Nuuskommentaar: Om te “ras” of nie te “ras” nie

regstellende aksie“Ras! Ras! Alles Ras! Ras wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke, word ons nie-rassigheid vermoor.
Ag, hoe word ons nasie verskeur, daartoe werk ons politici saam.
Nie-rassigheid nog in seek’re partye: is bedrog, ‘n blote naam!
Wie hom nie laat klassifiseer, word geskolde en gesmaad.
Van die parlement tot Limpopo, oweral dieselfde kwaad.
‘Dis transformasie’, roep die skreeuwers, ‘dis regstelling wat nou kom!
Die wat dit nie wil gelowe, die is ouderwets en dom…’.”

Met groot apologie aan CP Hoogenhout en sy gedig, Engels! Engels! Alles Engels wat ‘n eeu gelede geskryf is.

Die verskynsel dat alles na ras herlei word, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. ‘n Onlangse Rasmussen-peiling in die VSA toon dat 24% van die Amerikaanse kiesers glo dat die laagtepunt in vertroue in pres. Barack Obama se vermoë as president wat nou deur verskeie peilings bevestig is, aan vooroordeel oor sy ras te wyte is. Dat byna dubbel soveel glo dat dit niks met ras uit te waaie het nie, oortuig diegene wat meen dat ras die bepalende faktor is, glad nie. Dit word veral duidelik as die samestelling van die menings na die respondente se ras teruggevoer word.

Die ironie is dat die vertroue in Obama deur ‘n hele aantal faktore toegeskryf kan word wat min, of niks met ras te make het nie. Die implementering van Obamacare gaan met soveel pyne gepaard dat dié gesondheidsplan ook in peilings ernstige teenspoed kry. Die voorlopige kern-ooreenkoms wat met Iran gesluit is, word in die VSA met groot wantroue bejeën, en tot ‘n groot mate voor die deur van Obama gelê.

Die afgelope paar dae het twee sake die raskwessie in Suid-Afrika weer op die voorgrond geplaas.

UNPO-konferensie

Die eerste was die konferensie van die Unrepresented Nations and Peoples Organisastion (UNPO) wat deur die Vryheidsfront Plus in Kaapstad aangebied is. Die UNPO beywer hom vir minderheidsregte van groepe oor die wêreld – soms groepe waarvan bitter baie min mense nog ooit gehoor het. Die internasionale norm om groepe te identifiseer word gebruik wanneer dit handel oor selfstandigheidsregte, soos taal en kultuur, en ras kom gewoonlik net ter sprake wanneer daar teen mense juis op grond van hul ras gediskrimineer word, soos in Mauritanië waar die praktyk van slawerny steeds taamlik openlik voortduur – met veral ligter Mauritaniërs van die noorde wat donkerder Mauritaniërs van die suide as slawe aanhou.

Die konferensie is toegespreek deur verteenwoordigers van onder meer die Bruin Belangebeweging (BBB), die Koisan en selfs die Rehobots uit Namibië.

Hoewel die toespraak van Pieter Vorster, leier van die Afrikanerbond, skerp daarop afgestem was om die rasbeheptheid van die regering te striem, en as in stryd met die beste internasionale praktyke aan die kaak te stel, is die konferensie deur byvoorbeeld dr. Piet Croucamp afgemaak as “dat ras vir almal van hulle belangrik is.”

Dit is wel so dat van die sprekers die raskwessie op die tafel geplaas het, en ander ‘n eierdans hieroor uitgevoer het. Vir die meeste wat ras as belangrik op die tafel geplaas het, is dit egter reaksiepolitiek weens die regering se verskerpte rassegedrewenheid wat die burger se lewe van die wieg tot graf bepaal.

Die DA-kongres

Die tweede geleentheid was die DA se kongres.

Presies hoe diep die raskwessie in die Suid-Afrikaanse politiek verweef is, blyk uit die onlangse aanvaarding van ‘n verskerpte wet om ras bepalend in die werkplek te maak. Al die partye in die Nasionale Vergadering, met die uitsondering van die Vryheidsfront Plus na, het daarteen gestem. Die DA het na ‘n “vliegramp”-analise sy steun daaraan onttrek, maar ook besef dat die party in sy strewe na swart stemme, in die proses blootgestel is.

Berigte het selfs gelui dat die DA se swart koukus soms byeenkom en besluite neem. Die bestaan van die swart koukus is nou deur die DA ontken.

Dit was egter reeds voor die kongres duidelik dat ras steeds ‘n baie belangrike kwessie sal wees. Die leier, Helen Zille, het onder meer haar party se verbintenis tot SEB bevestig.

Na aanvanklike berigte dat die DA sou wegbeweeg van ras as norm na ‘n meer inklusiewe norm waar mense wat weens, wat bekend staan as oorgeërfde armoede, bemagtig sou word, het die fokus uiteindelik tog op ras geval, weliswaar met die vooruitsig van ‘n sonsondergangsklousule, en sekere voorbehoude. Ten slotte het Zille tydens die nuuskonferensie aan die einde verklaar dat mense wat nie hiermee gelukkig is nie, ‘n groot verskeidenheid ander partye het vir wie hulle kan stem.

Gelyk en ongelyk tegelyk

Partye wat hul fokus op swart stemme het, het te make daarmee dat peilings toon dat die meeste swart mense nie rasbegunstige maatreëls as neo-apartheid ervaar nie, en swart meningsvormers is taamlik eendragtig in hul oortuiging dat rasgebaseerde maatreëls, eerder as ‘n meer individu-gerigte norm, die kriterium vir bemagtiging en sosio-ekonomiese inhaal moet wees. Dat dit die lot van agtergeblewe segmente van minderhede in die proses verseël word, word misgekyk. Die bitter ironie is dat minderhede se vermoë om ten spyte van die wetlike beletselings uit te presteer, juis as kriterium gebruik word om die skroewe nog stywer vas te draai, wat die lot van sosio-ekonomiese segmente binne die agtergeblewe gemeenskappe net verder benadeel. Hoe kan ‘n briljante kind uit so ‘n segment uitstyg as beurse en selfs lenings hom nie beskore is nie? En as instansies soos Solidariteit en AfriForum die reddingsboei uitgooi, word dit, heel pikant, as rassisme en “regs” afgemaak.

Diegene wat hulle daarvoor beywer om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar, word verkwalik dat hulle die saak politiseer, en so weerstandigheid by die regering wek om dit die aandag te gee wat dit verdien. Maar wat was eerste? Die hoender of die eier? Is dit nie juis die regering wat kommando’s afgeskaf en lank ‘n veiligheidsvakuum gelaat het nie. Wie het nou eintlik politiek hiervan gemaak?

Wat ras betref, is dit duidelik dat Suid-Afrikaners nog ‘n geruime tyd gelyk en ongelyk tegelyk gaan wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Dankie vir die plaas van Pieter Vorster se toespraak. Dit is ‘n goeie toespraak en ek is bly die Afrikanerbond begin die lig sien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.