Nuuskommentaar: Om met “self” konflik te verminder

Oekraïne se vlag.

Oekraïne se vlag.

In wat waarskynlik die eerste beduidende stap is om die Oekraïnse vraagstuk op te los, het die parlement pas ʼn voorstel van president Petro Porosjenko goedgekeur waarvolgens die ooste van die land ʼn “spesiale status” sal kry. Dit is een van die elemente van die verdrag van Minsk (Wit-Rusland) wat gesluit is om ʼn skietstilstand tussen die regeringsmagte en Russies-gesteunde rebelle te bewerkstellig.

Bitter baie water sal nog onderdeur die brug moet loop alvorens hier ʼn neerslag in die praktyk gaan volg. Die rebelle, wat nou hul eie “republieke” bedryf, moet byvoorbeeld ook instem en Oekraïne se grondwetlike hof sal die grondwetwysiging hiervoor moet goedkeur.

Oekraïne is, soos Suid-Afrika ʼn unitêre staat. Die enigste deel wat voorheen ʼn mate van “spesiale status” geniet het, die Krim, is deur Rusland geannekseer.

Tussenin gaan die afloop van die ondersoek na die neerskiet van die Maleisiese passasierstraler, MH 17, ook ʼn stok in die byenes wees. ʼn Voorlopige verslag wat die internasionale ondersoekspan aan verskeie rolspelers gestuur het, het uitgelek en daaruit blyk dit dat die pro-Russiese rebelle die blaam kry. Dit impliseer dat Rusland ʼn BUK-wapenstelsel moes ontplooi en weer oor die grens terug na Rusland moes smokkel.

Rusland reageer uiteraard skerp nadat die land berge versit het om die bewyse te probeer neutraliseer en die blaam op Oekraïne te plaas. Rusland het ook reeds formeel aangekondig dat dit sy vetostem in die VN-Veiligheidsraad gaan gebruik om te voorkom dat ʼn spesiale tribunaal die verdagtes verhoor.

Rusland se ontkennings is egter ʼn ernstige knou toegedien toe Newscorp ʼn film in Australië uitgesaai het wat deur die rebelle verfilm is kort ná die voorval. Die beeldmateriaal toon duidelik hoe rebelle die toneel betree en geskok is om nie ʼn Oekraïense militêre Sukhoi te vind nie, maar ʼn passasiersvliegtuig. Die beeldmateriaal is aan die internasionale ondersoekspan verskaf.

Die moontlike ontspanning in Oekraïne speel hom ook af teen die agtergrond van die effektiewe hervatting van die Koue Oorlog nadat Rusland die Krim afgeneem het. Uitsprake van die Russiese president, Wladimir Poetin, oor min of meer die herstel van die Sowjet-Unie help ook nie juis nie en boesem vrees in by voormalige Sowjet-state wat nou deel van Navo en die Europese Unie is. Veral Estland in bekommerd.

En terwyl die spanning oplaai, is daar gereelde voorvalle waar Russiese duikbote in die gebiedswater van Swede en ander Skandinawiese lande gesien word en waar Russiese bomwerpers en vegvliegtuie op onder meer Brittanje afpyl en gedwing moet word om om te draai. Niemand meen hulle probeer om Navo-lande vir aanvalle te bereik nie, maar beskou dit eerder as ʼn daad van minagting vir die Weste.

Is die planne van ʼn spesiale status vir die ooste van Oekraïne dus té min, té laat? En gaan Rusland sulke gebiede dan nie maar, soos die Krim, in elk geval annekseer nie?

Maar is daar raakvlakke met Suid-Afrika? Dis nou behalwe die feit dat daar in sekere Afrikanergeledere openlike steun vir Poetin is – tot so ʼn mate dat dit na ʼn omvattende georkestreerde Russies-gesteunde sensitiseringsaksie lyk. Hierdie bly egter ʼn onderwerp van sy eie.

Wat nou op die tafel is, is hoe minderhede staatkundig geakkommodeer word. In die meeste Wes-Europese lande kry minderhede ʼn vorm van selfregering, soos die Baske, die Kataloniërs, die Sardiniërs, Skotte, Wallis en Cornwallis. Planne om Friesland as provinsie weens administratiewe koste by ander in te lyf, het groot reperkussies in Nederlandse politiek gehad. Trouens, die Europese Unie se grondwet stel hierdie soort selfbeskikkingsreg as voorwaarde en dit word gebruik om Turkye se strewe vir lidmaatskap op die ys te hou – al het Turkye al redelike vordering gemaak.

Die regering van Oekraïne is ook haastiger as die Europese Unie dat die land deel van die EU word en selfs van Navo. Om spesiale status aan die ooste toe te ken, maak Oekraïne dan immers meer grondwetlik in pas met Wes-Europa en die internasionale reg.

In Suid-Afrika het verskeie analiste Suid-Afrika as ʼn grondwetlike eenheidstaat en basta beskryf en is ergerlik oor gemeenskappe wat “self” iets wil doen. Hulle ignoreer die bestaan van artikel 235 van die grondwet en die ANC by monde van sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het selfbeskikking vir die Afrikaner by voorbaat as “nooit” afgemaak. Uit sy eie woorde blyk dit egter dat hy die Afrikaner en blank as sinonieme beskou.

Dit sal interessant wees hoe sake nou verder in Oekraïne vorder. Daar was voorheen planne en ondersoeke na groter desentralisasie, maar die Oekraïne, na jare se Russiese dominansie, se koppe het in ʼn ander rigting gewerk – ʼn geleentheid waar onafhanklikheid en eenheid vir ʼn slag met ʼn eie grondgebied ʼn werklikheid geword het.

Soos in Suid-Afrika lyk die werklikheid egter anders as wat deur idealiste gekoester word. Maar die vind van ʼn oplossing vir Oekraïne se probleme lê nie net in die land se eie hande nie. Daar is te veel skaakstukke van ander ook in die land teenwoordig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jacques ·

Gaan kyk bietjie hoeveel lande het Rusland selferkening gegee wat weg gebreek het van hulle,en nou in vrede lewe met daai gebiede waar hulle hulle eie besluite kan neem.
Al rede hoekom die Krim afgebreek het is omdat 92% van die mense russe is daar is dit dan so moeilik om dit te verstaan.Daai vriegtuig is ook afgeskiet deur Ukrania omdat die vliegtuig dieselfde lyk as Putin se prifaat fliegtuig wat die selfde roete gevlieg het as hulle daai dag.
Rusland is ook die enigste land wat aid gee en vlugtelinge probeer help in gebiede wat die USA bom.Hulle verskaf ook net defence misiele aan lande wat die USA bom nie aanval wapens nie.Julle kyk te veel CNN propaganda gemors.

Herman Toerien ·

Jacques, soos gemeld is dit waaroor jy diskoers voer ‘n debat op sy eie. Ek het terloops nie toegang tot CNN nie. Ek weet nie waar jy ‘n enkele van jou “feite” kry nie. Die Krim se bevolking is nie 92% Russe nie, maar 65,3 %, die Oekraïniërs is 15,1 % en die Krim Tartare (die inheemse bevolking) 12 %. Behalwe vir Russiese bronne (wat bekend is vir hul propaganda) het ek nog geen bron gesien wat die blaam vir die neerskiet van die MH 17 op Oekraïne plaas nie. Die internasionale taakspan wat dit ondersoek is kudiges van verskeie lande, onder Nederland se leiding (wat die meeste passasiers verloor het). NewsCorp se film sluit die klankbaan in, en mense wat Russies kan volg kan die gesprekke volg.
My werk is om met feite te werk, en dis wat ek doen. Ek het werklik nie die tyd om nog enige land se propaganda, hetsy regstreeks of via “stringers” ook as feite kom probeer opdis nie.

jacques ·

Ou maat gaan kyk weer na jou bronne 92% van die mense daar wou nie deel wees van Ukranie nie,dit se vir my hulle voel dan hulle is deel van die Russise befolking.Die vliegtuig afskiet is my eie gevolgtrekking.Jou internasionale span wat die ondersoek doen is deel van NATO,en wie dink jy sal hulle die skuld voor gee.Daar is sulke slim deskundiges in die USA, dat 30min na fliegtuig afgeskiet is hulle klaar geweet het wie en waarmee die vliegtuig afgeskiet is.Klink vir my ongelooflik dat daar sulke slim mense kan wees in die wereld.

Stokies ·

Stem honderd persent met jou saam Jacques, die mense het demokraties gestem om terug na Rusland te gaan. Ongelukkig pas dit net die weste as dit iets inhou vir hulle. Die res van die berig is maar net dieselfde as al die ander westerse media, uit die duim gesuig, sonder enige feitlike bewyse. Russia 4 Ever.

Grassie ·

Ek glo nie ons kan veel lesse uit Okraïne se omstandighede leer nie want daar vorm die mense wat onafhanklikheid eis die meerderheid in die gebied waar hulle woon. Hier by ons is dit anders – behalwe by Orania en Kleinfontein, wat net stippels op die landkaart is, sal jy baie lank moet soek na ‘n enkele vierkante meter waar daar ‘n meerderheid witmense woon. Ek glo, op hierdie stadium van ons volksgeskiedenis, is die enigste werkbare opsie dat ons wittes ons geskille laat vaar en ‘n gesamentlike volks-magsblok vorm om ons voortbestaan as volk te beskerm. Sommige mense noem dit ‘n “virtuele”
volkstaat maar ek sukkel nog ‘n bietjie met die word “virtueel”. Wat in die toekoms in ons land gaan gebeur sal miskien later ander opsies bied. Op die oomblik veg ons volk om voortbestaan en wat ek hierbo noem kan as krisisbestuur bestempel word, maar ek beskou dit as die beste uitweg onder huidige omstandighede. Tyd sal leer.
Sulke optrede sal beslis kwaai teenstand van die liberales soos die Bassons, Croukamps en Van Niekerks ontlok.

Grassie ·

Ek bedoel vierkante kilometer, nie vierkante meter nie. Jammer.

Ant ·

As ons oor “self” wil praat, moet ons probeer bepaal hoeveel van “ons” mense hulle as deel van die “self” sien. Dit is ‘n feit dat ons +/- 5 miljoen mense se belasting, hetsy deur besighede of persoonlik die ander 45+ miljoen onderhou. As ons dus more besluit om almal na dieselfde gebied te beweeg sal ons oor die vermoe beskik om ‘n nuwe “Self” gebied te skep. My mening is dat die van ons volk wat swaar genoeg kry, hierdie oplossing sal oorweeg, maar die groter gedeelte van Afrikaners of dan wit-mense het nog nie swaar genoeg gekry nie en ignoreer nog die logiese gevolg van die nuwe SA. Hieroor kan ons skryf en skryf, maar ongelukkig verander dit nie veel aan ons omstadighede nie. Ons kan ook na die een na die ander voorbeelde kyk waar selfbeskikking ontwikkel is, maar ons mense het nog nie daardie punte bereik waar ons na onsself gaan kyk teen enige koste nie. My vraag is wat moet nog gebeur voor ons die lig sien? Jammer as ek bietjie frustreerd oorkom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.