Nuuskommentaar: Om te stem of nie te stem nie

Verkiesing 2016 Foto: Reint Dykema

Verkiesing 2016 Foto: Reint Dykema

“This is (certainly, undoubtedly, unequivocally) the most important election of my lifetime.”

Hierdie frase en variasies daarop word al baie jare deur waarnemers en partywoordvoerders met verkiesings in die VSA ingespan, en veral met die Demokratiese Party se konvensie het sprekers tou gestaan om dit te uiter.

Wat wel moontlik meer waar is, is dat dit die vreemdste Amerikaanse presidentsverkiesing is wat voorlê. Die twee grootste partye se kandidate se kanse word eerder bepaal deur die ongewildheid van hul opponent as die kandidate se eie gewildheid. Trouens, die situasie blaas skynbaar lewe in die poging om die VSA van sy de facto tweepartystelsel in ’n veelpartydemokrasie te omskep, met die Libertynse kandidaat, Gay Johnson (wie het al van hom gehoor?) wat volgens peilings op ’n dubbelsyfer-vertoning afstuur. Dis te min om in ’n presidensiële resies veel te vermag, maar sou dié soort syfer na die Kongres “oorgeplant” kan word, kan die Libertyne kort voor lank die magsbalans in die Senaat en Kongres kan hou.

Maar terug na die frase. Die rubriekskrywer van die Business Insider, John Barrow, pas dit soos volg aan: ““This is the most important election of my lifetime, and also the strangest, because one candidate clears basic bars of sanity and competence and the other does not.”

Barrow het sy mes hier veral in teen die Republikeine se kandidaat, Donald Trump. Maar hy kon na wat ’n wye mening in die VSA verteenwoordig, net sowel na die omstrede Hillary Clinton verwys het.

Die Afro-Amerikaanse akademikus en rubriekskrywer, Thomas Sowell, (wat nie die “gewone Afro-Amerikaanse sentimente verteenwoordig nie), beskryf dit so: “No one knows how this election will turn out but — given the awful presidential candidates in both parties — the worst case scenario may be only marginally worse than the best case scenario.”

Maar stem gaan die Yanks stem.

Die frase het ook na Suid-Afrika oorgewaai en verskeie rubriekskrywers het dit al ingespan, en selfs breedvoerig gemotiveer. Die variasie is dat dit die belangrikste verkiesing sedert 1994 is.

Of dit so is, is moeilik om te bepaal, maar dit skep minstens verwagtinge dat die eerste beduidende kieserskeuses ’n duik kan slaan in die de facto eenparty-outokrasie van die ANC (wat gelukkig deur die grondwet en die howe getemper is, en veral pres. Jacob Zuma by verskeie geleenthede langlippie gehad het).

’n Verskynsel wat deurgaans in leserskommentare onderaan berigte en rubrieke voorkom, is mense wat ’n saak probeer uitmaak oor hoekom hulle nié gaan stem nie. Sedert 1994 het die land ’n taamlike sterk tradisie waar baie mense om beginselredes nie gaan stem het nie, onder meer omdat geglo is dat deur te stem word legitimiteit aan die nuwe bedeling gegee. ’n Oppervlakkige evaluasie van die hoofstroom besware nou skep egter eerder die indruk van pragmatiese oorwegings.

Trouens, die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys, skryf onder meer die verkiesing kan wel vry maar nie regverdig wees nie. Hy gee tien redes oor hoekom die ANC in die verkiesing bevoordeel word, en sluit wat argumente betref, aan by die beswaarmakers wat meen die verkiesing smoor minderheidsregte. Juis daarom is Solidariteit se omvattende selfhelpprogram wat nou uitgerol word so belangrik.

Dit is inderdaad so dat die kiesstelsel gebreke het. Die proporsionele stelsel verseker weliswaar dat minderhede wat voldoende kan saamstaan so te sê van ’n setel of wat op nasionale vlak verseker is en so hul stem (en ’n ietsie meer) kan laat hoor, maar van iets wat op ’n vorm van selfbeskikking dui is daar geen sprake nie.

Internasionaal is daar egter wel stelsels wat hiervoor voorsiening maak, soos ’n aantal gewaarborgde setels aan die voor-Indiese oorspronklike inwoners van Indië. Die Maori’s van Nieu-Seeland het naas ’n aantal gewaarborgde setels (wat hulle self verkwansel deur daardie stemme ook op algemene partye soos die Arbeidersparty uit te bring), ook ’n Maori-kongres, of parlement.

Waarskynlik die beste voorbeeld van korporatiewe selfbeskikking is die verteenwoordigende raad van die Krimskiereiland se inheemse inwoners, die Krim-Tartare, die Meijis, wat egter na die Russiese oorname verbied is. Artikel 235 bied aan Suid-Afrikaanse minderhede naas die moontlikheid van geografiese selfbeskikking, ook die opsie van korporatiewe selfbeskikking.

By ’n groot deel van die bevolking is die opsie van korporatiewe selfbeskikking erg polities inkorrek, maar dit was nie altyd so nie.  Selfs in die periode tussen die inwerkingstelling van die tussentydse grondwet en tydens die onderhandelinge van ’n finale grondwet het dié begrippe nog baie aandag geniet, onder meer via prof. David Welsh, politieke wetenskaplike van die Universiteit Kaapstad. In 1994 haal Die Burger hom soos volg aan, nadat die koerant ’n paar maande vroeër ’n beroep op die politieke wetenskaplikes gedoen het om voorleggings op te stel oor Korporatiewe selfbeskikking:

“As die sentralisasie en monopolisasie van mag die probleem is, en groter pluralisasie van die staat en die samelewing is ’n deel van die oplossing, kan verdere verspreiding van soewereiniteit bepleit word. Meer aandag behoort gegee te word aan die moontlikhede van korporatiewe federalisme, dus ’n nie-territoriale vorm van federalisme wat omskrewe magte aan (gewoonlik kulturele) groepe verleen om hul eie sake te beskerm en te bevorder.” (Die vollediger agtergrond kan hier gelees word).

Hoe help wegbly van die stembus enige proses om nader aan die ideaal te kom om gemeenskappe in staat te stel om so ver moontlik beheer oor hul eie sake te kan neem en standaarde te handhaaf waarmee gemaklik is?

En is ’n munisipale verkiesing die aangewese forum om dit aan te spreek? Die antwoord hierop is suiwer akademies – die kwessie is dat daar nou in sekere geledere hard geagiteer word om weg te bly van die stembus.

Trouens, vandag is daar verskeie artikels en rubrieke wat oproepe daarteen doen. Die opskrif van die Volksblad se hoofartikel lui: “Elke hand wat ’n kruisie trek, raak aan die toekoms.”

Die bekende dr. Izak Burger skryf: “Gee ook aan die keiser jou deelname”.

Dr. Leon Wessels skryf: “Waarom jy vandag móét stem”.

In beginsel kan daardie een wegblystem beteken dat ’n munisipaliteit weer ’n hopelose party aan bewind stel, in plaas daarvan dat selfs ’n baie klein party ’n alternatiewe koalisieregering tot stand bring wat die gemeenskap veel beter kan dien.

Die ou spreekwoord bly waar – hy wat nie gaan stem nie, mag ook nie kla nie.

Niks sal waarskynlik nou voornemende wegblyers oortuig om wel te gaan stem nie, en hulle is waarskynlik ook nie as kiesers geregistreer nie. Maar hopelik kan daar nog wal gegooi word dat ander onder hul invloed ook van die stembus wegbly en minderhede, ideale van skoon administrasie en beter dienste, breër verteenwoordigende stemme en beter dienste sommer by voorbaat in die voet geskiet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Realis ·

Ek sal nie aan ‘n waansinnige gekkespul deelneem teen ‘n oormag nie.

Kobus ·

Een van ons vriende het als vooraf volgende die boek gedoen, weer herregistreer in hul nuwe kiesafdeling, soos die oproep was, toe hulle vanoggend daar aankom om te stem, verskyn hul name nie op die kieslys nie.

plaasjapie ·

Van julle is vinnig om vinger te wys vir die wat nie stem nie. Ek is een van die wat nie gaan stem nie, en dit het niks met lui te doen nie.
Volgens my geloof is dit verkeerd om te stem. Deut 17:15….kom daarop neer dat jy alleenlik n leier oor jou mag aanstel wat HY sal uitverkies…uit jou volk.
Soos Paul gese het…dit is n groot rede hkm ons sit waar ons sit vandag !

Wern ·

Maar nou regeer die Antichris wat doodmaak van Christen mense soos ons goed praat, so wat nou, wat verwag jou God nou van jou? Om te stem vir die ACDP OF VF wat christelike waardes voor staan, of om die vyand te onttroon met oorlog? Eks bevrees maar dit is die enigste opsies, anders is julle luisleg! En Ek stem liewer.

Koos ·

Almal moet stem verkieslik VF+ maar stem moet julle stem tye verander oor 20 jaar lyk dinge dalk anders EFF is dalk aan bewind en Pieter Mulder jnr is dalk President van die weskaap wat onafhanklik heid verkry het van Suid-Afrika wat herdoop is Azania (hoekom is dit onmoontlik)

Veritas ·

Ai maar sommige mense is slim. Elke Jan Rap en sy maat probeer ons oortuig dat ‘n wegblystem, ‘n stem vir die regerende party is. Dit is onmoontlik om te gebeur. Neem as voorbeeld ‘n geval waar tienduisend ANC-ondersteuners verkies om nie te gaan stem nie agv van ‘n dispuut met die ANC. Hoe is dit moontlik dat hul besluit, om nie hul stemme uit te bring nie, die ANC gaan help? Moet asb nie die aanname maak dat alle wegblystemmers nie ANC-ondersteuners is nie. ‘n Wegblystem tel vir GEEN party nie maar ‘n hoë % wegblystemme mag dalk net die verskillende partye laat dink.

Cherokee ·

Veritas, menige kere het ek mense wat daardie storie vertel gevra om te verduidelik op grond van wat hulle so dink. ‘n Antwoord is steeds uitstaande. Daar is rympies wat in forums tot vervelens toe herhaal word en hierdie is een van dit.

JB Joubert ·

Ek stem vir God en Sy gebooie. Hy sal die gemors wat die stemmers oor ons gebring het uitsorteer sodat ons in veiligheid en vrede kan leef. Ek sal nie my vertroue op ‘n mens stel nie, allermins ‘n politikus. Skree nou maar vir my Raka! Ek het ‘n vaste vertroue in ons Skepper, want ons is so diep in die moelikheid, skoon administrasie en beter dienste is die minste van ons probleme. Wat ons nodig het is Goddelike ingryping.

Yvonne ·

En daar gaan stem ek, ‘n geswore DA lid toe vandag sowaar vir die VF+. En ek voel goed daaroor! Al het dit my die argwaan van my amper heel naaste op die hals gehaal.

Cherokee ·

Yvonne…. as jy naby was het ek jou gehug..!! Daar bewys jy dat vroumense nie net mooier is maar ook slimmer.

Theuns ·

Die wegbly stemmers moet maar weer Herman se Kommentaar lees. Ek stem saam met WERN en ek is wragtie trots op Yvonne. Net een vraag aan die ouens wat nie wil gaan stem nie! “Oortuig ons dan van julle standpunt. Want wat julle nou se is so onoortuigend en maak geen sin nie?”Ek kry die gevoel julle weet julle is verkeerd en wil nie stem nie omdat julle nie gerigistreer is nie maar net aan die gesprek wil deelneem ” for the hell of it!” Vir julle ouens wil ek net een ding op die hart druk” Om Suid Afrika weer die plek te maak wat ons geken het moet ons saamstaan.” Gaan stem! Daar is nog baie tyd!

John ·

Hoekom stig ons nie ‘n nuwe party vir die Afrikaners nie? Dit hoef nie ‘n vuurvreter-mentaliteit uit te straal met sannas en loopgrawe nie. Waarom moet ons vir die VFPlus stem as ons nie vir die DA of ander party wil stem nie? Vir 22 jaar klou die VFPlus aan die hoop dat stoere Afrikaners hulle sal ondersteun veral noudat die DA van deuntjie verander en Afrikaanses ignoreer. Die VFPlus se omarming van almal wat die benarde posisie van Afrikaanssprekendes probeer uitbuit, is ‘n doring in die vlees. Waarom die skielike bollemakiesie-slanery? Die stembus sien my nie voor my hart nie in die saak is nie, maak nie saak wie wat op deeske aarde se nie. Die VFPlus het geen oogmerke nie buiten ‘n langer spreekbeurt in die parlement. Wat wil hulle vir die Afrikaners bereik? Vergeet van minderhede. Daar is tans meer Kleurlinge as blankes in die land en Kyknet is hul stasie. Die Afrikaners gaan in die massa verdwyn en dit word vurig aangepor deur van ons eie mense. Die anderses wat skielik so ogies maak vir die VFPlus het ‘n eie agenda, dit was ook so in die apartheidsjare… vra die ouer garde.

Theuns ·

John, ek is een van die ouer garde en ek kan jou verseker die probleme het nie begin by die VF + nie maar by FW de Klerk. Vra maar vir Herman Toerien. Die huidige bedeling was nie eers op die tafel toe die NP met die ANC onderhandel het nie? Dit is by die onderhandelinge tussen die partye bekook. Maar ek wag nog vir jou om ons te se hoe dit ons gaan bevoordeel as jy nie stem nie?

Jackie ·

Daar gekom by die stembus vanoggend reg om DA te stem, tot ek so na die stembrief gestaar het en my gewete my gely het om VF+ te stem

John ·

Theuns, ek het jou elders reeds geantwoord, maar miskien moet jy eerder die VFPlus vra waarom stoere Afrikaners nie eers vir hulle wil stem nie. Ek het destyds nee, gestem omdat ek oortuig was die onderhandelinge was swak deurdink. Vandag pla my gewete my nie. Ook nie omdat ek nie vandag halsoorkop soos ‘n verwaaide skaap die stemlokaal benader net om in die mode te wees nie. Ek weier om ‘n bydrae te maak tot die agteruitgang/ondergang van my, my kinders en kleinkinders se geloof, Afrikanerskap, kultuur, ras en taal net in die hoop om ‘n flukse werker te sien wat my swartsakke Maandae verwyder nie. Die VFPlus sal nie lewe in ander mense mentaliteit kan inpomp nie. Dons julle voort. Die VFPlus gaan in ‘n welsynsorganisasie ontaard. Daar genoeg daarvan in die’ land.

Kobus ·

John, dit laat my dink aan toe die rekenaar tegnologie toenterjare kop uitgesteek het en alle maatskappye het hul werkers belowe niemand gaan hul werk agv die tegnologie verloor nie. (Dis nou soos die bore met meganisasie.) Ons het geweet hulle vertel wolhaar stories, maar wat ons besef het is dat mens nie vooruitgang en die tegnologie kan strem nie, vind ‘n weg om dit te gebruik dat dit vir jou werk, tot jou voordeel. “Adapt or die”.

John ·

Kobus, aanpassing beteken nie onnosele aksies nie. Systof is vir duisende jare steeds in die mode omdat dit kwaliteit impliseer. Om in te pas en aan te pas by Afrika se styl is een ding maar om bollemakiesie te slaan vir ‘n goeie handeklap deur Afrikane en daarna ‘n karos om te hang, ‘n heel ander storie. Elkeen doen soos dit hom of haar pas. Party mense verkies gehalte.

Kobus ·

John, partykeer, al is mens ‘n perfeksionis, moet mens besef gehalte val nie uit die lug uit van bo af nie, maar moet voor gewerk word, van onder af, met gebreke aanvanklik as dit moet, skaaf en skuur tot dit dan na jou pas is. Die perfekte sal maar min bereik word, maar mag mens nie ophou strewe en daarvoor werk nie. As mens nie omgee nie dan stem jy ook nie, dan het jy moed opgegee ook in jouself. Kom maak ‘n verskil.

Wern ·

Leiers kom vanself na vore in moeilike tye. Ja ons het jong sterk leiers nodig, maar moet nie sangers, dominees en oud leiers in n boksie sit en afskiet nie want dit is juis die definisie van kortsigtigheid en anti-oopkop. VF Plus is beslis n ordentlike party maar ja hulle naam is al so sleg gemaak deur kamma Liberales soos Rian van heerden, en hulle het her”branding” nodig, maar hulle is regtig goed. Ek het vandag weereens vir hulle soveel respek gekry toe Ek sien hoe hulle nie bang is om langs die ANC en EFF te staan sonder om bang te wees nie, hulle is baie sterk mense. En solank ons ook besef dat hierdie Rian en kopdoek nie voorbeelde is van oopkop nie maar eerder die kroon van toekoppigheid want hulle glo nog aan skein demokrasie en is meesters van veralgemening.

plaasjapie ·

Ken mense wat soos die stemmers klink. Hulle sien net hulle eie siening. Dit raak n eenrigting gesprek met hulle. Kan of wil julle nie goeie rede insien hoekom ons nie stem nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.