Nuuskommentaar: ’n Rasseramp genaamd Zuma

President Jacob Zuma Foto: GCIS

President Jacob Zuma Foto: GCIS

Dr. Piet Croukamp ontleed die afgelope Sondag se debat in Rapport en City Press tussen Tim du Plessis en Mondli Makanya verder in Beeld en sluit af met die opmerking: “Ek is oortuig wit mense sal veg om die reg van ’n swart meerderheidsregering, maar dalk moet swart Suid-Afrikaners ons almal nou eers help om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, want geen kompromie sal daai man oorleef nie.”

Pas, in ’n verwante uitspraak aan dit wat Croucamp onder die loep geneem het, het Zuma weer sy voet daarin gesit. Nadat hy in ’n paar toesprake klem op bekwaamheid en produktiwiteit gelê het om dienslewering in die land op dreef te kry – tot so ’n mate dat hy by Julius Malema deurgeloop het oor “anti-swart-uitlatings”, pas hy weer sy boodskap vir ’n gehoor aan. In sy toespraak voor ’n beraad vir swart sakelui het hy die volgende kwytgeraak: “Ons hoef nie skaam oor transformasie te wees nie. Dit is nie rassisme nie. Inteendeel, dit wis rassisme uit ons ekonomie. Dit is waarom ons vandag hier is om te bespreek hoe ons die kwessie vorentoe kan neem deur meer geleenthede vir swart sakelui te skep.”

Transformasie nie rassisme nie?

Met reeds 67 rasgebaseerde wette en wetlike maatreëls wat sedert 1994 deur die ANC op die wetboek geplaas is (volgens sommige bronne is dit reeds meer as 100), en die jongste dat die titelaktes van vaste eiendom die eienaars se ras moet aandui, is dit moeilik om te sluk. Dis minstens ’n groot rasbeheptheid.

Wat anders as rassediskriminasie is dit as verskillende keuringskriteria vir wit en swart vir sekere studierigtings geld? Wat anders as diskriminasie is dit as ’n persoon se ras bepaal of hy/sy ’n beurs of selfs ‘n studielening gaan kry? Wat anders as diskriminasie is dit as die persoon se ras bepaal of hy/sy vir ’n pos in aanmerking gaan kom of nie?

Wat anders is dit as diskriminasie as iemand se grondwetlik erkende moedertaal as struikelblok uitgewys word en daarom “ter wille van” vir Engels moet terugstaan – terwyl daar eintlik nog net een hoofsaaklik Afrikaanstalige kampus in die land oor is?

En wanneer Afrikaanssprekendes uit eie bronne ’n nierassige privaat Afrikaanse universiteit begin, die minister dreig om dit te sluit omdat die Afrikaans-medium “uitsluitend” sou wees?

Zuma se stelling sou ’n klein bietjie water hou as die toepassing van rassediskriminasie die enigste manier sou wees om die sleureffek van ongelykhede van die verlede reg te stel.

Maar dit is nie. Regstellende optrede is ontwerp om minderheidsgroepe te help om die byna noodwendige sleureffek daarvan om ’n minderheid te wees, veral in die ekonomie, teen te werk. Dit geskied egter ook op die staatkundige terrein, soos gewaarborgde setels vir die oorspronklike inheemse minderhede in die nasionale parlemente van Indië en Nieu-Seeland.

Maar laat ons dadelik sê: Wat ons het, kan miskien as “affirmative action” beskryf word, maar beslis nie as regstellende optrede nie. Dit is twee verskillende begrippe, en word deur kenners van die staatsreg erken.

Die regering wys graag daarop dat daar wél nog ’n voorbeeld was waar regstellende optrede toegepas is om die meerderheid te bevoordeel, naamlik in Maleisië. Wat nagelaat word om te vermeld, is dat daardie voorbeeld juis so ontwerp was dat die minderheid (meestal etniese Chinese) nie in die proses benadeel word nie, maar dat hulle juis ekonomies kragtig bly sodat die ekonomie in geheel kan groei en werkgeleenthede skep.

Boonop was daar ’n duidelike sonsondergangklousule. En selfs dit alles was nie genoeg om te keer dat die heterogene Singapoer afgeskei en ’n uiters suksesvolle stadstaat geword het nie.

In Suid-Afrika word net meer en meer rasdiskriminerende wette ingestel wat mense se lewe van die wieg tot die graf volgens hul ras rig, met nog geen sprake van ’n sonsondergangklousule nie.

Die ekonomie, wanneer dit groei, groei nie genoeg om die werkloses, die natuurlike aanwas en die toevloei van (onwettige) immigrante te huisves nie. In bykans elke Afrikanergemeenskap is daar gesinne waar die broodwinner oorsee is om sy gesin te kan versorg – en dikwels in gevaarlike omstandighede. Baie het al geëmigreer. In die proses word die ekonomie van sy enjinkamer vir groei gestroop, en diegene wat soggens die strate belyn en wind en weer trotseer op soek na ’n “piece job” net al meer. En diegene wat die “piece job” kan verskaf, al minder.

Sake word bemoeilik deurdat veral Zuma, maar ook van sy voorgangers, die voorliefde gehad het om kommuniste in ekonomiese portefeuljes in die kabinet aan te stel. Die geloof van die gans wat die goue eiers lê en geslag moet word, duur voort. So vinnig soos ekonomiese regrukprogramme op die tafel beland, soos die nasionale ontwikkelingsplan, stel ministers wetgewing voor wat daardie einste doelwitte tot niet maak.

Om nie van die bontpratery te praat nie – met ’n boodskap vir elke gehoor wat hulle graag wil hoor. ’n Tegniek wat in die ou stamverband dalk kon gewerk het, maar net moeilikheid maak in ’n omgewing waar die media die boodskap ook na gehore uitdra vir wie dit nie bedoel was nie.

Maar laat daar geen twyfel wees nie – die sleureffek van rassediskriminasie kan nie deur rassediskriminasie ongedaan gemaak word nie.

Rassisme hou nie op om rassisme te wees omdat dit iets wil regstel of ’n goeie doel in die oog het nie. Vra maar die argitekte van apartheid, wat die beste bedoelings gehad het, wat die wêreld van daardie goeie bedoelings gedink het.

Of dit so eenvoudig is, soos Croukamp dit in ’n effe ander konteks voorstel, om bloot van Zuma ontslae te raak, is nie so seker nie. Zuma het baie steun – en daar is selfs radikaler denke, soos die bestaan van Azapo, die EFF en ander van getuig. Maar dit is ook so dat dit onwaarskynlik is dat die weerlig twee keer op dieselfde plek gaan slaan en Suid-Afrika weer ’n president soos Zuma sal kry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

zahn ·

Baie goeie leesstof, maar die laaste sin weerspreek die hele berig. In die anc is orgenoeg onnosel mense om oor te vat by die huidige nommer een, en wat net so ‘n groot gemors daarvan kan maak. Dis nie weerlig wat twee keer op dieselfde plek sal slaan nie, dis twee verskillende brommers wat op dieselfde mishopie gaan sit en teer. Meer akkurate beskrywing.

Tokkie ·

Herman – hou in gedagte dat dit die Engelse was wat apartheid ingestel het. Dr Verwoerd het aparte ontwikkeling as doel gehad en dit is duidelik twee uiteenlopende doelwitte.

Ghia ·

Dr Verwoerd was ‘n Hollander. Hoe hy in elk geval eerste minister geword het – nie eens in SA gebore nie.
‘n Land is so suksesvol as wat die mense van die land is en geleerde mense kan aangaan en dink en dinge laat gebeur.
Dit is ongelooflik dat die voorheen tenagekomdes na 21 jaar nog steeds die voorheer tenagekomdes is en al die geleenthede kry om werk, studeer, top posisies te kan kies en ‘n gemors daarvan maak sodat ‘n voorheen tenagekomde aangestel is om die gemors reg te maak – die wiel hou aan draai en alles gaan agteruit.en Zuma dra die baadjie wat by elke mislukking pas!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.