Nuuskommentaar: Nuwe gevegsreëls vir Afrikaans?

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Teen die agtergrond van ʼn veranderende omgewing vind moontlik die laaste loopgraafstryd van Afrikaans by universiteite nou plaas met nuwe spelreëls wat die uitkoms van die stryd sterk kan beïnvloed.

Soos domino’s wat val, is die een vastrapplek van Afrikaans ná die ander nou in die spervuur. Die jongste is die taalvoorstelle van Kovsies se geheime taalkomitee, soos berig deur Volksblad, en besonder skerp bespreek  deur Charles Smith. Dit volg op die bekendmaking van ʼn nuwe taalplan vir die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en die rektor van die US se rug-styfmakery ná hy vir alle praktiese doeleindes deur die bestuurskomitee van die universiteitsraad vasgevat is.

In al drie gevalle moet die universiteitsrade nog die planne goed- of afkeur.

In al drie gevalle stel heethoofde vir verengelsing hul visiere op standbeelde om te demonstreer dat dit lank nie (net) om pragmatisme handel soos voorgegee word nie, maar dat ook (diaboliese) politieke motiewe die saak onderlê.

Is daar nou nuwe spelreëls?

Ja, en nee. Wat die “nee” betref: die terminologie wat nou rondgeslinger word soos Hanskakies, verraaiers, joiners, kolonialiste, imperialiste en ander, kan net so uit enige boek oor die Anglo-Boere-oorlog gevind word. By die lees van sommige van hierdie boeke, kry ʼn mens soms die indruk dat daar teen die einde van die oorlog omtrent net soveel Boere was wat met die Engelse gesimpatiseer het, as wat vir hul vryheid geveg het. Soos die ou tante wat ná die oorlog geïrriteerd aangehou het om vir die kinders te sê hulle moet Engels praat “want dis ghrind om Ingels te praat.” En baie van die bittereinders was Kaapse rebelle wat as verraaiers tereggestel kon word. En net soos destyds, span die “joiners” die soet woorde mildelik in om hul beskouings en optredes te regverdig.

Wat die “ja” vir nuwe spelreëls betref: in ʼn interessante artikel oor Donald Trump se veldtog om Republikeinse presidentskandidaat te word, skryf Charles Hurt oor hoe Trump die “derde spoor” inspan en die kiesers se “veilige ruimte” binnedring. Trump het die stryd betree met die media wat hom en sy los bek as niks meer as ʼn politieke nar beskou het nie. Een publikasie het ook vroeg verklaar dat enige nuus oor Trump se veldtog in sy vermaaksegment te vinde sal wees. Maar Trump se kandidatuur staan steeds sterk.

Kortom, Trump ken sy sterkste wapen (hy self), hy weet hoe om homself te bemark en hy weet wat krap Amerikaanse kiesers onder die oppervlak. Hy spreek dit openlik aan, sonder inagneming van tradisionele taboes en politieke korrektheid. Dikwels klink hy laf, soos om die sowat 200 0000 Siriese vlugtelinge wat na die VSA onderweg is, as potensiële djihadiste te beskryf terwyl hy mildelik teer op sentimente en vrese ná die aanslae in Parys. Ander kandidate wat hou by die tradisionele opweeg van moontlike teenreaksie word, op die oomblik altans, in die koue gelaat en een na die ander onttrek van die nominasiestryd.

Hoekom kry diegene wat die een nuwe pro-Engelse taalplan na die ander omarm nou so ongewoon baie teenspoed en ook vanuit oorde wat hul saak voorheen so goedgesind was?

Die redes is legio en baie daarvan sal eers later behoorlik uitgepluis en verstaan wees.

Maar dinge verander en daarom kan die volgende besprekingspunte in gedagte gehou word:

  • Van die liberale argumente wat voorheen as modern en insigdraend beskou kon word, het verouder soos eergister se moedersmelk in die yskas. Dieselfde snare word getokkel, terwyl nie net openbare menings in die land aangepas het nie, maar ook in groot dele van die wêreld. Van die voorste liberale rubriekskrywers het blykbaar reddeloos gestagneer geraak, maar word steeds mildelik en tot hul eie nadeel aan lesers opgedis. (Liberale word hier ter wille van ruimte kollektief gebruik vir begrippe soos linksgesindes, Cape Libs, draadsitters, paternaliste, ens).
  • Hoewel dit nog voorkom, is die reaksie op liberale argumente nie meer so dikwels kenmerkend platvloers en persoonlik beledigend nie. Die liberale argumente word nou gewoonlik met goed-beredeneerde en empiries-gestaafde argumente beantwoord en dikwels getroef. Prof Hermann Giliomee en Breyten Breytenbach se teenkanting teen die Matie-plan kan immers nie so maklik as “regse praatjies” afgemaak word nie. Natuurlik is daar ʼn warmbroeiery en bondeldapperheid in portuurkringe soos akademici, politieke groepe en studente met soortgelyke agtergronde. Meer as 200 personeellede van die US het byvoorbeeld ʼn dokument onderteken om steun aan die rektor se taalplan toe te sê. Maar die debatte is nie meer tussen die “perfektes” en die “plebs” nie.
  • Dit vloei minstens deels voort uit die geleenthede om menings te lug wat buite die ou “hoofstroom” gebied word – soos die internet en gemeenskapsradiostasies. Met minder frustrasies oor die onderdrukking van menings in meningskolomme, verdwyn van die geniepsigheid en platvloersheid skynbaar. Die gedrukte media is onder druk en vermoedelik meer gevoelig vir “redakteurs wat oorlog teen hul lesers verklaar.” Wie sou byvoorbeeld enkele maande  gelede ʼn hoofartikel in Beeld verwag soos onlangs, Potch durf nie dieselfde pad loop as Stellenbosch?
  • Die pro-Engelse groep het ook te make met die las van assosiasie. Die vandalisme en wetteloosheid wat ten regte of ten onregte met hul standpunte geassosieer word (veral as rubriekskrywers uit hul geledere aanhou na “geregverdigde eise” te verwys) besoedel noodwendig hul saak by die breë publiek.
  • Onlangs was rubriekskrywers wat daarop wys dat die beskerming van minderheidsregte grondwetlik is en minstens sekere transformasiepraktyke ongrondwetlik is, stemme roepende in die woestyn. Skielik het die koor so hard geword dat die media en rubriekskrywers, politieke partye en ander belangegroepe, nou tydig en ontydig bepalings in die grondwet aanhaal om dit te toon. Argumente soos eens gehoor dat die “regses” grondwetlike bepalings misbruik om die liberale pilare daarvan om te trek, is nou as lawwigheid ontbloot.
  • Die opkoms van die Solidariteit Beweging het inderdaad ʼn “derde spoor” gelaat wat nie so maklik as “regs”, “verkramp” of iets soortgelyk afgemaak kan word nie. Nie dat die pogings gestaak is nie, maar op die oomblik demonstreer die DKD-saak juis die kwessie, met die liberale wat nie weet hoe om die “netelige” kwessie aan te spreek en eenvoudig standpunt vir natuurlike geregtigheid in te neem nie.

Die stryd woed nou in wat as mense se kulturele veilige ruimte beskryf word en dikwels ook in die algemene veilige ruimte. Dit begin die tekens van laaste loopgrawe toon en dan word rug styf gemaak namate al meer mense weens hul velkleur nie keuring kry om byvoorbeeld vlieëniers te word nie, nie beurse en studielenings kry nie en poste moet verbeur omdat voorkeur aan kwotas gegee moet word.

Die slag is nog lank nie beslis nie, maar die liberale loop die gevaar om hier ge-Trump te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Loeis

http://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/maties-akademici-steun-voorstel-oor-engels-20151118 berig vandag hoe 226 “top-akademici en senior personeellede van die Universiteit Stellenbosch” hul steun aan Wim se plan gee. Dit klink asof die plan op groot skaal em deur geleerde mense gesteun word, maar…

Vragie, wat ek ongelukkig nie op daai artikel daar kan vra nie. 226 uit hoeveel akademici is dit? Persentasiegewys? Kan Afriforum Jeug op die kampus dalk handtekeninge VIR Afrikaans vanaf akademici kry? Dit sal interessant wees om te sien hoe die werklike mening daar uitsien.

Therese van Schalkwyk

Die dawerende stilte uit wit en bruin Afrikaanssprekende studente geledere is betreurenswaardig. Hulself nog nooit verwerdig om stem dik te maak nie, en is beslis ook nie nou in die “laaste loopgraaf” te vind nie. Selfs al was dit nie eksamentyd nie sou daar oneindig verskonings wees dat “betogings nie in ons aard is nie”. Soos sogenaamde “top-akademici” by Maties voel die meerderheid studente ook klaarblyklik minder as niks vir Afrikaans as akademiese taal. Lees gerus James de Villiers, SR-lid van Maties, se jammerlike mening op Netwerk24. Die val van Afrikaans sou nog meer tragies wees as die skrif nie… Lees meer »

Berhalet Beukes

Foei tog… Om so ‘n helse relaas oor Afrikaans te maak… Wat van Engels? Wat van Duits, Portugees en al die ander tale wat mense in SA praat? Om ons taal uit te skakel is darem maar ‘n patetiese poging om nes ‘n hond sy merk te laat… en tóg gaan nie Xhosa, Zulu, Tswana, Sotho of enige ander Afrika taal die sprekers daarvan enigsins verder bring as net die ou bossies waaruit hulle kruip en na terug kruip nadat hulle geplunder het nie! Die hele wêreld lag want niemand anders gaan aanpas by die Afrika tale nie…

Trots Afrikaans

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.

anna

Ek stem saam Therese, daar is ‘n dawerende stilte. Dan weer is ons Afrikaanssprekendes nie gewoond om klippe te gooi, af te brand , alles te vernietig en “demands x 1000” te maak nie. Die Akademici wat so graag wil he dat alles na Engels toe moet verander is baie kortsigtig. Die borge gaan onttrek en oor ‘n paar jaar sit hulle sonder geld en sonder werk. Dan gaan die univesiteite soos staatsskole lyk. Akademia gaan dan al die borge kry en goeie voortbestaan voer. Die volgende wat hulle ook gaan verengels is die skole. Meer Afrikaanse privaatskole gaan dan… Lees meer »