Nuuskommentaar: ’n Leeu, vermoorde polisielede en plaasmoorde

Grafika: Maroela Media

Grafika: Maroela Media

Die lot van Cecil die leeu het pas op talle sosiale netwerke alle vorige rekords van deelname verpletter. Is daar nie iets skeefgetrek dat die hartseer lot van ’n leeu by mense swaarder weeg as die lot van slagoffers van plaasmoorde nie?

Skeefgetrek, ja beslis, en soos gebruiklik kry die media ook minstens deel van die skuld.

Die internasionale ophef oor Cecil die leeu wat in Zimbabwe uit ’n wildpark gelok is, en daarbuite deur ’n Amerikaanse beroepsjagter met ’n boog doodgeskiet is, maak steeds opslae in die internasionale media. Die sosiale media word behoorlik oorstroom …

Terselfdertyd is daar in Suid-Afrika ’n vlaag moorde op polisielede, en ampsweë – ook van die kant van pres. Jacob Zuma – word kommer hieroor uitgespreek. Dit kry egter nie naastenby die wêreldwye bykans histeriese nuusdekking en aandag van die sosiale media wat Cecil se lot te beurt geval het nie.

En intussen gaan plaasaanvalle, met plaasmoorde, onverbiddelik voort. ’n Groot deel van die media het glad nie eens verwys na hoe naasbestaandes wat ’n petisie tydens ’n goedgekeurde optog by die SAPD se hoofkantoor in Pretoria gaan indien het, deur die polisie rondgestamp is nie.

Pro rata word meer boere en hul gesinslede in Suid-Afrika tydens plaasaanvalle vermoor as wat polisielede vermoor word. Dit, op sigself, is ’n skreiende skande, veral teen die agtergrond van die regering se halsstarrige weiering om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te verklaar. Die ondersoeke na polisiemoorde is in ’n japtrap geprioritiseer.

Die lot van diere is al lank iets wat die mensdom kan aangryp. In 1928 het Huberta die seekoei haar blyplek in die St. Luciameer verlaat, en ’n epiese tog van 1 600 kilometer na Oos-Londen aangepak. Sy is deur skares gevolg, en die media het behoorlik oor haar tog berig. In 1932 is sy, al was sy tot kroonwild verklaar, deur jagters doodgeskiet. Hulle is ná openbare druk tot 25 pond elk gevonnis. Sowat 20 000 mense het haar opgestopte karkas ingewag toe dit uit Londen teruggekeer het.

’n Mens kan maar net dink hoe ’n groot ophef daar sou wees as die sosiale media destyds reeds bestaan het, en die konsepte van bewaring reeds so goed gevestig was as nou.

Die gevaar van die ophef oor Cecil is dat dit die baba met die badwater kan uitslinger. ’n Goed georganiseerde wildsboerdery is noodsaaklik vir die voortbestaan van heelwat spesies. Nie alleen sorg boere dat skaars spesies weer vermeerder nie, maar genetiese materiaal word uitgeruil om te sorg dat inteling beperk word. Getalle word streng gereguleer, en baie werksgeleenthede word geskep in gebiede wat andersins dikwels te marginaal is om ’n relatiewe veilige akker- en veeboerdery te verseker.

Talle mense maak daarop aanspraak dat die jaarlikse kommersiële oes van renosterhoring (sonder om die renosters dood te maak) die grootste kans bied vir hierdie spesies om te oorleef.

Nou slaan Zimbabwe met verskerpte maatreëls toe, en 5 000 werksgeleenthede kan in die buurland in die slag bly, en die land kan $45 miljoen aan inkomste vanjaar verloor.

Soos in enige beroep is daar ook in die jagbedryf vrot appels. Dit is hierdie vrot appels wat die internasionale media kort-kort soos ’n hamerhou moker, en sensasie tot gevolg het.

Soms is daar ook positiewe gevolge. Die afgelope aantal jare het verskeie lugdienste begin weier om jagtrofees te vervoer. Hieronder tel Air France, KLM, Iberia, IAG Cargo, Singapore Airlines en Qantas. Die Amerikaanse maatskappy, Delta, wat talle vlugte tussen die VSA en Afrika aanbied, het egter vasgeskop. Ná die Cecil-voorval het die druk in die sosiale media op Delta so groot geword en is ’n petisie aanlyn geplaas, wat Delta genoop het om die handdoek in te werp.

Niks gaan Cecil die leeu na die lewe terugbring nie. Wat wel kan gebeur, is dat daar oor die wêreld heen ’n groter bewuswording ontwikkel oor hoe belangrik volhoubare (en menslike) benutting is om sekere spesies se toekoms te verseker. Tog moet ’n mens jou ook die vraag afvra hoe dit moontlik is dat die lot van een leeu die wreedste plaasmoorde denkbaar so totaal op die sosiale media kan afstof. Het ons afgestomp geraak? Is dit ’n soort ontsnappingsmeganisme uit die harde werklikheid?

Die kleine Willemientjie Potgieter wie se ideaal dit was om by die Kleuterkrans ’n lofkleuter te word, maar wreed saam met haar ouers vermoor is, het die land aangegryp, maar volgens die syfers van die sosiale media lank nie soveel as wat Cecil die leeu die land, en die hele wêreld, aangegryp het nie. Iewers is iets skeefgetrek.

Of die media (alleen) die skuld hiervoor moet kry, is nie maklik om te antwoord nie. ’n Onlangse peiling in die VSA dui daarop dat die meeste Amerikaners steeds glo die media is eerstens op sensasie, en dan eers op nuuswaarde ingestel. Soms is dit waar, maar so ’n algemene oordeel is waarskynlik te kras.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Winston ·

Herman. Weereens puik gestel in n dimensionele raakvatting van die feite. Ek was ook jare gelede betrokke by die ondersoek van “Cecil” jagters. Dit is die vrot appels wat die wyn suur maak en ondrinkbaar vir almal. Plaasmoorde moes lank reeds prioritiseer gewees het. Dit is egter n ras baseerde besluit en moet deur die regering gedoen word, waarna n deel van hulle kiesers korps weer daarmee heen is. Ons het te lank reeds gewoond geraak aan wanorde. Dit het al aanvaarbaar geword vir die grootste deel van die bevolking. Betreurenswaardig

Leeutjie ·

Ironies dat ek al ‘n rukkie met die gedagte rondloop dat die dood van ‘n dier meer negatiewe reaksie ontlok as die van ‘n mens… Met die dood van babas wat in asblikke, op ashope, in strate opgetel word kry geensins soveel aftrek by die mens nie. ‘n Rukkie gelede met ‘n optelhondjie langs die pad het dit my weer opgeval. ‘n Dier is ‘n wonderlike ding en dit is totaal betreurenswaardig as verwaarlosing of dood aan die orde van die dag is. Plaasmoorde, verkragtings, kinderverwaarlosing is, soos reeds genoem so algemeen dat die mens nie meer die gevalle so intens ervaar (of reageer) as wat ‘n dier soos Cecil ontlok het nie. Ek glo elkeen van ons ervaar die lam gevoel van magteloosheid van elke artikel met die wetteloosheid in die tyd wat ons leef dat ons stom raak stom van verbystering.

Paul ·

Leeutjie,
Ek het tydens die eerste berig oor die leeu op 28 Julie kommentaar gelewer dat dit ook baie wreed is om ons boere op die plas en blanke in die stede te vermoor en dat dit nie nuuswaardig is nie. Ene EMK het toe beweer ons hoor alles van die moorde in detail in die media tot vervelens toe en dit is nie die onderwerp nie. As ons Afrikaanse lesers van die bietjie berigte in die media oor die plaasmoorde al so afgestomp geraak het, dan moet ons nie verwag dat die buitelanders veel simpatie sal toon en omgee nie want hulle weet nie en kry dit nog minder te lees..

Maryna ·

Baie goeie berig die! Dit is ‘n tragedie dat ons al so “gewoond” geraak het aan die absolute wetteloosheid, dat ‘n dier se dood belangriker is as al die moorde.

Rupert Ashford ·

Herman, die media is aanspreeklik, maar dan ook met ‘n paar voorwaardes. 1.) Dit is deesdae so maklik met die opbloei van die tegnologie (internet en sosiale media) vir elke Jan Rap en sy maat om ‘n “joernalis” te wees. 2.) Joernalistiek skole is deurlopend deur die met ‘n linkse uitkyk geinfiltreer en oorgeneem, soveel so dat omtrent elke produk wat daar uitstap (behalwe die paar wat vir hulleself dink en die wat common sense het) van ‘n linkse oortuiging is. Dit het alles begin na WOII, deur die seksuele revolusie van die 60’s, die opbloei en “afsterwe” van die kommunisme, die daaropvolgende opbloei van die sosialisme (occupy movement ens.), en die huidige “seksuele” revolusie gedryf deur die GLTB groepe. Op ‘n stadium was dit “snaaks” maar die samelewing het nooit gedink die spul sal so ‘n buite verhouding groot invloed he soos dit tans het waar die media op enkele uitsonderings na die goed propageer en goedpraat nie. Die animal rights, climate change en “greens” groepe is die volgende stap waar die goed belangriker word as menselewens in die desperate soeke na “die oplossing” want die spul het net “nou” om voor te leef. Uit ‘n Christelike oogpunt is ons nou in Romeine 1 waar die Here die mens oorgee aan sy boosheid om himself te vernietig. Ek steur my nie aan enige van hierdie diereregte groepe nie, want hulle is by uitstek ook die wat “pro choice” en ander onsmaaklikhede verkondig. Maar dit gaan erger word voor dit sal beter raak…

christine ·

Kommentare is in afr miskien moet ons eng probeer. Die mense oorsee kan nie afr lees nie. Berig in albei tale.

Francois ·

Strange how much publicity this stupid damn lion gets, compared to all the Farm Murders taking place in South Africa!

pop ·

Ek glo nie enigiets verhoed mense om plaasmoorde met fotos en al op sosiale media te sit nie. En dan gaan dit net so wereldwyd opslae maak. Maar ons het te veel respek vir die oorledene om dit te doen, en daar is die verskil. Die leeu is gewond en sterwend ten toon gestel. En dit skok enigeen.

Francois ·

Oh….and Farm Murders don’t shock anyone? Photos have been placed on Facebook of what the Framers look like after they have been shot/murdered…but NO, that is ok!

Leeutjie ·

Ek stem saam met jou Francois. Dit is tragies as ‘n dier sterf maar meer tragies as ‘n mens verniel en doodgemaak word!!

Nico ·

Ek wil nie eers sover gaan om die skiet van die leeu met mense lewens te vergelyk nie. Daar word jaarliks duisende bokke gejag. Wat maak die leeu nou erger. En ek praat nie van die miljoene diere wat geslag word nie. Daar is nie ‘n skaarste aan leeus nie, en daar is net soveel wildtuine wat leeus kan aanhou. Ek stem saam die feit (as dit waar is ) dat hy uit ‘n wildtuin gelok is en toe geskiet is, beslis ‘n kriminele oortreding is. Maar so erg soos die mense aangaan is dit nie.

Etienne ·

Herman, om een euwel teenoor ‘n ander te stel in ‘n dualisme is myns insiens nie reg nie. ek kyk nou maar na Nico se stelling “daar is nie ‘n skaarste aan leeus nie” – daar is minder as 20 000 wilde leeus in Afrika oor. Vershhon die …No point in creating a dualism between two very serious criminal activities. Poaching and violent farm attacks are both committed by criminals. Both are fueled by greed. Both reflect a total lack of respect for the sanctity of life. Poaching often fund terrorist organizations that kill people. Farm attacks should be taken very seriously by everyone, we should all be activists in this regard. This does not mean, however, that one can ignore the effects of the destruction of the environment and wildlife on which we ultimately depend. The huge public response on social media about Cecil the lion reflects a collective compassion which is a good sign. It is indeed tragic that atrocities committed against farmers does not always attract the same collective compassion.

Katy ·

Ek dink ons is nie n bedreigde spesie nie. Ons skep nie werk, ons werk. Ons kry nie die ondersteuning van die regering want dit is mos persentasie gewys wat klagtes betref. Eerder n toilet en huise bou, as volk bou. Red nou n nasie met so n volk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.