Nuuskommentaar: Om oor rôjiltie te dooi

William en Kate saam met prins George. Foto: Clarence House

Politieke Wetenskaplikes is redelik uitgeboul oor hoekom daar so ‘n euforie, nie net in Brittanje en Suid-Afrika nie, oor die geboorte van die Britse kroonprins was nie, maar ook in die VSA. Die republikeinse onafhanklikheid van die VSA word immers as die Britse weergawe van die Franse rewolusie beskou.  Dit het gisteraand ook baie duidelik uit RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, geblyk.

‘n Briefskryfster aan ‘n koerant wat probeer verduidelik het hoekom sy, soos baie ander, oor die koninklike geboorte op loop gesit het, skryf dat daar soveel slegte dinge in die werklike lewe (in Suid-Afrika) aan die gang is dat die wel en weë van die (Britse) koningshuis ‘n soort ontsnapping bied.

Byna presies dieselfde woorde is deur ‘n republikeinse Vlaming uitgespreek oor die onlangse kroning van die huidige Belgiese koning: “Koninklikes behoort net op een plek en dis in sprokies.”

Miskien kan die beheptheid met koninklikes politiek-sosiologies verklaar word, maar dit is moeiliker om te verklaar hoekom Afrikaners juis die doen en late van die Britse koningshuis volg, en nie eerder, bv. die Nederlandse koningshuis nie wat immers Afrikaans sal kan verstaan, en waarmee daar volkekundige bande bestaan. Min of meer dieselfde geld die Amerikaanse beheptheid met die koningin en haar kroos – die VSA was ook twee keer in bloedige oorloë met die Britte betrokke.

Maar … selfs in die Afrikaanse media is kwalik iets oor die Nederlandse en Belgiese koningshuis te lese. Weinig meer as van die Sweedse en Noorweegse koningshuise, terwyl die Japannese keiser en sy gesin omtrent nooit die nuus haal nie.

Suid-Afrika het self ‘n hele klompie koninklikes. Trouens, Suid-Afrika het elfs ‘n Raad van Tradisionele leiers, en dié raad word taamlike prominensie gegee sodat daar selfs wetgewing in die wetgewende proses beland wat, sou dit aanvaar word, die regte van landelike vroue erg verongeluk. Meesal haal hulle die nuus weens nuwe skandes. Die DA loop steeds in sekere media deur omdat dié party lidmaatskap aan die daggarokende en ook andersins erg omstrede koning van die Temboes toegestaan het.

Maar kan die beheptheid met die koningin en kroos werklik in hoofsaak as ‘n soort ontsnapping tot die wêreld van feetjies verklaar word? In baie gevalle word die grondslag immers bitter vroeg gelê met kinderverhale waar die beeldskone meisie (nie altyd noodwendig ‘n prinses nie) deur die prins op sy wit perd gered word en na ‘n lang gelukkige huwelik weggevoer word.  Hoewel ‘n groot deel hiervan deur die Grimm-broers te boek gestel is, word dit ook in ander vorme voortgesit. ‘n Groot deel van die Afrikaanse bevolking het immers as kinders blootstelling aan Liewe Heksie en Koning Rosekrans gehad. Onlangs het die Shrek-reeks op die tema voortgebou.

Wat politieke wetenskaplikes wel daagliks ervaar, moontlik selfs meer as die gewone Jan Publiek waarvan baie hul bes doen om nie aan die daaglikse nuusvloei blootgestel te wees nie, is dat daar genoeg minder mooi nuus in die wêreld is. Die onlangse aardbewing – nie eens watwonders sterk nie – in China wat verskeie lewens geëis het. Weerskante, suid van Suid-Afrika, was die afgelope week aansienlik sterker aardbewings wat skaars ‘n wenkbrou laat lig het. Daar was ‘n reuse treinongeluk in Spanje. Die VN spreek gereeld kommer uit oor die bevolkingsaanwas in veral sekere dele van die wêreld waar watertekorte dreig. Zimbabwe hou binnekort verkiesing, en dis nie net kommer oor die talle tekens van ongerymdhede wat pla nie, maar ook die Afrika-Unie n die Suid-Afrikaanse regering se volstruispolitiek oor die onregte wat pla.

In Suid-Afrika kook dit op die terrein van arbeid en dienslewering, werkloosheid en armoede is nie juis opbeurend nie, neo-apartheid slaan die Kodesa-ooreenkoms en grondwetlike beginsels vir ‘n ses sodat selfs oud-minister Pik Botha, en bekende ANC-kieser, dit in die openbaar uitwys. Nkandlagate en die wapenskandaal prut nog, terwyl die SAUK-TV die wille waks uit mense irriteer deur pres. Jacob Zuma so presidensieel as moontlik te laat vertoon en klink. Dis nog sowat nege maande voor die algemeen verkiesing in Suid-Afrika en byna elke staatsgeleentheid, soos die oorhandiging van ‘n paar HOP-huise en bekendstelling van die nuwe Noord-Kaapse universiteit word ‘n ANC-verkiesingsvergadering – op die koste van die belastingbetalers.

Tensy dié “strategie” gestuit word, is dit benouend om te dink hoeveel ‘n mens al oor ses maande moes opgevreet het, en is dit byna onmoontlik om te sien dat die politieke speelveld in Suid-Afrika enigsins meer gelyk sal kan wees as dié van Zimbabwe (waarmee die SA-regering in elk geval geen fout sien nie).

Dan lyk die wêreld van die kleintydse sprokies, toe die kind veilig teen die wêreld gekoester is, na ‘n gawe plek om te ontsnap.

Is dit dan enige wonder dat Suid-Afrikaners hul toevlug op so ‘n groot skaal tot sepies neem, sodat die owerheid dit gereeld nodig vind om belangrike owerheidsprojekte soos sensusse en belastingseisoene in sepies soos 7de Laan se storielyn in te bou?  Dié stories word so “werklik” dat kykers selfs in briewe aan koerante hul misnoeë oor aspekte, soos moraliteit, in die sepies uitspreek. 7de Laan het bv in al die jare nog nie ‘n enkele geboorte binne die eg kon oplewer nie.

En hoewel koningshuise gereeld deur skandes en skandale getref word, bly rôjiltie nog ‘n aantreklike ontsnapping uit die ongenaakbare werklikheid.

Die beheptheid met die Britse, eerder as die Nederlandse kroon hou moontlik meer verband met die geskiedenis van Suid-Afrika. Met die aankoms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika was die Here 17 van die VOC in werklikheid ‘n regering binne die regering, en die Nederlandse onafhanklikheid van Spanje nog taamlik nuut. Met die kortstondige tweede Nederlandse bewind aan die Kaap was Nederland ‘n republiek.

Afrikaners se “betrokkenheid” by die Nederlandse koningshuis het eintlik eers in die tyd van die Broererepublieke gekom, en toe dié republieke die Nederlandse en ander Europese hulp die nodigste gehad het, was daar byna niks.

Maar die Afrikaners baklei onderling oor so baie dinge, hulle kan net sowel onderlings oor die Britse koningshuis ook baklei, of so lyk dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae