Nuuskommentaar: Numsa en ons eie Berlynse muur

Groot vreugde op 9 November 1989 toe mense die Berlynse muur kon oorsteek Foto: EPA/STR Dostawca: PAP/EPA.

Groot vreugde op 9 November 1989 toe mense die Berlynse muur kon oorsteek Foto: EPA/STR
Dostawca: PAP/EPA.

Hierdie Sondag, 9 November, word groot fees in Duitsland gevier wanneer die 25ste herdenking van die val van die Berlynse muur herdenk word. Duisende verligte ballonne gaan onder meer die lug ingestuur word.

Vir die Duitsers was dit die aanloop tot Duitse hereniging wat in 1990 ’n werklikheid geword het. Vir die res van die wêreld was dit ’n belangrike deel van die ystergordyn wat getuimel het.

Die einde van die Koue Oorlog is ingelui – of het dit?

Kommunisme het wêreldwyd skouspelagtig soos ’n kaartehuis inmekaar gestort. Ja, daar is belangrike uitsonderings soos China, Noord-Korea en Kuba, maar in elkeen van daardie gevalle is die lande nou meer bekend vir ’n traagheid om demokrasie te omhels, eerder as ekonomiese beleid. En hoe dieper die spore van die kommunisme nog deur die ekonomieë van Noord-Korea en Kuba vloei, hoe meer broekskeur gaan dit met daardie lande. Selfs Suid-Afrika, wat self baie Nenestrop trek, het al miljoene rande aan Kuba geskenk.

Kom dit by Suid-Afrika, is dit inderdaad ’n geval soos van die vlieënier van ’n passasierstraler uit die buiteland wat in Johannesburg gaan land wat vir die passasiers sê: “Ons gaan binnekort op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg land. Draai u horlosies dertig jaar terug.”

In Suid-Afrika is kommuniste ver oorverteenwoordig in die kabinet, veral in ekonomiese en finansiële portefeuljes. Dit is nou diegene wat formeel lid is van die SAKP. Vir dr. Blade Nzimande weeg ideologiese transformasie swaarder as die grondwet, en dr. Rob Davis en Tina Joemat-Pettersson word nie onder die knapste ministers in die wêreld gereken nie. Maar die lysie is aansienlik langer. Die SAKP word as een van die min reste van die Leninisme beskou.

Maar die lys van ingeskrewe SAKP-lede vertel nie die volle verhaal nie. Pres. Jacob Zuma, nie meer ’n SAKP-lid nie, is op die oomblik die vise-president van Sosialisme Internasionaal. Die ANC se alliansievennoot, Cosatu, vaar graag onder die rooi vlag.

Maar selfs dit vertel nie die volledige verhaal nie. Numsa, Cosatu se grootste vakbond, en ’n aantal kleinere vakbonde, is haaks met Cosatu en die, soos dit deur Numsa se Irvin Jim beskryf word, neo-liberale rigting waarin die ANC Cosatu sou dryf.

Die ANC neo-liberaal?

Dit is wel so dat liberalisme in Suid-Afrika nie meer is wat dit was nie. Persone en partye wat aanspraak maak daarop dat hulle liberaal is, dra byna almal nou elemente wat die suiwerheid van liberalisme in die gedrang bring, sodat stemme reeds opgegaan het dat liberalisme van vreemde elemente soos politieke korrektheid, ras-paternalisme, ongelyke bevoordeling (of benadeling), sterk etniese gerigtheid en ander goggas wat daarvan ʼn “contraband-liberalisme maak, gesuiwer moet word.

Maar die ANC neo-liberaal? Hoekom boer Suid-Afrika dan so agteruit op die persvryheidsindeks? Hoekom is daar sulke desperate pogings om die nuusvloei deur kader-ontplooiing (met of sonder regte grade) te manipuleer?

Om die ANC (wat die Leninistiese SAKP) en sosialistiese Cosatu insluit, van neo-liberalisme te beskuldig lig die sluier oor presies hoe ver links Jim en sy trawante is.

En dis nie al nie. Ook die EFF, ten spyte van die luukse waarmee veral sommige van die leiers hulself graag mee omgeef, is formeel nog links van die SAKP. En die EFF het gewys dat hy ’n stewige aanslag op die stembus kan loods.

Moontlik sal ons later vandag weet of Cosatu en Numsa se paaie gaan skei. Numsa en sy vennote se hofaansoek om die uitvoerende komitee van Cosatu se vergadering vandag te keer waar Numsa in alle waarskynlikheid uitgeskop gaan word, het gister in die hooggeregshof misluk. Numsa wou ’n spesiale kongres volgens sy interpretasie van Cosatu se grondwet afdwing, wat hom die geleentheid sou bied om ʼn aanslag op die beheer van Cosatu te bied. Numsa het geen geheim gemaak van sy planne nie, soos die stigting van ’n nuwe, linkse werkersparty. As Numsa en sy vennote vandag die trekpas kry, sal die wiele vir ’n nuwe, taamlike groot party links van die ANC gou beslag kry.

Iets wat in Cosatu begin het as grootliks ʼn veldtog om te verseker dat Zuma-lojaliste die sleutelposte moet beklee (en terselfdertyd tot ’n suiwering van Numsa van Zuma-lojaliste gelei het), en ook sterk etniese eienskappe het, kan nou ’n beduidende hap uit die ANC neem.

Die naweek wanneer die wêreld die val van die Berlynse muur gedenk, gaan Suid-Afrika volgens aanduidings in alle waarskynlikheid sy eie Berlynse muur begin bou. Na 25 jaar, en met die inpomp van sowat 2 biljoen (Amerikaanse triljoen) euro’s teen ’n tempo van tussen €100 en €140 miljard per jaar, is die lewenstandaard en gemiddelde inkomste van die voormalige Oos-Duitsland steeds aansienlik laer as in die ou Wes-Duitsland.

Dit het ook geblyk na jare van kommunistiese versmoring, die inwoners tot ’n groot mate geestelik van die entoesiasme vir vlytigheid gestroop is, heel anders as die ou Pruisiese ingesteldheid om te presteer.

In Europa, waar sosialisme as ’n sinoniem vir “omgee vir die armes” beskou word, krimp die sosialiste se aandeel in regerings. In België is ’n federale koalisieregering pas gevorm wat vir die eerste keer in baie jare geen sosialistiese party insluit nie. En ja, daar is onluste.

In die naburige Frankryk is die groeikoers nou byna nul. Die sosialistiese pres. François Hollande se werkskeppingsbeleid word in ’n peiling deur ’n ongelooflike 97% van die kiesers verwerp. Dit is ook reeds bekend wat die Amerikaanse kiesers nou van pres. Barack Obama dink, en hierin speel ’n aantal sosialistiese maatreëls geen geringe rol nie.

Sosialisme is allermins dood in Europa, maar dit “floreer” eintlik net in daardie dele waar iemand anders die prys daarvoor moet betaal. In België oorheers die sosialiste die politiek van die Franssprekende Wallonië, maar dit moet elke jaar met miljoene euro’s uit Vlaandere gesubsidieer word, waar sosialisme byna geen faktor is nie.

In Duitsland het daar ’n groep ontstaan wat hulle vir die afskeiding van Beiere van Duitsland beywer. Een van die hoofoorwegings is dat die welgestelde Beiere ander deelstate moet subsidieer – en daardie gesubsidieerde deelstate voorsien dan byvoorbeeld gratis etes aan skoliere daarmee, iets wat Beiere self nie doen nie.

Hierdie naweek beplan Katalonië ’n informele referendum oor onafhanklikheid van Spanje, nadat die Spaanse regering deur regsaksie ’n formele referendum minstens voorlopig gekelder het. Die Spaanse regering wil ook die informele referendum keer. Katalonië word as die ekonomiese enjinkamer van Spanje beskou, en siëstas maak nou nie juis so deel van die Katalane se kultuur uit soos in Spanje nie.

Dit klink nie of die Jims en Malemas weet dat Suid-Afrika se Vlaandere, Beiere en Katalonië leeggemelk is nie. Pas is Suid-Afrika se kredietgradering tot vlak bo die vlak van “gemors” (junk) afgegradeer.

As die voorgestelde nuwe party daartoe sou bydra om Suid-Afrika se eenparty-oorheersing te knak, kan dit in bepaalde scenario’s vir die land van groot waarde wees. Maar so lank dit ’n faktor gaan wees wat hoofsaaklik net nog stakings met onrealistiese eise, gewelddadige optogte en sosialistiese retoriek oplewer, is dit allermins wat die ekonomie nodig het.

En dan word die rol van burgerlike instellings soos AfriForum, en vakbonde uit die geledere van die Christelike vakbondwese soos Solidariteit, net nog belangriker.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Drieks ·

Ek stem, ons moet saam iewers ‘n stem hé vir almal.
Afriforum en Solidariteit is die antwoord.
Ons kan nie een, een die land aan vat nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.