié Die Burger of Netwerk24 se mening verteenwoordig nie. Onder onlangse hoofartikels laat ’n paar geen twyfel oor waar die mediagroep se sentimente lê nie, waaronder, “Óns moet die staatskapers keer – die ANC kan nie” (lees hier) en “Onder Zuma sal afdreig-kultuur bly voortbestaan” (lees hier). Die groep het ook ’n omstrede kwessie geopper, naamlik of Zuma amnestie (en vermoedelik ’n stywe bedrag geld) moet kry om vroegtydig die pad te vat. Die hoofartikel, “Stadig met plan vir amnestie; SA verby dié punt”, dui ook daarop dat minstens hierdie mediasegment in pas is met die denke van ’n oorgrote deel van die kiesers, soos reeds vroeër geblyk het.

Dit alles verklaar nog nie hoekom Maarman skielik ’n rubriek sou skryf waarin hy so erg skei teen die juk is nie. Wat wel duidelik is, is dat hy hom byna alleen op ’n eilandjie bevind wat vinnig deur die see verswelg word.

Maarman se jongste pennevrug het die lig kort voor ’n artikel van Gert van der Westhuizen, artikelskrywer van Netwerk24, gesien. Die verband is dat Van der Westhuizen dit het oor die intimiderende aard van die kritiek wat joernaliste soms moet verduur (en sonder dat Van der Westhuizen daarna verwys), en wat Maarman nou ruim ervaar.

Van der Westhuizen het dit nou oor die kritiek wat joernaliste te beurt val wat dit sou waag om Solidariteit en AfriForum kritiseer. Hy kry veral vir Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging aan die kraag beet, en beween die kritiek waaronder die lede van die Seunse Weenkoor deurloop.

Die gedagteverskille tussen die Solidariteit Beweging se entiteite (dus Maroela Media ook) en Van der Westhuizen is nie nuut nie, en staan byvoorbeeld ook gewortel in Van der Westhuizen se steun vir kwotas. Hy het in sy skrywes laat blyk dat diegene wat kwotas teenstaan, gekant is teen die insluiting van niewit spelers in sportspanne. Dis natuurlik ver verwyder van die waarheid – dit handel oor ’n merietegedrewe ontwikkelingsplan op laer vlakke om spelers van kleur te ontwikkel om op grond van meriete in spanne ingesluit te word.

Van der Westhuizen wek nou byna die indruk dat hy, soos Max du Preez, ’n fiksasie het met Solidariteit en AfriForum. Enigeen wat dié twee instellings kritiseer, word dan “lede” van die Seunse Weenkoor, en kritiek reën uit die geledere van die twee organisasies op die Seunse Weenkoor neer.

’n Paar sake moet egter reggestel word, waaronder die feit dat die kritiek op die ATKV se Afrikaans Plus-program deur veel meer as net Solidariteit en AfriForum gedeel word. Dit lyk ook of ’n groot deel van die ongelukkigheid onnodig was en voortgespruit het uit die wyse waarop die program aanvanklik voorgehou is.

’n Tweede aspek is dat ’n joernalis nie net vir opname in die Seunse Weenkoor “kwalifiseer” weens sy of haar kritiek op Solidariteit en AfriForum nie. ’n Kommentaarskrywer op Van der Westhuizen se pennevrug bewoord dit soos volg: “Gert, daar is wel ʼn groepie joernaliste wat ʼn anti-Afrikaanse agenda het. Dit weet ons lankal, inteendeel van hulle is selfs trots daarop. Hulle lewensmissie. Maar nou het iemand ʼn slim gepaste naam vir hulle uitgedink en nou, um …….. ween hulle. Nogal amusant, want hulle is mos lief om neerhalende terme te gebruik om konserwatiewe Afrikaners te beskryf wat nie met hulle agendas saamstem nie. Aai!” (Baie mense sal voel die kritiek vanuit daardie geledere is nie net teen konserwatiewe Afrikaners gemik nie, maar teen almal wat nie ’n liberale agenda omarm nie, wat mense in die middelgrond insluit.)

Dit neem egter nie die feit weg dat joernaliste soms, en soms dikwels, erg geïntimideer word nie, veral deur die uitstort van vitrioel. En dit gaan nie net oor kritiek op die politieke of ideologiese sy van wat joernaliste aanbied nie, maar ook joernaliste wat in kerksake spesialiseer, wat wetenskapartikels aanbied, of selfs net na klimaatverandering as gegewe verwys, wéét van die kritiek, wat dikwels georkestreer is.

’n Joernalis wat sterk eie politieke en ideologiese sienings koester en na sy skryfwerk laat deursuurdeeg, moet egter ook weet hy gee hom vir ’n toffie uit. Hy gaan gekou word.

Flip Buys kry nou die geleentheid om op Gert se artikel te reageer.

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

MCH ·

Ek wou nie, maar gaan tog my suiwer in die armbeurs gooi. In besonder oor die opmerking dat die joernaliste wat oor kerksake en die wetenskap berig, erg deurloop onder galgebraak, soms georkestreer. Kerksake sal altyd kontroversieël wees vanweë die dogmaverskille. Hier is n swetterjoel denominasies wat die Christendom aanhang. Skrifgetrouheid wissel wissel volgens menslike interpretasie. Byvoorbeeld, sommiges hou nagmaal in die dag terwyl die naam duidelik op die teendeel dui. Aanvaar dus felle kritiek indien berriggewing nog verder gekleur word deur joernaliste se verwysingsraamwerk. Deur die geskiedenis heen het mense hul lewe verloor oor kerksake, dus, sluk maar die vitrioel in die dosis uitgedeel. Die wetenskap is n ander kwessie en verskille sentreer hoofsaaklik, of die kwessie aangespreek, wetenskap is. Die hele punt van wetenskap is dat enigeen wat dieselfde eksperimente onder dieselfde omstandighede uitvoer, moet dieselfde resultaat behaal. Die fout dink ek na my beskeie mening wat joernaliste maak, is dus om die evolusieleer, kosmologie, ou aarde teorie ens. as wetenskap voor te hou. Prof. Charles Bennett, professor van fisika en astronomie aan die John Hopkins universiteit en ook verbonde aan NASA het die volgende gesê aan die redaksie van die tydskrif Science, nadat hul beweer het dat Einstein korrek bewys is deur n meting van gravitasie. ” Science doesn’t prove theories, scientific measurements can only disprove theories or be consistent with them. Any theory that is consistent with measurements could be disproved by a future measurement.” Maak dus seker wat is wetenskap en wat is teorie.

jacques theron ·

Ek besit n industrieele wassery en het water by elsenburg laat toets en is geskik vir grasperke ens en ek glo dit kan vir vele doeleindes deur munisipaliteite gebruik word bv parke grondpad benatting soos by joostenbergvlakte wat hul tanke by “dump area” vul asook brandweer en so kan voortgaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.